Moenie die verkeerde ANC-kongres dophou

zuma-se-aandete-vir-kandidate-MyANC-Facebook

Foto: MyANC Facebook-blad.

Die politieke “kommentariaat” is op hol met die komende ANC-kongres. Die meeste uitsprake laat dit klink asof bykans “alles” daarvan afhang. Dit sal natuurlik baie help as pres. Jacob Zuma uitgestem word en dat sy status spoedig verander na “beskuldigde Nommer Een”. Maar dis nie genoeg nie. Die werklike probleem is dat die nasionale aandag op die verkeerde ANC-kongres gefokus is. Die land se afdraande pad het 20 jaar gelede by hulle 50ste kongres in Mahikeng begin. Daarom gaan ʼn nuwe leier by die volgende kongres nie die oplossing wees nie. Die probleem is ongelukkig groter as Jacob Zuma en die eerskomende kongres kan maar net nuwe gesigte by dieselfde probleme sit.

Zuma het wel ʼn groot rol gespeel om die land tot op die rand van die afgrond te sleep, maar die party se politieke padkaart is al onder pres. Nelson Mandela en pres. Thabo Mbeki se leierskap opgestel: 20 jaar gelede by die ANC se 1997-kongres in Mahikeng. Die eenparige verkiesing van Zuma as adjunkpresident van die ANC by dieselfde kongres is tekenend van die ander, dieperliggende verkeerde keuses wat die ANC daar gemaak het. Dís waar die ANC die beleidsrigtings aangeneem het wat ons nou kniediep in die moeilikheid het, en die 2017-kongres gaan niks daaraan verander nie.

Oorspronklike doelwitte

Die 1997-kongres het net ʼn jaar ná die aanvaarding van die “finale” grondwet in 1996 plaasgevind. Die besluite daar het dit duidelik gemaak dat die ANC tydens Kodesa, die grondwetlike onderhandelings, net toegewings gemaak het om die mag te kry sodat hulle ná hul oorname die mag kon gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te dryf namate die magsbalans verander. Die besluite daar herinner veel meer aan die ANC se 1955 Freedom Charter wat op die hoogtepunt van Kommunisme opgestel is, as aan die grondwet waarop hulle in 1994/96 ooreengekom het.

Die belangrikste besluite van die 1997-kongres is die volgende:

  • die aanvaarding van “transformasie” as die sentrale staatsideologie, ʼn woord wat nie eers in die grondwet voorkom nie;
  • daarmee saam het hulle met transformasie die definisie van “gelykheid” in “verteenwoordigendheid” verander, en is besluit dat alle instellings die land se bevolkingsamestelling moet weerspieël. Só het ʼn gelyke wegspring nou “gelyke uitkomste” ofte wel gelykheid by die wenpaal geword en is radikale “regstelling” gebore;
  • om dit te bewerkstellig is besluit op die rasseformule van 80% swart, 9% bruin, 9% wit en 2% Indiër, wat die rassesamestelling van bykans alles in die land moet bepaal;
  • daarmee saam is ʼn beleid van “African hegemony” ingestel, ofte wel Afrikaan-dominasie. Dit het beteken dat swart Afrikane hoofde van instellings moes word en die land onder “Afrikaan-leierskap” moes kom;
  • die ANC het verder besluit dat hy alle “hefbome van mag” moes beheer, soos die gewapende magte, staatsinstellings en openbare ondernemings;
  • daarom is die beleid van “kaderontplooiing” aanvaar, waarvolgens lojale ANC “kaders” landwyd in leiersposte “ontplooi” is, in plaas van die beste mens vir die pos. So is feitlik alle instellings onder partybeheer gebring, selfs dié wat regtens onafhanklik moes wees;
  • die kongres het teen die destydse verwagting in volhard met beleidsrigtings soos sy “nasionaal demokratiese rewolusie,” in plaas van die demokratiese taalgebruik van die post-kommunistiese era. Ten spyte van die 1994-demokrasie, beskryf die ANC homself tot vandag nog as ʼn bevrydingsbeweging in plaas van ʼn demokratiese party, en klou steeds vas aan sy missie van die ‘bevryding van Afrikane in die besonder, en van swart mense in die algemeen”.
  • Uit kongresbesluite oor die sogenaamde “nasionale vraagstuk” het dit geblyk dat die ANC dieselfde “nasiebou”-beleid gaan volg wat in soveel Afrika-lande misluk het, omdat dit van kultuurgemeenskappe verwag het om afstand te doen van hulle fundamentele belange.
  • Dit is betekenisvol dat die beleid dat die ANC se idees die regerende idees vir die hele land moes word, onder die vaandel van ʼn “hegemony of ideas” ingevoer is. In kort moes dit sorg dat die ANC se meesterverhaal van die hede en verlede almal in die land s’n sou word en hulle propaganda as die politiek korrekte vanselfsprekende waarheid beskou moes word.

