Modelle vir nasiebou en postkoloniale Afrika

afrika-vasteland-aardbol-kaart-duim-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Deur prof. Elirea Bornman

In die vorige artikel in hierdie reeks onder die opskrif “Nasiebou: Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog” is gewys op die kritiek teen modernistiese nasiebou. In hierdie artikel word gefokus op modelle van nasiebou en hoe dit in Afrika sedert die postkoloniale tydperk toegepas is.

Volgens Dersso word twee vorme van nasiebou geassosieer met die twee uiteenlopende standpunte oor die rol en posisie van etniese groepe. Volgens die modernistiese of liberale standpunt behoort etniese groepe ontbind te word om deel van die hoër, dominante kultuur te word. Die “hoër kultuur” word met die nasiestaat in verband gebring en daar word aanvaar dat daar ooreenstemming tussen die nasie en die staat behoort te wees. Daar word dus geglo dat die nasie ’n linguisties en kultureel homogene entiteit behoort te wees wat die eenheid van die staat weerspieël. Nasiebou behels dus prosesse van assimilasie, akkulturasie of amalgamering vir die totstandbrenging van ’n enkele kultuur, identiteit en taal en die vorming van nuwe lojaliteite en ’n nuwe identiteit wat met die staat geassosieer word. Hierdie standpunt behels derhalwe ’n een-tot-een-verhouding tussen modernisering en kulturele homogenisering. Daar word dikwels na hierdie model – wat voorheen die dominante model en kenmerk van die grondwetlike staat was – as Jakobinistiese nasiebou verwys.

Daarenteen beskou die alternatiewe neopremordiale standpunt kulturele diversiteit as voordelig vir ’n samelewing en ’n skans teen tirannie. Daar word geglo dat die samelewing nie deur die ideologie van eenheid, eenvormigheid en assimilasie nie, maar eerder deur respek vir diversiteit gerig behoort te word. Hierdie tweede benadering – ook bekend as sinkretistiese nasiebou – erken en waardeer die realiteit van diverse etnopolitieke gemeenskappe en groepe binne ’n staat (Dersso, 2008). Etniese identiteite verkry erkenning deur middel van verskillende instellings en beleid wat openbare ruimte vir hul erkenning bied, terwyl ’n gemeenskaplike nasionale identiteit terselfdertyd bevorder word deur gemeenskaplike instellings en gedeelde waardes en simbole. Sinkretistiese nasiebou word tans in moderne multi-etniese state soos Switserland en Kanada beoefen.

Sinkretistiese nasiebou bevraagteken verder die direkte verband wat deur nasiebouteoretici tussen modernisering en kulturele homogenisering getrek word en glo dat dit futiel is om te probeer om etnisiteit uit te roei. Dit is dikwels eerder die geval dat moderne ontwikkelings op die gebied van kommunikasie en vervoer etniese bewustheid verhoog, aangesien dit daartoe lei dat die lede van etniese groepe meer bewus word van die verskille tussen hulle en ander groepe. Simpson (1994) wys in dié verband daarop dat die tydperk ná die Koue Oorlog gekenmerk word deur ’n oplewing in etnisiteit, nie slegs in baie state van Oos-Europa en Afrika wat onlangs onafhanklik geword het nie, maar ook in Westerse state wat al geruime tyd as “stabiele” demokrasieë beskou word, byvoorbeeld Quebec, die Baskiese gebied, Katalonië, Skotland en Wallis, asook die hernieude spanning tussen die Vlaminge en Walloniërs in België.

