Moeilike verkiesing lê voor vir Trump en Republikeine

Donald Trump, die Amerikaanse president, stap by die Withuis in Washington in die rigting van die Marine One-helikopter. Trump se topraadgewers het onlangs baie vinnig outeurskap van ’n anonieme ope brief ontken wat vroeër deur The New York Times gepubliseer is. Teenkanting van binne Trump se eie kamp word glo in dié brief onthul. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Op Dinsdag 6 November sal Donald Trump voor sy grootste toets sedert hy in Januarie verlede jaar president van die VSA geword het, te staan kom. Amerikaanse kiesers sal dan in die middeltermynverkiesing stem. Die verkiesingsveldtog het die afgelope twee weke behoorlik op dreef gekom en dinge lyk baie slegs vir Trump en die Republikeine.

Die Republikeinse Party beheer tans die Withuis, die Huis van Verteenwoordigers, die Senaat en 33 van die 50 goewerneurskappe. Ook binne die vyftig state is die Republikeine tans in ’n baie sterk posisie. Dit gaan na 6 November waarskynlik heelwat anders lyk.

Al 435 posisies in die Huis van Verteenwoordigers, 33 van die 100 poste in die Senaat en 36 van die 50 goewerneurskappe is vakant. In die meeste state word groot hoeveelhede politieke verteenwoordigers op verskillende regeringsvlakke ook verkies. Die middeltermynverkiesing is gewoonlik ’n groot toets vir die sittende president en sy party en meestal staan hulle in die middeltermynverkiesings aan die verloorkant.

Tog sou ’n mens verwag dat die Republikeine vanjaar ’n sterker posisie moes wees. Die Amerikaanse ekonomie is baie sterk, met rekordlae werkloosheid en groeiende inkomstevlakke. Die Republikeinse Party se belastinghervormings begin ook reeds vrugte af te werp. Verder het die Trump-administrasie, en Republikeinse regerings in talle Amerikaanse state, die afgelope twintig maande min beleidsfoute gemaak. Ook wat buitelandse betrekkinge aanbetref is Amerika nie juis in ’n slegter posisie as in Januarie verlede jaar nie. Hiervolgens geoordeel behoort die Republikeine eintlik baie goed in November se verkiesing te presteer.

Tog wys alle peilings dat die party in groot moeilikheid is. Selfs in uiters konserwatiewe state soos Texas, Tennessee en Oklahoma moet die party verbete veg om senaat- en goewerneurskappe te behou. Een reaksie kan wees om daarop te wys dat die peilings in 2016 baie verkeerd was toe Donald Trump op verrassende wyse die presidentskap gewen het. Peilings alleen is dus nie genoeg van ’n aanduider nie. Dit is egter ’n kombinasie van peilings, grondvlakentoesiasme, swak veldtogte en ernstige kommer van raadgewers en veldtogbestuurders wat daarop dui dat kiesers in November ’n dwarsklap aan Trump en sy party gaan uitdeel.

Die rede hiervoor is waarskynlik dat die vlak van omstredenheid, onprofessionaliteit en chaos in die Withuis vir baie Amerikaners net te erg geraak het. Trump se gewildheid is tans die laagste sedert hy president geword het en sy onprofessionele gedrag gaan daartoe lei dat baie beskaafde middelklas Republikeine nie die moeite gaan doen om op ’n besige dag nog te gaan stem ook nie. Heelwat minder Amerikaners stem in middeltermynverkiesings as in presidentsverkiesings en daarom is die party wie se getrouste ondersteuners die sterkste gemotiveer is om te gaan stem, gewoonlik aan die wenkant. Entoesiasme onder Demokrate is baie hoog omdat hulle Trump so verpes.

Die werklikheid is dat die Republikeinse Party se twee jaar lange periode van bykans algehele mag in November tot ’n einde gaan kom. Die party gaan talle goewerneurskappe en dalk selfs die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat verloor.

Trump en sy administrasie het saam met die Republikeinse leierskap baie dinge reg gedoen, maar in November gaan Trump se onpresidensiële gedrag bestraf word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

LV ·

En hier gaan die media alweer!Het julle nog nie jul les in die vorige ronde geleer nie?