Tweedeklas burgers

Die destydse hoof van Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, prof. Pierre du Toit, se waarskuwing dat die kongresbesluite wit mense tweedeklas burgers maak, was in die post-94 wittebrood ʼn stem roepende in die woestyn. Die betowerende politieke beswyming waarin die land in die Mandela-jare verval het, was nog te sterk. Die kommentariaat wou nie uit sy reënboogdrome wakker geskud word nie. Ná afloop van die 1997-kongres het die ANC wette gemaak om hierdie besluite uit te voer, soos die mooi klinkende “Wet op Diensbillikheid” van 1998. Dit was die einde van “regstellende aksie” wat historiese onbillikhede moes regstel, en die begin van “rasstellende aksie” wat met rasseformules moes sorg dat ervare wit mense uit hul poste “getransformeer” moes word en dit onder Afrikaan-beheer kon kom. Ras het nou belangriker as meriete geword, en die vervanging van kundigheid met politieke lojaliteit het uiteindelik feitlik die hele staatsdiens op sy knieë gedwing.

Koöpteer

Dieselfde wet is ook deur die regering gebruik om die land se sakelui tot hierdie rasse-nasionalistiese beleid te koöpteer, met die wortel van staatskontrakte en die stok van strawwe. Sakelui moes nou die ANC se beloftes van werk vir hul kiesers nakom, in ruil vir die ruimte om met hul besighede voort te gaan, weliswaar onder swaar staatsinmenging. Maar die grootste gevaar van die 1997-besluite is dat hulle daarin geslaag het om hulle radikaal-linkse idees wyd en algemeen aanvaar te kry, en joernaliste, akademici, en selfs groot dele van die regbank en die meeste opposisiepartye dit te laat steun asof dit normaal is.

Die gevolge van die 1997-besluite het die land by die krisis van 2017 gebring. Dit was wel onbedoeld, maar beslis voorsienbaar. Hoewel dit sal help om die bus se korrupte en onbevoegde drywer uit te gooi, sal dit nie die bus se rigting verander nie. Dáárvoor is ʼn nuwe padkaart nodig, een wat die 1997-besluite kan omkeer om Suid-Afrika in ʼn nuwe rigting te stuur.

Die land het dringend nuwe idees en nodig en nie net nuwe leiers nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

John ·

Ja. Waar. Ons ken die feite, sien die gevolge en vrees die toekoms. Maar hoe draai ‘n minderheid die kop van ‘n meerderheid wat op die rand van die afgrond doelgerig vorentoe dwing na ‘n vryval tot in groot ellende? Nuwe idees? Soos nuwe modes, nuwe tegnologie en nuwe tv-programme… ja, dit sal gou deur Afrika aangegryp word, maar idees en planne buite eie konteks wat indruis teen die inherente gene, is ‘n ander saak. Om ‘n beker aan ‘n kameelperd te skenk en te verduidelik dat hy water kan skep en oplig, dan hoef hy nie so ongemaklik te buk nie… so moeilik is dit om sekere konsepte oor te dra aan diegene wat nie hul gesukkel as ‘n probleem waarneem nie. Dit is maar hoe ek is…
En dit is presies hoe Afrika is.

CG ·

Flip. Baie dankie vir hierdie artikel. Ek is bevrees die meeste Afrijaners gryp na strooihalms (soos hier of daar ‘n positiewe hofuitspraak). Die realiteit is ons is steeds op die verkeerde pad en selfs die DA het grootliks ingekoop hierin. Die realiteit is dat Suid – Afrika op hierdie pad gaan bly. Nie net ‘n nuwe busbestuurder gaan geen veskil maak nie, maar ook nie “nuwe idees” vanuit minderheidsgroepe nie. Ons moet van hierdie wegholbus afkom! Selfbeskikking is ons enigste moontlike redding. Daar is geen ander alternatief nie.

Rupert Ashford ·

Enigste “klein” ligpuntjie is dat die ’97 leiersverkiesing (met JZ as adjunk omdat Mbeki in sy grootheidswaan maar ook paranoia ‘n ja-broer gesoek het wat hom nie sou uitdaag nie :-)) was tussen die Mbeki-groep wat groootliks die Afrika-nasionalisme faksie was, en die meer pragmatiese, “besigheidsgefokusde” Ramaphosa-faksie. Ons ken die geskiedenis. As Ramaphosa in 2017 wen is ‘n beter drywer (op papier ten minste) voor in die bus maar of hy die vermoe sal he om die bus se rigting te verander is onseker. ’97 was sleg, 2007 was die nekslag waar baie mense die streep in die sand getrek het en aan hulle “exit strategy” begin werk het. Miskien is 2017 die begin van die draaistrategie. Maar die probleem vir SA bly nie soseer dat ‘n JZ die leier van die party kon word nie, maar dat so baie vir hom gestem het om die leier van die party te word en ook dat soveel miljoene in algemene verkiesings vir ‘n party kon stem met so ‘n leierskorps, en dit gaan ongelukkig ook nie verander na 2017 nie.

