Moderne slawerny: Hoeveel weet jy?

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Artikel saamgestel deur Belinda Campher en Alita Rose, lede van die Dameskring

Misbruik van mense en mensehandel (moderne slawerny) is vandag nog net so relevant soos 400 jaar gelede – net met ʼn effens ander gesig. Die Derde Wêreld, spesifiek Afrika, is steeds die grootste teiken van hierdie wêreldwye misdaadbedryf.

Elanie Kruger, voorheen ʼn slagoffer van mensehandel, het in 2015 op die vrouelidmate van die NG Kerk in die Vrystaat se vrouekonferensie in Pellissier, ter viering van hulle 150-jarige bestaan, haar gru-ervaring gedeel, asook skokkende statistieke bekend gemaak van hoe mensehandel die mense in Suid-Afrika raak.

Elanie is as tiener vir agt maande as seksslaaf in ʼn hotel in die Bloemfonteinse middestad aangehou. Haar ouers was albei alkoholiste en baie arm. Toe sy 16 was, het haar ma selfmoord gepleeg en sy moes dringend werk soek om aan die gesin se behoeftes te voldoen. “Met ʼn CV van een bladsy kon ek nêrens werk kry nie. ʼn Familievriend het egter vir my gesê hy kan vir my werk kry. Ek moet vir my ʼn sak klere saamvat en saam met hom ry.”

Hy het haar na ʼn plek in die stad geneem. Vir agt maande is sy daar aangehou. Sy was verslaaf aan dwelms en alkohol. Sy is aan ʼn bed vasgeketting en moes met 15 tot 20 mans per dag seks hê. Na agt maande het sy besef dat sy nie gaan oorleef nie. ʼn Seksslaaf se leeftyd is gemiddeld nege tot 12 maande.

Sy het haar ontsnapping beplan en een dag, toe die bordeel se deur oopgaan, daarin geslaag om weg te hardloop. Nou, 20 jaar later, het sy saam met Jaco Hough-Coetzee ʼn boek geskryf, Van skoolbank tot bordeelbed, en tree sy as motiveringspreker op saam met Hykie Berg, akteur en ambassadeur van People Search and Rescue Unit (PSARU), om Suid-Afrikaners bewus te maak van die skokkende werklikheid wat reg onder ons neuse plaasvind.

Mensehandel vind nie net plaas om seksslawe van slagoffers te maak nie. Sindikate sny dikwels die slagoffers se ledemate en geslagdele af vir moetie. Organe word ook verkoop om geld te maak. Mensehandel is ʼn misdaad wat baie vinnig in Suid-Afrika toeneem. Dié misdaad en dwelmmisbruik loop dikwels hand aan hand.

Skokkende feite:

Elke ses uur word ʼn kind in Suid-Afrika as vermis aangegee. Van PSARU se statistieke sluit in:

  • Gauteng en Bloemfontein is die twee plekke waar mensehandel die meeste plaasvind.
  • Ouderdomme van slagoffers: 0 – 20 jaar: 57%; 21 – 31 jaar: 21%.
  • Geslag van slagoffers: Vroulik: 53%; Manlik: 47%
  • Ras van slagoffers: Wit: 82%; Ander: 18%.
  • Slagoffers wat deur PSARU gevind is: Lewend: 89%; Dood: 11%

In 2013 het Yolanda Mynhardt en Herman Strydom ʼn ondersoek van stapel gestuur waartydens die kennis en persepsies van maatskaplike werkers van verskillende organisasies ingewin is ten einde vas te stel wat maatskaplike werkers se siening van mensehandel is, en wat hulle as hul rol in die bekamping van mensehandel beskou.

Volgens hulle bevindinge word mensehandel geag as die vinnigste uitbreidende kriminele bedryf ter wêreld. Dié misdaadbedryf genereer ʼn jaarlikse profyt van tot $7 miljard wat die handeldryf met mense ʼn besonder winsgewende bedryf maak.

Jaarliks word ten minste 4 miljoen mense die slagoffers van mensehandel, oor of binne nasionale grense, wat met die grootste onmenslikheid behandel word. Mensehandel vind nie net oor landsgrense plaas nie, maar ook binne een land vanaf landelike na stedelike gebiede.

