Moenie die armes vergeet nie

Argieffoto

Argieffoto

Ek sien hulle elke dag as ek werk toe ry. Hulle staan langs die pad, steek hulle hande op as jy verby ry, reg om met die geringste aanduiding in jou kar te spring om enige werk te doen. Sommige het blou oorpakke aan, enkeles het ʼn verfroller om te wys hulle wil werk en kan werk. Jy ry verby, en jy wonder. Hierdie manne het gesinne, kinders waarvoor hulle moet sorg. Dit moet hel wees om elke dag saam met (teen?) talle ander te sukkel om ʼn harde dagwerk te kry wat beswaarlik genoeg betaal vir die taxi en ʼn bord kos vir vanaand. Net om more weer die hele proses te herhaal. ʼn Voortdurende stryd om oorlewing.

Mense wat al eens werkloos was, sal weet hoe dit voel as jou huismense jou só kyk en jy kyk weg, want jy weet ook nie. En hierdie mense is élke dag werkloos. En dit terwyl hulle voorspoed rondom hulle sien, so naby en tog so ver. Die goeie lewe, waarvan hulle nooit deel sal wees nie. Werklose armes wat wíl werk – vir ʼn vakbondman seker die naarste gesig om te sien. By my kantoor aangekom, lag die ekonomiese handboeke vir my. Die boeke met standaard vryemark resepte waarin ek glo, het nie kitsoplossings vir die probleme van Alfred, Jacob en Mandla nie.

Die sosialistiese kitsresepte van welsyn vir almal lyk dan mensliker, al weet ek dit kan nie werk nie. Ek vermoed dit lyk vir Alfred-hulle ook beter, al is ek nie seker of húlle weet dit kan nie werk nie. As ék arm en werkloos was, sou ʼn sosialistiese slagspreuk soos “toelaes vir almal” seker ook beter geklink het as Solidariteit se werkspreuk van “opleiding vir almal”. Verbruik klink altyd makliker as produksie. Daarom kan Sosialiste se beloftes nie oortref word nie.

Twee nasies

Die meeste wit mense ken nie wérklike, desperate, wakkerlê, hongerpyn armoede nie. Dit verdwyn saam met die huishulp na die swart woonbuurt toe, miskien met ʼn bietjie ekstra kos en ʼn ou stukkie klere wat saamgestuur word. Die minimum loon hét die minimum loon geword. Natuurlik is daar gelukkig baie mense wat veel meer as die minimum vir hulle arm werksmense doen, al sal die minister van Arbeid dit seker nooit glo of verstaan nie. Maar as ek die huishulpe saans met die deftige klere wat hulle op skuld by Edcon koop taxi toe sien loop, wil ek nie eens daaraan dink dat hulle nog die gelukkiges is wat vanaand darem kos het nie. Dan verstaan ek hoekom mense mnr Mbeki se “twee nasies” teorie geglo het, waarvolgens een wit en ryk is en een swart en arm. Dis een van daai lekker teorieë waarmee jy alles kan verduidelik en alles kan verdedig.

Help almal

Behalwe dat dit nie waar is nie. Want daar is ook al meer arm witmense, al weet die ANC en die ryk wittes dit nie, omdat hulle dit nie wíl weet nie. Want dan moet mens iets daaraan doen en dís darem te vreeslik. Wie wil nou iets dááraan doen? Meeste wit mense verstaan nie eens swart armoede nie en ken nie bruin armoede nie. Hoe moet hulle nou wít armoede begryp? Dis seker hoekom die Solidariteit Helpende Hand al deur ʼn hoge kerkleier vermaan is omdat ons die nood van wit armes uitlig. Dis dan rassisties.

Armoede is kleurloos, behalwe as jy wit is lyk my. Mense help selfs paddas wat bedreig word, maar ons mag nie kinders, oues en gestremdes probeer help as hulle wit is nie. Asof arm Afrikaanse dogtertjies nie ook koud kry as hulle nie warm klere het nie, asof wit ou mense nie honger word as hulle nie kos het nie. Asof arm wit gestremdes nie ook simpatieke mediese sorg nodig kry nie. Die punt is dat ons nie dink arm wittes moet eksklusief gehelp word nie, maar bloot dat hulle óók gehelp moet word. Dit gaan dus nie oor die uitsluiting van een groep nie, maar oor die insluiting van almal!

