Moedertaal en moedertaalonderrig

moedertaaldag

Argieffoto.

Dit raak nou tyd om die kinders in te skryf vir skool aanstaande jaar, en veral ouers wie se kinders aanstaande jaar graad 1 en graad 8 toe gaan, het groot besluite om te neem.

Watter skool moet ek kies? Wat is vir my kind die beste? Watter voertaal dien my kind se belange die beste? Wat kan ek bekostig? Staatskool of private skool? Party mense verkies selfs tuisonderrig bo skoolonderrig, soos deesdae in Suid-Afrika toegelaat word.

Al die besluite is belangrik, en vir geeneen is daar ’n klinkklare en onbetwiste antwoord nie. Die belangrikste oorweging is wat ’n ouer en ʼn kind – veral as hulle dertien of ouer is en ’n eie voorkeur ontwikkel – met die skoolkeuse wil bereik.

Onderwyskenners wêreldwyd is dit eens dat die belang van die kind die oorheersende oorweging moet wees, en dat onderrig ten doel het om die kind op die toekoms voor te berei. As sodanig is gebalanseerde sosiale vorming en die opdoen van akademiese vaardigheid (oftewel, kognitiewe vaardigheid) die belangrikste oorweging.

In hierdie verband is onderrigtaal ’n belangrike keuse vir ouer en kind om te maak. Alle studies bewys dat moedertaalonderrig, waar dit beskikbaar en op die verlangde peil is, die beste grondslag vir kognitiewe groei bied. Dit is veral waar in die grondslagfase (graad 1 tot 3), waar akademiese grondvaardighede en grondbeginsels vasgelê moet word.

Afrikaans het die afgelope meer as ’n eeu ontwikkel tot ’n taal waarin al die hoër taalfunksies verrig kan word. Vele voor ons het ons vooruitgegaan op die lewenspad om hierdie situasie te verwesenlik – die vrug van hul arbeid is vir ons om te pluk en te geniet.

Afrikaans is ’n gevestigde taal op elke opvoedingsvlak – van kleuteronderrig tot by die doktorale proefskrif. Vir diegene van ons wat die taal liefhet en wil uitbou, is daar geen rede om nie ons onderrig en navorsing daarin te doen nie.

Daar is tans druk op Afrikaans as onderrigtaal. Dit is nie nuut nie – die geskiedenis is deurtrek daarvan. So min as 120 jaar gelede was die gebruik van Afrikaans in skole strafbaar deur die imperialiste en kolonialiste van toentertyd. Maar ons voorvaders het vasgebyt, geneem uit die verlede wat goed is, en die toekoms daarop gebou – met goeie gevolge.

Deesdae is daar weer diegene wat Afrikaans uitkryt en van die taal ontslae wil raak. Die Grondwet gee aan hulle die reg om hul standpunte te propageer. En dieselfde Grondwet gee aan ons wat Afrikaans liefhet en in Afrikaans lewe, die reg om dit te doen waar prakties moontlik, want dit benadeel niemand nie en sluit niemand uit nie.

Daar is die argument dat Engels die taal van die handel en wandel is. Dit was ook nog nooit anders nie. En om in Afrikaans onderrig te ontvang, het geen nadelige effek op enigeen se taalbeheersing in Engels nie. Neem Engels dan, soos Afrikaans, op huistaalvlak – soveel goeie skole maak in elk geval daarvoor voorsiening.

Die ou gesegde lui: Soveel tale soos ek kan, soveel male is ek man. Laat ons mans genoeg (of dan, veral in hierdie Vrouemaand, vrou genoeg!) wees om te kies vir Afrikaanse moedertaalonderrig, ewig gedagtig aan die vermaning van die Vlaamse digter Guido Gazelle:

“Die geen taal heeft
Is geen naam weerd;
Waar geen taal leeft
Leeft geen volk.”

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Leonard van der Dussen ·

As Disselboom se somme reg is, is 120 jaar gelede so rondom 1898 – dis seker naby genoeg in geskiedenisterme om die gebeure in die vroeë 20ste eeu na 1902 te beskryf, maar wat die effense foutjie interessant maak, is dat die ZAR juis bekend was vir ondersteuning van moedertaalonderrig en spesifiek subsidies verleen en ondersteuning gegee het om die verskillende kinders van uitlanders op die goudvelde van skole in moedertaalonderrig te voorsien. En die ZAR het selfs internasionale toekennings ontvang vir die bestuur en gehalte van onderwys in die ou Transvaalse republiek. Iets om op trots te wees, ingesluit ‘n tradisie van erkenning van moedertaalonderrig ook aan uitlanders!

Johan Neuteman ·

Kan die stryd vir Afrikaans van Afrikanerstryd losgemaak word?

Afrikaans ·

Breebors trots wit en Afrikaans!
(EN ek gun ‘n iedere en ‘n elk ‘n respekvolle plekkie in die son in ons mooie SA :) )
Indien hierdie stelling jou kriewelrig laat voel is ek bevrees dat jy al ingegee het tov die ondermyning van jou kultuur.
Werda!

Henry ·

Baie dankie Jan-Jan en MM!
Is sooo lekker om te midde van al die snert, sulke positiewe skryfsels oor ons pragtige, kragtige taal te lees.
Is salf vir allie seerplekke.
Moenounettie ophou nie!!!

Johan ·

Leonard, ek is nie 100% seker waarna jy verwys in jou effense foutjie nie. Feit is dat die Afrikaners (daar was verskillende interpretasies oor presies wat ‘n Afrikaner is) wel baklei het om Afrikaans as moedertaal aanvaar te kry. Terwyl die ZAR sekerlik pro-Afrikaans was (of waarskynlik tegnies pro-Nederlands op daardie stadium), was die Engelse anti-Afrikaans gewees.

Alhoewel die GRA al in 1875 gestig is, is Afikaans eers in 1925 as amptelike taal erken. Vanaf 1875 tot 1925 was daar maar ‘n gedurige stryd om Afrikaans (soos dit uit Nederlands ontwikkel het) erken te kry. Die stryd was “makliker” in die ZAR maar moeiliker in die Kaap-kolonie en natuurlik Natal.

Terug na die artikel. Wens iemand soos Lesufi wil die belngrikheid van moedertaalonderrig besef en dit uitleef. En dit geld vir moedertaalonderrig in enige taal. Die beginsel is al deur deeglike navorsing oor en oor bewys. Sekere mense wil dit net nie aanvaar nie.

Leonard van der Dussen ·

Johan, het by skryf van kommentaar gedink daar kan geargumenteer word dat die taalstryd in die Kaap deurlopend in daardie tyd was, en is bly jy opper dit – want dis waar dat mens te maklik die Afrikanergeskiedenis net deur die Transvaalse en Vrystaatse oë beklemtoon. Die 120-jaarverwysing is so naby aan die 2de Vryheidsoorlog en daar is nie ‘n spesifieke ander gebeurtenis om dit bv in die Kaap te kan koppel nie, dat ek tog dink Jan-Jan het die Vryheidsoorlog in gedagte gehad. Feit bly dat ons ‘n trotse geskiedenis van moedertaalonderrig het. Miskien kan Jan-Jan die agtergrond gee of daar dalk ‘n gebeurtenis of tydperk en plek is wat hy in gedagte gehad het met die skryf van die nuuskommentaar?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.