Moeder Merkel kry teenstand in Duitsland

der-spiegel-voorblad-merkel

Die Duitse blad Der Spiegel se voorblad tydens 2015 se onbelemmerde instroom van vlugtelinge na Duitsland. Foto: Verskaf.

Angela Merkel, die eens formidabele bondskanselier van Duitsland, is vinnig besig om steun te verloor in die Duitse politieke landskap. Merkel is “Mutter” of moeder Merkel deur Siriese en ander vlugtelinge en asielsoekers gedoop vanweë haar oopdeur-beleid teenoor dié vreemdelinge. Die vlugtelinge sou daarna in hul honderdduisende na Duitsland stroom. Merkel geniet as gevolg hiervan nou slegs 45% steun van die Duitse bevolking, haar laagste steunvlak sedert haar eerste verkiesing as bondskanselier in 2005.

Hoewel dit nog ʼn hele rukkie is voor die volgende algemene verkiesing in 2017, kry Merkel se Christen-Demokrate (CDU) swaar in streekverkiesings in Duitsland. Haar tradisionele vyand, die Sosiaal-Demokrate (SDP), het verlede naweek in die Duitse federale staat van Mecklenburg-Vorpommern 31% van die steun gewen, maar die groot verrassing was die steun van die “regse” Alternatief vir Duitsland (AfD) met 21% steun. Merkel se CDU kon slegs 19% steun kry.

Die Duitse blad Der Spiegel se voorblad tydens 2015 se onbelemmerde instroom van vlugtelinge na Duitsland.

Die klein staatjie is dalk nie ʼn swaargewig in die groter Duitse politiek nie, maar die staat is in die voormalige Oos-Duitsland en in Merkel se parlementêre kiesafdeling, wat die swaai na regs betekenisvol maak.

Merkel se op- en agteruitgang

Merkel is die eerste bondskanselier wat van die ou kommunistiese Oos-Duitsland kom. Hoewel sy deel van die jeugliga van die Oos-Duitse kommuniste was, het sy in 1989 die val van die muur in Oos-Duitsland geesdriftig ondersteun en is kort ná Duitse hereniging verkies as CDU-parlementslid. Sy het van krag tot krag gegaan totdat sy in 2000 as leier van die CDU aangewys is en in 2005 die bondskanselier geword het.

Tydens die ekonomiese krisis wat in 2008 begin het met die skuldkrisis van Europese lande soos Griekeland, Portugal, Ierland, Spanje en Ciprus, het Merkel as dié Europese leier na vore getree en was sy ongenaakbaar met streng maatreëls teen veral Griekeland om laasgenoemde te dwing om minder staatsbesteding aan te gaan en skuld te herstruktureer. Die streng maatreëls het die Europese Unie (EU) en die Eurosone (lande wat die euro as geldeenheid gebruik) in ʼn groot mate van ondergang gered.

Merkel het die kitaar geslaan en in die proses groter ekonomiese skade aan Wes-Europa voorkom en die Eurosone gestabiliseer. Sy het eintlik in effek besluite geneem oor ander Europese state as die leier van die sterkste ekonomie in Europa. Merkel het ʼn reputasie ontwikkel as Europa se “ystervrou” en het groot leierskap getoon.

Daarna het Merkel egter haar grootste fout begaan, deur Turkye toe te laat om asielsoekers blindelings na Europa te laat vlug. Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het in middel 2015 toegelaat dat honderdduisende Irakse en Siriese vlugtelinge, wat in Turkye gaan skuiling soek het, deur Griekeland na Europa stroom.

Die Europeërs het nie geweet hoe om die vlugteling-krisis te hanteer nie. Merkel se reaksie was power: Sy het toegelaat dat die vlugtelinge van die Midde-Ooste en ander oor die Middellandse See van Libië en ander Afrika-lande, onbeheersd oor die EU-grens stroom, spesifiek na Duitsland. “Mutter” Merkel, wat die een Europese leier was wat die krisis kon afweer, het die immigrante eerder aangemoedig en met oop arms verwelkom. Haar beleid was “ons kan dit doen” (die immigrante inneem en aanvaar), maar dit het klaaglik misluk en het reeds enorme skade aangerig aan Europa.