Armoede is verskriklik, maak nie saak watter ras die arme is nie. Los maar die rassepolitiek as dit by armoede kom. Maar dit lyk of sekere ryk wit kerkleiers en baie van hulle lidmate bietjie van wit armoede vergeet het, met die lekker verskoning dat hulle mos nie rassisties is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Illa ·

Uit die aard van my werk word ek bietjie blootgestel aan die vereistes waaraan ‘n onderneming moet voldoen vir BEE doeleindes. Ek weet nie baie nie, maar wat ek wel weet is dat ‘n onderneming GEEN BEE punte verdien vir ‘n donasie indien die behoeftiges wat deur die betrokke NWO bevoordeel word nie minstens 85% swart is nie. Verder moet ondernemings ook nogal ‘n groot persentasie van hul winste vir “Enterprise Development” aanwend, wat in effek beteken dat daar bedrae van ‘n onderneming se wins aan klein ondernemings met swart eienaarskap GEGEE moet word. Wat dit alles op neerkom, is dat dit GLAD NIE vir ‘n onderneming ekonomies sin maak om donasies aan witmense of organisasies wat grootliks wit armoediges bevoordeel te maak nie, aangesien hul klaar so groot deel van hul winste moet aanwend aan “upliftment” van die “previously disadvantaged” ten einde sake in SA te kan bedryf. Blankes word eerste afgelê, staan heel agter in die ry as dit kom by indiensneming en nou is dit ook hul plek in die ry sover dit hulp aanbetref. Ek glo daar behoort meer van die “Helpende Hand” tipe organisasies te wees, want dit is moeilik om fondse te bekom as die staat jou nie help nie. Jy is afhanklik van individuele donasies en wie het ook nou duisende rande om weg te gee in vandag se ekonomie? So dit is letterlik druppels wat die emmer moet vol hou – R10.00 op ‘n slag.

Herman Toerien ·

In Suid-Afrika bestaan die opvatting nog maklik dat as ‘n wit persoon swaar kry, dit is omdat daar die een of ander fout is. Die persoon het ‘n probleem met die bottel, of hy is werksku. In sommige gevalle is dit waar, maar daar is ook genoeg gevalle waar die mat eenvoudig onder mense uitgeruk is. Nie alleen is daar skielik die benouenis van rekenings wat betaal moet wordm, maar nie die geld nie, kos wat gekoop moet word maar met wat? en so aan nie, maar die ding van selfrespek. Plus die wete dat baie mense meen dit het oor jou (en dus jou gesin) se pad gekom omdat jy dan seker skelm moes wees, nie die werk kon doen nie meen skelm dop vat, of plein net te lui was. En jy self weet dit is nie so nie. Of hulle jou goedbedoeld nooi om te kom kuier. Maar met wat?
Maar intussen loop die storie verwoestend – ‘n familielid met wie jy eens haaks was, of iemand wat maar net lief is om stories op te maak en oor te vertel. Intussen word jy nog siek van in die wind en weer iets bymekaar skraap…
Met die sensus, wanneer jou inkomste gevra word, rek die oë en jy sien die ongeloof. En gaan kyk maar later – die laagste inkomste in jou straat is aansielik hoër as joune, want jy moes sekerlik gelieg het. ‘n Geleentheid duik (dalk) op, maar daarvoor moet jy met die bus ver ry. ‘n Geldjie word daarvoor bymekaar geskraap, en jy pak die tog aan wat weer op ‘n nul uitloop.
Intussen doen jy alles wat jou hand vind om te doen.
En jy is intens bewus van hulle wat selfs nog swaarder kry.
Wees dankbaar, baie dankbaar as jy weer ‘n kans kry.

Stephan Schoeman ·

100% korrek, Herman!

Net gister by n vriend wat ook die pad van vernietiging en vernedering moes loop. n besonder goeie man wat al menigmale stilweg uit sy eie andere probeer help het sonder enige ophef maak van sy rol. n Man wat op sy dag n valskermsoldaat was en niks aan enige iemand ten opsigte van vasbyt, deursetting en daperheid hoef te bewys nie, maar n man wat net deur die Vader se genade, by wyse van liedjie se woorde, gered was van selfmoord omdat hy eenvoudig geen uitkoms kon sien nie en tot dodens toe vertrap en moeg was! Hoewel dit baie beter gaan veg en help hy nog steeds andere, maar gister sug hymet n effens siniese glimlag en se’ “… totdat hulle self hierdie pad gestap en oorleef het, weet geen Dominee, sielkundige of enige iemand anders waarvan hulle praat as hul oor die pad praat of advies wil gee nie …”.

