Mistasting vir die toekoms

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Daar bestaan waarskynlik ’n woord vir die tipe persoon wat bewus is dat dit wat hy/sy voorstaan en implementeer, gedoem is tot mislukking, maar steeds daarmee voortstu.

Alles in die geskiedenis dui daarop dat sosialisme nie werk nie. Die natuur- en ekonomiese reëls het al by herhaling bewys dat die denke geen bestaansreg het wanneer sukses nagestreef word nie. Daar is talle voorbeelde van sukses wanneer die teenoorgestelde geïmplementeer word. Daardie kennis en kundigheid is vrylik beskikbaar om te benut, maar, o wee …. nee, hier volhard ons op die gebaande weg van mislukking.

Ons ANC-regering sal by uitstek voldoen aan die vereistes van bogenoemde “tipe persoon”. Hulle beleid van gesentraliseerde sosialisme sal in die anale van die geskiedenis aangeteken word as nóg een van die mislukkings van die wêreld. Grootskaalse armoede en werkloosheid word deurentyd geskep.

Dit is moeilik om te verstaan hoe ’n regering alles in hul vermoë sal doen om seker te maak die land is nie suksesvol nie. Uitsprake en wetgewing wys dat die inwoners van die land se toekoms van geen belang is nie. Hulle word hoogstens gebruik as ’n tipe melkkoei wat moet voorsien in die vraatsug na geld wat die politieke elite en hul kaders het.

Wanneer dinge soos korrupsie, selfverryking, tenderbedrog, blaamverplasing en magsvergrype die kernbegrippe van hul regeringstyl raak, is dit duidelik dat Suid-Afrika ernstig op ’n skeeflooptrajek geprojekteer word.

’n Individu se karakter is bepalend as dit kom by keuses en besluitneming. Wanneer jy alleen is en steeds eerbare keuses uitoefen wanneer jou karakter getoets word – en net jy dit sien en beleef – bepaal dit jou integriteit en is die grondslag van jou kultuurvormende invloed wat uitgestraal word. Wanneer iemand skaamteloos en blatant onetiese keuses maak en toepas, openbaar dit sy of haar karakter. Daardie invloed word ongelukkig ook gevestig en uitgedra en het ’n invloed op die samelewingsorde se kollektiewe kultuurvorming.

Wat is vandag in Suid-Afrika die kollektiewe kultuurvorming? Wat is my persoonlike bydrae in die deurlopende vorming van ’n land se kultuurgrondslag? Met die meerderheid in beheer is dit natuurlik ’n ope vraag of minderheidsgroepe enigsins ’n volhoubare invloed kan uitoefen op die land se kulturele proses. Nêrens in die wêreld ervaar mens sulke uiteenlopende lewens- en wêreldbeskouinge tussen verskillende groeperinge soos wat ons in Suid-Afrika het nie. Dit is duidelik in hul uitsprake, maar ook in hul optrede dat die ANC alles in hul vermoë sal doen om dit wat vir die Afrikaner kosbaar is en wat oor eeue heen hier in Suid-Afrika opgebou is, te probeer vernietig. Aldus hulle sosialistiese geïnspireerde Vryheidsmanifes (Freedom Charter) wil hulle almal assimileer om in hul denke en siening op te gaan.

Dit gaan van Afrikaners self afhang of ons gaan toelaat dat ons ontneem word van ons begronding en kultuurerfenis. Die groot dilemma is dat daar in die skole vandag ’n beplande en gestruktureerde proses aan die gang is om die Afrikaner en sy kultuurerfenis van hom te ontneem en selfs te kriminaliseer.

Die omgewing waarbinne ons vasgevang sit, gee nie enige beweegruimte vir Afrikaners om hul kultuur onbelemmerd te kan ontwikkel en te kan uitbou nie. Die huidige president van die ANC en ook van die land het veral die laaste tyd duidelike rassistiese lyne getrek. Die web waarbinne die ANC, Cosatu en die SAKP mekaar gevange hou het by veral hul laaste konferensie beslag gekry in ’n aantal besluite wat op geen wyse sin maak nie.

Die Reserwebank is in die spervuur en so ook die beginsel van privaat besitreg. Suid-Afrika is na rommelstatus afgradeer by die aanhoor van dinge soos onteiening sonder vergoeding. Die vertrouensindeks sal nog verder daal wanneer die ANC dit gaan toepas.

Ons voorsate het gedurende ʼn oorlog met Engeland ʼn verskroeideaardebeleid ervaar waar duisende vrouens en kinders onder haglike toestande in konsentrasiekampe uitgemergel is en gesterf het. Ná die oorlog het die oorblywende burgers en vroue en kinders na vernietigde plase moes terugkeer en van vooraf weer begin opbou.

