Moedertaal na die klank van die Vader se stem

Dr. Wikus Buys.

Moedertaaldag kan só gou net soos Moedersdag word: ’n plesierige pliggie. Moedertaal se viering kan natuurlik op verskeie maniere gedoen word.

  • ʼn Mens kan dit ignoreer en sê ’n Christen behoort eerder op ander belangriker geestelike sake te konsentreer.
  • ʼn Mens kan terugval op die ou suur melk nasionalisme, wat van Afrikaans dié taal gemaak het; ’n afgodiese selverheerliking.
  • ʼn Mens kan postmodern redeneer en vir jouself en jou eie taal ook ’n plekkie aan die partytjietafel beding. Niks watwonders nie, maar daar is ’n plekkie saam met al die ander maatjies.
  • ʼn Mens kan met die nuwe stuiptrekkings van die woke-kultuur só oorboord gaan dat jy dink kulturele selfmoord is die enigste opsie; ’n soort taal-harakiri, om doelbewus jou eie tong te haat en uit te sny.

Wat behoort Afrikaanse Christene dan met Moedertaaldag te maak? As die viering van die eie moedertaal dan nie selfverheerliking óf selfvernietiging moet behels nie, wat dan?

Mag Christene Moedertaaldag vier?

Die Bybel leer fassinerende dinge oor tale. Daarom is dit nodig om ook eerstens die “Hemelse Vader se stem” te hoor voordat ʼn mens oor “Moeder se taal” uitsprake maak. God die Vader se stem is sy eie Seun, Jesus Christus. Jesus Christus is die taal waarin God die Vader met sy skepping en sy mense praat. Trouens, God se uitspraak, sý taal is die diepste fundering van ons volle werklikheid. So leer ons uit Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.” God se stem op die aarde, sy Seun, word vir ons duidelik hoorbaar deur die Persoon en werk van die Heilige Gees.

Taal en God se heerlikheid

God se stem bring sy heerlikheid na vore. Ons stemme, en die tale waarin ons praat, moenie die stem van God weerspreek of probeer uitdoof nie, maar juis daarop antwoord. Ons stemme, ons tale as mensdom, is bedoel juis om die heerlikheid van God na vore te bring. So eindig die mensdom se aardse geskiedenis dan ook met die feit dat ook tále voor die troon van God gehoor sal word (Openbaring 7:9; 21:24). Ons kan egter hierdie taallyn wat in die heerlikheid van God eindig ook met sy aardse begin spoor.

Dit begin met God se seënende bedoeling toe Hy die mensdom se toekoms met sy opdrag in Genesis 1:28 rig om die aarde te vul. “God het hulle geseën en vir hulle gesê: wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” Die opdrag om die aarde te vul, beteken baie meer as net om baie kinders te hê wat regoor die aarde gaan bly. Die Hebreeuse woord vir “vul” [mâlê’/mâlâ’] beteken ten diepste om die volle einddoel te bereik. Dit het ook die nuanse van toewy, inseën en inwy. As die mensdom die hele aarde moet vul, bedoel God dat die mens die aarde met sy seëning moet invul, sodat sy heerlikheid, sy glans en eer, sý bedoeling met die aarde – naamlik om saam met die mens op aarde te woon – duidelik na vore sal kom.

Versprei heerlikheid

God wil dat die mens oor die aarde vermeerder en versprei. Sy bedoeling is dat die aarde met die heerlikheid van God vervul word. Hierdie vervulling met die heerlikheid van God word spesifiek aan die mens oorgedra. Die engele, diere en plante het ʼn aandeel hierin, maar die mens is die verantwoordelike party om die heerlikheid van die aarde oor die aarde te laat versprei. Die aarde is bedoel om as woonplek van God saam met die mense te dien en sy huis, die aarde as God se woning, moet die heerlikheid van God vertoon. Die heerlikheid van God is nie monotoon en vervelig nie, inteendeel – die heerlikheid van God is so omvattend dat een mens, een geslag, dit nie ten volle kan behartig nie. God wil ook dat die heerlike lig van sy glorie in glansbreking na vore kom. Soos wat ʼn lig deur ʼn prisma in baie kleure lig gedeel word, so kom die heerlikheid van God ook in ʼn klomp verskeie indelings na vore.

Deur tale versprei

Hierdie vervulling en indeling van die aarde – met die doel om God se heerlikheid in glansbreking te versprei – word in die besonder deur taal gedoen. Die Bybel maak hierdie lyn of ritme in Genesis 10 en 11 baie duidelik. Die verspreidingsbeginsel wat God laat toepas sodat die vervulling kan plaasvind, kom na vore in die refrein wat ons dikwels in die Skrif aantref. Die lyn is: “geslag, taal, volk en grond”. So staan dit in Genesis 10:20: “Dit was die seuns van Gam volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, in hulle nasies.