Die gebeure in die voormalige ledestate van die Sowjetunie lei Brubaker (1996) tot die afleiding van ’n drieledige tipologie van staatmodelle wat met verskillende standpunte oor diversiteit en nasiebou ooreenstem:

  • Eerstens is daar die burgerlike staat, met ander woorde die staat is daar vir sy burgers, ongeag hul etniese lidmaatskap.
  • ’n Tweede model is dié van die bi- of multinasionale staat wat uit twee of meer etnokulturele groepe bestaan.
  • ’n Derde model is die hibridiese model waarvolgens die staat nie as ’n nasionale of nasionaliserende staat beskou word nie. Lede van minderheidsgroepe geniet nie slegs individuele regte as burgers nie, maar ook bepaalde minderheidsgroepregte – gewoonlik op die gebied van onderwys – wat hulle teen potensiële nasionaliseringsneigings van die staat beskerm.

Terwyl etnisiteit en minderheidskulture geen plek in die burgerlike staat het nie, het dit wel openbare en politieke betekenis in die bi-nasionale staat. In die burgerlike staat is die samestellende elemente individue, terwyl dit in die bi- of multinasionale staat etnokulturele groepe is. Die hibridiese staat bevat elemente van albei.

Rakende nasiebou in postkoloniale Afrika, het lande met onafhanklikheidswording voor die probleem te staan gekom dat hul bevolkings heterogeen en divers was en dat die grense van die meeste Afrikalande deur koloniale avonturisme bepaal is en gevolglik vele groepe en gemeenskappe met afsonderlike tale, kulture en geskiedenis insluit. Probleme rakende diversiteit, is boonop vererger deur die swak institusionele vermoë, asook onderontwikkelde ekonomieë en infrastruktuur wat baie Afrikastate kenmerk.

In ’n poging om oplossings te vind vir die probleme wat met diversiteit verband hou, is die verbeelding van die meeste Afrika-leiers deur die nasiestaat- (Jakobinistiese) model van nasiebou aangegryp. In Afrika het hierdie model weens verskeie redes – onder meer die liberalegrondwet-tradisie – die feitlik vanselfsprekende keuse geword om diversiteitsvraagstukke te hanteer. In teenstelling met die 19de eeuse liberale denke word daar algemeen geglo dat ’n enkele, homogene identiteit ’n voorvereiste vir demokratiese regering en politieke stabiliteit is. Daar word boonop geglo dat die gladde funksionering van die moderne staat ’n kultureel (en taalkundig) homogene samelewing vereis sodat burgers transaksies met mekaar kan aangaan, die burokrasie effektief bestuur kan word en dieselfde hofstelsel vir almal gebruik kan word. Nog ’n belangrike rede is die feit dat Afrika-etnisiteit in hoë mate geassosieer word met stamgebondenheid (tribalism), wat algemeen as ’n belemmering vir modernisering en ontwikkeling beskou word.

Die meeste Afrikalande pas gevolglik nasieboustrategieë toe wat assimilasie en integrasie beklemtoon. Die klem val op homogeniteit en eenheid. Grondwette, wetgewing en omgewingsbeleid het almal instrumente geword in die hande van hoogs gesentraliseerde regerings om homogeniteit en eenheid te bevorder en af te dwing. Die sentralisering van politieke en ekonomiese mag het in Afrika een van die belangrikste instrumente in die hande van regerings geword om pluralisme te onderdruk. ’n Algemene tema onderliggend aan die meeste grondwette en politieke diskoerse in Afrika is die weiering om wetlike, politieke of institusionele uiting te gee aan bepaalde groepe, asook die opheffing van enige vorm van groepsbeskerming. Etnisiteit word boonop beskou as ’n verdelende krag wat nasionale eenheid ondermyn. Die uitdrukking van etniese solidariteit en politieke mobilisering op ’n etniese grondslag word verder verbied. So hoop Afrika-regerings om etniese lojaliteite uit te roei ten einde hul state te transformeer in “a nation-state proper and hoping to live happily ever after” (Dersso, 2008).