Charles ·

Ek stem nie saam met die skrywer hiervan nie.
Die GOP stemmers is gemotiveerd;histories stem meer republikeine in die middeltermyn verkiesing as demokrate.Dit is waar dat demokrate gemotiveerd is, maar om die verkeerde redes, waarvoor hulle gestraf gaan word.Verder kan die DNC net nie op dreef kom nie, met selfs Obama wat te midde van die gevaartekens van ‘n “red wall”, in teenstelling met die geproffeseerde “blue wave” van die msm,moes ingryp-wat egter kiesers nie aanstaan nie.Dit is vir my vreemd dat die skrywer niks noem vandie #walkaway beweging nie,die ver linkse skuif van die demokrate wat onafhanklike en gematigde stemmers afskrik nie,ensomeer.
Waar konserwatiewes eers lugtig was oor Trump,is hul volle gewig nou agter hom (behalwe vir die paar RINO Uniparty globaliste en “deepstate”)wat sy presidentskap op sy kop wil draai.

Die skrywer maak een reuse fout: DIE BEWEERDE OMSTREDENHEID EN ONPROFESSIONALITEIT KAN ALLEEN TOEGEDIG WORD AAN DIE MEDIA; WAT DIT SKEP; EN DIEPRES SE WITHUIS AS ‘N SIRKUS AFMAAK, INDERDAAD IS DIT VIR DIE INGELIGTES DUIDELIK DAT DIE “SIRKUS” SLEGS OPGEMAAK IS.
Kiesers gaan nie stem vir: onpatriotisme, oop grense, Ongebreidelde belastingverhogings, die opgee van die wonderwerk wat 8 Nov 2016 was nie, ongebreidelde onwettige immigrasie en geweld, die verval van die opperheerskappy van die reg onder die demokrate nie- kyk na Chicago- kyk na SF in Kalifornie waar boemelaars en ander op die sypaadjies ontlas en soveel meet vbe.

Jaco Kleynhans ·

Charles. My opmerking oor Trump se onpresidensiële gedrag is my eie opinie en nie iets wat ek êrens gaan kry het nie. Sy voortdurende beledigings op Twitter is ewn ousig onpresidensieël.
Die beste Republikeinse strategiese raadgewers is almal bekommerd oor entoesiasme onder gematigde voorstelike blanke kiesers. Dit is nie waar dat konserwatiewe kiesers altyd in groter getalle in middeltermynverkiesings stem nie. Die middeltermynverkiesing in 2006 was ook ‘n slagting vir die Republikeine.

Twakkie ·

Stem ook nie met die algemene strekking van die artikel saam nie. Die VSA-media wat ek lees, waag nie noodwendig voorspellings oor die uitslag van die “mid-terms” nie, maar daar is só ‘n groot verskil tussen die twee partye se basiese beleid op hierdie tydstip dat ek nie kan insien hoekom enigiemand vir ‘n Demokraat gaan stem bloot omdat Trump se twiets hom/haar irriteer nie. En die bewerings van chaos in die anonieme brief en Woodward se boek word deur alle senior personeel ontken. Hulle vra tereg hoe die administrasie soveel gedoen sou kon kry as daar chaos was. Trump is wie hy is en ek meen gewone Amerikaners het geleer om hom so te aanvaar en eerder te konsentreer op wat hy vir die ekonomie vermag. En die onaanvaarbare optrede van soveel van die voorste Demokrate, veral teenoor Kavanaugh, laat Trump lyk soos iemand wat maar ‘n boek oor politieke etiket mag skryf.