Taal en grond

Die belang vir die viering van Moedertaaldag is dat die Skrif duidelik “taal” en “land” (in Hebreeus erets) met mekaar verbind. Grondgebied wat met God se heerlikheid ingevul moet word, word volgens die taalbeginsel verdeel. Dit is ʼn baie belangrike Skriftuurlike lyn wat eintlik glad nie deesdae in enige debat of aangeleentheid aandag kry nie.  Dis dalk die moeite werd om stil te staan by waarom dit die geval is.

Twee skeeftrekkings

Daar is basies twee historiese redes waarom hierdie Bybelse lyn eintlik tans onbekend en onbemind in die Afrikaanse gemeenskap is.

Ten eerste weens die historiese feit dat die Engelse empire (die Engelse koloniale ryk wat die wêreldkaart lank gedomineer het) sý “beskaafde” taal op sy onderdane afgedwing het. Die gewilde uitsprake van destyds dat Engels die “civil language of the world” was, is as maatstaf aanvaar en toegepas. Diegene wat wil dekoloniseer sukkel nou nog om hierdie fundamentele feit raak te sien: Jy kan nie in iemand anders se taal dekoloniseer nie. Die empire se tentakels het die taalverskeidenheid en die aansien en plek van tale bykans permanent wesenlik verander. Suid-Afrika se lingua franca (verkeers- of mengeltaal) is Engels. Dit is histories selfs met geweld op ander tale afgeforseer. Die Bybelse beginsel van “vul-tot-heerlikheid” deur die verspreiding met die “taal-volk-grond”-meganisme is heeltemal buite rekening gelaat. Die Bybelse lyn is dus dat grondgebied en die grense daarvan deur taalverspreiding bepaal word. Die Engelse empire het hulle grenskaarte met die geweer getrek en dan dáár Engels as dominante taal gevestig. Ons sit nou nog met die nagevolge van hierdie optrede, al het die Engelse empire verdwyn.

Die tweede rede waarom die Bybelse lyn van “taal-volk-en grond” nie bekend is of toegepas word nie, is die opkoms van die territoriale nasiestaat in die plek van die empire. ʼn Nasiestaat skep sy eie identiteit en simbole. So het die Suid-Afrikaanse nasiestaat die reënboog as een van sy identiteitsimbole gekies. Alhoewel die reënboog ʼn Bybelse simbool is, word dit in die Suid-Afrikaanse nasiestaat op ʼn heel teenoorgestelde manier toegepas. Die reënboognasie se taal is Engels en druk op talle plekke kleiner tale uit “die plek” uit. Solank as wat die “reënboogtale” op hierdie manier hanteer word, sal die onderdrukking en verdrukking van tale voortduur. Dit sal die blywende gevolg hê dat daar ʼn dissonansie tussen ruimte en plek sal wees. Dit beteken in kort die volgende: Dat die Bybelse lyn van aarde-invulling volgens tale geskied. Waar dit nie in berekening gebring word nie, maar tale binne die grense van ʼn territoriale nasiestaat as tweederangs hanteer word, sal daar by die sprekers van dié verskillende tale altyd ʼn blywende gevoel van vervreemding wees. Die vervreemding kom na vore deurdat die plek waar jy bly nie soos die plek waar jy hoort klink nie. Ruimte- en plekverwarring in die Suid-Afrikaanse nasiestaat kan een van die oorsake wees dat dié vervreemding op verdere verdringing, en selfs die vergryping van verdelging, uitloop. Anders gestel: Om jou eie taal te wil praat as moedertaal, sonder om ook jou eie grondgebied in gedagte te hou, laat jou aan kulturele middeloorontsteking ly – jy sal altyd uit balans voel. Jou landkaart en jou tong se reikwydte hoort bymekaar. Die Bybelse indelingsprinsiep van “taal-volk-en-grond” bepaal dit.

Ons is weer terug by die hoofdeel van die argument. God seën die mens en beveel hulle om die aarde te vul. Hy wil sy heerlikheid as seëning oor die hele aarde laat deel. Daarvoor wil Hy tale inspan om die indeling te doen. Dit is dan insiggewend om te sien dat die heel eerste ding wat die Heilige Gees doen as Hy met sy uitstorting in Handelinge 2 die nuwe mensdom begin rig, is dat Hy die tale in diens van God se heerlikheid regtrek. Die feit dat daar staan “…ons hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” (Handeling 2:11) is die sprekende bewys hiervan dat God telkens na sy skeppingsbedoeling terugkeer met die Woord en Gees se werk.