Hierdie wens is ongelukkig nie bewaarheid nie. Nasiebouprosesse hou verreikende nadelige gevolge vir etniese groepe in Afrika in. Eerstens het unitêre en hoogs gesentraliseerde regeringsvorme gelei tot oorheersing van die staatsmasjinerie deur bepaalde dominante groepe en wydverspreide sosio-ekonomiese ongelykhede tussen groepe en streke. Aan die een kant het hierdie situasie in baie gevalle mededinging (in plaas van samewerking) om beheer oor die staat en, aan die ander kant, die marginalisering en vervreemding van minderheidsgroepe veroorsaak. Op die politieke terrein was geweld – selfs gewapende geweld – dikwels die bitter gevolg van nasiebou. In ’n land soos Soedan het inter-etniese geweld uiteindelik tot afstigting en die skepping van twee nuwe state, Soedan en Suid-Soedan, gelei.

Op kulturele vlak het nasiebou in Afrika tot die nasionalisering van kultuur en tale gelei ten einde “eenheid” van die land te weerspieël. In die meeste Afrikastate dien die twee belangrikste koloniale tale – Engels en Frans – nie alleen as die simboliese tale van nasionale eenheid nie, maar het dit ook die lingua franca en tale van die regering en ekonomie geword. Waar inheemse tale wel erken word, word voorkeur gegee aan die tale van die dominante groep. Die gebruik van baie minderheids- inheemse tale is gevolglik beperk tot die gesin, kerk en die kleiner gemeenskap, wat tot die marginalisering en agteruitgang van hierdie tale en kulture lei. Die 1986-inisiatief van die OAE (nou die Afrika-unie) om ’n taalaksieplan vir die erkenning van inheemse tale en die toenemende gebruik daarvan aan te moedig, het maar weinig sukses in die meeste Afrikalande gehad.

  • Prof. Elirea Bornman is verbonde aan die Departement Kommunikasiestudies aan Unisa. Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ’n FAK-publikasie, Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog, deur prof. Bornman.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Paul ·

Dit wil sê die ANC regering se politieke ideologie van ’n monokulturele nasie, gekoppel aan ANCbeheer deur hul beleid van kaderontplooiing wat hulle as bestuursmodel op ons afdwing, is die rede vir konflik, waarom dit nie nasiebou in die hand kan werk nie, maar die oorsaak is vir wrywing.

Paul ·

Dit wil sê die regering se politieke ideologie van ’n monokulturele nasie, gekoppel aan ANCbeheer deur hul beleid van kaderontplooiing wat hulle as bestuursmodel op ons afdwing, is die rede vir konflik, waarom dit nie nasiebou in die hand kan werk nie, maar die oorsaak is vir wrywing.

B ·

Baie goed.
Hoekom kan nasiebou maar net op so ‘n volwasse vlak gepleeg word soos: ‘Almal het hulle eie plekke in die son tesame met wedersydse respek + eie seggenskap oor eie sake, tesaam’

B ·

Jammer, die ‘nie’ het uitgeval – ‘Hoekom kan nasie nie maar net…’

nico k ·

‘n Homogene staat met een etniese groep is beslis die ideaal. En dit sal baie konflik in veral Afrika verminder as state opgebreek word on kleiner eenheidstate. Maar in die praktyk het volke so rond beweeg deur die jare dat dit moeilik is om deesdae ‘n gebied te kry met net een volk in ‘n spesifieke gebied. Suid Afrika is ‘n goeie voorbeeld. En daarom is die liberale model noodsaaklik om minderheidsgroepe te beskerm. ‘n Kombinasie van beide modelle is seker maar die beste.

Liberaal ·

Maar ons liberaliste is juis teen minderhede deesdae, ons wil net ons eie wil afdwing op minderhede deur om die massamedia te gebruik om vir jou te beveel wat jy moet dink en glo.

Charles ·

Uitstekend, dankie Professor Bornman.

Nodeloos om te se sal ek my die opinie veroorloof dat verreweg die meeste (‘n meerderheid van 80% tot 90%) Afrikaners/Boere om goeie en bewese redes die sinkretistiese model steun en die Jakobinistiese model afkeur. Die sinkretistiese model ondersteun,- en het ‘n reuse bolwerk in Afrikaners se unieke geskiedenis- ons versugting na vryheid- wat maar ALTYD teenwoordig is.

