Moenie nou al wondere van Mboweni verwag

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Baie oë in Suid-Afrika – en in die buiteland – is vandag op die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, gerig wanneer hy die mediumtermynbegrotingsraamwerk aan die parlement voorlê. Volgens die ekonoom Dawie Roodt is dit eintlik maar ’n geleentheid om verslag aan die wetgewende mag te doen, maar dit kan tog ’n goeie idee gee van hoe die minister se kop werk.

Dit was sonder twyfel een van pres. Cyril Ramaphosa se beste aanstellings nog. Mboweni het as president van die Reserwebank baie respek afgedwing met die bekwame wyse waarop hy sake gehanteer het.

Maar Suid-Afrika se finansiële en ekonomiese probleme is ná die byna 10 jaar van staatskaping, plundering en opperste wanbestuur onder Ramaphosa se giggelende voorganger, Jacob Zuma, só groot, dat ’n mens nie wondere op kort termyn van Mboweni kan verwag nie. Verskeie redes kan daarvoor aangevoer word.

In die eerste plek moet Ramaphosa sy interne magstryd in die ANC nog wen. Die korrupte oorblyfsels van die Zuma-/Gupta-mafia skop verbete vas; hulle is blykbaar nie van plan om só maklik afstand te doen van hul vermoë om te “eet” nie.

So van buite bekyk, is my voorlopige waarneming dat dit lýk of hy die magstryd aan die wen is. Maar die geveg is nog lank nie verby nie, en die Zuma-/Gupta-bende kan in beginsel steeds wen.

So tussen hakies: Een van die partye wat Zuma hel gegee het oor sy korrupsie, is die EFF. Met die VBS-bankskandaal blyk dat dié party se bande met plunderaars ook maar nou is. Maar dit daar gelaat.

Een van die grootste probleme waarmee Mboweni te make gaan kry, is waarskynlik om die staatsfinansies in orde te kry. Laat ek verduidelik:

Enige verstandige huisvrou weet dat jy nie onbepaald lank kan voortgaan om méér geld te bestee as wat binnekom nie. Op kort termyn kan jy ’n plan met ’n lening maak, maar kort voor lank gaan jy onherroeplik bankrot speel.

Veronderstel nou jy is ’n loodgieter wat begin. Die kans is goed dat jy geld sal moet leen om toerusting en ’n afleweringswaentjie te koop waarmee jy tussen klante rondry.

Wanneer jy die lening in jou hande het, kan jy dit inderdaad aan die toerusting en waentjie bestee. Dit is ’n produktiewe belegging, want dit stel jou in staat om geld te verdien en die lening terug te betaal.

Maar jy kan ook onverstandig wees. Jy kan daardie geld, of ’n deel daarvan, ook op ’n uitspattige vakansie by die see blaas.

Dan is jy diép in die moeilikheid.

Wel, dít is presies wat talle regerings oor die hele wêreld doen. Om stemme te koop, strooi hulle geld rond soos konfetti, waarmee die staatskuld oploop tot vlakke wat mettertyd tot rampspoed móét lei.

In Amerika het pres. Donald Trump, byvoorbeeld, belasting verlaag en staatsuitgawes terselfdertyd verhoog. Dié land is berug vir die reusagtige staatskuld wat agtereenvolgende presidente laat ophoop het, maar onder Trump het dit regtig die hoogte in geskiet.

Volgens die webwerf www.usdebtclock.org, wat die Amerikaanse federale staatskuld per sekonde byhou, beloop dit (altans toe dié artikel geskryf is) ’n getal wat weergegee word deur $21 met 12 syfers agteraan. En terwyl jy kyk, vermeerder dit teen ’n duiselingwekkende spoed.

Nog ’n voorbeeld is die populistiese regerende koalisie in Italië. Dié regering het aangekondig dat hy hom nie gaan steur aan die gesonde beginsel waartoe die Europese Unie ooreengekom het nie: dat die begrotingstekort maksimaal 3% van die bruto binnelandse produk mag bedra. Nee, hy gaan geld rondstrooi dat dit bars.

