Monumente van hoop

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

’n Paar jaar gelede daag daar onverwags ’n besoeker by ons ou hoofkantoor in Braamfontein op. Hy keer my in die gang voor: “Ek het vir julle Yskor Opleidingsentrum se laaste Afrikaanse tegniese boeke gebring,” sê hy. Ek stap saam met hom af na waar sy Nissan-bakkie in die straat geparkeer staan. Hy haal die seil af. Daar lê ’n tiental bokse met handleidings vir die opleiding van vakmanne.

“Ons moet nou oorskakel Engels toe,” sê hy. “Ek moes hierdie op die ashoop gaan gooi, maar ek kan nie my taal wegsmyt nie. Afrikaans is mos nie vuilgoed nie.” Ek knik instemmend, sien hy wil nog praat. Hy vervolg gekrenk: “Ons en ons taal word nou orals uitgeskuif.”

Ons kyk na die klein bakkie vol Afrikaans.

“Wat moet ek hiermee maak?” vra ek.

“Ek weet nie juis nie,” sê hy. “Miskien kan julle dit eendag gebruik.”

Ons begin die bokse opdra terwyl ek hom verder uitvra. “Hulle gooi nie net Afrikaans weg nie,” sê hy. “hulle wil ons ook uitskuif met rasseteikens”.

“Maar julle is waarskynlik die beste vakopleidingsentrum in die land?” sê-vra ek. “Is die beste swart bemagtiging dan nie juis dat julle swart jongmense ook goed oplei nie?”

Hy trek sy skouers op. “Ja, maar transformasie het nou belangriker as goeie opleiding geword.”

Transformasie

Hierdie besoek was ’n voorteken van wat daarna orals in die land gebeur het. Die ANC het aan bewind gekom met die versekering dat hulle swart mense regmatige regte gaan gee, sonder om onregmatig teenoor wit mense op te tree. Tog het hulle net gewag tot hulle stewig in die saal was, voordat hulle met “radikale transformasie” afgeskop het.

Dít het met die totale omskepping van die land volgens rasseformules begin, toe die wese van alle instellings totaal verander, en geëindig in ANC-oorname en die uiteindelike verval van daardie selfde instellings. Die transformasiegolf het soos ’n tsunami feitlik alles in sy pad platgevee. Kolleges, dorpe, staatshospitale, die polisie, openbare ondernemings soos Eskom en die SAL. Die staat het stuk-stuk verval en talle staatsinstellings het deurtrek van korrupsie geword.

Dit het gaandeweg vir almal wat wou sien, duidelik geword dat die ANC nie sy rewolusie laat vaar het nie, maar dit onder die vaandel van radikale transformasie met staatsmag afgedwing het. In plaas van die suksesvolle Japanse resep van restourasie, het hulle weer die bewese mislukte Russiese model van rewolusie gevolg.

Opbouproses

By die Mynwerkersunie (MWU), wat sedert 1913 bestaan, het ons vinnig gesnap dat die ANC se grondwetlike gerusstellings ’n taktiek was om die mag te kry om hul rewolusie deur te voer. Ek het sedert my studentedae in staatsleer besef dat die ANC steeds aan ’n Derde Wêreld-ideologie vasklou, wat nie ’n Eerste Wêreldland sal kan regeer nie. Die enigste verskil was dat hulle ná bewindoorname nie meer wapens gebruik het nie, maar wette. Die uitkoms sou egter dieselfde wees omdat sosialisme orals misluk.

Ons het besef dat die ANC nie net wou sorg dat swart mense ingesluit word nie, maar dat hulle wit mense gaan uitsluit. Hulle doel was nie net om swart mense te bevry nie, maar om wit mense te verontreg.

Ons klein Gideonsbende by die MWU wat in 2001 in die MWU-Solidariteit omskep is, was destyds net gewapen met ’n droom, maar het besef dat die alternatief ’n nagmerrie sou wees. Daarom het ons aan die werk gespring, met die geloof dat daar voorsien sal word.

Daar ís voorsien.

Monumente

Die nuwe Sol-Tech-kampus.

Ons het besef dat ’n omvattende kulturele infrastruktuur gebou moes word wat Afrikaners in staat sou stel om in Afrika te oorleef. Nie om onsself af te sonder nie, maar om ons juis in staat te stel om hier te kan bly. Nie om ander uit te sluit nie, maar om seker te maak ons kinders word ook ingesluit. Mens bou immers ’n huis om saam in ’n woongebied van jou keuse te bly, en nie om jouself van jou bure te isoleer nie. Dis uit liefde vir jou gesin, nie uit haat vir jou bure nie.