So pas n stukkie kommentaar aangebied en sal dus nie meer as bg nou kwyt raak nie, behalwe om te herhaal dat gebede, traktaaitjies, slim aanhalings en goeie wense altyd welkom is, maar dit is bloot “band aid strips” op n gesnyde slagaar …

Sterkte aan almal op die pad van vernietiging & vernedering!

Stephan Schoeman ·

Bravo, Flip!

Natuurlik nie die eerste keer dat iemand verwys na die armoede in SA en/of die werkloosheid nie, maar ek hou van die aanslag wat geen onderskeid tref tussen rasse nie EN so n bietjie sekere wit Kerkleiers en hul gegoede volgelinge aanspreek.

Dit is egter ook nodig om n derde groep mense uit te lig en hoewel dit waarskynlik tot n mindere of meerdere mate ook vir ander groepe geld, fokus ek nou op die Afrikaner. Die eerste twee groepe word in Flip se artikel genoem, maar daar is nog een tussen die twee, naamlik die wat besig is om te “gly”. Uit ervaring weet ek dat daar zero hulp en/of bystand bestaan vir daardie wat nog desperaat kan klou aan hul woonhuise en miskien een familie ryding, maar wie se spaar- /pensioengeldjies met n spoed verminder nadat hulle hul werk verloor het en nie weer n sinvol & aanvaarbare alternatiewe een kan vind nie. Mense wat poog om eie klein besigheidjies te begin, maar weens onkunde, tekort aan kapitaal, geen struktuur, ens nie daarin slaag en/of misluk. Rede hoekom ek fokus op Afrikaner is bloot weens die sg “transformasie” beleid van die regering wat in sekere kringe al bykans n nuwe godsdiens geword het. Wees n middeljarige of bejaarde Afrikaner man en kyk of jy n aanvaarbare werk/kontrak in lyn met jou kwalifikasies, kennis, vermoeens of ervaring kan vind … Wat jy sal vind is groeiende eensaamheid en vernedering. Ergste van alles is dat by verre die meeste komend is vanaf jou eie mense!

Gebede, traktaaitjies en slim aanhalings laat mens n paar minute effe beter voel, maar dan slaan die werklikheid weer toe. My pleidooi is dat daar daadwerklike hulp aan hierdie derde en mag ek se groeiende groep gevind en/of geskep word. Hoekom wag, soos baie Kerke, bewustelik of onbewustelik, \doen, totdat die val voltooi is om dan n “hamper’ te wil uit deel. Natuurlik sal lg uiters welkom wees, maar dit is bloot n “band aid’ pleistertjie op n gesnyde slagaar en dus bied dit baie tydelike verligting, maar geen uitkoms of genesing.

Met verwysing na Flip se skrywe; dit is hierdie mense van die “derde’ groep wat myns insiens waarskynlik die hardste veg, maar dan ook die hardste val en dit is wanneer hulle oop is vir oortuiging deur die sosialiste en andere. Rede is eenvoudig dat die vrye mark, tesame met hul eie mense, hulle versaak en verloon het. Dit is gelukkig so dat van hierdie mense, gewoonlik met n helpende hand van iewers, n manier vind om te weer stadig op te staan, maar die letsels en wantroue bly vir ewig en totale herstel waarskynlik net n bitter droom.

Ten slotte dan weereens komplimente aan Flip asook dankbaarheid en aanmoediging aan sy organisasie, maar iewers moet ons n manier vind om ons mense te red van n val wat dodelike gevolge kan, sal en gaan he!

AP van Schalkwyk ·

Die tyd is NOU dat ons wittes bymekaar moet staan en mekaar help. Waar is die mense wat groot, klein of mini werkgewers is? Neem wittes in diens en betaal hulle vir wat hulle doen. NIe n koning se betaling vir eenvoudige werk nie , maar genoeg om van te lewe sonder om hulle uit te buit. Niemand kan jou verplig om slegs mense van enige ras aan te stel nie.

AP van Schalkwyk ·

Die tyd is NOU dat ons wittes bymekaar moet staan en mekaar help. Waar is die mense wat groot, klein of mini werkgewers is? Neem wittes in diens en betaal hulle vir wat hulle doen. NIe n koning se betaling vir eenvoudige werk nie , maar genoeg om van te lewe sonder om hulle uit te buit. Niemand kan jou verplig om slegs mense van enige ras aan te stel nie.

magriet ·

by ‘n bruin of swart bedelaar / persoon loop ek verby, maar vir ‘n wit persoon maak ek my beursie leeg.
en ek is trots daarop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.