Dit is in sekere opsigte ook wat Zuma gedoen het. Onder sy bewind het die staatskuld meer as verdubbel, van 26% van die bruto binnelandse produk tot 54.2%.

Natuurlik is daar ’n verskil. Daar is geen bewys dat Trump-hulle die staat openlik vir eie gewin geplunder het nie; dit was maar hoofsaaklik om stemme te koop.

In Suid-Afrika wou Zuma ook stemme koop, maar daar was meer: ’n Mens skrik vir die getuienis wat die laaste tyd voor die Zondo- en die Nugent-kommissie gelewer is oor hoe die staat deur ’n bende skurke gekaap is.

Vandeesweek is bowendien berig Mboweni het die naweek in ’n toespraak onthul dat die staat R8 uit elke R10 aan salarisse bestee. Dit beteken dat slegs R2 aan noodsaaklike dienste – veral die onderhoud en verbetering van die infrastruktuur – gaan.

Is dit ’n wonder dat die pad- en spoornetwerk – om nie eens van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te praat nie – met rasse skrede agteruit gaan?

Mboweni se groot uitdaging gaan dus wees om staatsbesteding behoorlik te beperk. Die staatsdiens (hoeveel amptenare wérk regtig?) sal aansienlik verklein moet word, en dié ding dat generaals se kinders hoogs betaalde poste in die weermag kry terwyl hulle selde vir werk opdaag, soos in die naweek berig is, sal moet end kry.

Maar dit is natuurlik nie só maklik nie; mense is nou eenmaal mense. Al dié tienduisende amptenare het só gewoond geraak aan gerieflike salarispakkette sonder veel van ’n teenprestasie, dat hulle dit waarskynlik al as ’n onvervreembare mensereg beskou.

Om dié logge skip 180 grade van rigting te laat verander, gaan ’n ontsaglik moeilike taak wees. As hulle te vinnig en te drasties sny, gaan dit in aanstaande jaar se verkiesing sommer baie stemme kos – en dis iets wat selfs die beste politieke party onder die son nie sommer so doen nie.

’n Mens moet dus begrip én ’n tikkie simpatie hê vir die onmenslike taak wat vir Ramaphosa en Mboweni wag. Ja, dit is waar, die ANC het homself in dié spinnekopweb laat verstrik raak, en dit beperk ’n mens se simpatie.

Maar ons almal ly daaronder.

Hoe nou verder? As ’n mens die soliede rotskrans sien waarteen ons by wyse van spreke moet uitklim, is dit genoeg om jou te laat wanhoop.

Maar met Ramaphosa en Mboweni aan die stuur van sake, is daar wel hoop dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Dit is nou te sê, tensy dit ’n trein is wat op volle spoed aankom!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

John ·

Mens kan sien ons geagte outeur is ver van huis en haard en hy dink nie een van ons lees of hoor voor hy nie weer die knoppies druk nie. Wanneer volg ‘n opsoming van die volgende maand se nuusgebeure asb, dan spaar ons baie geld wagtende op Oom Leopold, of sy liewe vrou, se insiggewende skrywes?

Leopold Scholtz ·

Beste John, soos gewoonlik is jy onmiddellik weer op die wa met positiewe, vriendelike , beleefde en opbouende kommentaar. Baie dankie daarvoor. Ek wens jou alles van die beste toe. Ek hoop jy los spoedig jou probleme in die lewe op!

Gert ·

Ek het die grafiek van VSA se staatskuld gaan kyk, kan duidelik sien hoe Obama dit laat opskiet het, maar dit lyk vir my asof dit stadiger groei sedert 2016. Nog ‘n voorbeeld van anti-republikeinse propaganda?

waarheid ·

Daar is niks wat hierdie man Tito – kan red nie.
Alles is daarmee heen en wat oorgebly het – word finaal geplunder.

Therese van Schalkwyk ·

Sowaar ‘n vergelyking tussen die kleptokrasie van ‘n piesang-republiek-in-wording en die voorste demokrasie en leier van die westerse wêreld.
Wys maar weer net, waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, waar is my feite verkeerd? Ek hoor graag van jou.