Net 'n gedagte ·

Op grondvlak in die VSA (uitgeluit die diep blou state) is daar baie dinge wat aangaan en die meningspeilings ietwat weerpreek. Neem kennis dat die meeste peilings oorwegend demokrate +10% in die peiling bevat. In die sg “primaries” is die opkoms van die Republikeine hoër as die van die Demokrate. Dan is die fondsinsamelings van die partye ook ‘n goeie barometer om op te werk, die Republikeine is op rekord hoë vlakke, terwyl die Demokrate beroerd is. Die middelgroep in die VSA, die sg. “Independents” het nog altyd die balans bepaal in verkiesings. Dit lyk of die groep nog die Republikeine ondersteun, veral oor grenssekuriteit en dan die probleme met gesondheidsorg (ObamaCare) en voedselkoepons. Dan is daar die Evangeliste, wat sedert die laaste verkiesing, ook weer belangstelling begin toon het in verkiesings, sowel as diegene wat in die “fly over states” woon. Wees maar versigtig vir kanale soos CNN, NBC, ABC, MSNBC se peilings en voorspellings. Hulle het al in die verlede hul bes probeer om voor te gee wie ‘n verkiesing sal wen, net om later bloedneus te kry.

Toegegee: In die VSA vaar die party van die dienende president gewoonlik maar beroerd in die “mid-terms”

Jaco Kleynhans ·

Wat jy hier beweer oor die deelname in ‘primaries’ is eenvoudig nie waar nie. Ek bestudeer daagliks die politiek in Amerika en het al die ‘primaries’ van die afgelope paar maande intensief gevolg en self die deelnamekoerse ontleed. Die deelname vir Demokrate was baie beter as vir die Republikeine. Dit is wat soveel Republikeine bekommerd maak.

Ek gaan enkele state as voorbeelde noem: In Minnesota het 875 000 mense in die ‘primaries’ gestem. Sowat 250 000 meer Demokrate as Republikeine het gestem. Natuurlik maak dit die Republikeine bekommerd.

In Wisconsin het 950 000 mense gestem. Hier het 80 000 meer Demokrate as Republikeine gestem. Onthou Trump het Wisconsin twee jaar gelede gewen en die Republikeine sal graag die goewerneurskap hier wil behou en mededingend in die senaatsverkiesing wil deelneem.

In Illinois het Demokrate se deelname in die middeltermynverkiesing met 170% toegeneem en Republikeine s’n met 12% afgeneem. Die Republikeine is op die verdediging in vier distrikte waar daar tans goeie kanse is dat hulle hul setels kan verloor.

In Iowa is drie van die vier setels in die Huis van Verteenwoordigers uiters mededingend. Demokrate se deelname in die ‘primaries’ met 154% toegeneem. Republikeinse se deelname het met 36% afgeneem.

In Texas het Demokrate se deelname met 88% toegeneem. Republikeine se deelname het met 16% gestyg. In Kansas het Demokrate se deelname met 133% gestyg terwyl die Republikeine s’n met 20% gestyg het.
So kan ek aanhou met verwysing na talle ander state.

Trump Bo ·

Gaan kyk na statistieke Trump het baie meer bereik as Obama en moedig mense aan om die Here te dien. Ek like Trump baie!!!!!!!!!!!

Hendrik ·

Aan die vrugte sal die boom geken word. Trump se vrugte is bedrog deur Trump University, owerspel met prostitute en porno sterre, grootheidswaan, beginselloosheid (draai sy baadjie na die wind oor wapens en aborsie om kiesers te trek), wreedheid teenoor kinders van asielsoekers, en nog vele meer.

Dirk01 ·

Tenminste kon hy sien wat gebeur in die land en al het die anc sy woorde probeer uitrafel en soos altyd beter weet is landseizure , landseizure without compensation, land invasion en ander soort gelyke vorms uiteindelik presies dieselfde ding . Daar word gevat van n persoon wat nie aan hulle behoort nie .