Dit is wonderlik dat daar aldag sulke opbouende en interessante artikels in Afrikaans op Maroela Media verskyn!

#Mag&Bronne Politiek Plaasvark ·

Uitstekende en insiggewende artikel. Die stryde en modelle gaan eintlik oor MAG en toegang tot BRONNE ter oorlewing. En hier speel gierigheid en die sonde hul rolle. Soos wat die mense migreer na beter ekonomiese vooruitsigte, sal die magstryde toeneem namate verskillende lewenssieninge op dieselfde geografiese gebiede teen mekaar uitspeel. Daar is geen perfekte model of grondwet nie. Dit is beskore vir die hiernamaals. Soort soek soort ter oorlewing en basta met die res.

Jerry ·

Die model vir nasiebou in Afrika en ook Suid Afrika is een man, een stem wat bepaal dat die meerderheid die nasie is, ongeag etnisiteit. Die nasie het toegang tot die ekonomiese koek en die minderheid word uitgesluit deur NDR transformasie, regstellende aksie en OSV programme. Jy kan na liberale modelle kyk soos jy wil, daar is net een model en een nasie vir Afrika. Die reenboognasie term, is n misleidingsfoefie en daarom soek witmense naarstigtelik na n model om witmense te akkommodeer in Suid Afrika. Ten spyte van etniese verskille, faksiegevegte en xenofobiee, is Afrikane almal broers en susters, almal een nasie van een model, een groot happy family en ten spyte van die ellende waarin hulle leiers, hulle dompel. Witmense pas nie in by die nasie nie, omrede witmense nog nooit deel van die model was nie. Die enigste model waarvan witmense deel is, is die westerse model en dit is waar hulle inpas! Witmense gaan na CR se termyn net inpas by die Afrika model as jy jou siel verkoop vir n pot lensiesop! Ontkenning daarvan dat daar net een model en een nasie is in Afrika en waarvan witmense nie deel is nie, is soos ontkenning dat die skrif teen die muur is! Ontkenning gaan witmense en meer spesifiek, die Afrikaner, nog duur te staan kom. VERSOEN nou, of GAAN GROOT! Of GAAN HUISTOE (emigreer) is die model (opsies) om uit te kies en op voor te berei vir wanneer CR se termyn verstryk!

Charles ·

Jerry, ek neem aan VERSOEN is jou eufemisme vir ASSIMILEER EN GOOI HANDOEK IN, en dit my vriend, sal nooit as te nimmer gebeur nie.

Ons sal ONS EIE plekkie in ONS Afrika SON uitkerwe, kom wat wil, en maak nie saak met watter middele nie.

#57 per dag

Wim ·

‘n Wolf kan van sy skaapklere ontslae raak, maar ek kan nie my siel verkoop nie, nog minder van my vel ontslae raak.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Die Afrikaner het twee opsies nl integreer of segregeer. As jy integreer moet jy bereid wees om jou taal, jou kultuur en jou eie identiteit prys te gee en op te gaan in ‘n “smartie” samelewing. Dus moet jy bereid wees om te meng en te vermeng. Segregasie of eenkant wees, noem dit apartheid, is die ander opsie waar die Afrikaner volk sy eie kultuur beoefen sy eie godsdiens beoefen en verantwoordelikheid neem vir sy voortbestaan . Dit sal bloed , sweet en trane kos maar ons voorouers was bereid om dit te doen. Is daar nog mense wat ruggraat het om dit te doen?

Kolonie ·

Sjina gaan van S A ‘n kolonie maak – wag maar en sien -= wonder wat gaan die anc dan se?
Hulle is al klaar besig daarmee en betaal geen vat of tax nie.
Wonder hoeveel duisende is al in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.