Henry ·

In die kol Therese van Schalkwyk!
Soos Forrest Gump sê: “That is all I want to say about that.”
:-)

Therese ·

Dr. Scholtz,
Die vergelyking tussen twee lande, wat nie verder van mekaar op enige skaal kan wees nie, slaan bloot dronk.
Suid-Afrika (55+ miljoen siele)- korrupte wanbestuur; Amerika (326+ miljoen siele) – ekonomie floreer. Waarom juis Amerika en nie bv. Brasilië waar korrupsie gedy nie?

Belastingvermindering in Amerika is gedoen vir ‘n goeie rede, om die ekonomie te stimuleer en werkloses te help wat deur vorige presidente in die steek gelaat is.

DewaldS ·

Julle moet verstaan, mense met groot geleerdheid en publikasies dink anders. En hulle word baie krapperig as ons ander nie hulle slimmighede kan verstaan nie. En dat ons gewone mense se mindere denke en gevolgtrekkings die meeste van die tyd baie meer met die feite ooreenstem – daai ongemaklike waarheid tel nie juis punte as dit by die hooggeleerdes kom nie nie. Hulle gevleuelde sprokies (in hogere taal geklee) oorheers steeds die media as aktuele waarhede.

Henry ·

DewaldS
Dit is een van verskeie redes waarom daar heelwat van ons is wat nie meer bodder om gesprek te probeer voer, wanneer sommige ‘hogere siele’ hul ‘wyshede’ kwytraak nie.
In sommige gevalle is dit veel interessanter om met siele wat kommentaar lewer, gedagtes te wissel.
:-)

Leopold Scholtz ·

Therese, dankie vir die antwoord. Jy verstaan my verkeerd. Ek wou nie die twee lande vergelyk nie – daar is jy natuurlik 100% reg. Dit het vir my eenvoudig gegaan om die verskynsel dat jy nie onbepaald lank meer kan uitgee as wat jy binnekry nie. Dit geld vir sowel jou huisgesin as ‘n land. Ek wou op daardie ooreenkoms wys, niks meer nie.

koos1 ·

Die probleem hier is dat die besatingbetalers se geld gevat word om hulle te na te kom en te onderdruk. Sekerlik nie almal nie, maar wel ‘n groot groep van ons.
In wese betaal die belasting betaler vir sy eie ondergang, en dit word pragtig as demokrasie en BEE weer gegee!

Rasper ·

Is Cyril regtig die beste man om president te wees? En is ou Tito, wat onder die Mandela Era hoof was van die reserwebank die beste in SA? Hulle is dalk die beste wat die ANC kan bied, maar hulle is beslis nie die beste nie. Het iemand dalk vanoggend se opskrif van die Beeld gelees? Maar nogsteeds sit ons, ons hoop op ‘n “goeie praatjie” van Tito. Ons hoop vir “hase” wat Cyril uit sy hoed moet trek. Suid-Afrika moet opbreek – PUNT. Die nuwe SA was ‘n sosiale eksperiment wat net nie gewerk het nie. Dit werk nie eers in Europa nie. Daar moet ‘n ander oplossing wees as om op ons stoele te sit en wag dat “uitblinkers” soos Cyril en Tito ons probleme oplos.

Geronimo ·

Leopold, ek lees gereeld jou artikels en vind dit interessant en leersaam. Ek glo jou teikenmark is eintlik die gesofistikeerde leser, nie diegene wat sinnelose kommentaar lewer nie.

Leopold Scholtz ·

Geronimo, dankie vir die mooi woorde. Uiteraard moet mense vry wees om my – en ander – te kritiseer; dis deel van die vryheid van spraak wat in die demokrasie ingebed is. Sommige van die kommentare laat my egter maar net my kop skud. Maar nou ja. Lekker dag vir jou!

Henry ·

Geronimo so van gesofitikeerde lesers soos uself(?) gepraat.
Verskil van mening is tog ‘n aanvaarde en sinvolle gegewe vir enige sogenaamde gesofistikeerde leser. Dan nie?
:-)

Eish ·

Weereens dankie vir u pennevrug.
Ek is bevrees die tyd beskikbaar vir omdraai gaan ons inhaal met die vrot kolle wat eenvoudig net hersirkuleer word in die anale van mag.

