Mnr. Ramaphosa, het julle regtig hierdie inperkingstorie deurdink?  

Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoof van Bok Radio 98.9FM, se ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa: 

Beste president Ramaphosa

Wimpie van der Sandt.

Jy ken my nie, maar dit maak nie eintlik saak nie. Ek is maar net een van die 58 miljoen gesigloses in die land wat deel uitmaak van ʼn groep media- en vermaakwerkers wat bitter swaar trek as gevolg van die ondeurdagte inperkingsmaatreëls wat skynbaar nooit gaan eindig nie.

Mnr. Ramaphosa, ons verstaan nie. Ons gemeenskapsradiostasies in die land sukkel. En ek bedoel, sukkel. Terwyl daar R500 miljard beskikbaar gestel is vir hulpverlening aan mense wat hul inkomste verloor het as gevolg van ’n virus wat nie ons skuld is nie, kry ons niks. Heeltemal niks. En adverteerders is besig om een na die ander te sink, so ons kan ook nie meer op advertensie-inkomste staatmaak nie. Elkeen van ons mense in dié bedryf se werk is nou in gevaar, want weet jy, as daar nie geld is vir salarisse nie, is daar net nie geld nie. En niemand kan aanhou werk teen R0 per maand nie, want ons moet leef ook. Daar is huur of huisverbande wat betaal moet word, vervoeronkoste, kosgeld en natuurlik moet daar vir die kinders ook gesorg word. Jy kan dit nie doen as jy nie geld het nie – veral nie as ons ons lugtyd prysgee om ons mede-Suid-Afrikaners oor Covid-19 en die staat se hantering daarvan in te lig nie.

Dit is net nie besig om vir ons en die duisende ander gemeenskapsradiostasies uit te werk nie, mnr. Ramaphosa. Alles waarvoor ons en meeste van die ander gemeenskapsradiostasies gewerk het, is besig om vernietig te word.

Maar dis nie net oor ons in die media waaroor ek besorgd is nie. Ek weet nie of jy weet hoe sleg dit met ons kunstegemeenskap gaan nie? Sjoe. Dis iets ysliks. Ons in die media kan darem nog so af en toe munt slaan deur iets vir iemand op die kantlyn te doen, maar ons kunstenaars kan nie geld verdien as hulle nie kan optree nie. En dis besig om sy tol te eis, mnr. Ramaphosa.

Kyk nou net wat het daardie begaafde tenoor, Kagiso Boroko, verlede week gedoen omdat eers die Gauteng Opera en toe Black Tie Ensemble gevou het. Hy kon eenvoudig nie meer aangaan met sy lewe nie. Sy musiek is weggeneem deur ʼn virus en daarmee saam sy wil om te leef.

Ek verstaan dit, mnr. Ramaphosa, en ek vermoed hy is nie die eerste kunstenaar wat verkies om sy eie lewe te neem as om in ʼn eindelose tonnel van níks vasgevang te wees nie. Ek glo ook nie hy gaan die laaste een wees nie. Verwag maar nog so ʼn paar hartseerstories, mnr. Ramaphosa.

Ons hier by Bok Radio het probeer om ons kollegas in die kunstewêreld ʼn bietjie te help deur ons Biltongsessies-inisiatief. Hierdeur kan ons kunstenaars darem ʼn ou geldjie hier en daar verdien, om presies te wees het ons al amper meer as 200 kunstenaars en dié se tegnici te hulp gesnel, maar weet jy, mnr. Ramaphosa, dit is regtig nie genoeg om brood op die tafel te hou nie, want alles is net te duur.

Ja, ek weet julle slim mense in die regering sê die inflasiesyfer is die laagste in dekades, maar het julle regtig dié stelling deurdink? Julle dink nie dalk die syfer is so laag omdat die land vir bykans twee volle maande bot toe gesluit was nie? Kug-kug. Daar wás geen ekonomie nie, so natuurlik sal dit nou wys dat die inflasiesyfer so laag is.

Maar weet jy hoe lyk die pryse in die winkel, mnr. Ramaphosa? Sjoe! Dit kos deesdae meer as R8 vir ʼn enkele ou bruinbroodjie en selfs meer as dit vir ʼn witbrood. En raai wat? Brood is ons ou landjie se stapelvoedsel. Daardie R350 wat julle elke maand aan miljoene en miljoene mense uitdeel wat géén vorm van inkomste het nie – selfs die rommelgrawers – kan nie eens vir ʼn maand lank vir hulle elke dag brood voorsien nie. En om te dink hulle kan iets anders uit daardie R350 óók bekostig is bloot lagwekkend.

