Mnr. Ramaphosa, goeie bedoelings alleen is nie genoeg

Gerhard Papenfus

Die president se boodskap dat die ANC verbind is tot die beëindiging van die praktyk om ongekwalifiseerde individue, by wyse van politieke begunstiging, in gesagsposisies te ontplooi ten einde ’n bekwame staatsadministrasie te skep, kan ʼn potensiële ommekeer vir Suid-Afrika beteken.

Of kan dit?

Hierdie aankondiging is in sterk teenstelling met die leerstellings van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) en moes derhalwe voorbladblootstelling ontvang het. Die gebrek aan sodanige blootstelling spreek boekdele.

Ingevolge die NDR, eien die ANC homself die reg toe om die drywers van transformasie te skool, te organiseer en te mobiliseer ten einde in hul omvangryke eiebelang op te tree. Transformasie verwys na die ANC se doelwit om ’n gemeenskap na die beeld van die ANC te skep.

Die agteruitgang van Suid-Afrika, in bykans alle opsigte, is ‘n direkte gevolg van die “suksesvolle” implementering van die vernietigende NDR-beleid. ‘n Sukkelende Suid-Afrika is onteenseglike bewys dat die ANC inderdaad sy NDR-doelwitte bereik het.

Elke staatsgedrewe instelling is op alle vlakke geïnfiltreer deur oneffektiewe amptenare met selfverrykende oogmerke; kaders wat in die leer van omvangryke eiebelang gegradueer het, vanwaar hulle die hefbome van mag beheer. Daar is natuurlik uitsonderings – helde wat vanweë hul etiek en doeltreffendheid die NDR se vryval na die sosio-ekonomiese bodem frustreer.

Die huidige onbekwame regering, en per definisie die ramp van staatskaping, is die resultaat van die sistematiese implementering van die ANC se meesterplan. Dit is nie asof die land as gevolg van blote nalatigheid deur onkruid geïnfiltreer is nie; die saad is met voorbedagte rade gekies – ’n nuutgeskepte NDR-kultivar bestaande uit selfdienende, swak toegeruste ANC-lojaliste en staatskapers. Beide die grond en die saad is sorgvuldig deur die ANC tot wasdom versorg.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/ GCIS

Wat jy saai, sal jy maai; dit is ’n universele beginsel; en hierdie transformasiemodel het die staatsadministrasie lamgelê. Noudat die oes wasdom bereik, besef die ANC dat die opbrengs nie net teleurstellend is nie, maar totaal en al waardeloos. Ongelukkig is hierdie die nuwe werklikheid ’n nasionale krisis wat slegs reggestel kan word deur ‘n nuwe seisoen te skep, die grond intensief te bewerk en nuwe radikale beleide te implementeer, gepaardgaande met uitsonderlike en beslissende leierskap. As gevolg van wye, diepgewortelde eiebelang, mag hierdie taak selfs meer uitdagend wees as die ommekeer van Eskom.

Inaggenome die bostaande, kan die ANC seer sekerlik nie geskok wees oor die feit dat hierdie aankondiging met groot agterdog bejeën word nie. Dit is die gevolg van die feit dat, byvoorbeeld, onteiening sonder vergoeding (OSV), die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Sport en Ontspanning, die land verder oor die afgrond dryf.

Selfs diegene wie se eiebelang deur hierdie nuwe ontwikkeling potensieel bedreig word, is nie hieroor bekommerd nie. Die rede hiervoor is dat swak, huiwerige en oor-toegeeflike leierskap nie die huidige koers sal verander nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Die anc is presies waar hulle wil wees, soos hulle beplan het.

Chris ·

Suzette ek gaan met jou saamstem en verskil. Hulle het beplan om iewers te kom, maar hulle gaan aanstons weer wees waar hulle hoort en dit glad nie voorsien het nie. Lag my tanne af. Hier kom onaangename skokke vir die plunderbende en meeslopers/agterryers. Die wiel draai stadig maarbhy draai. Die geel speek kom weer eendag bo.

HBK ·

Iemand het eenkeer gesê. “Mense wat dink hulle weet alles, maak ons wat alles weet verskriklik kwaad”
Dis daai kwaad wat veroorsaak dat daar na geen rede geluister is deur die persone in beheer nie. Ek vermoed verder dat hulle so diep in hulleself glo, dat hulle ook nie hulle eie foute kan raak sien nie. @Chris. Ja, hulle gaan hulleself verras, en ons gaan die prys moet betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.