Mites van ekonomiese groei

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Suid-Afrika se swak groeikoers staan soos ʼn paal bo water. Gemeet in algehele bruto binnelandse produk (BBP) vir Suid-Afrika staan die groeikoers voorlopig aangeteken by 0,3% vir 2016 bykans stil. Wanneer BBP per capita beskou word, is mense in Suid-Afrika gemiddeld besig om te verarm.

Selfs regeringsdokumente soos die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) beraam dat ʼn groeikoers van meer as 5% nodig is om die land se strukturele werkloosheid en armoede hok te slaan. Die realiteit is dat sulke groeikoerse vir ʼn hele paar jaar volgehou moet word om ʼn daadwerklike verbetering mee te bring.

Die pas aangestelde minister van finansies, Malusi Gigaba, het self onlangs in toesprake ook die belang van groei benadruk. Hy het die Black Business Council aangeraai om hulself tot die voorpunt van die regering se “groei-agenda” te bring. Aan beleggers in Kaapstad gesê het gesê: “All of our national challenges will be easier to deal with if our economy is growing, even as we remain aware that growth is not automatically inclusive. Nonetheless, we would rather debate how best to share a growing pie than a shrinking one.”

Gigaba is natuurlik heeltemal korrek wanneer hy sê dat die land se uitdagings makliker sal wees om op te los in ʼn omgewing van sterker ekonomiese groei. Die pastei moet as’t ware groter gemaak word, maar die belangrike vraag is of die regte groeiresep gevolg gaan word.

Soos met baie dinge in die lewe moet jy soms oppas waarvoor jy vra. Beleid waardeur politici poog om groei “aan te wakker” kan tot groter probleme lei, veral wanneer groei net aan totale die bruto binnelandse produk (BBP) gemeet word.

Om van ʼn oordrewe voorbeeld gebruik te maak: Onverantwoordelike regeringsbesteding op iets soos landwye standbeelde van wit marmerolifante in elke dorp sal ook in die BBP reflekteer en kan selfs die groeikoers eenmalig ʼn stewige hupstoot gee. Tog is dit ooglopend dat so ʼn hupstoot nie op die lang duur die ekonomie werklik kan baat nie.

Wat in Suid-Afrika moet gebeur is dat mense toenemend en vrywillig aan die verdienstelike verdeling van arbeid, produksie en kapitaalvorming sal deelneem. Ons moet beter raak met die produksie van goedere en dienste wat vir plaaslike en buitelandse mense van waarde is.

Sinvolle vrywillige produksie word gestrem deur ʼn onvriendelike sakebeleidsomgewing wat geskep word deur die regering se inmeningsingbeleid, wette wat private eiendomsbesit bedreig, ʼn oorgereguleerde arbeidsomgewing en algemene uitsprake deur politici waarin ʼn growwe anti-sakeonderneming-, anti-mark-, anti-kapitaal-sentiment aan die lig kom. Wanneer dit tesame met uiterste regeringsmislukkings in die onderwys in ag geneem word, is dit geen wonder nie dat beleggers en sakelui tans die skrik op die lyf gejaag word en dat groei wat wel aangeteken is nie “inklusief” was nie.

Regerings, soos Suid-Afrika sʼn, sal allerlei redelike en onredelike dinge probeer om “groei te stimuleer” om sodoende uit ʼn strik van lae groei te ontsnap. Maar die beoogde “groeimedisyne” kan die “pasiënt” nog sieker laat. Dit gebeur omdat daar growwe wanindrukke oor groei bestaan wat tot skadelike ekonomiese ingrepe lei.

Wanindrukke oor ekonomiese groei

Ekonome toon dat ekonomiese groei in die breë langs twee roetes kan plaasvind: deur “intensiewe” en “ekstensiewe” groei. Albei is nodig in Suid-Afrika. Intensiewe groei beteken dat diegene in die ekonomie hulpbronne doeltreffender gebruik, of eenvoudig gestel, dat ons meer produkte kry en dienste maak vir elke rand se inset. Dit vereis gewoonlik beleggings in kapitaal en tegnologiese verbeteringe.

Ekstensiewe groei verwys na groei wat aan onder meer ʼn toename in die werkende bevolking gekoppel kan word. Dit gebeur wanneer die mense wat ʼn produktiewe rol in die ekonomie speel, soos arbeiders en entrepreneurs, vermeerder. Die Suid-Afrikaanse regering se swak produksie van gehalte onderwys dra grootliks by tot hierdie groeiprobleem.

BBP-groei is iets wat as’t ware instaan vir ʼn breër begrip van ekonomiese groei. Soos enige finansiële statistieke het BBP sy voorveronderstellings en beperkinge. Een basiese punt hieroor is dat groei gemeet aan ʼn toename in totale BBP nie die volle storie vertel nie. BBP-groei beteken nie noodwendig dat almal in ʼn land, per kop, beter af gelaat is nie, daarom moet BBP per capita gewoonlik saam met totale BBP beskou word.

In gesprekke tree daar soms dieper wanopvattings oor ekonomiese groei na vore. Die sluit onder meer in ʼn gedagte dat groei bykans klakkeloos en meganies plaasvind en dat vinniger groei altyd ʼn goeie ding is. ʼn Verdere wanopvatting is dat ʼn regering groei kan aanjaag deur die spreekwoordelike “enjin” van die ekonomie meer “petrol” te gee.

