Moet ons nou ANC stem?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Met die euforie rondom die presidentskap van Cyril Ramaphosa lyk dit of baie mense nou dink hulle moet vir hom stem. Maar ons moet onthou: dis nog dieselfde ANC!

Dis dieselfde party en sy ondersteuners wat van die taamlik suksesvolle Thabo Mbeki ontslae geraak en ons nege jaar lank uitgelewer het aan die mees korrupte leier denkbaar. Een voorbeeld: Onder Mbeki was die groeikoers 4,5%, onder Zuma minder as 1%.

Dis dieselfde ANC wat toegelaat het dat Eskom ons aan beurtkrag uitlewer en met skuld van miljarde rand sit. ʼn Eskom wat nou minder krag lewer as drie jaar gelede, met ʼn oorskot sit en gevra het vir ʼn 19%-verhoging.

Dis ook dieselfde party wat toegelaat het dat die SAL en elke staatsinstansie yslike remskoene vir die ekonomie is. ʼn Nasionale lugdiens is ʼn prestige en die meerderheid word teen verliese bedryf, maar darem nie soos lekkende vate nie. Daar is reeds verander aan die SAL se bestuur en hopelik sal ʼn hele paar ernstig vervolg word. Daar is ook al ʼn paar roetes ingekort, maar daar lê nog baie groot werk voor.

Ons weet hoekom die land ten gronde gegaan het. Ongekwalifiseerde mense – sommige sonder matriek, ander met misdaadrekords – is links en regs onder die dekmantel van transformasie aangestel. Op hul beurt het hulle weer vriende en familie aangestel en gesorg dat onmededingende tenders aan ongekwalifiseerdes toegestaan word.

Dieselfde party het ʼn leier gekies wat drie ministers van finansies in vier dae gehad het. Wat toegelaat het dat Tim Moyane as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens miljarde rand laat wegraak het. Wat Jacob Zuma nog tot op nommer 99 as president wou behou. Wat gedink het hy is ʼn goeie president omdat hy met sy wit tekkies kan dans, sy masjiengeweerliedjie sing en gereeld sy kans gebruik het om die wit bevolking te beledig en te na te kom en onheilige alliansies gehad het met al wat muishond is.

Dit gaan uitsonderlike leierskap van Ramaphosa verg om sake reg te ruk en daarvoor het hy al die hulp en aanmoediging nodig wat ons hom kan bied. Daarvoor het hy nou, meer as ooit, ook ʼn sterk opposisie nodig. Laat ons hom toejuig vir elke vrot minister en amptenaar wat hy afdank, maar ook ʼn opposisie wees wat hom en sy ANC dophou en gedurig onder druk plaas om die beste besluite te neem.

In Europa word 25 van die 28 regerings deur koalisies geregeer en dit werk tot groot hoogte vir die oorgrote meerderheid. Een van die vrae is of Suid-Afrika ook ʼn sterk opposisie met koalisies kan vorm.

Hier te lande het die ANC 363 LP’s. Die drie naasgrootste partye het saam maar 124 parlementariërs en dan is daar nog 17 van splinterpartytjies met sitting en ʼn stuk of 60 geregistreerde partye sonder verteenwoordiging. Daar is wel ʼn paar taamlik wankelrige koalisies wat munisipaliteite bestuur, maar ʼn sterk koalisie op nasionale vlak lyk nie moontlik nie. Daarvoor is die bevolking, anders as in Europa, net te heterogeen.

Die SAID was ʼn paar jaar gelede nog die een instansie wat lof vir goeie bestuur ontvang het. Onder Tim Moyane het dieselfde instansie toegelaat dat der miljarde rand verduister is. Die regruk van die SAID is een van Ramaphosa se grootste uitdagings. Nog ʼn groot rolspeler in die regruk aksie kan die Staatsveiligheidsagentskap wees, maar om mee te begin het die SVA 209 vakante poste en sit hy sonder geld om hulle te vul.

As president sal Ramaphosa baie ongewilde stappe moet doen en ʼn groot aantal mense baie ontevrede maak. Maar hoe lank kan hy nog toelaat dat die land 37 ministers en 37 adjunkministers het? En ʼn buitensporige getal ambassadeurs en konsuls?

Gratis tersiêre onderwys is ʼn lekker mandjie turksvye wat Zuma in sy dodedans vir Ramaphosa gelos het en waarvoor hy nou die geld moet kry. Die SA Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) is een van die vakbonde wat die meeste onreg pleeg en wat ernstig in die bek geruk sal moet word.

Die ander populistiese stelling van Ramaphosa was dat grond sonder vergoeding afgeneem kan word. Hy is Maandag in die parlement uit verskeie oorde hieroor aangevat. Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het ernstige kritiek gehad en het daarop gewys dat die konstitusie dit nie toelaat nie (iets wat die ANC met ʼn tweederdemeerderheid kan verander).