Volgens Mynhardt en Strydom se bevindinge het mensehandel sy ontstaan gehad as gevolg van die veranderinge wat globalisering gebring het. Die ontwikkeling van industrialisering het drastiese veranderinge in mense se lewens tot gevolg gehad. Die geskiedenis dui op talle voorbeelde van samelewings waar slawerny en uitbuiting van mense as aanvaarbaar beskou is, en gewoonlik was dit vroue en kinders wat onderworpe was aan mensehandel, en spesifiek om as prostitute te werk.

Die geskiedenis van mensehandel dateer uit die Romeinse era en is meer onlangs voortgesit tydens die vestiging van die Verenigde State van Amerika. Hierdie ondergrondse bedryf met sy komplekse netwerke, wat spesifiek voortgedryf word deur maatskaplike, ekonomiese, kulturele, politieke en globaliseringsfaktore, is nog nie voldoende deur huidige navorsing ondersoek nie.

Die begrip ‘mensehandel’

Uit die betrokke ondersoek was dit duidelik dat dwang, dreigemente, valse beloftes, ontvoering, misleiding en die ontkenning van die individu se vryheid ʼn rol by mensehandel speel. Uitbuiting van mense is altyd teenwoordig en word as moderne slawerny beskou waarby geldelike gewin altyd ʼn rol speel. Prostitusie, gedwonge arbeid en selfs die verwydering van organe word beskou as sommige van die vorms wat mensehandel kan aanneem.

Mensehandel is ‘n hoogs georganiseerde bedryf en funksioneer ondergronds ten einde nie onder die aandag van die owerhede te kom nie. Dit is dus moeilik om mensehandelaars vas te trek. Omdat mensehandel alle lande raak, behoort die voorkoming of verligting daarvan mettertyd wêreldwye prioriteitsaandag te geniet.

Oorsake van mensehandel

Inligting deur Mynhardt en Strydom ingewin, bevestig verder dat armoede, werkloosheid en die motief om vinnig ryk te word, die vernaamste oorsake van mensehandel is.

Onwettige immigrante raak dikwels by mensehandel betrokke ten einde ʼn inkomste in ʼn vreemde land te verseker. Buitelanders behoort betrek te word by ʼn land se algemene funksionering om maatskaplike blootstelling, soos arbeidsuitbuiting, te verhoed of ten minste te beperk.

In ʼn land met chroniese werkloosheid, wydverspreide armoede en ʼn gebrek aan ekonomiese geleenthede maak mensehandelaars gebruik van valse beloftes van hoër lone en goeie werksomstandighede in vreemde lande.

Die alles oorheersende behoefte aan ʼn beter lewe word dikwels verabsoluteer, wat meebring dat individue blind raak vir die werklikheid wat met mensehandel gepaard gaan en magteloos staan teenoor die gevare daarvan.

Kenmerke van mensehandelaars

Uit die navorsingsondersoek het dit geblyk dat mensehandelaars doelbewus persone teiken en dan poog om hulle op die een of ander manier van nader te leer ken en sodoende by hul web in te trek. Mensehandelaars doen hulle dikwels voor as goedversorgde en welvarende sakemanne of -vroue, dikwels buitelanders, om die indruk te skep dat alles in orde is en sodat potensiële slagoffers nie agterdogtig raak nie.

Kenmerke van slagoffers

Mynhardt en Strydom het vasgestel dat slagoffers dikwels gekenmerk word deur min onderhandelingsvaardighede, naïwiteit en magteloosheid. Die slagoffers van mensehandel word van hul basiese menswaardigheid en vryheid gestroop en hulle word in gedwonge seksuele of arbeidsuitbuitende situasies vasgevang. Die slagoffers is selde in staat om te midde van hierdie omstandighede aan ontsnapstrategieë te dink.

Impak van mensehandel op die slagoffer en die gesin

Mensehandel het ʼn ingrypende impak op al die fasette van ʼn individu se lewe. Nie alleen is daar ʼn fisieke impak nie, maar ook ’n geweldige emosionele en kognitiewe impak. Slagoffers ervaar intense gevoelens van verwerping en verloor dikwels alle vertroue in die mensdom.

Mensehandel is ʼn wrede werklikheid en statistieke dui daarop dat mensehandelaars geen genade vir hulle slagoffers het nie.