Uiteindelik hang ekonomiese groei van mense en hul besluite op die ekonomiese terrein af. Ons moet nooit die “gesigte” agter ekonomiese totale vergeet nie. Basies beskou vereis intensiewe groei dat meer of waardevoller goedere en dienste geproduseer word. Dit gebeur nie outomaties nie, individue en ondernemings moet faktore in die bestaande beleidsomgewing opweeg en uiteindelik besluit om beleggings en prosesse aan die gang te sit wat ʼn kans staan om beter uitsette teweeg te bring.

Wat BBP nie aandui nie

Wat nie duidelik deur BBP aangetoon word nie is dat finale produkte of dienste nie hul weg outomaties na die finale verbruiker vind nie. Produksie vereis deurlopende beleggings en voortdurende besluite om sakebedrywighede voort te sit.

Om eenvoudig te illustreer, gestel is sakeman A koop ʼn produksie-inset aan teen R5 000 wat hy verwerk en later aan sakeman B vir R10 000 verkoop, waarna sakeman B die produk verder verwerk en vir R15 000 aan ʼn finale verbruiker verkoop. In hierdie voorbeeld moes twee produsente besluite geneem het om (teen ander gebruike van hul geld) in die insette te belê wat die finale verbruikersproduk moontlik gemaak het.

Die BBP-berekeninge is meesal blind vir hierdie deurlopende besluite wat oor die produksieketting gemaak word. Slegs die finale “toegevoegde waarde” of die bedrag van R15 000 wat die finale verbruiker betaal het word tot die BBP ingereken. Tog is daar in die voorbeeld nie net R15 000 bestee nie – R30 000 is deur die sakelui en die finale verbruiker bestee. In hierdie eenvoudige voorbeeld kon die finale produk op twee plekke “ontspoor” geword het, sou die sakelui besluit het om nie langer hul gelde in huidige produksie te sink nie.

Om op ʼn persoonlike of individuele onderneming se vlak jou “uitset” te verhoog vereis opofferings. Daar moet gespaar en in goed soos beter vaardighede, beter toerusting (kapitaal) en meer doeltreffende tegnologiese prosesse belê word. Om te kan belê vereis dat huidige verbruik iewers in die ekonomie ingeperk moet word. Groei gebeur dus nie kosteloos nie; uiteraard hou belegging risiko’s in.

Op die vlak van die individu of ʼn enkele sake-instelling kan dit gebeur dat individue of sakelui tevrede is met hul huidige uitset. ʼn Besluit word dan as’t ware gemaak om nie verder te groei nie. (In dié geval is daar steeds belegging nodig om toerusting en kapitaal wat uitgedien raak te vervang.) Net soos ʼn vrywillige besluit om uitset te groei in orde is, is die besluit om uitset konstant te hou, of selfs te krimp, heeltemal in orde in ʼn vrye samelewing.

Groei aanjaag?

Gestel beleidmakers besluit dat diegene waarna hierbo verwys word, wat vrywillig kies om hul uitset konstant te hou of te krimp, gedwing moet word om uitset te verhoog. Dit beteken iemand moet onder meer diegene se verbruik met dwang inperk, kunsmatige “spaargeld” invorder, en dit teen die wense van die produsente belê om uitset te (probeer) verhoog.

Op sigself is dit iets wat teen vryheid en private eiendomsbesit indruis, maar dit is in die breë wat gebeur wanneer ʼn regering poog om met belasting en regeringsbesteding groei aan te wakker. Sulke pogings druis ook in teen die redelike, rasionele oorwegings wat mense oor ondernemerskap en produksie aan die dag lê.

Ek sê nie daardeur dat ʼn gunstige beleidsomgewing vir ekonomiese groei, met ʼn funksionerende regstelsel en bestendige private besitregte, nie geskep behoort word nie; dit is juis wat moet gebeur, maar dit is gewoonlik nie wat met “groei aanjaag” bedoel word nie.

Wat die ANC-regering bedoel wanneer hy “groei wil aanjaag” is gewoonlik om belastinggeld op onder meer geliefkoosde regeringsprojekte te bestee of om sekere bedrywe en ondernemings in die mark aan te spoor. Daar word wel deur die regering melding van ʼn vriendeliker beleidsomgewing gemaak, maar dit moet nog tot ʼn groter mate gesien word. Plaaslik sluit die groeiplanne in staatsbesteding op infrastruktuur sowel as gebruik van regeringsaankope om sekere geoormerkte ondernemings, wat aan die “groei-agenda” moet deelneem, ʼn hand te gee.

Regeringsbesteding van dié aard vereis uiteraard belastinggeld en verteenwoordig ʼn opweging. Dit beteken dat diegene wat reeds suksesvol produseer hul vermoë om te spaar en te belê (en om te verbruik) weens belasting sal inboet. Dit beïnvloed die private sektor se vermoë om bedrywighede deur geweegde vrywillige beleggings uit te brei, wat gesonde groei in die private sektor belemmer.

Daarmee saam verhoog ʼn ongunstige beleidsomgewing die kostes (risiko’s) van sake doen wat toekomstige groei verder en onnodig onderdruk.

Ten slotte

In Suid-Afrika se geval behoort ons op intensiewe sowel as ekstensiewe groei te fokus, maar albei moet op die regte wyse aangewakker word. Vir sterker intensiewe groei moet daar ernstig aandag gegee word aan die mate wat die beleidsomgewing vrywillige private belegging en sake in geheel strem. Ekstensiewe groei sal net beduidend verbeter indien die regeringsmislukking in die mark vir onderwys erken word en drasties aandag kry.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johan ·

Werklik een van die beter insig-stukke oor ekonomiese groei wat amper amper al die slaggate van gemodelleerde en onbegryplike teorië en terme van die deursnee ekonomiese skrywer misry. Geluk

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.