Charles ·

Dit is REG dat die GOP getoets word en,maar in Texas is die pypdroom dat Beto O’Rourke vir Ted Cruz kan aanvat wensdenkery.
Die peilings is dikwels gekook in die guns van die “liberales” en “demokrate”

In Tennessee kan daar egter probleme wees met Bredesen wat meer gewild blyk te wees as Marsha Blackburn,maar daar is nog ‘n geruime tydjie oor vir die tafels om te draai

Demokrate verdedig tien setels in state wat deur Donald Trump in die 2016 presidensiële verkiesing gewen is, terwyl die Republikeine slegs een setel verdedig in ‘n staat wat deur Hillary Clinton in 2016 gewen is.In 2018 het die Demokrate die mees ongunstige Senaatskaart wat enige Party ooit in enige verkiesing gekonfronteer het.
Ek weet nie waarom noem die skrywer Oklahoma nie, Oklahoma is nie deel van die senaatsverkiesings die jaar nie.
Wat vreemd is, is dat nie genoem word die BAIE weerlose en patetiese posisies van die volgende demokraat “incumbents nie:

Tester-wat deur Rosendale geklop behoort te word-ook agv die feit dat Trump hom nie kan verdra nie.
Heitkamp in Noord-Dakota behoort ‘n harde tyd gegee te word deur Cramer en wink GOP oorname.
In Missouri gaan Josh Hawley vir Claire McCaskill oorrompel.
In Arizona lyk die kanse vir Martha McSally (‘n oud vegvlieenier) -te oordeel aan peilings- BAIE goed om die ver linkse Sinema te verslaan om die afgetrede Flake se plek in te neem.Eweneens lyk Dean Heller sekanseinNevada baiegoed.

Jaco Kleynhans ·

Charles,

Waarom verwys ek na Oklahoma? Omdat dit deel van die konserwatiewe hartland van Amerika is. Dit is een van die mees konserwatiewe en Republikeinse state en tog sukkel die Republikeine daar om die goewerneurskap te behou nadat die huidige Republikeinse goewerneur wat vanjaar uittree uiters ongewild geraak het. ‘n Goewerneursverkiesing in Oklohoma behoort vir die Republikeine in die huidige uiters positiewe ekonomiese omstandighede ‘n enorme oorwinning te besorg.

En jy is reg dat die Republikeine eintlik veronderstel is om maklik senaatsposisies in Noord_Dakota en Missouri by die Demokrate af te vat. Ek wil selfs Indiana, Wes-Virginia en Florida byvoeg, maar tog sukkel hulle om in hierdie state ‘n voorsprong te skep.
Op papier, gemeet is ek oortuig moet die Republikeine in November wen, maar ons kan ons nie blindstaar vir Trump se ongewildheid weens sy onprofessionele optrede nie. Natuurlik mag ‘n mens hou van dinge wat Trump doen en gedoen het, maar jy mag ook maar eerlik wees oor sy gedrag.

Charles ·

Claire McCaskill (D) het aangedui sy gaan nie vir Regter Kavanaugh stem nie- dus het sy sopas haar eie doppie geklink – in Florida is Bill Nelson (D) baie weerloos, sonder ‘n duidelike boodskap en entoesiasme, teenoor Rick Scott (R) – EN SO KAN MENS AANGAAN- die primary verkiesings waarvan Mnr KLeynhans melding maak het wel ‘n opstoot in demokratiese deelname meegebring- maar ek hou vol dat die begronding van die entoesiasme verkeerd is- dit wil se dat die inspirasie “to get one on Trump” nie genoeg is om stemmers in ‘n middeltermyn verkiesing (onthou-nie ‘n primary nie) oor te haal om vir swak demokratiese kandidate te stem nie en dat die GOP gaan seevier- DAT DAAR BAIE WERK VOORHANDE LE IS GEWIS- MAAR DIE “Republican National Convention” lyk vir my oorgehaal vir die stryd!!!

MAGA

VanAfrika ·

Mnr Trump kan nêrens gaan nie. Hy is ons anker en laaste hoop. Ons is in die moeilikheid as hy van daardie stoel afgehaal word.

Eish ·

Ongeag wat die media beweer, hou ek steeds van die man. Met sy verkiesing tot president, was die media totaal uit voel in met die werklikheid.
Pasop dat hy nie n Rassie op jul trek nie.

Charles ·

In Indiana lyk dit of Mike Braun vir Joe Donnely gaan bloedneus gee, en Jim Renacci kan dieselfde doen met Sherrod Brown in Indiana as gekyk word na Republikeinse entoesiasme (die onlangse fondsinsamelings van Trump Jnr aldaar as vb.)
In Wes-Virginie is die demokraat Manchin egter gewild en lyk dit nie of Patrick Morrissey, ten spyte van Trump se ondersteuning, sal seevier nie, MAAR MENS WEET NOOIT NIE.