Dit is moeilik om in te sien watter voordeel die meer as ʼn miljoen asielsoekers na Europa in besonder en meer spesifiek vir Duitsland sou inhou. Ná jare se probleme met Moslem-minderhede in ander Europese lande wat grootliks verseg om te assimileer en ʼn vlaag van terrorisme in lande soos Frankryk, België en Brittanje, het die onbeheerste invloei van vlugtelinge na Duitsland nie veel sin gemaak nie.

Soos in Frankryk en ander lande gou duidelik geword het, stel ʼn groot deel van die inkomende Moslem-immigrante nie belang om Franse of Belge te word en die taal en kultuur te omarm soos wat van immigrante verwag word nie.

Gou het dié probleem in Duitsland kop uitgesteek. Op ʼn Oujaarsaand-partytjie in 2015 is honderde Duitse vroue onsedelik aangerand deur die “aankomelinge” in Keulen.

In Julie 2016 het die realiteit van Merkel se beleid nog duideliker geword ná ʼn aantal aanvalle deur Moslem-radikale op Duitsers. Dit sluit ʼn bylaanval, ʼn massaskietery, ʼn mesaanval en ʼn selfdoodbomaanval binne ʼn paar weke in, wat die Duitse bevolking wreed ontnugter het. Tien Duitsers het in die aanvalle gesterf en heelwat is gewond.

Steeds het Merkel ontken dat die vlugtelinge verantwoordelik is vir aanvalle in Duitsland. Sy het voorgehou dat Moslems welkom is in Duitsland en dat hulle ten volle sal integreer en die grondwet sal eerbiedig.

In reaksie het die Amerikaanse Republikeinse kandidaat vir die komende presidentsverkiesing, Donald Trump, in ʼn stadium gesê Merkel het die kluts kwytgeraak en dat die Duitse bevolking haar daarvoor sal uitskop.

Die Europese leiers het later grensbeheer verskerp, maar die skade was reeds gedoen. Daarna het hulle ʼn vernederende ooreenkoms met Turkye aangegaan, wat daarop neerkom dat “ongewenste” asielsoekers met meer geskikte asielsoekers wat steeds in Turkye is, uitgeruil sal word. Erdogan het verder Europa en Merkel basies afgepers deur die vlugtelingkrisis te gebruik om Europa te dwing om die reuse- Turkse bevolking visumvrye toegang tot Europa toe te laat.

Erdogan se eie probleme met terrorisme en ʼn onlangse mislukte staatsgreep in Turkye het egter ʼn stokkie hiervoor gesteek.

Waarheen nou Duitsland?

So, wat is Merkel se politieke toekoms na hierdie reuse-blaps? Dit is seker die vraag ná die CDU se slegte vertonings in staatsverkiesings hierdie jaar en waarin die regse AfD besonder goed vertoon het. Merkel het self nog nie besluit of sy in 2017 gaan staan as kanselierskandidaat nie. Dan is daar ook nie veel leiers in die CDU self wat Merkel vreeslik bedreig nie.

Merkel het deur haar oorheersing van die CDU in die laaste dekade ontslae geraak van enige moontlike opponent vir die party se leierskap. Buitendien was haar steun voorheen so oorweldigend dat dit nie nodig was om na ʼn ander leier te kyk nie.

Tans is daar nie veel verskille in beleid met die vernaamste opposisie, die SDP, nie. Die SDP is meer liberaal-sosialisties ingestel, maar Merkel se skerp beweging na links sedert 2015 oor immigrasie het eintlik die SDP se beleid gekaap en daar is weinig hoop dat ʼn SDP-geleide regering hond haaraf gaan maak met die vlugtelingkrisis en die nuutgeskepte terrorismegevaar.

Dit laat ons met die AfD, ʼn party wat maar drie jaar gelede (in 2013) gestig is. Die AfD, wat eintlik ontstaan het as gevolg van behoudende Duitsers se opposisie teen toenemende immigrasie en die geïntegreerde Europese Unie, het bekendheid verwerf as Euro-skeptici. Ná die Moslem-immigrante die land binnegestroom het, het die party egter vinnig steun gewen.