There may be times when we are powerless to prevent injustice, but there must never be a time when we fail to protest.” (Elie Wiesel)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

charles ·

aah dankie vir die rubriek, ek gaan volgende jaar my LLM in “Slavery in the 21st century and its impact on International Trade” doen.

Wilma ·

Werklik skokkende inligting. Net een fout, Gauteng is nie ‘n stad nie. So watter twee stede vind dit nou die meeste plaas? Bloemfontein en ?

Sune van Heerden ·

Dagsê Wilma

Ons vra om verskoning vir dié fout wat ingesluip het. Dit moet bloot lees: “Gauteng en Bloemfontein is die twee plekke waar mensehandel die meeste plaasvind.” Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Retha ·

Ek voel dat almal in vandag se dae deel is van modern day slavery is. Jy werk vir n minimum loon net om te kan eet en vir jou gesin te kan raap en skraap, jy durf nie opstaan en sê: Ek is meer werd as waarvoor julle my betaal nie, uit vrees om jou werk te verloor. Jy kry nie genoeg inkomste om jouself te verbeter met studies nie so jy kwalifiseer slegs vir die minimum loon en so is ons almal deel van modern day slavery.

SkarrelKind ·

Ek stem in ‘n mate saam met jou Retha, maar as mens darem vir jouself kan sorg en nie gedwing word om dade teen jou sin te pleeg nie, ‘n bed, kos en water het, is dit nie in werklikheid dieselfde nie. Ek voel ook soos jy as salaristrekker maar daar is mense wat regtig hard probeer, ‘n besigheid op die been kry en ‘n beter lewe lei. Dis net nie altyd so maklik nie, maar dit bly ‘n keuse. Waar hedendaagse slawe weggesluit/aangehou word en ‘n skraal kans het om weg te kom. Dink jy nie?

Louis C Prinsloo ·

Al verbeter mens met studies, mens se geleertheid tel deesdae ook baie min agv ekonomiese omstandighede en samelewing. Steeds, God het ons elkeen gesonde verstand gegee om as slagoffers te ontsnap of om aanhoudend beter werk te bly soek.
Wat myself as voorbeeld, wel nie slagoffer van menshandel nie en sal alles in my mag doen om dit tee te staan saam opregte herders van die samelewing; tog het ek weens ‘n karongeluk slegs Gr.8 agter my naam. Die verdere rekenaar studies wat ek al agter my naam het, tel niks weens swak ekonomie en/of min werksgeleenthede wat dit vereis.
Steeds bedink ek niks ongewens teenoor ander nie en help mense tot gesond lewe, soos ek speelitjies by dorp se jaarlikse publieke funksies hou en vel sorg produkte verkoop vir inkomste. Gelukkig is ek nie hulploos nie en met gesonde verstand, sien ek watter aanwysings God my gee- Kerk/my moeder. Dus het God my verlos van die wêreld, tog is ek nie gevrywaar van die gevare in die wêreld nie; so my gebede en ope verstand dra onsienlik baie krag

tamboti ·

Mense, as jul nie die skuim in jul eie families weghou en dophou nie (ja enigeen wat met dwelms te doen het) gaan daar gevolge wees. Leer jul kinders van kleins af reg en laat geen boelie gedrag toe nie.
Rapporteer enige vreemde persone of gedrag.
Wees lief vir jul kinders en koester hulle, sterkte!

Wat-ek-lees ·

Jy is reg tamboti MAAR as jy soos sy desperaat vasgevang is in jou omstandighede en ‘n familielid met ‘n geveinsde gesig jou hulp aanbied dan glo ek nie mens gaan dit maklik weier destemeer as jy maar net sestien jaar oud is.
Goeie nuus dat Elanie haar warskuwingsboodskap verkondig.

SPREKER ·

Hoe en wie kan ek kontak om Elanie te nader om as n spreker to kom optree by ons kerk?

Anthonie Van Bosch ·

Dameskring – Ek dink elke dameskring in die land moet ‘n artikel skryf om die maatskaplike probleme in hulle dorp en omgewing weer te gee. Die inligting sal aktiviste kan help. Goeie artikel.

