Modderstoei en polarisering sal Macron vaspen 

Emanuel Macron

Emanuel Marcon. Foto: Facebook.

Emmanuel Macron het die Franse presidentsverkiesing op 7 Mei gewen, maar Frankryk bly diep verdeeld. Politieke en ekonomiese onvrede sal Macron vorentoe dalk meer vaspen as wat Marine le Pen se Front National (FN) kon regkry.

Macron het met sy nuwe party En Marche! (Voorwaarts!) sowat 65% van die stemme op hom verenig, Le Pen sowat 35%. Die kiespersentasie van 69% was die laagste in 40 jaar. Sowat 12 miljoen kiesers het op 7 Mei nie gaan stem nie en meer as 4,2 miljoen het eerder hulle stembriewe bederf.

Die meeste Franse kiesers verwerp ou rolspelers en instellings en gee nuwe kragte nou ʼn kans. Daardie steun kan ook net so vinnig weer aanskuif. Sowat 44% van kiesers in die ouderdomsgroep 18-24 het vir Le Pen gestem. Dit kan nie uitgesluit word dat Marine le Pen of Marion le Pen in volgende presidentsverkiesings nog beter sal vaar nie.

Vir Macron wag ʼn besonder uitdagende tydperk as president. Soos ek aandui in Kultuurvryheid en selfbestuur (Kraal-Uitgewers 2017), is die bestaande politiek in Frankryk en Europa in ʼn byna rewolusionêre oorgangsfase. Vyf tendense sal Macron se politieke speelruimte vorm en beperk: Daar is groot verdeeldheid onder kiesers en baie wantroue in hoofstroompartye. Identiteitspolitiek bloei op, nes steun vir ʼn sterker veiligheidsbeleid. Ekonomiese modderstoei sonder oplossings lyk waarskynlik, en intussen bly baie mense skepties oor die EU en die sterk Duitse rol daar.

Kiesers wantrou hoofstroompartye

Baie kiesers is moeg van die hoofpartye se beloftes en vertrou hulle nie. Dit het reeds in die eerste verkiesingsronde op 23 April geblyk. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Vyfde Republiek is die twee tradisionele hoofpartye, die Sosialiste en die konserwatiewe Republikeine, albei uitgeskakel.

Dieselfde wantroue en verdeeldheid blyk ook wyer in Europa, soos uit die Oostenrykse presidentsverkiesing en Italiaanse referendum in 2016 en die Nederlandse verkiesing in 2017. Die vorige Sosialistiese president, Francois Hollande, het reeds die rebelse stroom gevoel. In Desember 2016 was hy die eerste sittende Franse president in 60 jaar wat hom nie weer verkiesbaar stel nie.

Die verkiesingsuitslae in Frankryk toon ook die verdeeldheid van die politiek. Dit is uitsonderlik dat die uiteindelike eindkandidate Macron en Le Pen in die eerste ronde 55% van die kiesers se steun nie gekry het nie. Dit blyk nou ook uit die miljoene kiesers wat weggebly het of hul stembrief bederf het. Macron het ʼn voorwaardelike en vloeibare steunbasis.

“Patriotiese lente” se bloeisels

Europese kultureel-nasionalistiese partye soos die FN het voorspel dat ʼn nuwe “patriotiese lente” van politieke oorwinnings tydens vanjaar se Nederlandse, Franse en Duitse verkiesings sal plaasvind. Hulle ondersteuners het gehoop dat die Brexit-referendum en Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing wyer kiesersopstande aandui en ʼn soort domino-effek kon vertoon.

Die kiesersopstande was daar. Die nasionale politiek in hierdie lande was egter steeds bepalend, en hierdie partye kon nie wen nie. ʼn Domino-effek het uitgebly. Nietemin het hierdie partye vanuit die kantlyn en sonder steun van die hoofmedia nou in baie lande een van die top-twee of -drie partye geword. Hulle is nie meer weg te dink uit die politieke landskap nie. Die FN en soortgelyke partye is egter nog swakker geïnstitusionaliseer in die wyer samelewing as verwante strominge in Oos-Europa.

Die “Patriotiese Lente” se “bloeisels” oor identiteitspolitiek dien wel as bestuiwing elders. Ander partye neem van hulle idees oor om weer verlore kiesers te lok. Toe Jean-Marie le Pen, FN-stigter en Marine se pa, in 2002 ook deurgaan na die tweede ronde van die presidentsverkiesing en sowat 4,5 miljoen stemme kry, was die helfte van Frankryk in totale skok en morele verontwaardiging.

Sedertdien het FN-verwante idees egter neerslag gevind in die programme van ʼn vorige Republikeinse president, Nicolas Sarkozy, en later ook by die vorige Sosialistiese regering se minister van binnelandse sake, Manuel Valls. Le Pen het met sowat 11 miljoen stemme die grootste onlangse sukses getoon van ʼn nasionaalgesinde party in Wes-Europa.

Die grootste uitwerking van hierdie soort partye is dalk dat openbare debatte nou baie klem plaas op Westerse waardes en identiteit, anders as in die tydperk voor die aanvalle van 11 September 2001. In Frankryk beheer die FN steeds die beleidsagenda oor identiteit en migrasie. Gebeure in Frankryk en op Europa se suidelike flanke sal hierdie temas lewendig hou.