Die AfD word gelei deur Frauke Petry, wat self vinnig opgang in die politiek gemaak het. Daar is egter nog baie Duitsers wat skepties staan teenoor dié party se beleid van Euro-skeptisisme en anti-immigrasie. Ná 70 jaar se herinnering deur die Duitse en buitelandse media oor die Duitse aandeel in volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog, sal die Duitsers nie sommer ʼn “regse” anti-Moslem-party instem nie.

Nietemin word die party se nasionale steunvlakke op sowat 12% geskat, wat heel moontlik onderskat word, aangesien hulle sowat 20% steun geniet het tydens verskillende staatsverkiesings.

Duitsland is gevolglik nie seker van ʼn sterk party of bondskanselierkandidaat vir die 2017-verkiesing nie. Met Brittanje se onlangse onttrekking uit die EU (Brexit) is sterk leierskap nodig vir Europa. Daarsonder kan die EU dalk vinniger disintegreer as wat besef word.

Selfs al staan Merkel en wen haar CDU die 2017-verkiesing, is die toekoms van Duitsland onseker.

Wat egter seker is, is dat die Moslem-immigrante en moontlike verdere terrorismeaanvalle Duitsland onherroeplik verander het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Gerhard Venter ·

Die feit is dat Merkel streng volgens haar sterk beginsels opgetree het, en besluit het om die vlugtelinge te ontvang. Sy het nie ‘n “blaps” begaan nie, want sy het volgens haar gewete en medemenslikheid opgetree, ongeag wat dit aan haar gewildheid sou doen.

En die mense wat sy ontvang het, is vlugtelinge – nie immigrante soos wat die skrywer beweer nie.

Hoe is dit dan dat regses in SA so te kort skiet wanneer dit by naasteliefde kom, gegewe die feit dat dieselfde regses feitlik voor die voet Christene is?

Therese van Schalkwyk ·

Gerhard Venter

Dit was ‘n reuse “blaps” … sy erken dit dan self.

Dit is al oor en oor bewys dat die sg. vlugtelinge wemel van kansvatters wat vir ekonomiese redes na welaf Europese lande ‘vlug’, met ‘n goeie dosis potensiële IS-terroriste tussenin. Hulle word hierin ondersteun deur gierige mense-smokkelaars met lekkende skuite.

Die “regses” is net nie so bitterlik naïef soos Angela Merkel e.a. nie.

Rupert Ashford ·

Gerhard. In die ou dae was vlugtelinge gewoonlik vroue en kinders. Die mans het agtergebly om te veg vir hulle land. Die klomp in Duitsland was omtrent 70% mans. Hulle is ekonomiese migrante wat kom teer op die “social grants” van die welvarende lande, en hulle gesinne wat hulle agtergelaat het in die lande waarvandaan hulle “gevlug” later ook invoer. Hulle integreer nie, maar vorm ghettos waar hulle kwaadstook oor hoe daar teen hulle gediskrimineer word, misdaad en terrorisme aanhits teen hulle gasheerlande en hulle nie steur aan die wette en reels en regulasies van hulle gasheerland nie. Dit is nie mense aan wie barmhartigheid bewys moet word nie. Die meerderheid is boewe en plunderaars oor wie die Woord ook baie duidelike dinge te se het.

Nico Stegmann ·

Sjoe Gerhard, om meer as ‘n miljoen mense in jou land toe te laat net omdat jy jammer is vir hulle is bietjie dik vir ‘n daalder! Daar sit terloops nog ‘n paar miljoen in Turkye wat Mev. Merkel nou verhoed om ook in te stroom.
Ek is nie seker wat die verwysing na regses in SA en Christenskap probeer uitwys nie. Jy verwys dalk na ‘n ander artikel.
Groetnis
Nico

jennefer ·

Dis waar sy wou vlugtelinge help, maar gou het mensesmokkelaars die geleentheid gebruik om teen groot betalings mense oor die grense gehelp. Het sy maar eerder die vertrapte christene laat kom, tenminste pas hul makliker aan as die moslims.

Delta Mike ·

Therese baie goed gestel, die “liberaliste” wil maar net nie die werklikheid insien nie.

Theresa ·

Ek stem heelhartig saam met Therese v Schalkwyk. Die vrou se besluit (hetsy uit goedhartigheid of wat ook al) het NOOIT aan die langtermyn gevolge van hierdie innooi van andere gedink nie. ‘n Staatspresident kan nie bekostig om sulke foute te maak nie – ter wille van die nasie van daardie land! In 25 jaar se tyd : Watter Duitsland?

