Moet Suid-Afrika die Skandinawiese voorbeeld volg?

Argieffoto

Argieffoto

Ondersteuners van sosialisme verwys dikwels na die Nordiese lande, onder meer Swede en Denemarke, as kwansuise voorbeelde van geslaagde “sagte sosialisme”, “welsynisme” of “derdewegbeleid”.

Die bestaande rykdom van dié lande, tesame met die ruimskootse voordele van staatswelsyn, laat politici en ekonome dikwels dié lande voorhou as die volmaakte voorbeeld van behoorlike “gemengde” ekonomieë.

ʼn Meer onlangse voorbeeld hiervan was die nou voormalige Amerikaanse presidensiële kandidaat en selferkende demokratiese sosialis, Bernie Sanders, wat na Denemarke as ʼn voorbeeld vir Amerika se ekonomiese stelsel verwys het.

Sanders het in ʼn artikel in die Huffington Post aangevoer “Die Dene betaal baie hoë belasting, maar in ruil daarvoor geniet hulle ʼn lewensgehalte wat menige Amerikaner moeilik sal kan glo. […] hoewel dit moeilik is om ryk te word in Denemarke, word niemand toegelaat om arm te wees nie.”

In teenstelling met gevalle soos Venezuela, waar sosialistiese staatsintervensies duidelik klaaglik misluk het, lyk dit, minstens oppervlakkig beskou, asof die Nordiërs se voorbeeld in stryd is met die vermeende skadelike gevolge wat dikwels toegedig word aan staatswelsynstelsels wat op herverdeling en hoë belastings berus.

Die Nordiese lande betaal inderdaad ʼn taamlike groot persentasie van hul BBP uit aan pensioene, werkloosheidsvoordele, mediese dienste en ander staatsbestuurde voordele. Hulle hef ook relatief hoë belastings. Vir ondersteuners van nie-inmenging, is dit op die oog af ʼn dilemma. In Skandinawië kan ʼn welsynstaat en hoë belasting klaarblyklik sonder enige nadelige gevolge vir die ekonomie bestaan.

Plaaslik word Noorweë, met sy regering se wesenlike belange in olie- en petroleumhulpbronne en ʼn groot soewereine olierykdom, soms in ANC-dokumente as ʼn model vir die plaaslike mineralesektor voorgehou. Meer in die algemeen het een van die ANC se groot kanonne, Gwede Mantashe, volgens Rapport ook na Swede, Noorweë en Denemarke verwys as lande wat ooreenstem met die ANC se vryheidsmanifes.

Mantashe en Sanders is nie die enigste wat vir die Nordiese voorbeeld voorspraak maak nie en in toekomstige debatvoering oor ekonomiese beleid sal die Nordiese welsynstaat waarskynlik telkens weer genoem word.

Tog moet die Nordiese voorbeeld versigtig oorweeg word. Dit is waar dat van dié lande oor die algemeen hoë belastings hef en ook baie aan oordragbetalings bestee, maar, in vergelyking met Suid-Afrika, is daar belangrike agtergrond om te oorweeg en noemenswaardige verskille wat ter sprake is.

Die eerste oorweging is dat dié lande se rykdom van ʼn sterk vryemarkerfenis afkomstig is. Die Nordiese lande het in die 1800’s tot vroeg 1900’s welvarend geword deur robuuste ekonomieë met sterk sakeondernemings in oop markte te ontwikkel.

Die huidige Nordiese welsynstelsels het eers rondom die 1930’s begin, aanvanklik stadigaan en was eers in die 1970’s en 1980’s in volle gang. In lande soos Swede en Denemarke, het die “Skandinawiese sosialisme” van die sewentigs en tagtigs met ekonomiese agteruitgang saamgeloop. Dié ekonomiese agteruitgang het verskeie vryemarkgedrewe hervormings genoodsaak.

Van die hervormings in Swede en Denemarke het onder meer die privatisering en desentralisering van welsynsdienste, inkorting van welsynsvoordele, konsolidasie van die openbare sektor en die verslapping van statutêre beperkings op sakeondernemings en arbeid behels.

Die Nordiese lande is tans sterk op ekonomiese vryheid ingestel. Denemarke se aard as vrye mark is onlangs deur die voormalige Deense eerste minister, Lars Løkke Rasmussen, beklemtoon. Rasmussen, wat na berig word op Bernie Sanders gereageer het, het gesê: “Ek wil een ding duidelik stel. Denemarke is hoegenaamd nie ʼn sosialistiese, beplande ekonomie nie. Denemarke is ʼn markekonomie.”

Rasmussen se aanspraak kan deur die ekonomiese vryheidsindekse van die Heritage Foundation en Fraser Institute gestaaf word. Terwyl dié indekse nie sonder tekortkominge is nie, skets hulle wel ʼn algemene prentjie van hoe die Nordiese lande Suid-Afrika en talle ander lande in metings van ekonomiese vryheid verbysteek.

In die geheel vertoon Suid-Afrika aansienlik swakker as die Nordiese lande wat metings van ekonomiese vryheid betref. In 2015 het Suid-Afrika die 80ste plek uit 178 lande op die Heritage Foundation se Indeks van Ekonomiese Vryheid (IEV) beklee. Dit is veel swakker as Denemarke se 12de, Ysland se 20ste, Finland se 24ste, Swede se 26ste en Noorweë se 32ste plek.