Maar waaroor ek eintlik vir jou skryf, mnr. Ramaphosa, is nie regtig om net te kla oor geld wat daar nie is nie. Dis eintlik meer om vir jou te vra of julle regtig hierdie inperkingstorie deurdink het. Jy en minister Dlamini-Zuma wat blykbaar eintlik die een is wat die land tans regeer. Dit lyk vir ons gewone ouens baie asof jy vir háár moet luister, want jy het gedink dis reg as die ouens wat rook maar weer hul sigaretjies kan terugkry, maar sjoe, sy het ons so vinnig reggehelp en nou sit almal al vir meer as vyf maande sonder hulle nikotien-fix.

Wat my ook sommer by die restaurante en alkoholbedryf bring. Jy weet seker dat ons wynbedryf jaarliks miljarde rande tot die land se totale BBP bydra? En dis net uit verkope. Ons praat hier nie eens van die al die duisende en duisende werkgeleenthede wat hierdie sektor verskaf nie. Dis brood op derduisende mense se tafels.

Maar nou, mnr. Ramaphosa, staan alles stil. Die toerismebedryf kan nie werk nie, die alkoholbedryf staan alweer bot stil, en die tabakboere gaan binnekort begin om hul tabakblare vir braaivleisvure te gebruik, want wat anders? O ja, wag, voordat ek vergeet … die voortgesette verbod op tabakprodukte kos die land daagliks omtrent R35 miljoen aan belasting. R35 miljoen per dag, mnr. Ramaphosa! Het julle die sommetjies gemaak? Dis miljarde rand per maand!

Sjoe, mnr. Ramaphosa, as julle eerder die tabakverbod opgeskort het, was dit nie nodig om skuld van honderde miljarde rand by die IMF en ander instansies aan te gaan nie. Dan kon Suid-Afrika self al die onkoste gedra het vir hierdie onnodige viruspandemie wat van ons boesemvriende, die Chinese, af kom.

Maar, mnr. Ramaphosa, julle dring daarop aan om voort te gaan met die drakoniese inperkingsmaatreëls, ten spyte daarvan dat ons werkloosheidsyfer al in Februarie vanjaar, voordat die papaja die waaier getref het, op byna 30% gestaan het. Kenners voorspel egter nou dat hierdie nimmereindigende inperking gaan veroorsaak dat ons reeds voor die einde van die jaar ʼn werkloosheidsyfer van ver oor die 50% sal hê.

Maar minister Dlamini-Zuma is blykbaar nie bekommerd nie, want sy belowe dat die sosiale uitbetalings en kospakkies onbepaald gaan voortduur. Met watter geld, mnr. Ramaphosa? En wat gaan gebeur as die kos wat in tonne elke week aan die armstes uitgedeel word, opraak? Het julle al daaraan gedink? Die boere kan al klaar amper nie voorbly in die aanvraag nie, en behalwe daarvoor, is daar elke maand minder boere wat kan boer omdat daar soveel plaasaanvalle en -moorde is waaroor jy nie ʼn woord rep nie.

En die ander ding wat my werklik laat kopkrap, mnr. Ramaphosa … waarom mag die restaurante net so stuk-stuk oopmaak en die gasvryheidsbedryf nog eintlik glad nie omdat dit “moontlik” die kans op die verspreiding van die Covid-19-virus kan bevorder? Dit terwyl die taxibedryf julle net bietjie gedreig het en skielik kan hulle teen 100%-kapasiteit ry? Julle vergeet ook, mnr. Ramaphosa, dat die taxi-bedryf se 100%-kapasiteit eintlik 120% is, want daardie ouens kan darem vir jou mense in ʼn taxi indruk dat dit ʼn aardigheid is.

Dink julle nie die virus kan dalk vinniger via ʼn volgepakte taxi versprei as in ʼn restaurant met oorgenoeg spasie en lug nie? O ja, en ek sien ook dat die ventilasie-tender vir taxi’s aan niemand anders as jou eie seun, Andile, toegeken is nie, hoewel hy nou luid protesteer.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Ai, mnr. Ramaphosa, wat moet ons meer doen om jou aandag te trek? Om tog net toegelaat te word om ons lewe te lei en ʼn eerlike dag se werk teen betaling te kan doen? Wat word van ons vryskutwerkers in die land wat nie vir die R350 per maand kwalifiseer nie, maar iemand wat elke dag rommel optel kwalifiseer wel? Hoe dink jy voel ons? Om te dink ons word as só gering geag dat ons maar elke dag moet raap en skraap net om siel en liggaam aanmekaar te hou.

