Moedertaal versterk ons identiteit en geloof

Deur Andries Opperman

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Afrikaanse Taalmonument en -museum/Facebook)

“Sommige al bang om Afrikaans te praat.”

“Menseregtekommissie het weer klagte ontvang oor taalgebruik op US-kampus.”

Stellenbosch University has allegedly banned even informal use of Afrikaans.

Ons raak al gewoond aan dié soort nuusberigte oor universiteite.

Moedertaalonderrig moet plek maak vir transformasie, inklusiwiteit en gelykheid by universiteite. Akademici wedywer onder mekaar om tog in die nuwe era relevant te wees. Universiteite val oor hulle voete om niemand uit te sluit nie, en daarom skakel hulle oor na Engels as onderrigtaal.

Ongelukkig, met hierdie oorskakeling, word mense juis uitgesluit. Moedertaal, of dit Afrikaans, Zulu, Sotho of Xhosa is, verarm wanneer dit uit skole verwyder word en die akademiese ruimte ontsê word. Dit is juis ook binne die akademiese ruimte waar moedertaal gebeitel en geslyp word. Die kunste en die akademie is die suurdeeg wat die taal-degie deurtrek en ophef tot ʼn majestueuse en welkome varsgebakte brood.

Hoe sterker ons taal word, hoe beter kan ons aanbid, dien en heers, soos ons juis opgeroep word deur die God van die Skepping. Dr. Morné Diedericks en prof. Ferdinand Potgieter lig hierdie punt so duidelik uit vanuit professor HG Stoker se werke in ʼn artikel vir die Journal for Christian Scholarship met die titel “HG Stoker se gedagtes oor die gemeenskapsuniversiteit”. Hulle toon aan dat Stoker taal as ʼn geskenk van God beskryf. Stoker noem die uitbou van jou taal, die beheersing van jou gawes. Diedericks en Potgieter lig uit hoe Stoker ʼn baba se poging om taalklanke uit te bring en te herhaal beskryf as ʼn poging om te heers oor die skepping.

Wanneer God skep, gebruik Hy taal en woorde (hemelse taal natuurlik). Daar is geen kans vir misverstand of ongehoorsaamheid aan die kant van die skepping en die mens nie. Sy woorde is honderd persent verstaanbaar en duidelik. Dit is die middel waardeur God heers oor materie en tyd. Dit is die middel waardeur Hy lewe skep.

Dan skep God die mens en beveel hom om te heers. Geskep na die beeld van God, is die mens se eerste taak die gebruik van taal (name vir diere-identiteit). Die wese van God en sy beeld, is so duidelik ingeprent by die mens dat selfs ʼn baba smag om deur klanke te heers oor sy omstandighede. Sonder taal en die begrip (daarvan) kan die mens nie regeer nie.

Prof. H van der Wateren, in sy boek ʼn Eeu van Bloedstryd, toon ook hoe taalsuiwerheid nodig is vir aanbidding en lofprysing. Hy verwys na Paulus wat in 1 Korintiërs 14:8-11 skryf: “Daar is hoeveel soorte tale en nie een is sonder klank nie”.

Gedagtes word in klank omgeskakel en klank vorm taal. Hierdie klanke, skryf prof. Van der Wateren, is waarin die begripsvermoë om te kommunikeer opgesluit is. Slegs wanneer die klanke van die woorde opgevang word, kan die boodskap verstaan word.

Duidelike taal is dus nodig vir duidelike kommunikasie. Wanneer ons onderlinge kommunikasie afgeskeep en lui raak, sal dit net so ook ons vermoë om met God te kan praat affekteer. Prof. Ban der Wateren skryf: “Taalslordigheid is gevolglik ʼn gewisse teken van gebedslordigheid en van geloofslordigheid. Jou geloof verdwyn nie eensklaps as jou taal slordig word nie, dit is nog daar, maar dit is nie meer helder nie. Anders gesê: Wanneer die taal as genadegawe verval, tree ʼn geloofslordigheid en ʼn onduidelike identiteitsbewussyn in.”

Paulus verwys juis na identiteit wanneer hy van ʼn basuin praat. As die volk nie die klanke – die identiteit – van die fluit of siter of basuin van mekaar kan onderskei nie, hoe sal hulle dan weet om klaar te maak vir oorlog? Die basuin se helder klank, gee ʼn duidelike boodskap wat die soldate dan kan verstaan.

Net soos die basuin helder moet wees vir sy identiteit, so moet ons taal helder wees vir ons identiteit. Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, skryf onlangs op Facebook: “Identiteit en onafhanklikheid bring groei en vryheid”

Enige volk- en geloofsgemeenskap wat erns maak met sy skeppingsopdrag om te heers, te aanbid, te dien, te werk en te bou, sal ook erns maak met sy taal, as genade van die Here. Tydens onderrig, van moedersknie tot by ʼn tersiêre instelling, kan ons elkeen ons taal help vorm.

Kom ons maak elke dag ʼn moedertaaldag!

  • Andries Opperman is ‘n deeltydse dosent by die Afrikaanse Protestantse Akademie, hy is ‘n toegewyde pa en voel sterk oor Afrikaans en Afrikanergemeenskapsake.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is die rede hoekom elke volk sy eie tuisstaat moet hê waar elke volk sy kultuur en vooruitgang kan bepaal in ‘n regte demokratiese bestel. Die navo lande is ‘n goeie voorbeeld elke groep het hulle eie land ,regering, ekonomie en kultuur maar hulle staan saam om die wêreld ‘n beter plek vir almal te maak

Republikein in die Wes Kaap ·

Navo veroorsaak meer pyn en lyding waar hulle betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.