Gerhard Venter ·

Therese, kan jy na ‘n artikel verwys dat sy erken het dis ‘n fout? Ek glo nie dat sy het nie, en ek glo ook nie dat sy naief is nie.
As dit naief is om jou beginsels te volg ongeag die gevolge, beteken dit ‘n meer wyse Christen sal net naasteliefde betoon as dit nie ongerieflik is nie?

Die vlugtelinge is in elk geval nie ‘n ramp vir Duitsland nie – inteendeel, hulle help om Duitsland se probleem van ‘n verouderende bevolking reg te stel, en so help dit die ekonomie.

Ongelukkig is die feit dat die oorgrote meerderheid Moslems hardwerkend is, en ‘n bate vir die land kan wees, nie iets wat ‘n regse persoon selfs kan oorweeg nie.

Therese van Schalkwyk ·

Gerhard

Nee, kan jou ongelukkig (nog) nie na ‘n spesifieke berig verwys nie, maar volgens ‘n artikel in die Nederlandse “Trouw” is dit blote hardkoppigheid wat haar tot dusver daarvan weerhou.

Ek het die halfgebakte ooreenkoms met Turkye vertolk as ‘n erkenning deur Merkel dat sy oorweldig voel deur haar eie gasvryheid.

Die toekoms sal leer …

Pietman ·

Gerhard Venter, jy klink na ‘n man met beginsels. Kom wys ons hoe word dit gedoen. Daar is duisende haweloses. Maak vandag ‘n verbintenis om ten minste twee haweloses ( van ander kulture) in jou huis in te neem. Geen agtergrond inligting oor die intrekkers is nodig nie en jou vermoë om hul finansieel te dra is ook nie ter sprake nie. Indien jy dit nie doen nie is jy skynheilig, want jy verwag dit van die Duitsers.

Merkur ·

Therese van Schalkwyk

Presies op die punt gebring.

En ook, as Merkel haar fout nie verbaal toegee nie, doen sy dit indirek deur haar handelinge. Sy hardloop van een Europese leier na die ander en bedel vir ondersteuning. Ook by die dispoot Erdogan. Die hele Duitse regering handel nog slegs soos ’n hok vol hoenders waar ’n hond ingehardloop het. Geen Europeër is meer bereid om Merkel te ondersteun nie. Sy het haarself en Duitsland heeltemal geïsoleer. Oostenryk het sy rug gedraai en Frankryk neem haar glad nie ernstig nie. Om nie eers van die Oos-Europeërs te praat, vir wie sy graag haar huigelagtige moraal dikteer nie. (2013 het Merkel nog vir Italië, Malta en Griekeland in die steek gelaat dat hulle self met die vlugtelinge klaar moet kom. Die Dublin ooreenkoms.)

https://de.wikipedia.org/wiki/Verordnung_(EU)_Nr._604/2013_(Dublin_III)

Wat werklik in Merkel se kop aangaan, is seker onmoontlik om uit te vind.

(Nog iets. Baie mense In Duitsland is oortuig dat sy net die Banke in Griekeland gered het en nie die staat of mense nie. Dit is nog steed ’n bodemlose put.)

Rupert Ashford ·

Die groot tragedie hier is dat wat sy gedoen het nie omgekeer kan word nie. Dit is ‘n fatale fout wat die einde van Duitsland inlei.

Derik van Wyk ·

Gerhard Venter, bly jy in Duitsland? Ek wil net weet watter agtergrond jy het met jou stellings? Want die meeste geluide uit Duitsland is dat die immigrante nié hardwerkend is nie, en eerder op staatstoelae en behuising aandring. Dit is ook hoekom hulle Duitsland en die Noordiese lande as eindbestemming het, omdat hulle gevorderde maatskaplikewelsyn sisteme het.

Jou stelling dat hulle die verouderde bevolking moet vervang verdien ook vermelding. Indien dit die geval is, kom dit neer op etniese suiwering, omdat die etniese Duitser dan uiteindelik vervang sal word deur etniese Arabiere. En spreek jy dit aan word jy uitgekryt as ‘n rassis.