Die ANC het reeds by monde van ʼn minister erken dat 90% van grondonteienings ʼn mislukking was.

Ramaphosa sê wel dit sal sonder ʼn verlies aan produktiwiteit gebeur en sal ingelig genoeg wees om te weet dat Zimbabwe se onteienings gelei het tot ʼn honger en armlastige land wat R200 miljard in die proses ingeboet het. Dit is een aspek wat fyn dopgehou sal moet word. Ramaphosa het in Julius Malema ʼn baie sterk bondgenoot, maar dis ʼn populistiese leier sonder veel insig en een wie se leisels styf vasgehou sal moet word.

Die nuwe president het in sy staatsrede ook so half in die verbygaan na die wanadministrasie in die oorgrote getal munisipaliteite verwys. Om hulle reg te ruk, sal die wysheid van Salomo en ʼn groot aantal bekwame mense verg. Hy het ook, soos Zuma, gepraat van werkskepping vir ʼn miljoen mense. Onder Zuma is nog ʼn miljoen werksgeleenthede verlóór en hopelik vaar Ramaphosa beter.

Ramaphosa het wel ʼn paar woorde in Afrikaans gesê. Dit was nie ʼn baie gewilde gebaar nie en hy sal sy ondersteuners tot ander insigte moet bring, ook wat betref die Afrikaner se grondwetlike reg tot eie onderwys.

Pravin Gordhan, die gewese minister van finansies, het ʼn paar maande gelede gesê die land kan R40 miljard spaar as net een kwart van die korrupsie ondervang word. Dis geld wat ons nodig het as ons net wil begin om ʼn duik te maak in alles wat onder Zuma agteruitgegaan het.

Laat ons aanhou druk toepas op die nuwe man aan die stuur van ʼn verdeelde party. Vir sy sukses het hy dit net so nodig as ons goeie wense.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Johannes Meintjes ·

Dankie vir die goeie raak vat artikel Org Potgiet. By my is daar geen twyfel dat niks gaan verander met President Cyril Ramaphosa aan die stuur nie. Dit is maar net gister bevestig met die begrotings toespraak hoe hard die publiek geslaan word met BTW wat verhoog word en die belasting heffing op petrol. Die korrupsie han soos ‘n meelsteun om Cyril se nek en hy word beheer deur lede van die ANC. Suid Afrika stuur op ‘n ramp af. Die positiewe goeie nuus wat elkeen van ons egter aan kan vashou is dat ons Koning Jesus Christus gaan terugkeer en ‘n nuwe Koninkryk kom oprig eendag die teokoms in en dis ook ons Koninkryk as ons hom as enigste God aanvaar het en Hom getrou navolg en doen wat Hy van ons gevra het.

GULLIBLE ·

Die blankes wat ANC gaan stem gaan dieselfde oorkom as die JA stemmers ‘n hele paar jaar gelede, nou kan hulle hulle hare uit hulle kop uit trek, sommige verdedig dit deur te se daar sou ‘n burgeroorlog uitgebreek het, ander het emigreer, en ander kruip weg en maak of hulle nie JA gestem het nie. Al wat ek weet as jy ANC stem en jou plaas word afgevat, of jou besigheid of jy word vervang by jou werk deur ‘n agtergeblewene of JOU PRESIDENT steur hom nie aan plaasaanvalle en misdaad nie .. het jy NIKS om oor te kla nie. Soos in Zim, at least het jy dan vir die chaos gestem.

Koos ·

Meeste Afrikaners word verspotmaklik gefop. Hoe anders dink jy het ons in hierdie gemors beland waarin ons tans is? Ons eie mense het soos slaapwandelaars hierin gestap endie res van ons saamgesleep. Bitter min van hulle of hulle ouers sal erken dat hulle ‘n reusefout begaan het. Jy sal ook seker saamstem dat die meeste Ja-stemmers al geskoert het of gereedstaan om dit te doen.

christa ·

Nee duisend maal nee. Did nog dieselfde ANC. Kyk hoe verwoes hulle alles, ek kan nie vir mense stem wat nie kan saamstaan en die wa deur die drif kan trek nie. Stem vir iemand wat die land KAN vorentoe neem nie iemand wat wil prober nie.

t ·

@christa – Nêrens in die land se geskiedenis het die blankes ooit saamgestaan nie. Selfs van Van Riebeeck se tyd af het ons altyd dwars getrek en die Groot Trek begin. Selfs nou onder ANC verdrukking is daar nog steeds ‘n magdom partye wat die blankes verdeel. So as jy sê hulle kan nie saamstaan en die wa deur die drif trek nie, ons kon ook nie.

