Moedertaalonderrig – feite versus fiksie

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Internasionale Moedertaaldag word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier. Daar is op dié datum besluit om onder meer hulde te bring aan studente wat in 1952 doodgeskiet is toe hulle teen die gebruik van Urdu as enigste amptelike taal in die destydse Pakistan betoog het. Dat hulle bereid was om vir hulle moedertaal (Bengali of Bangla) te sterf, het duidelik gemaak hoe sterk mense oor taal voel. Buiten hierdie bewys van passie vir die bevordering van moedertaal, was daar teen die eeuwending al meer as genoeg bewyse van die noodsaak van moedertaalonderrig – nie alleen vir die akademiese ontwikkeling en emosionele welstand van studente nie, maar uiteindelik ook vir die ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit in ’n land.

Internasionale Moedertaaldag word herdenk om bewusmaking te skep dat tale en veeltaligheid polarisasie en marginalisering teenwerk terwyl dit volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bevorder.

Ten spyte van bewusmaking oor taalregte en die voordele van moedertaalonderrig, groei die druk teen eentalige Afrikaanse skole deurentyd en is daar geen staatsondersteunde universiteit in die land oor waar ’n student ’n kwalifikasie en die administrasie daaromheen uitsluitlik in Afrikaans kan afhandel nie.

Wanneer die Solidariteit Beweging sosialemediaplasings oor Akademia en Sol-Tech maak – privaat tersiêre onderriginstellings wat volledig deur donasies van die Afrikaanse gemeenskap moontlik gemaak is en geen staatsteun ontvang nie – is daar telkens mense wat sê dat eentalige Afrikaanse instellings nie in die land geduld mag word nie.

Hierdie anti-Afrikaanse en anti-Afrikaneraktiviste het hulle eie politieke agendas en hoewel dit nie hulle onsinnige uitlatings verskoon nie, verklaar dit minstens hulle optrede.

Wat minder verklaarbaar is, is Afrikaanse ouers wat doelbewus teen moedertaalonderrig kies en hulle kinders in Engelse kleuter-, laer- en hoërskole plaas. Hulle doen dit onder die wanindruk dat die kinders hierdeur vlot Engels sal leer praat en suksesvolle loopbane sal hê as hulle in die “wêreldtaal” (Engels) studeer. As gevolg van hulle optrede verkeer Afrikaanse skole onder druk om jaarliks voldoende inskrywings te kry om hulle eentalige status te handhaaf. Elke skool wat oorskakel na parallel- of dubbelmediumonderrig loop die gevaar om mettertyd eentalig Engels te word en benadeel die Afrikaanse gemeenskap.

Die studies van internasionale kenners soos dr. Fernand de Varennes, die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur oor minderheidsaangeleenthede, bewys dat langdurige blootstelling aan moedertaalonderrig die betrokke taalgemeenskap se gemiddelde vlak van geletterdheid verhoog, terwyl dit die werkloosheidskoers onder hulle verlaag. ’n Keuse vir onderrig in jou moedertaal is dus ’n keuse ten gunste van die welstand van jou gemeenskap.

Wanneer Afrikaanse skole onder departementele druk verkeer om te verengels, gee hulle dikwels toe daaraan omdat hulle meen dat dit ’n groter leerdertal vir die skool en dus ook meer fondse sal beteken. Hulle glo dit gaan meer welwillendheid en hulpbronne van die betrokke provinsie se onderwysdepartement vir die skool bewerkstellig. Soms wil hulle ’n sportsoort by die skool bevorder en om die nodige talent te kan lok, probeer hulle kinders met Engelse onderrig intrek. Verder is daar ook ’n persepsie dat Engelse onderrig die skool van rassekonflik sal vrywaar.

Ervaring het egter al geleer dat Afrikaanse ouers lojale betalers en ondersteuners is. Groter getalle leerders as gevolg van die insluiting van Engels skep die uitdaging van meer hulpbronne wat vir onderrig nodig raak, maar verseker nie noodwendig meer inkomste nie. Die insluiting van Engels mag dalk juis Afrikaanse ouers afskrik en oortuig om hulle kinders by ’n ander skool wat steeds eentalig Afrikaans is, in te skryf.

Die departement se houding teenoor parallel- en dubbelmediumskole is soortgelyk aan dié jeens enkelmediumskole. Dikwels word hulp beloof met die befondsing van hulpbronne wat benodig word, soos meer onderwysers, klaskamers of leermateriaal, maar nadat die skool se taalbeleid verander het, gebeur dit nie of droog dit op.

(Argieffoto/Unsplash)

Talent word veral gelok deur gehalte-onderrig en enkelmediumskole bied die hoogste gehalte onderrig. Om Engelse leerders in te sluit, mag dus dalk ’n sportsoort aldaar bevoordeel, maar beslis nie die akademiese vooruitgang van die leerders nie.

Ten slotte is dit nie die taalbeleid wat rassekonflik by skole uitskakel nie, maar die sukses waarmee wedersydse erkenning en respek onder die lede van die skoolgemeenskap bevorder word. Die meerderheid Afrikaanse sprekers is bowendien nie wit nie, dus is die bewerings dat ’n Afrikaanse taalbeleid gekies word om nie-wit leerders te probeer weghou, bloot kwaadwillig.

Ervaring het AfriForum geleer dat die proses om ’n skool na dubbel- of parallelmedium om te skakel, uiters moeilik omkeerbaar is. Selfs in ’n geval in Gauteng waar die demografie in ’n woonbuurt só verander het dat die skool oorvol sou wees as dit net die inskrywings van Afrikaanse kinders aanvaar, kon die departement nie oortuig of gedwing word om die inskrywing van Engelse leerders te staak nie.

Sommige Afrikaanse skole meen as hulle ’n enkele klasgroep Engelse kinders inneem, sal die departementele druk verlig word en getalle bestuur kan word. Hulle moet egter onthou dat só ’n groep geakkommodeer moet word totdat hulle skool verlaat. Hoe hoër die graad, hoe groter die uitdaging wat infrastruktuur betref. ’n Engelse klasgroep vrywaar ook nie ’n skool van departementele en aktivistiese druk nie; inteendeel, dit is moeiliker om meer Engelse leerders te weier wanneer ’n presedent met die toelating van een groep reeds geskep is.

Skole het sterk beheerliggaamlede en ’n begeesterde ouergemeenskap nodig om hulle taalbeleid te handhaaf. Die volgende beheerliggaamverkiesing vind in Maart 2021 plaas. Ouers word versoek om hulle verkiesbaar te stel en/of vir kandidate wat moedertaalonderrig sal beskerm, te stem. Hierdeur kan elkeen ’n sleutelrol speel om deur gehalte-onderrig aan ons kinders se toekoms te bou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Anel

Absolute waarheid. Ons het 3 laerskole in ons omgewing. Mens kan amper aan elke punt van die straat met een n die middel, so 1km uitmekaar. Die eerste een was Afrikaans. Ek het daar skoolgegaan en later ons kinders. In ons jongste se laaste laerskool jaar het die voorstitter van die beheerraad die ouers half gewing om vir dubbelmedium te stem. Anders so die laerskool deur die departement gevat word en in hoërskool verander word. Die meeste van ons het daarteen geskop, maar die ou het voortgegaan. Skaar 2 jaar later is die skool heeltemal engels en al die kinders… Lees meer »