Moet die Afrikaner praat of veg?

Deur Chris Opperman, Afrikaner-Afrika Inisiatief

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Die onlangse gebeure in Senekal is weereens ’n bevestiging dat die bedeling wat met die 1996-grondwet ingelui is, vinnig besig is om tot ’n einde te kom. ’n Vinnig vervallende staat wat toenemend in ’n misdadige staat ontwikkel waar netwerke rampokkers binne en buite die regering in beheer is, is al meer die werklikheid.

Afrikaners is wetsgehoorsame burgers wat hul gewig agter die post ’96-bedeling ingegooi het, maar word lank reeds gekonfronteer met die werklikheid dat getroue burgerskap en wetsgehoorsame ondersteuning aan die huidige orde beantwoord word met groeiende vyandigheid, en dat ons moet herbesin oor ons toekoms.

Dit laat Afrikaners voor ’n nuwe geskiedkundige kruispad. Daar word planne gemaak om Afrikaners se toekoms te bestendig, en ons is besig om te organiseer op gemeenskapsvlak soos wat Afrikaners dit in die 1920’s tot 1940’s laas gedoen het. Afrikaners fokus op die bou van eie instellings en daarmee word ’n streep in die sand getrek – Afrikaners maak hul rug met hierdie nuwe geesdrif styf. Die groeiende strategie is gebou op die aanname dat ons ons lewenswyse en toekoms kan beskerm deur die bou van “reddingsbote” terwyl die Suid-Afrikaanse skip sink. Ons kan onsself in isolasie red deur op ons self en die skep van ons eie instellings te fokus.

Die geskiedenis en nou: Ooreenkomste en verskille

Daar is sekere ooreenkomste tussen die huidige tydsgewrig en die vorige tydvak van Afrikanermobilisering in die 1920’s, maar ook belangrike verskille. In die 1920’s was Afrikaners breedweg in alliansie met die magtigste ryk in die wêreld, naamlik die Britse ryk. Ons mobilisering in daardie stadium was gerig daarop om die ekonomiese opheffing van ons mense te bewerkstellig deur beheer oor die staat. Koloniale (wit) oorheersing het internasionale geloofwaardigheid gehad en swart volke het dit ook gelate aanvaar. Wit minderheidsregering was internasionaal aanvaarbaar.

Tot so laat as 1945 het Albert Luthuli, president van die ANC, nog uitsprake gemaak dat die land gepartisioneer moet word, om só plek vir swart mense se politieke aspirasies te maak, maar Afrikaners het ’n beleid van “voogdyskap” teenoor swart mense aangehang. Ons het nie gedink dit is nodig om aandag te gee aan swart politieke aspirasies nie.

Maar swart, bruin en Indiërsoldate van reg oor die wêreld wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, het, met hul tuiskoms na die oorlog, hul ervarings in Europa en elders met hul volksgenote tuiskoms gedeel. Enersyds dat wit mense mekaar op groot skaal uitgewis het en Europa verwoes het, en andersyds, dat die ou Britse, Franse en Hollandse Ryke deur ’n nie-blanke Japan in die Ooste verower is en honderde duisende wit mense in konsentrasiekampe verneder is. Die ou idee dat wit mense die reg het om die wêreld te regeer, het ná 1945 finaal alle geloofwaardigheid in die swart wêreld verloor, en toenemend ook in Europa en die VSA. Dit lei dan tot ’n bykans onmiddellike bevrydingsgolf wat oor die ou Europese kolonies reg oor die wêreld sou spoel.

Teen die tyd dat die Nasionale Party in 1948 die verkiesing met ’n beleid van apartheid gewen het, was die idee van wit baasskap volledig in die wêreld gediskrediteer. Ons reaksie daarop was om die nuwe realiteite te ignoreer en daarop staat te maak dat eie instellings soos ’n magtige weermag, die ontwikkeling van ’n kernbom, en ’n groeiende grensoorlog, ons veilig sou hou, en ons het daarom nie veel gedoen om groeiende internasionale isolasie teen te werk nie. Ons het ook die mure van apartheid om ons gebou, om ons woonbuurte en ons kultuur, en gedink dat ons só die aspirasies van swart mense kan ignoreer, en in isolasie van Afrika en die wêreld kan oorleef.