Om alles te kroon kan Menendez in New Jersey a.g.v. sy regsprobleme ook nog ‘n demokratiese slagoffer wees.

My voorspelling vir die middeltermyn verkiesing wat plaasvind op 6 November 2018:

Senaat: Republikeine 54- Demokrate 46 (insl. onafhanklikes wat saam met die demokrate koukus) – BLOEDNEUS

Huis van Verteenwoordigers: [naelbytstryd) Republikeine 219- Demokrate 216
Daar moet in gedagte gehou word dat op die bree platform van werksgeleenthede, die ekonomiese opbloei en deregulasie, die GOP slim te werk sal gaan deur OOK plaaslike kwessies aan te raak (aangesien dit al bewys is dat tydens midtermyn verkiesings- kiesers beweeg word deur die aanspreek van plaaslike kwellinge en kwessies eerder as nasionale kwessies)- te wete in sommige streke waar Trump se ondersteuning uitermate hoog is- kan die GOP die verkiesing inkleur as ‘n referendum op President Trump, terwyl hulle in die suburbiese streke(wat neig om Huisverkiesings te wees)meer versigtig endoelgerig te werk moet gaandeur plaaslike kwessies aan te raak soos immigrasie,die demokrate se anti-wapen ingesteldheid (waarom gebruik hulle dit nie meer nie?!) ens.
#MAGA

Arak ·

Daardie einste peilings het ook voorspel hoe Hillary 98% kans het om te wen. Sal my nie veel steur aan die HSM en hulle peilings nie. Kyk maar net die beleid waarop die demokrate die verkiesing aanpak, “Stop Trump”. Hulle het dus geen beleid nie, en ek kan nie sien hoe ‘n bevolking wat werk het, waar hulle inkomste toeneem waar fabrieke weer begin, nou skielik vir die demokrate gaan stem, omdat hulle meer belasting wil betaal en die land se grense wil oopgooi nie. Verder dink ek die aggressie van die sosialiste(demokrate) maak hulle ook net al hoe minder gewild onder die gewone kiesers.

Werner ·

Ek praat onder korreksie, maar ek dink nie ek het die skrywer van die artikel al enige iets goed sien skryf oor Trump nie. Sy voor verkiesing skrywes was net soos CNN heeltemal verkeerd.

Ek kry die idee dat die man skimp vir ‘n werk by Naspers se liberale kliek

Wiehan ·

Kyk wat op 6 November 2018 in VSA gaan gebeur. PRES D. TRUMP se Republiekyne loop oor daai sosialiste.

Viva Trump!!!

Jacques ·

Ek dog Maroela Media is verhewe bo misleidende beriggewing. Sal van nou af nie meer net die inhoud van berigte as korrek aanvaar nie. Dis jammer want julle word hoog aangeskryf.

Sune van Heerden ·

Dagsê Jacques

Dankie vir jou kommentaar. Let asseblief daarop dat hierdie skrywe ‘n meningsvormerartikel is wat op Maroela Media se debatsplatform, Nou pra’ jy, gepubliseer is. Dit is dus slegs ‘n mening en nie ‘n nuusberig nie. Sien asseblief ook die kennisgewing onderaan die artikel wat bevestig dit is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Stan ·

Sal die maklikste oorwinning wees. Trump is ‘n yster en VSA doen goed. Kyk na ekonomiese groei, werkskepping en misdaad syfers voor jy vals nuus versprei.

Conrad ·

@ Trump Bo

Trump moedig mense aan om die Here te dien?

Ek’t al baie gehoor, tog is dié een seker die stelling wat Trump ondersteuners die beste beskryf. Kan dit nie beter stel nie. Dis verteenwoordigend van ‘n etiek, van normatiewe oordeel, van insig, van menswees wat bykans elke Trump ondersteuner perfek beskryf!

Welgedaan Trump Bo!