Die ingekleurde dele van die volgende tabel dui die enkele terreine aan waarop Suid-Afrika ʼn telling gelykstaande met of beter as die vyf belangrikste Nordiese lande op die subindekse van die IEV behaal het. grafiek

Fiskale vryheid (uitgesonderd Ysland), staatsbesteding en arbeidsregulasies (uitgesluit Denemarke en Ysland) is die enigste terreine waar Suid-Afrika op die IEV beter vaar as die vyf belangrikste Nordiese lande.

Vergeleke met die Nordiese lande, is die meting van die algehele belastinglas wat die Suid-Afrikaanse regering oplê, effens ligter en Suid-Afrika bestee effens minder aan staatsverbruik en staatsoordragte. (Maar hou in gedagte die belastinglas in Suid-Afrika rus buite verhouding swaar op ʼn klein groepie mense.)

Sommige elemente van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is op die oog af effens minder beperkend, maar nie vergeleke met Denemarke nie, waar die arbeidsmark vryer is.

Weens verskeie demografiese en kulturele verskille, sal dit ʼn fout wees om aan te neem ʼn Sweedse of breër Nordiese staatswelsynsmodel kan net so op ander lande oorgedra word om ekonomieë met dieselfde soort Nordiese eienskappe te produseer.

Om die Nordiese model in Suid-Afrika in werking te stel, sal waarskynlik nog hoër belasting en nog meer welsynsoordragte beteken, iets wat ons by die SNI glo die plaaslike ekonomie hoegenaamd nie kan bekostig nie.

Selfs met dié voorbehoud in ag geneem, sal ʼn eerlike poging om die “Skandinawiese model” in SA in gebruik te stel, egter vereis staatsinmenging op talle ekonomiese terreine moet wesenlik afgeskaal word. So ʼn afskaling mag meebring dat die privaat sektor vertroue herwin, daar opnuut in die land belê word en dat bedrywighede in die privaatsektor sal verbeter.

ʼn Amusante gedagte is dan dat die Skandinawiese model moontlik tog tot ʼn indrukwekkende verbetering van die plaaslike ekonomie kan lei, maar nie om die redes wat die ondersteuners van “Skandinawiese sosialisme” aan die hand doen nie.

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Theuns ·

Gerhard, moet asb nie voorstel dat belastings moet verhoog word in ruil vir ‘n regering teen prestasie om meer geld in die samelewing in te pomp nie! Dit gaan nie gebeur nie en die geld gaan net gesteel word en ons sal steeds arm bly!

Frederik ·

My seun was in Swede saam met ‘n Sweedse kollega. ‘n Sweed, al werk hy waar in die wêreld, betaal 70% belasting aan die Sweedse regering. In ruil daarvoorkry sy kinders gratis, hoë standaard skoolopleiding, want hoe beter hul opleiding, hoe beter hul salaris en hoe meer belasting bring hul dus vir hul land in. Almal van ons is ongelukkig nie geseën met hoë IK’s nie en die paar, wat nie op skool kon vorder nie, word deur die regering toelaes betaal. Hul kinders word dus nie sleg groot nie en sal waarskynlik beter doen as hul ouers. Dit ten bate van hul regering natuurlik.
As Mantashe dink daardie model gaan in SA werk, maak hy ‘n massiewe fout. Die geletterdes in SA wat goeie salarisse verdien, verlaat die land permanent. Dus, die belastinggaarder hier sien nie ‘n sent van daardie persoon se inkomste nie. Dan sit ons nog met die onbeheersde aanteling, uiters lae standaard skoolopleiding, regeringsamptenare wat die staatskas bankrot steel, onvermoë van die (huidige)regering om te regeer ens ens.
Afrika bly Afrika. Moet nie Afrika met die Nordiese lande probeer vergelyk nie. Vergelyk appels met appels.

Fanie ·

Die Swede maak die 10% armes ryker. Die ANC wil die 10% ‘rykes’ armer maak.

John ·

Ja, daai klein groepie mense… tussen die hakies hierbo… wat die meeste belasting betaal, is die crux van die storie. En nou wil hulle daardie ganse wat die goue eiers le vir SA verder uitfaseer. Die vergelykings is ‘n grap…

Merkur ·

Dis beslis moeilik om te vergelyk. Hang ook af van wat jy wil bereik.
As ek reg gehoor en verstaan het, is die ekonomie in Noorweë minder vry as die ander Skandinawiese lande omdat hulle die inkomste van olie en gas intensief vir die onderwys en opvoeding van kinders en volgende geslagte uitgee. Goeie onderwys (education) is hulle belegging vir die toekoms wanneer die olie op raak.

(Die tiepe vrye mark wat Amerika op al die ander lande probeer afdwing, vernietig die middelklas en maak die armes armer en die rykes ryker. Maar wie weet dit nie reeds nie.)

Anthonie Van Bosch ·

Ek stel voor SA word in ekonomiese areas ingedeel. Die rykste persoon in daardie streek is die voorsitter van die raad op ekonomiese ontwikkeling vir die streek. Hy of sy kan dan die gemeenskap help met raad en ondersteuning in die opheffing van die gebied wat kleinsake insluit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.