Hendrik ·

t – jy kan seker nie tel nie. ‘n Derde van die ANC kiesers het weggebly vanaf die vorige verkiesing uit protes teen Zuma se bewind. Dit is hoekom die EFF en DA so goed gedoen het. Met CR se terugkeer na die ANC en die beloftes wat hy maak gaan al daardie kiesers weer begin om te stem . Die enigste party wat sal groei is die VF+ met die onnugterde Kiesers wat gaan terugkeer vanaf die DA en natuurlik die ANC. Nog steeds is die wittes net 2% van die kieserstal. Minderhede se syfers val met die immegrasie en swak bevolkingsaanwas en die meerderheid gaan nog meer raak. Dan dink jy dat stem deur die minderheid nog saakmaak? Minder TV kyk asb…

Denise ·

Die kans dat ek vir hom sal stem is n NUL op n kontrak !!!!!! Dit is net soos die spreek woord se om vir wolf skaap wagter te maak ?????? Nie die boer nie .

Jaco ·

Nou 6 jaar later wil hy jammer se vir Marikana?
Hoekom is daar nog geen skommeling in die kabinet?
Hoekom laat hy Gigaba toe om ons dood te belas?
Hoekom verminder hy nie die ANC se vet cabinet nie?

Hierdie man gaan die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek, wees gewaarsku SA!!

Marga ·

Nou is daar geen party waardig genoeg om voor te stem nie….ons is in ons chops

C.W.S ·

Eish……jou kommentaar wen die prys vandag…mooi opgesom?eis’h’ jou prys’h’ net nie van my??

Skerp Spioen ·

Die enigste Afrikaans wat CR gepraat het in sy staatsrede was toe hy die punt gemaak het dat daar nooit weer teen iemand se velkleur of geloofsoortuiging of seksuele voorkeur of wat ookal gediskrimineer mag word nie. Met die implikasie dat die boodskap spesifiek aan die Afrikaner gerig was. Eintlik dus maar ‘n teregwysing. En ‘n emmer koue water in ons gesig.

Koos1 ·

Skerp Skerpioen, dan het ek nie na die selfde staatsrede geluister nie. In my weergawe het hy gesê dat slegs harde werk ‘n persoon bo sal uitbring, nie sy velkleur, ras, geslag of ouers se geld of status nie.
Ek dink jy het Mandela se woorde in gedagte.

Disselboom ·

Die regering moet teruggeplaas word in die hande van bekwame mense. Die een-mens-een-stem-stelsel lewer nie die gewenste resultaat in Afrika nie: die veronderstelling dat die stemmers kundige keurders is van wie hulle wil hê moet regeer, is blykbaar nie korrek nie – gemeet aan die resultaat; die onreg en chaos is daar waar die moontlikheid om te bestaan ineenstort (bv waterkrisis in Wes-Kaap). Niemand wil egter sê wat nou moet gebeur om bestaan te kan beskerm nie…. Demokrasie soos dit tans hier gaan, faal, maar dis al waaraan ons vasklou? Tyd om te sê wat nou moet gebeur.

Casper Labuschagne ·

Ramaphosa is die Judasbok wat ons tot op die drumpel van kommunisme sal bring deur al die nodige wetgewing in plek te stel. Ons kyk na Ramaphosa se rykdom en dink hy kan tog nie ‘n kommunis wees nie, maar Fidel Castro was meer as 500 miljoen dollar sterk by sy afsterwe en die Dos Santos familie wat Angola beheer is fabelagtig ryk.

C.W.S ·

Eish……jou kommentaar wen die prys vandag…mooi opgesom?eis’h’ jou prys’h’ net nie van my??

Sollie Rheeder ·

Vir die eerste keer lewer ek kommentaar. Ek wil net sê dat die demokratiese stelsel onskriftuurlik is. Indien jy jou bybel ken sal jy sien dat GOD die leiers van Isreal aangestel het soos bv. Abraham, Moses, Dawid ens. Die demokratiese stelsel het Christus gekruisig. “Kruisig Hom Kruisig Hom” het die demoktate uitgeroep. Vie my is daar net een Konigkryk en dit is die Koningkryk van Jesus.

Eish ·

Amen daarop, laat U koninkryk kom. Ons sien reikhalsend uit na Sy terugkeer waar Hy met n ysterstaf gaan regeer.

lizl ·

Ek het nie alles gelees nie, maar die vraag : Moet ons vir Cyril stem ? Slegs as jy iets in jou kop makeer !!

Skerp Spioen ·

Nee wat Koos1 gaan luister weer. Daai was ‘n kwalik bedekte prekie vir Afrikaanses. Hoekom in Afikaans sê dat iemand se vooruitsigte nie afhang van hulle ouers se inkomste nie. Absoluut teen ons kinders gemik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.