Feit is dat die etniese Europeër bedreig word. Die bevordering van rassemenging, LGBT kultuur en stygende lewenskostes én verwagte lewenstandaarde beteken dat die Europeërs en hul diaspora aan die kwyn is. En ek is van opinie dat dit ‘n georkestreerde affêre is.

Sus ·

Die nuusmedia mag soms eenogig wees en foutiewe inligting deurgee maar ek het op te veel platvorms gelees en gesien dat die oorgrote meerderheid midde-oosterse ‘vlugtelinge’ sterk gespierde jongmanne is. My persepsie van ‘n vlugteling is iemand wat duidelik aan ontbering blootgestel was, voedseltekorte beleef het, en land moes verlaat met net die minimum. Dit wat ek opgemerk het was eerder die nuutste GPS tegnologie, i-pads, selfone en brandname klere aan die bas. Hoe nou?

Gerhard Venter ·

Nico Stegman jy weet, soos jou artikel ook uitwys, is die soort konserwatisme waarvoor Merkel staan dinge soos fiskale verantwoordelikheid en beginselvaste leierskap, en my punt is dat haar hantering van die vlugtelingkwessie ‘n voortsetting van daardie soort konserwatisme is. Dit strek haar en Duitsland tot eer.

Jou artikel, darenteen, is al agter die Daily Mail, en Donald Trump aan: openlike of swak weggesteekte genadeloosheid teenoor vlugtelinge en vreemdelinge. Basies ook haat teenoor enigeen wat nie uit ‘n blanke Christen tradisie kom nie.

As jy belangstel om te sien hoe hierdie soort joernalisme rassistiese haat aanwakker, kyk sommer hierbo na sommige van die kommentare, byvoorbeeld Rupert Ashford se leuenagtige stelling dat die “meerderheid boewe en plunderaars” is.

Kobus ·

As Merkel nie ‘n blaps begaan het nie, maar as dit werklik haar oortuiging is, het sy die belange van haar land tweede gestel, op die altaar geplaas, dit op ‘n skinkbord weggegee sonder slag of stoot. Dan was die nuwe Duitsland se herrys tevergeefs en het sy haar eie mense versaak.

Maria van Dieweeck ·

Mmmmm klink soos SA. Jammer, maar ons is ook so oorgelewer, gooi oop die grense!…EN NOU?

Maria van Dieweeck ·

Terloops, ek haat niemand nie, maar haat wel misdaad.

Johan 2 ·

Ek het n sterk vermoede Merkel is n NWO leier en Duitsers kan dus net beter af wees sonder haar en die leuens wat massa media (en NWO media) so met ywer vertel. 12% stempersentasie sê nogal baie. Ek hoop werklik n nuwe leier kan van die snert wat so in duitsers oor hul geskiedenis verkondig word stopsit.

Gerhard hoe gaan dit met jou nuwe in trekkers?

Ek lees anderdag dat tuis onderig verbied word in dele van duitsland, glo dat hul kinders die “waarheid” oor ww2 moet leer (weet nie of dit waar is nie?).

Konserwatief ·

Die hele problem met Progresiewe Liberale denke is die totale gebrek aan insig vir die toekoms en die traak my nie agtige houding teenoor die gevolge van hierdie vlak idealistiese denkwyse. Net soos kommunisme n idealistiese droom was wat tot massa hongersnood en lyding gely het was die aanvanklike idee “noble” , maar, steeds vlak en sonder insig. Merkel se “droom” gaan tot die ondergang van haar volk ly. Ongelukkig is daar een of ander genetiese afwyking onder hierdie “open minded” en progressiewe denkers wat dit onmoontlik maak om die toekom te sien. al kan hulle sien waarmee Brittanje en Frankryk sit. Ek KAN GLADNIE verstaan hoe jy jou eie mense se toekoms verwoes om n ander mislukte bevolking se kultuur en denkwyse deel te maak van jou eie nie. Maar ek grinnik in my mou , al hierdie liberale lande wat sanksien teen ons toegepas het , wat binnekort gaan sit waarmee ons in SA vandag sit. Kriminele wat die land regeer, waarvan die grootste dief ons president is…en hulle “voters” wat ons land verwoes.

