Moet ons as burgers die staat van inperking nog ondersteun?

Deur Francois Redelinghuys

Francois Redelinghuys

Vandeesweek is ons vir alle praktiese doeleindes in die sewende week van ʼn grendelstaat. Eers was dit drie weke en die land het saamgestaan; toe word die inperking met nog twee verleng waartoe effe halfhartig ingestem is; en toe gaan ons oor in ʼn tydperk wat ad infinitum kan aanhou sonder enige werklike verslapping in die nuwe fase van inperking, en die vraag wat oral in gesprekke reg oor die land begin opduik is: Moet dit ondersteun word?

Ongeag wat jou persoonlike siening van die instelling van die grendelstaat sewe weke gelede was (hetsy positief, negatief of neutraal), word dit nou al hoe duideliker dat die gort besig is om gaar te word en maatskaplike onrus wag.

Die staat van inperking is tot dusver gekenmerk deur reëls en wette wat absoluut niks met die virus te make het nie maar, so blyk dit, met magsugtige ministers wat die skielike status om burgers se vryhede in te perk, maar al te veel geniet. Dink maar aan Nkosazana Dlamini-Zuma wat nou zol-faam gekry het weens ʼn sinnelose verbod op die verkoop van tabakprodukte, Bheki Cele onder wie se leierskap sowat 50 mense weens polisieoptrede of in polisieaanhouding gedurende hierdie tydperk oorlede is, en minister Ebrahim Patel wat pas in die Staatskoerant probeer voorskryf het hoe mense hul T-hemde moet dra en vir watter rede hulle dit mag aankoop. Verbeel jou dit!

Dit laat mens dink aan die woorde van Frédéric Bastiat wat gesê het: “The safest way to make laws respected is to make them respectable. When law and morality contradict each other, the citizen has the cruel alternative of either losing his moral sense or losing his respect for the law.”

Die staat van inperking is aanvanklik deur die meeste Suid-Afrikaners ondersteun, maar namate die regering al hoe meer irrasionele maatreëls probeer voorskryf waaraan die samelewing moet voldoen om nie gearresteer te word nie, begin al hoe meer mense ongemaklik raak.

Foto: SAPD/Facebook

Is hierdie maatreëls werklik ter bekamping van die virus, of is dit bloot die uitvloeisel van ʼn regering wat sekere ideale koester?

Die feit bly staan dat die baie werklike menslike tragedie van absolute hongersnood ons nou in die gesig staar. Die inkrimping van die BBP, 50%-werkloosheid en die sluiting van duisende klein ondernemings blyk nou die realistiese verwagting te wees – nie weens die virus nie, maar weens ʼn regering wat die virus gebruik om sy irrasionele wette deur te voer en om al hoe meer mag aan die staat te verleen, terwyl burgerlike vryhede hewig ingeperk word. Dit herinner aan Stalinistiese ideale waarvolgens die staat alles beheer – van wat jy mag eet tot wanneer jy mag oefen en, hemele behoed jou, as jy nie jou T-hemp onder ʼn ander kledingstuk dra nie.

Die staatspresident, Cyril Ramaphosa, is wyd geloof vir die empatie wat hy aanvanklik getoon het. Wat sy werklike bedoelings is of was, is egter irrelevant. Hy kan nie van sy organisasie geskei word nie – ʼn organisasie wat hunker na meer staatsbeheer; wat lande soos Kuba, China, Rusland en Zimbabwe al telkemale in die openbaar geloof het ten spyte van hul staatsbeheerde vergrype; ʼn organisasie wat nog nooit afstand gedoen het van sy ideaal van ʼn sosialistiese staat wat deur middel van die nasionale demokratiese rewolusie bereik moet word nie.

Dalk het dit tyd geword dat ons, as burgers en die privaat sektor, die ewewig terugskuif deur druk op die regering te plaas en ons vryhede terug te neem.

  • Francois Redelinghuys is kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Mooi woorde en baie waar, maar wit mense moet maar eerder wegbly van goed soos inperkingsreels oortree. Daars klaar klomp planne teen ons: regstellende aksie en BEE kom al ‘n lang pad em gaan ná inperking hoogs waarskynlik verskerp word as deel van radikale ekonomiese transformasie. Onteiening sonder vergoeding wag ook nog. Watse simpel reëls ons wit mense ook al nou oortree, gaan net ons “rekord” by die regering nog slegter maak en dan word ons beskuldig dat ons “reaksionêr” en “teen transformasie” en “nog steeds vol apartheid” is. Dan word ons net vinniger onderdruk. So my raad is, stop… Lees meer »

Andre

Waar dit by veiligheid kom, doen ek meer. Maar daardie onsinnige regulasies moet hulle maar self probeer nakom.

Marthinus

Die Rusland van Josef Stalin en die Rusland van Wladimir Poetin is twee verskillende lande. Daar is tans 86 goewerneurs wat die land bestuur; Poetin en sy parlement kannie doen wat hulle wil nie. Dis vandag `n kapitalistiese, ontwikkelende demokrasie.

dr. Petronella

Alhoewel ek n “senior burger” is kan ek nie glo dat daar so baie van ons mense, veral die manne is wat maar geduldig, gedienstig, gedweë die inperking aanvaar nie. Nee hier is ek eerder een vd voortrekkervroue wat bereid was om kaalvoet oor die drankensberge te stap. Ek is n vry mens deur God geskape , in wie se hand my lewe is. Ek het die reg om vry te wees, my eie besluite te neem oor wat ek wil aantrek, om my huis te verlaat of nie, na my eie gesondheid te kyk. Ek het nie magshonger regeringsamptenare… Lees meer »