Veiligheidsbegrotings groei

Islamitiese terrorisme en straatmisdaad is ʼn bron van kommer vir Franse kiesers. Meer as 240 mense is immers die afgelope jare in terroriste-aanvalle in Frankryk gedood. Minstens tweederdes van die kiesers steun groter veiligheidsbegrotings. Dit blyk uit meningspeilings, maar ook uit sowel Le Pen en Macron se programme.

Die alledaagse lewe tydens die afgekondigde noodtoestand is ook anders. Die meeste sake gaan soos gewoonlik voort. Daar is egter nou dikwels gewapende soldate by die Notre Dame of Eiffel-toring in Parys, en op die boulevard in Nice waar die aanslag in 2016 gepleeg is. Op besoeke aan Parys moet ʼn mens deesdae in baie winkelsentrums jou tas of sak oopmaak om deur veiligheidswagte bekyk te word.

Of Franse burgers gou weer heeltemal veilig sal voel, is te betwyfel. Mense oral in Europa leer deesdae om saam te leef met die kans op terroriste-aanvalle. Die FN sal nie hierdie beleidsagenda en openbare debat beheer nie, maar dit wel sterk vorm. Sowat 50% van die polisie is FN-stemmers volgens die peilings. Beleidsuitvoering sal daardeur geraak word.

Ekonomiese modderstoei

Franse kiesers klou aan die welsynstaat, en nog meer daarvan. Dit blyk uit meningspeilings en ook die meer as 46% stemme vir kandidate soos Mélenchton, Hamon en Le Pen in die eerste verkiesingsronde. Almal van hulle steun sosio-ekonomiese proteksionisme.

Meningspeilings dui ook aan dat die meeste Franse steeds globalisering koppel aan die werkloosheid van 10% en prysverhogings. Franse vakbonde sal die oudbankier Macron ook met arendsoë dophou.

In Junie 2017 se parlementsverkiesings is Macron afhanklik van steun uit die gevestigde Republikeine of die Sosialiste. Hulle kan dan hulle kans waarneem om hom te laat val of groot toegewings te beding, want sy party is nuut en ongevestig. Miskien kan Macron dan heelwat kiesers vir sy nuwe party wen, maar dit gaan maar ʼn allegaartjie wees.

Macron sal dus besondere towerkragte moet vertoon om Frankryk op ʼn nuwe ekonomiese pad te lei. Ekonomiese modderstoei lyk waarskynlik. Groot kiesersteun vir bestaande en ook radikaler sosialistiese rolspelers in die toekoms bly moontlik.

EU-skeptisisme groei

Franse kiesers is nou al in twee byna eweredige blokke oor die vraag om in die EU te bly of dit heeltemal te verlaat. Dit verteenwoordig ʼn groot verskuiwing in een van die EU se twee kernstigterslede. Die skeptisisme oor die EU was al sigbaar in die 2005-referendum oor die Europese grondwet. Dit sal nie gou verbeter vir die pro-EU-mense nie.

Daar is ook skeptisisme oor die Duitse leierskap en ekonomiese beleid in die EU. Le Pen het in die laaste verkiesingsdebat dan ook voorspel dat een van twee vroue Frankryk ná die verkiesing sal reageer: syself of Angela Merkel.

Frankryk is ná Brexit weer ongetwyfeld die tweede sterkste rolspeler in die EU. Frankryk het naas Brittanje die sterkste weermag in Europa en baie ervaring in konflikgebiede in Afrika. Macron sal die dryfkragte vir meer nasionale bevoegdhede en eie buitelandse beleid binne die EU nie maklik hokslaan nie.

  • Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke ontleder in Europa en redakteur van die onlangs verskene Kultuurvryheid en Selfbestuur (Kraal-Uitgewers 2017).

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

jcwf ·

66% van die stemme en 73% opkoms is nie genoeg vir Heinrich nie… Regtig?

Maar nee, Heinrich, daar sal geen öxit, nexit of frexit wees nie. Die hele “populistiese golf” waarop jy gehoop het, het ‘n lading twak geblyk. Die EU gaan nou ‘n supermag word en little England word ‘n onbelangrike eilandjie vir sy kus wat se mening nie meer tel nie.

Heinrich Matthee ·

JCWF, dalk moet jy weer my stuk lees. Die politiek in Europa is omgedolwe. Om dit aan te stip, het niks met steun vir enigeen te doen nie. Ek self dink die groepe en state van Europa moet saamstaan. Die EU strompel egter tans voort, afhanklik van sy nasionale state. Dit sal sonder sy grootste weermag en tweede grootste ekonomie (Brittanje) nog minder tel n die wereld. Die EU sal oorleef, soos ‘n man met hartprobleme, noem die pro-EU historlkus Timothy Ash. Die Franse verkiesing is die glas rooiwyn wat hy nou geniet, terwyl hy wonder oor die volgende Italiaanse hartaanval.

John ·

Die groot toets vir Macron is of hy staande sal kan bly voor Merkel & kie se massiewe Duitse stoomroller wat op hom afpyl. Gelukkig is hy nog jonk want ‘n bejaarde leier sal beslis soos sake nou in die EU staan, ‘n beroerte of ‘n hartaanval in die nabye toekoms moet kan weerstaan… en ook stilweg wens hy het soos Trump, genoeg moed gehad om die woord ‘muur’ te uiter…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.