Ten spyte van die bou van sterk instellings om onsself te beskerm, het ons uiteindelik, vanweë buitelandse druk, die onregverdigheid van die stelsel en die weerhouding van swart mense se regte, besef dat ons nie kan voortbestaan in isolasie nie. Ons moet doen wat reg is, en ons toekoms ín Afrika, en mét Afrika bou. Dit was deels uit noodsaak, maar ook omdat ons self besluit het om te verander. Ons het uiteindelik die regte ding gedoen. Waar die geloofwaardigheid van wit baasskap ná die oorlog gesneuwel het, is krimpende wit bevolkings wêreldwyd ’n verdere tendens waarmee ons maar kan rekening hou. Die Amerikaanse Sensusburo voorspel dat die wit meerderheid in die VSA tussen 2040 en 2050 ’n minderheid gaan word. Tans is die meerderheid kinders onder 18 jaar in Amerika reeds nie meer wit nie. Dit beteken dat die magsbalans finaal teen die ou wit bevolking gaan draai, wat fundamentele veranderinge in die wêreldorde gaan teweegbring. Vir Afrikaners kan daar geen belang meer wees om op ras of witheid staat te maak nie. Om die waarheid te sê, dit word nou een van ons grootste uitdagings.

As die geskiedenis ons een ding geleer het, dan is dit dat ons nie eens met ’n kernbom in ons arsenaal kan oorleef sonder erkenning van buite nie. Ook dat ons nie ons eie instellings kan bou sonder om die mense om ons in ag te neem nie. Enige strategie vir Afrikaneroorlewing moet deeglik rekening hou met die mense met wie ons Suid-Afrika, en Afrika, deel. En as die Suid-Afrikaanse boot gaan sink, sink ons saam.

Die Afrikaner-Afrika Inisiatief

Ek is die afgelope jare besig met die Afrikaner-Afrika Inisiatief. Dié inisiatief stel hom ten doel om die Afrikaner as inheemse gemeenskap in gesprek te laat tree met Afrika, en om ’n klimaat van wedersydse respek te kweek. Terwyl ons moet erken dat ons groot foute in die verlede gemaak het, is ons verbind tot ’n toekoms in Afrika, en wil ons help bou aan die toekoms – nie in isolasie nie, maar saam met almal in Afrika. Dit gaan van die veronderstelling af uit dat ons wel by wyse van gesprek vreedsaam kan saambestaan, terwyl ons bou aan ons eie instellings wat gaan verseker dat ons as gemeenskap in die langtermyn kan oorleef. Hierdie instellings moet egter erkenning geniet – nie net binne Afrikanerkringe nie, maar ook onder swart mense – en moet internasionale ondersteuning geniet. Die geskiedenis leer vir ons volharding met ’n strategie wat nie internasionale of Afrikasteun geniet nie, is uiteindelik gedoem tot mislukking. In ʼn wêreld waar wit baasskap finaal verby is, moet Afrikaners die omgewing waarin hul wil oorleef, deeglik in ag neem.

Strategiese denke onder Afrikaners is nou nodig. Ons geskiedenis is ongelukkig vol voorbeelde waar ons in lokvalle ingelei is deur eie swak besluite. In baie gevalle het ons ’n veldslag gewen, maar die oorlog verloor. In ’n wêreld waar ons as klein minderheid in Afrika wil en moet oorleef, moet die uitbou van eie instellings gepaard gaan met ’n grootskaalse poging aan ons kant om die land te help bestendig, maak ook om die land (en Afrika) op ’n suksespad te plaas, terwyl Afrikaners aan hul positiewe beeld na buite werk.

Dit vra vir visionêre leierskap en die kweek van ’n Afrikanerbeeld wat deur swart mense geassosieer word met vooruitgang en praktiese oplossings wat tot almal se voordeel is. Ek roep Afrikaners op tot ’n visie waar die uitbou van die ekonomie en ondersteuning vir die ontwikkeling van ’n suksesvolle toekoms, gebalanseer word met die uitbou van ons eie kulturele ruimtes, deels omdat ons dit self skep, maar ook omdat ons dit met die ondersteuning van bondgenote met bruin en swart mense ontwikkel.