Die groot uitdaging was om “staatsdienste” sonder staatsinkomste te lewer. Daarvoor het ons ’n bladsy uit ons voorouers se suksesresepte geneem. Hulle het “groot geld” met “kleingeld” gemaak, wat vandag skarebefondsing genoem sou word. Hoeveel miljoene koeksisters en pannekoeke en straatkollekte-pennies het in die arm jare nie gehelp om kolleges, skoolsale, kinderhuise, studiebeurse, kerke, universiteitsgeboue, koshuise, monumente en taalprojekte landwyd te befonds nie? Ons het besluit om dieselfde te doen, maar die metodes te moderniseer.

Ons het ’n hele beweging van selfhelporganisasies begin as monumente van hoop. Die Solidariteit Helpende Hand is gestig; ’n sakebeen, Kanton Eiendomme; Sol-Tech; AfriForum; Akademia; Maroela Media; en later die Skole Ondersteuningsentrum (SOS). Die eerste R100 miljoen wat nodig was vir Sol-Tech, het uit maandelikse R10-bydraes van duisende Solidariteit-lede gekom. Om te dink die grootste enkele skenking daarvoor was net tien rand! Ons het geen staatsubsidie of bydraes van groot maatskappye gekry nie. Boonop is tegniese opleiding peperduur, en duisende studente het die afgelope jare rentevrye studielenings gekry by die Solidariteit Opleidingsfonds. ’n Deel van die ledegeld word maandeliks daarvoor oorbetaal en deur die Helpende hand se studietrust administreer.

Ons Sol-Tech Beroepskollege is nou voltooi – betyds en onder begroting. Ons beplan reeds aan ’n naasliggende koshuis vir 400 studente. Daarna kom Akademia se nuwe kampus van meer as ’n miljard rand aan die beurt. Daarvoor het ons Kanton Eiendomme gestig, waarmee ons al ons lede en sakelui die kans bied om te belê. Kanton is ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal, wat ’n billike geldelike opbrengs én ’n kulturele dividend in die vorm van leefruimtes vir Afrikaans gaan bied.

Groeiende selfbestuur

Die ANC kon die land nie voor die krisis bestuur nie, hul kon dit nie tydens die krisis doen nie, en sal dit nog minder ná die krisis kan doen. Staatsbestuur misluk, en selfbestuur is die enigste antwoord. Daarom gaan ons hierdie monumente van hoop uitbrei tot ’n volledige kulturele infrastruktuur wat Afrikaners in staat gaan stel om blywend vry, veilig en voorspoedig te leef. Dit sal ons in staat stel om ’n bydrae tot die welstand van die land en al sy mense te lewer. Ons het lank genoeg die ANC gevra om ons goed te regeer. Hulle wil en kan dit nie doen nie. Daarom gaan ons nou onsself begin bestuur deur sterk gemeenskapsorganisasies. Wie nie vir sy eie toekoms sorg nie, kry die toekomskrummels wat ander vir hom oorlos.

Ons verwag meer van onsself. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Ek wil bitter graag weet: hoe kom soltech en Akademia verby regstellende aksie en BEE? Ek weet dis simpel onaangename wette, maar dit kan tog nie geïgnoreer word nie. As ‘n besigheid se aantal personeel ‘n sekere getal oorskry en as die finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, móét daar aan dié nare wette se vereistes voldoen word. So ek wil graag weet hoe kom soltech en Akademia verby dit. My peetkind is nou pas skool toe. Sal soltech en Akademia steeds wettiglik Afrikaans en privaat wees as sy oor 12 jaar daar wil studeer?

Anti-Verkramp ·

Hulle sal anderskleuriges wat gewillig is om in Afrikaans te leer, moet toelaat (ook in die koshuise) anders gaan daar probleme wees. Ek dink Afrikaans as alleen-onderrigtaal by die privaatinstansie behoort egter nie ‘n probleem te wees nie.

B-Man ·

Sover ek dit het moet jy slegs aan hierdie vereistes voldoen wanneer jy besigheid met die staat wil doen (i.e. tenders).

Kerneels ·

In die tye waarin ons leef, is dit lekker om vir ‘n slag iets positiefs, opbouends en opwindend te lees. Dit gee my weer hoop en maak my trots om Afrikaner te wees!

JohanR ·

Dink nie eers die ANC kan ‘n plakkers huis opsit nie, wat nog ‘n universiteit met akkomadasie vir 400. En die universiteit is gebou met lede se geld…..dit wil gedoen word…..GELUK!

Mallie ·

Eers was dit die Engelse wat Afrikaans wou laat verdwyn, nou is dit die ANC. Hulle sal gou besef dat ons nie so maklik oorgee nie. Ons het ons eie skole in store begin. Ons sal weer op staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.