Therese van Schalkwyk ·

Gerhard Venter

Interessant, hoe blitsig word die “rassistiese haat”-perd weer eens opgesaal, die skrywer en lesers se Christelike naasteliefde bevraagteken en etikette soos “regses”; “leuenagtige stellings”; “hierdie soort joernalisme” uitgedeel. Dit het al ‘n kenmerk geraak van sekere onverdraagsame individue en groepe sodra iemand durf waag om ‘n ander opinie te huldig.

Lees gerus die Engelse “Der Spiegel Online” en spesifiek die artikel getitel: “Police Report Outlines ‘Chaotic and Shameful’ New Year’s Eve”. Dit handel natuurlik oor die “Cologne Assaults” en behoort enigeen geskok na sy asem te laat snak. Moet dit werklik die toekoms wees waarna Duitsers en Europa kan uitsien?

Gerhard Venter ·

Therese, onder enige 1.1 miljoen mense is daar ‘n klein persentasie (minder as 0.1%) misdadigers en geweldenaars, ook onder soveel wit Afrikaners. Die probleem is dat as mens met ‘n rassebril kyk, word die enkele insidente waar daardie 0.1% betrokke is, opgeblaas asof al die moslems of vlugtelinge eintlik misdadigers en geweldenaars is.

Therese van Schalkwyk ·

Gerhard, ons moet dan maar ooreenkom om te verskil oor hierdie saak. Die “minder as 0,1% misdadigers” het die Duitse polisie heeltemal oorweldig en verdwaasd gelaat by daardie skokkende geleentheid.

Jy begryp heel duidelik nie dat ‘n mens kan omgee vir jou eie mense en kultuur sonder om ‘n hatige, regse rassis te wees nie. Merkel se toekomsvisie verskil van ‘n groot deel van die Duitse volk s’n en sy moet groot genoeg wees om dit te erken.

Ek lees dat Brittanje ‘n muur gaan bou by Calais op die Franse grens om die “vlugtelinge” uit te hou. Hoe “hatig en rassisties” van hulle.

Merkur ·

Theresa

Volledigheidshalwe: Soos jy gesê het, Merkel het wel toegegee dat sy ’n fout gemaak het. Hier volg twee artikels oor dieselfde uitlating.

http://www.ruhrnachrichten.de/nachrichten/politik/aktuelles_berichte/Merkel-zu-Fluechtlingen-2015-wiederholt-sich-nicht;art29862,3102514

http://www.pnp.de/nachrichten/politik/2204120_Merkel-zu-Fluechtlingen-2015-wiederholt-sich-nicht.html

Die Duitsers interpreteer dit as fout erkenning! Is reeds ’n paar keer thematiseer in verskeie media.

Verder het Frau Merkel Woensdag in die „parlement“ nie meer haar „Wir schaffen das“ herhaal nie, en net „Deutschland bleibt Deutschland“ verkondig.
(Net jammer nie vir die Duitsers nie.)

Terloops. Sy gebruik al geruime tyd nie meer die woord „Duitsers“ nie, maar praat uitsluitlik van die „inwoners van Duitsland“.

Therese van Schalkwyk ·

Merkur, dankie vir die bewyse! :-)

Laastens: Dit mag vir sommige klink asof ons teem oor niks, maar dis ‘n feit dat ‘n hele vasteland, Europa, se hede en toekoms onnodig dramaties van koers gestuur word a.g.v. ‘n Oorlog in Sirië en één persoon wat Duitsland se beeld wil verbeter in die wêreld se oë. Belaglik.

Nico Stegmann, baie dankie vir ‘n puik artikel!

Izak ·

Ons sit presies dieselfde situasie as wat die Siriese en ander vlugtlinge sit, wanneer die militia in SA by name EFF n Mkonto we Sizwe en andere begin om daad by woord te voeg. As ons vir een oomblik buurtwag en privaat sekuriteit gaan die aanslag afweer, maak ons groot fout.

Merkur ·

Baie dankie vir die goeie ontleding en artikel. Met die meeste stem ek ook saam. Net by die stabilisering van die Eurosone is ek nie baie seker in wie se guns Merkel gehandel het nie. Of die Eurosone stabiel geword het is ek nie so seker nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.