Skokkend ·

Dis regtig vir my ‘n skok dat witmense die grootste slagoffers is van mensehandel volgens hierdie berig. Witmense maak ‘n fraksie uit van die aantal bevolking in Gauteng en Bloemfontein, maar maak 82% uit van alle slagoffers! Dink die wit gemeenskap moet bietjie ondersoek instel hoekom hulle die grootste slagoffers van mensehandel in Suid-Afrika is. In Amerika is dit bv mense soos die Meksikane wat die meeste lei onder mensehandel, en dit gaan beroerd in hulle land. Wonder net of dit omstandighede is en of dit is dat witmense die “voorkeur” is dat hulle bv geteiken word.

Johan 2 ·

Ja! Skokkend! Is dit waar 82%!…ons land is natuurlik is soortgelyke gaos as in Meksiko en selfs erger…aantal mense wat elke dag vermoor word is gelykstaande aan oorlog geteisterde gebiede!
Ek verstom my altyd aan mense wat so huil oor bv. 80 Franse wat vermoor is, wat van die 47 RSAners wat gister vermoor is, of is dit okay omdat daar vandag ook maar 47 vermoor is? Ai dis vreeslik wat die NWO alles veroorsaak ne?

Theresa ·

Vreeslik bly iemand het hierdie baie, baie ernstige misdaad begin aanspreek. Daagliks sien mens jong (selfs laerskoolkinders) alleen skool toe stap. Skandelik in tye soos dié! Bog met albei ouers (of dan die enkel een wat hul moet grootkry) te besig, te vroeg, te laat vir werk sal kom as die kindjie vergesel word tot veilig by skoolhek in. Mense berus ook heerlik by ‘n oppasser wat ook by hierdie netwerke betrokke kan wees/word. Het al dogtertjie van so 2 gesien in die geselskapskring van minstens 6 volwasse mans en ek is oortuig dis vriende van die oppasser wat so nuuskierig om die meisietjie gedrom het en NIE vriende van die ouers nie. Spyt kom te laat vir hierdie blinde oog gooi vir aaklikge realiteite. Skrik asb betryds wakker – dis nie pessimisties om te dink dat als verander het nie. Dit het. Pas jul spruite (en julself) baie mooi op.

Confused-about-Stats ·

Ek aanvaar dit gebuur en Een gebuurtenis is Een te veel.
Hoeveel slagoffers vind PSARU per jaar?

Confused-about-Stats ·

En hoeveel van die gevalle is gepleeg duur familie en vriende?

L Bouwer ·

Wil net weet–indien iemand vir byna 2jr. by iemand werk met geen salaris. Woon in eienaar se huis( kleinste agterkamertjie) een bord iets te ete kry, nou en dan buisie tandepaste, sepie, — en daarom weier om salaris te betaal— is dit nie ook maar slawerny nie. ???.

SkarrelKind ·

L Bouwer, ek dink dit is ‘n mate, maar as die mens die vryheid het om te gaan as hy/sy wil, dan is dit seker nie slawerny in die ware sin van die word nie. Ek dink in die geval klink dit asof die person dalk maar bly omdat hy/sy niks beters het om na toe te gaan nie (behuising/werk/inkomste) ens. Dis vir my ook hartseer en kwalifiseer as uitbuiting.

Ek Verworder My ·

Ek sal graag wil weet hoe lyk die profiel van die persone wat gebruik maak van die “dienste” wat deur die slawehandelaars aangebied word.
Waar daar ‘n vraag is kan ‘n aanbod altyd geskep word…………
Word die probleem nie verkeerd aangespreek nie?

Willem ·

Ontstellende onderwerp, waar is die oortreder. Ons samelewing is bietjie siek dan nie.

Frans C ·

Slawerny is so oud soos die mensdom.In baie arm lande verkoop ouers hul kinders vir geld.in Genesis 37 verkoop Josef se jaloerse broers hom aan die Ismaeliete vir 20 stukke silwer.In Egipte het Midianiete hom aan Poitifar verkoop. Beide die Ismaeliete en Medianiete is afstammelinge van Abram. Ismael uit Abram se verhouding uit Hagar en Medianiete afstammelinge van Abram se seun Median se verhouding met bywyf Ketura.

Dit is dus familie en wil dit voorkom of die term Medianiete verwys na dieselfde groep stamme wat die land deurkruis het. Omdat Josef by Potifar se vrou wou slaap nie beskuldig
sy hom vals en word hy in die tronk gegooi.

Handel in mense is dus eie aan die mensdom en volgens CNN is daar oor die 30 miljoen slawe wêreldwyd wie se liggame vir allerhande doeleindes misbruik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.