Groot tale verdruk kleintjies

Vir Moedertaaldag beteken dit vir Christene die volgende: ons mag nie sommer goedskiks aanvaar dat groter tale kleiner tale mag onderdruk en uitdruk nie, want dan sê ons daarmee dat God se heerlikheid nie die verskeidenheid van tale, ook kleiner tale, nodig het nie. Die huidige neiging by Afrikaanse gemeentes om hulle sending- en uitreikwerk slegs in Engelse te doen, is nie ʼn Bybelse beginsel nie, maar ʼn pragmatiese oorgawe aan die onderdrukkingselement van sterk “wêreldryke” wat juis téén die Koninkryk van God se vestiging werk.

Sluier weggevat

Hierdie punt kan duidelik uit ʼn profesie van Jesaja (25:6-8) gemaak word waar die Heilige Gees oor die toekoms van wag vir volke wat die evangelie van Jesus Christus se opstanding hoor en glo, laat profeteer. “En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke ʼn maaltyd berei van vetspyse, ʼn maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle gesigte afvee…”

Dood stil of stem van lof?

Die Here het ʼn bedoeling met die volke en nasies (in Hebreeus ‛am en gôy]. Hy wil die sluier van die dood wat hulle omhul, vernietig. Waarom wil Hy dit doen? Want in die doderyk word God nie verheerlik en geloof nie. In die doderyk is daar geen lofstem van die heidene vir God nie. Volke en nasies is bedoel om God te verheerlik en te loof – juis óók as volke, tale en nasies. So profeteer Johannes in Openbaring 21:3: “Ek het toe ʼn harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees, as hulle God. Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ʼn gehuil of pyn sal meer bestaan nie, want die eerste dinge het verbygegaan.’”

Afrikaanse kerke in beskuldigdebank

Wat leer Afrikaanse Christene wat Moedertaaldag wil vier dan hieruit? Wel, ten eerste dat die huidige tendens in so baie Afrikaanse kerke voorkom om net op die individu te fokus en níks oor volke en tale te sê nie, die bal ver misslaan. God wil volke heilig, Hy wil óók volke red in Jesus Christus, juis sodat hulle kan deel kry aan sy heerlikheid – ook as volk. Die Afrikaanse kerke staan hier in die beskuldigdebank. Hulle verkondig ʼn verskraalde evangelie, asof God net belangstel om enkelinge te red, asof God so kleingemaak kan word. Maar erger nog, die kerke doen wetend of onwetend mee aan die voorbereiding vir kulturele verwoesting en moontlike volksuitwissing. Dis ʼn geweldige aanklag – maar die waarheid oor die Vader se taal moet uitgesê word, ook op Moedertaaldag.

Kulturele heiliging

Die Afrikaanse kerke kort bekering in hierdie saak. Hulle stilswye bevorder ten minste die probleem in ons gemeenskap, op sy ergste sal hulle in die toekoms aangekla word van ʼn sonde teen die mensdom van God – want Sy mensdom sluit volke in. Die Afrikaanse kerke moet oor hierdie punt Bybels begin preek en optree. Tans is die rigting wat hulle inslaan oor tale, volke en nasies gedoem om kleiner tale seer te maak en te verwoes. God wil nie kulturele verwoesting en selfmoord hê nie, maar kulturele heiliging. Volke moet hulle plek voor God ken en hulle aandeel deur Christus en die Heilige Gees geleer word. Dit is die kerke se taak – voor, tydens en na Moedertaaldag. Luister na die Vader, o volke. Jou taal moet sy heerlike Naam spel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wikus Buys

Dr. Wikus Buys is die uitvoerende direkteur van die Begrond Instituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Ds, die Vader verwag nie ons moet op vyf perde gelyk probeer ry nie… Dit doen hulle net in sirkusse. Om almal wat aan die NP behoort het nou suur-melk-drinkers te noem is effens verregaande. Dominee lyk presies reg vir ‘n inklussiewe-breëspektrum-handevat-gemeente; nuwerwets een-knie-eerbiedig-laag-gebuig vir broeders en susters van onse land. Sela.

Amelia ·

Ek dink kinders moet dan maar liewer net Engels praat as hulle ouers hulle nie gaan reghelp met die geradbraakte mengelmoes van tale waarmee hulle deesdae kommunikeer nie. Wat sommige kinders praat kan ‘n mens skaars Afrikaans noem. Dit kom vir my voor soos Engelse torings wat op ‘n onstabiele Afrikaanse fondament gebou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.