Kyk nou maar net na ons hier in die Wes-Kaap. Ons het behoorlik deurgeloop onder die virus aan die begindae, maar hier is ons gevalle besig om merkbaar af te plat. En dis nie net ek wat so sê nie, die statistieke bewys dit: Die Wes-Kaap het elke dag minder positiewe gevalle en is dus nou nie meer die bedreiging wat dit aanvanklik was nie. Waarom, waarom, waarom mag die toerismebedryf dan nie oopmaak nie? Dit is ons provinsie se grootse werkgewer en bron van inkomste want dit dra by tot meer as 300 000 werkgeleenthede en minstens R23 miljard per jaar! Dis derduisende mense wat nou van hul inkomste ontneem word omdat die bedryf nie oopgestel word nie.

En dis nie besig om te werk nie, mnr. Ramaphosa. Verskeie mense kies nou eerder die selfdood-opsie as om te probeer sukkel met géén inkomste nie. Géén geld nie. Weet jy hoeveel ʼn mens elke dag met géén geld kan doen?

Nee, julle ouens in die regering weet nie wat dit beteken om géén geld en géén vooruitsigte te hê nie, want julle rol in die geld. Dié dat die duidelike ineenstorting wat ons land en sy ekonomie julle min traak.

Julle sal egter moet begin notisie neem van almal, mnr. Ramaphosa. Onthou jy nog die Arabiese Lente van 2010? Ek vermoed dis besig om hier te begin en dit gaan regtig vir julle hoge ouens in die kabinet ʼn effense terugslag wees om van rykdom na tronkdom te gaan.

Dink ʼn bietjie daaroor, mnr. Ramaphosa, en laat ons mense tog net weer leef!

Baie groete

Wimpie van der Sandt

  • Die brief is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Martie Smartie ·

Solank hy en sy kabinet/ oorlogsraad se sakke elke maand dik gestop word met belastinggeld. Is als mos ok. Wat maak die prys van ‘n brood en so aan saak aan hulle wat rojaal leef op belastinggeld? Hy en tante kopdoek het die volgende verkiesing mooi gekoop met belastinggeld in die vorm van SASSA toelaes. Jy stem dalk vir ‘n ander party, maat jy finansier die ANC om stemme te koop met SASSA toelaes. [Die R25 m per jaar vd wynbedryf tot die BBP kan nie reg wees nie, dalk per week or maand.]

Jorrie ·

Ek dink darem die wynbedryf verdien meer as R25 miljoen rand per jaar soos wat die artikel stel. Moes dit nie dalk miljard gewees het nie?

marius ·

Ja hulle het , en dit was soos manna wat die geld in hul sakke geval het . Dis die waarheid .

annie ·

Hoekom bly so baie mense glo dat daar diep binne-in die president iemand anders skuil wat nie soos die res van die ANC-kaders dink en nog eendag anders sal doen nie? Cyril was die voordanser by Mandela se vrylating en die voorbok by die onderhandelings en ore aangesit vir De K en sy aan-slaap-raadgewers. Hy was die vise-prez vir Zuma en het saam gegiggel tydens vergaderings. Hoe het Ramaphosa sy miljarde verdien buiten om op rade te dien vir ‘n ‘aalmoesie’? ‘n Mens kan die leeu uit die bos gaan haal, maar…

Andre ·

Hoe anders kan hulle miljarde Rande se hulpfondse kry en dit dan as nood-uitgawes laat verdwyn? Die kiesers sal mos weer stem dat hulle dit goedkeur.

JohanR ·

Onder President Cyril Ramaphosa het die aand van 23ste Maart finaal gedink. Na dit is sy denke deur President Nkosazana Dlamini-Zuma oorgeneem!

LANA is ELANè ·

Wimpie vd Sandt jammer om jou in te lig maar baie mense, wat regeringsbande het is besig om hulself ten koste vd land se ekonomie te verryk. Inperking en die maskerbrigade is nog vir lank nie klr nie.
Die regering kan nie nou al sy wurggreep op volk en vaderland oorgee nie, daar is nog te veel waarop hulle hul hande wil lê.
Dink jy rerig hulle gee om dat ons land teen die tempo van lig in ‘n hool verander?
Hulle is besig om hulself te verryk en ja, ek wonder ook wie die werklike president is, beslis nie CR nie!
Terwyl die gewone man op straat nie eens amper die luukse van ‘n brood per dag kan geniet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.