Konfrontasie vs strategiese denke

Ek het in die afgelope tyd na sekere oorlogspraatjies van Afrikaner-heethoofde geluister. Daar is ’n groeiende tendens om swart mense as die vyand uit te kryt, omdat Malema, die steller van lokvalle, ons mooitjies in die lokval wil inlei. Dit kweek ’n omgewing waarbinne praatjies oor konfrontasie en laer trek die botoon begin voer. Organisasies bou ondersteuning uit Afrikanervrese, en valse beelde van die bou van nuwe mure, soos van ouds, wat tog nou sterk genoeg sou wees om ’n klein minderheid Afrikaners teen ’n miljard swart mense in Afrika te beskerm, word aktief bevorder. Ek wil dit stel dat hierdie nuwe afstof van ou denke ons finale ondergang juis onafwendbaar sal maak. Ek nooi Afrikaners, wat almal kan tel, om ons getalle en die getalle swart mense bymekaar te tel en te besluit of dit ons deug om hulle tot die vyand te verklaar.

As Afrikaner wat vir my kinders ’n toekoms hier sien, vra ek dat Afrikaners ’n strategiese benadering volg, dat ons besef dat ons as minderheid sonder mag in Afrika net kan oorleef as ons bondgenootskappe met swart mense gaan bou, en dat dit net by wyse van gesprek en onderhandeling bewerkstellig kan word, nie by wyse van oorlogspraatjies en laer trek nie. Hierdie gesprekke moet deur leiers van organisasies wat ons vertrou, gevoer word.

Die tydsgewrig vra vir onderhandeling om ’n nuwe opvolgskikking te bewerkstellig. Ek wil ’n saak daarvoor uitmaak dat die nuwe gesprek juis nou op die regte tyd geskied. Die verval van die ’96-orde beteken dat ’n magsvakuum aan die ontstaan is, en dat swart mense met nuwe oë na Afrikaners kyk as moontlike bondgenote. Met die regte benadering sal gesprekke met sleutelrolspelers Afrikaners in spel plaas, en die geleentheid vir Afrikaners skep om binne ’n vinnig bewegende omgewing voordeel te trek uit die bou van netwerke en bondgenootskappe wat daaruit sal ontwikkel. Dit bied ook geleentheid vir Afrikaners om onderling weer te gesels oor strategiese doelwitte. Kan groter Afrikaner-eenheid hieruit gebore word?

Die Afrikaner-Afrika Inisiatief vind tans ’n groeiende gewilligheid onder invloedryke swart mense om met ons te praat oor die toekoms. Kom ons gebruik die geleentheid, terwyl ons ’n beeld van standvastigheid in God en gematigheid teenoor ons mede-Afrikane kweek.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Die enigste werkbare “veg metode” is deur intellek, nie deur ‘n fisiese geveg nie, die oormag is te groot en die belangstelling tot ondersteuning te min.

AJ

Die huidige land SA was nog nooit ‘n samehorende gebied nie want die grense is deur Europa op ‘n landkaart getrek en deur Groot Brittanje op die inwoners afgedwing in 1910, Daarom behoort die land SA weer onderverdeel te word volgens die oorspronklike etniese gebiede gebaseer op die ou Tuislande. Die NP beleid van AFSONDERLIKE ONTWIKKELLING van onafhanklike, etnies homogene state was (is?) die beste oplossing om die etniese verskeidenheid te akkommodeer. Soos die Staat van Israel vanaf sy totstandkoming in 1946 vir die Israeli’s ‘n eie LAND gegee het, só kort Afrikaners hulle EIE LAND. Daar is voldoende rekords… Lees meer »

Stefan

Ons praat en kruip al hoelank?
Hulle lag vir ons man.

annie

Waar kom die uwe se van vandaan… al klaar ‘n probleem. Die Afrikane wat in Amerika aangeland het was nie slawe nie, soos die immigrante deesdae, maar dit was hul plan dat die Amerikaners uiteindelik vir hulle sal werk. Suid-Afrikane dink ook so.

Paul

Briljante artikel.