Tans word daar opnuut beleef dat die huidige regering besig is met ’n verskroeideaardebeleid. ʼn Eens opgeboude staat met funksionele stelsels en strukture, semi-staatsorganisasies waarop enige land net kan trots wees en ’n infrastruktuur wat gereken was beter as die res van Afrika saam, het die ANC onverdiend in 1994 ontvang. In ʼn relatief kort tydjie is dit alles vernietig. As regering het u inderdaad ʼn verskroeideaardebeleid op u eie land toegepas.

Die regering handel asof geld (kapitaal) iets is wat maar net daar is. As kaders beskou hulle dit as iets wat maar net geplunder kan word. Suid-Afrika se koffers – behalwe vir die pensioenfondse wat in privaat besit is – is reeds leeg gesteel. Korrupsie in al sy vorme het endemies geword van Suid-Afrika se DNS.

Word dit nou van ons as Afrikaners verwag om ons te vereenselwig met hierdie praktyke? Moet dit die kultuurwaardes wees wat ons uitstraal? Elke persoon met begronde waardes (so hoop ek) wil graag in ’n suksesvolle land woon. Gaan dit ooit moontlik word vir Afrikaners om, gegewe die daaglikse werklikheid wat ons ervaar, konstruktief te help bou aan dit wat die drieparty-alliansie op ons afdwing? Kan daar sukses onder die ANC wees?

Dit is hartseer dat daar steeds mense is wat hierdie gebeure probeer regverdig. Hulle probeer die werklikhede van die tyd “bestuur”. As ’n minderheid in Suid-Afrika is Afrikaners se boustene in hul geskiedenis iets om op trots te wees. Menige monumentale oomblikke is op vele terreine in die samelewing daargestel. Ons geslag staan voor die uitdaging of ons nageslag ons sal onthou as daardie groep wat toegelaat het dat hulle assimileer met dit wat die ANC aan ons opdis, of sal ons onthou word as daardie geslag wat, ongeag die volksvreemde kulture en gebruike wat op ons afgedwing word, steeds opgestaan en gebou het aan waardes waarop daar trots kan wees.

Dit gaan van ons verg om keuses te maak en dan handelend op te tree. Toets ek daagliks my keuses aan die Woord van God om inderdaad tot Sy eer te lewe?

Gegewe die ANC en hul agenda sal ons na selfstandigheid moet streef. Ons kan net die grondslag vir ’n toekoms waarop ons nageslag trots kan wees, lê deur skole waar ons self die kurrikulum ten opsigte van ons geskiedenis kan bepaal en die strewe na kundigheid kan ondersteun. Elke Afrikaner kan by sy eie gesin begin bou.

As ons nie konstruktief bou aan beter alternatiewe nie, is die ANC se pad van vernietiging vir die land om hulself te red en te verryk, die enigste moontlike eindresultaat. Pierre van Niekerk skryf in ’n meningstuk: “’n Afrikaner is iemand wat ’n diepgewortelde sin vir geregtigheid het.” Ons mag nooit toelaat dat dit van ons gesteel word nie.

Die geskiedenis se oordeel is ’n deurlopende proses vir my, as individu, maar ook vir ander Afrikaners en gewis ook vir die regering wat reeds nie die toets van die tyd slaag nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Spiekeries ·

Goeie artikel Bennie. Net ‘n ope vraag: Wanneer gaan ons ophou skryf en praat en eventueel tot aksie oorgaan? Die tyd is NOU!

Kokerboom ·

Uitstekende artikel Bennie. Die onus is op ons skouers om ‘n verskil te maak tov die Afrikaner en enige redelike person se oorlewing. Tyd wag vir niemand

Jaco ·

vra die ANC om dadelik onteiening sonder vergoeding te begin in 8 v.d.9 provinsies, om wit mense se stemreg weg te vat en ons tot 2de klas burgers te verklaar. Verskuif al die wit mense Wes-Kaap toe; gedwonge verskuiwings soos wat die vorige wit regering met swart mense gedoen het. Maak die Wes-Kaap ‘n wit tuisland met selfregering vir hulle eie sake. Laat buitelandse beleggings daar toe. Maak belastings ook hoër om steeds inkomste vir die sentrale regering in Pretoria te verseker. Kortom, bring apartheid terug en “mik” dit teen die wit mense. Die ontwrigting van onteiening en gedwonge verskuiwings en hoër belasting is dan alles die finale “straf” vir apartheid. Maar kyk ook na die pluskant: verskuiwings sal maksimum 3 jaar vat en na maksimum 5 jaar sal die Wes-Kaap soos Hong Kong lyk. En belastings op daardie “Hong Kong” kan die ANC in die res van SA dan weer laat incash. Uiteindelik wen almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.