Paul ·

Dr Leopold ek eggo daai laaste paragraaf van jou, maar dan moet die twee daar aan die anderkant by die opening van die tonnel staan soos die trein verby hulle flits, anders mis hulle die flits van die lig soos dit verby hulle die niet in skiet.

Boer-in-die-wind ·

Aan die outeur.
Verduidelik asb jou stelling: “Daar is geen bewyse dat Trump-hulle die staat openlik vir eie gewin geplunder het nie; dit was maar hoofsaaklik om stemme te koop.” Jou stelling impliseer egter dat dit wel plaasgevind het.
So ver my kennis strek was daar nog geen beskuldegings dat Trump staatsfondse vir eie of politieke gewin aangewend het nie. (Hy is juis die president wat nie ‘n presidensieele salaris trek nie.) Voorbeelde sal waardeer word.

Leopold Scholtz ·

Boer, lees Gerhard se kommentaar. Hy is in die kol.

Boer-in-die-wind ·

Leopold, jammer, nie so maklik nie.
Ja, Gerhard is in die kol dat finansiering deur belange groepe (en Plutocracy) die “groter probleem” is. Maar dit is irrelevant tot hierdie argument.
Ja, dit mag wees dat regerings, insluitend die Amerikaanse Demokrate en Republiekeine, en Trump staatgeld kanaliseer na hul steun areas voor verkiesing. Om Gerhard se woorde te gebruik: “Onregverdig dalk nie korrup nie.”
Verduidelik asb vir my hoe jy dit inverband bring met jou stelling dat Trump die “staats geplunder” het om “stemme te koop”. As jy voorbeelde van die beweerde plundering het, voorsien asb.

Gerhard ·

Die feit dat regerings veral in ‘n verkiesingsjaar en die aanloop daarna toe geld kanaliseer na streke waar hulle steun sterk is is niks nuut nie. Onregverdig dalk maar nie korrup. Die NP-regering het dit gedoen,meeste lande doen dit. Die groter probleem in Amerika is waar belange groepe soos die NRA of bv. pro-aborsie groepe politici finansieel ondersteun om dan later wetgewing te maak wat hulle belange dan dien.

Leopold Scholtz ·

Gerhard, jy vat darem verskriklik kortpad en lees (moedswillig?) dinge in die artikel wat nie daar staan nie. Dit was nooit my bedoeling dat Trump die staatskas plunder nie. Wat hy wel doen, is om geld rond te strooi om stemme te koop. Baie regerings doen dit, maar uit ekonomiese oogpunt is dit onverstandig. Moenie my woorde verdraai nie.

Boer-in-die-wind ·

Leopold.
Ek vermoed jy verwar my met Gerhard.
“Daar is geen bewyse dat Trump-hulle die staat openlik vir eie gebruik gewin geplunder het nie; dit (plundering?) was maar hoofsaaklik om stemme te koop.” Jou woorde verdraai – ek dink nie so nie?
Maar kom ek aanvaar jou woord daarvoor.
Jou stelling “Wat hy wel doen, is om geld rond te strooi om stemme te koop”. Verskaf asb voorbeelde.

Therese van Schalkwyk ·

Interessantheidshalwe, die 10 lande met die grootste skuld: “National Debt-to-GDP”.

1.Japan 2.Griekeland 3.Portugal 4.Italië 5.Bhutan 6.Cyprus 7.België 8.VSA 9.Spanje 10.Singapore

Japan, België en Singapore is veral verrassend. Die huidige president van die VSA maak egter ‘n gerieflike sondebok en is al dikwels, ook deur ander joernaliste, in dieselfde asem genoem as Jacob Zuma. Dit behoort dus éintlik nie meer te verbaas of te grief nie.