Veritas ·

Flip, jy het dít, wat ons ouer konserwatiewe garde lankal oor skreeu, hier mooi verwoord. Alles wat die ANC implimenteer het ‘n verskuilde agenda wat ten doel het om die witman te na te kom. Ons word alreeds behandel as tweederangse burgers en voorgehou as die redes waarom die regering nie suksesvol kan regeer nie. Ons moet onder geen omstandighede dink dat daar ‘n toekoms vir ons nageslagte in die huidige Suid Afrikaaanse bestel is nie. Hoe gouer die blanke burgers besef dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat ons van ons eiendomsreg gestroop gaan word en aksie neem, hoe minder skade sal op die ou end aangerig kan word. Die dae van ‘wag-en-sien’ is lankal verby en die era van daadwerklike aksie is hier. Hoe gouer die Afrikaner ‘n metode kan vind om die regering te dwing om vir ons, ons eie grondgebied te gee, hoe beter. Die deursnee Afrikaner is in hart en siel van Afrika en oorweeg nie emigrasie nie maar wel ‘n plek waar ons oor onsself kan regeer en ‘n toekoms aan ons nageslagte kan bied. Jy is in die posisie om so’n aksie te loods en leiding te neem. Doen dit sonder versuim anders gaan jy dalk in die geskiedenis onthou word as iemand wat wou ‘wag en sien’. Sterkte.

Eish ·

Dit, is die hele punt.
Geen leiersverandering gaan die skip omdraai nie.
Nuwe idees gaan ook nie voortvloei uit die tradisionele Afrika intelligensie nie, die Status Quo word verkies aangesien dit in die siel van Afrika verweef is.
Ten einde die situasie vir die minderheid te beredder, gaan n ingreep verg wat teen die grein van die meerderheid gaan, dus n wonderwerk.
Opsies om n menswaardige bestaan van die minderheid word jaarliks n groter uitdaging met die voortdurende wegkalwing van geleenthede, opsies en middele. Dié nuwe idees, dink ek, weet ons, impliseer n wegbeweeg van die styl van diskriminerende Afrika integrasie.
Teen die agtergrond van die sukses van integrasie die wêreld oor, dus n wonderwerk.

Veritas ·

Eish, ek het onlangs in een van my kommentare daarna verwys dat die Staatspresident ‘n noodtoestand gaan afkondig om sy bas te red. Lees gerus News 24 se berig oor konsep regulasies vir ‘n noodtoestand. Daar lê moeilike tye voor ou vriend.

Eish ·

Die bitterste pil om te sluk, is die verdeeldheid wat die onhoudbare situasie in eie geledere tot gevolg het. Dit ontaard in n elke siel vir homself situasie.
Ek kan nou wragtig nêrens heen emigreer nie want ek voldoen nêrens aan die vereistes nie. My lewensappies moet teen wil en dank die sandhoop benat!

Wie Weet Wat Waar Wanneer Erdvark van Afrikaanfontein ·

Hoe spreek mens minderwaardigheidskomplekse en meerderwaardigheidskomplekse aan?
Dít is ons as Suid-Afrikaners se grootse uitdaging.

rassie ·

Flip,

Jou uiteensetting is insiggewend en na my mening ‘n ware vertolking van gebeure oor die afgelope 20 jaar.

My vraag aan jou is egter: Vanwaar voorsien jy dat die nuwe idees wat na jou mening nou nodig is gaan kom? Of is dit net so onbeantwoordbaar as vrae ouer as 20 jaar oor die daarstelling van gedetaileerde, wettige, moreel regverdigbare en prakties uitvoerbare toekomsvisies vanuit die geledere van minderheidsgroepe?

Aggeja ·

Wat is die doel van hierdie skrywe?! n Lange relaas oor dit wat almal reeds weet en n slot sin wat skaars sin maak. “ Die land het dringend nuwe idees en (?)nodig en nie net nuwe leiers nie”
Hierdie skrywe het absoluut geen toegevoegde waarde behalwe om mense aan te hits tot meer onverdraagsaamheid.
Skrywers moet waak daarteen dat hulle nie opsweep nie maar n probleem stel en dan n oplossing bied/n antwoord gee op genoemde probleem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.