Louse ·

Die Dems se Kavanaugh-kaskenades is ook nou nie juis professioneel nie.

Jaco Kleynhans ·

Louse

Ek stem met jou saam en dit gaan hulle op die agtervoet plaas in veral Missouri en Noord-Dakota. Die Demokrate tree tans soort skurke op. Die vraag is egter tot watter mate gaan dit genoeg kiesers voor November kan swaai? Alles is nog moontlik, maar die realiteit bly dat die Republikeine onder baie druk verkeer.

Hugo D ·

As n Republikein wat in die VSA woon is dit my beskeie opinie dat die berig die spyker op die kop slaan! Die geskiedenis gaan Trump meet en dit gaan nie mooi wees nie, ek sien baie Afrikaners plaas vals statestiek op sosiale media sonder om feite na te gaan. Hy is n valse profeet en gaan niks vir jou doen nie, miskien n tweet of twee om jou te flous. Jammer ek weier om deel van n “cult” te wees.

Charles ·

Geagte Hugo, dit is vir my tog te vreemd dat jy praat van die kultus van Trump, maar ai tog o wereld- hoe beskryf jy dan Obama en sy handlangers se jare, en die se aanhang?

Make America Great Again

JAN ·

Altyd goed om na die slegste uitkoms te kyk en voor te berei. Jaco van Orania moet vir die toekoms beplan; met of sonder Trump.
Gelukkig is Jaco opvallend te sinies selfs irrasioneel. HOOP EK vir ons eie beswil!

nico k ·

Ek stem saam dat ek dink ook dat die Republiekeine die verkiesing behoort te wen. Hulle vaar altyd goed in die verkiesing vir die huis van verteenwoordigers. Maar ek dink ook dat Trump ‘n baie swak president is en ek voorspel dat hy nie ‘n tweede termyn sal maak nie.

Jerry ·

Jaco, jy slaan die spyker op die kop! Ek stem saam “Trump must fall”!

Charles ·

Ai tog Jerry, hier is iets GROTERS op die spel, – te wete die red en gesondmaak van die Westerse wereld.

Afrikaans moes ook kamtig val, (toe nie!!!) ne?

JAN ·

Duidelik begryp baie nie dat Trump besig is met ‘n Christelike sake revolusie in die plek die kurrupte politieke regering.
Sake beginsels kan nie kurrup wees nie want alles het ‘n prys. Daar bestaan nie so-iets soos ‘n kostelose maaltyd nie.[M Friedman}
Maar met die politieke bestuur van die vyande van Trump is daar hoegenaamd geen koste berekenings nie. in teendeel = in wese kurrup.
Jaco behoort te weet dat Orania op sakebeginsels baseer is. Ons volk se selfbeskikking is n sakebeginsel. Primer eie arbeid. van aandeelhouers
Eie arbeid versus vreemde arbeid is die kern van Trump se offensief.
Vreemde arbeid is totaal onbetaalbaar op die ou einde.

Charles ·

Claire McCaskill (D) het aangedui sy gaan nie vir Regter Kavanaugh stem nie- dus het sy sopas haar eie doppie geklink – in Florida is Bill Nelson (D) baie weerloos, sonder ‘n duidelike boodskap en entoesiasme, teenoor Rick Scott (R) – EN SO KAN MENS AANGAAN- die primary verkiesings waarvan Mnr KLeynhans melding maak het wel ‘n opstoot in demokratiese deelname meegebring- maar ek hou vol dat die begronding van die entoesiasme verkeerd is- dit wil se dat die inspirasie “to get one on Trump” nie genoeg is om stemmers in ‘n middeltermyn verkiesing (onthou-nie ‘n primary nie) oor te haal om vir swak demokratiese kandidate te stem nie en dat die GOP gaan seevier- DAT DAAR BAIE WERK VOORHANDE LE IS GEWIS- MAAR DIE “Republican National Convention” lyk vir my oorgehaal vir die stryd!!!

MAGA

Trump2020 ·

Leë blikke maak die meeste geraas. Republikeine gaan goed doen in November. Hierdie nonsens word gestook deur die Clinton News Network en PMS-NBC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.