Boer-in-die-wind ·

Goeie punt Therese.
Ter illustrasie: VSA se geprojekteerde verhoging in staatskuld onder Trump is 29%, onder Ombama was dit 74% en onder Bush Jnr. was dit 101%. Dus ‘n afwaartse neiging onder Trump.
Die skrywer kon VSA as voorbeeld gebruik het sonder om Trump aan die hare by te sleep en as die sondebok te probeer uitmaak.

Leopold Scholtz ·

Vir Boer-in-die-wind: Jy is op sigself reg. Maar sonder dat ek Obama wil verdedig – hy kan dit beter as ek doen – moet jy onthou hy het ‘n ekonomie in krisis ontvang in 2008. Met die goeie ekonomie wat Trump van Obama gekry het, sou hy dit kon bekostig om die vermeerdering in die staatskuld aansienlik te beperk. Hy doen dit nie; hy strooi geld soos bossies asof daar geen more is nie. Die terugbetaling van staatskuld gaan binne enkele jare meer wees as die verdedigingsbegroting, meen ekonome. Dit spyt my, vriend, ek verstaan jy wil niks van jou held hoor wat nie 120% positief is nie, maar Trump se ekonomiese beleid gaan Amerika vorentoe seermaak. Jy kan nie aanhou om geld uit te gee wat jy nie het nie. Moenie ideologies na Trump kyk nie. Kyk saaklik en pragmaties. Lekker week verder!

Boer-in-die-wind ·

Vir Leopold Scholtz.
Interessant – waarop baseer jy jou aanname dat Trump my held is? Feit – ek het ‘n weersin in die persoon van Trump. Tog objektief genoeg om “saaklik en pragmaties” na sy ekonomiese beleid te kan kyk.
Die beginsel van “Jy kan nie aanhou geld uit gee wat jy nie het nie” geld vir al die moderne VSA presidente wat sonder uitsondering staatskuld opgehoop het.
Verduidelik asb die hoe en waar van jou stelling ” … sou hy dit kon bekostig om die vermeerdering in die staatskuld aansienlik te beperk.”
Dan, “…. hy strooi geld soos bossies….” dui op vermorsende uitgawes. Gee asb voorbeelde.
Voorstel – Moet nie ideologies na Trump kyk nie. Kyk saaklik en pragmaties.
Lekker week vir jou ook.

Paul ·

Jip en alle ANC ministers wag elke jaar in spanning vir enige nuus nuus wat die FinMin bring en na hulle hom geprys het, draf hulle agter die president se gunste aan.

Bruno Samartino ·

Ai ou Leopold, jy skryf “Maar ons almal ly daaronder”. Wat ly JY daar in Europa? Van watter “ons” is jy deel? Beslis nie van ONS hier in die lekker NSA NIE! Jy raak al hierdie wyshede en raad kwyt want jy voel niks daarvan aan eie bas nie.

Leopold Scholtz ·

Dankie vir jou positiewe houding, vriend. Ek wens jou ook alles van die beste toe. En beterskap tussen jou ore!

Gerhard ·

Leopold jy verstaan my verkeerd. Dit was eintlik in antwoord op ander vraag. Ek het nie bedoel jy se Trump plunder die staatskas nie. Dis n feit dat regerende partye geld sal aanwend om hulle saak te sterk bv die lewering van dienste ens.

Eish ·

Ek moet ernstig bely dat ek eenvoudig ongeneeslik verslaaf is aan dr. Scholtz se antwoorde op kommentare…
Doet samblief zoo voort!

Boer-in-die-wind ·

Beste Gert.
Die styging in staatskuld in die VSA het reeds onder Obama begin afplat na 2012, na die aanvanklike groot styging . En ja, dit groei ook stadiger sedert 2016. Maar jy is reg Leopold se stelling “…maar onder Trump het dit rerig die hoogte in geskiet” is ‘n wanvoorstelling. Wat wel waar is, is dat dit tans die hoogste ooit is. Maar dit gaan waar wees vir elke opeenvolgende jaar en elke opeenvolgende president.

Beste Leopold
Verduidelik asb hoe die grafiek wat jy verskaf (die voordurende styging in VSA staatskuld) Gert se punt verkeerd bewys?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.