Moord op Irannese generaal dompel Midde-Ooste in groter chaos

Pres. Donald Trump. (AP Photo/ Evan Vucci)

Die besluit van die Amerikaanse president Donald Trump om een van die belangrikste militêre leiers van Iran verlede Vrydagoggend te laat doodmaak, was ʼn groot fout wat tot meer onstabiliteit in die Midde-Ooste aanleiding gaan gee.

Iran het kort ná die aanval onderneem om wraak te neem, terwyl dit duidelik is dat afkeur vir Amerikaanse betrokkenheid in Irak ná die aanval net meer gaan toeneem.

Die besluit om genl.maj. Kassem Soleimani, leier van die Koeds-mag van die Islamitiese Revolusionêre Wag Vrydagoggend met ’n missielaanval in Bagdad in Irak dood te maak, was blykbaar ’n redelik spontane besluit deur Trump in reaksie op die afgelope tyd se aanvalle op die Amerikaanse ambassade in dieselfde stad. Die voorstel om hom dood te maak is deur adviseurs van Trump gemaak, en daar kan gevra word wie die graagste wou sien dat Soleimani vermoor moes word.

Verlede jaar in Oktober het Yossi Cohen, hoof van Israel se intelligensiediens, die Mossad, in ’n mediaonderhoud voorgestel dat Soleimani vermoor moet word. Dit is bekend dat Israel graag wil sien dat Amerika aanvalle op Iran loods en dat die regering van Israel die afgelope tyd die Trump-administrasie probeer oortuig het om Soleimani te vermoor.

Genl. Qassem Soleimani (Foto: ANA)

Soleimani was ’n drywer van Irannese invloed in Libanon, Sirië en Irak. Hy was egter ook die meesterbrein agter Iran se aanslag op die Islamitiese Staat-terreurgroep. Veral Westerse media en die Amerikaanse regering het die afgelope paar jaar Iran se belangrike rol in die stryd teen Isis ontken of onderspeel. Christengroepe in Irak en Sirië het Soleimani en sy Koeds-mag as beskermers van die Christenminderhede in dié lande beskou.

Soleimani se dood is ’n groot terugslag vir Iran. Hy was ’n militêre meesterbrein met dekades se ervaring in Midde-Oosterse politiek. Soleimani was ook bekend vir sy sterk afkeur in Amerikaanse betrokkenheid in die Midde-Ooste. Hy was ’n veteraan van die Irak-Iran-oorlog van die 1980’s, ’n oorlog waarin meer as een miljoen mense dood is en waarvoor Amerika gedeeltelik verantwoordelik was. Soleimani se afkeur vir Amerika strek oor dekades van Amerikaanse inmenging in die sake van Iran en dit was veral die afgelope paar jaar sy doelwit om Iran se invloed in die Midde-Ooste uit te brei. So was hy die afgelope tyd direk betrokke by groepe in Irak wat wil sien dat die Amerikaanse weermag volledig uit Irak onttrek.

Foto: (Vahid Salemi, AP)

President Trump het tydens die verkiesingsveldtog van 2016 onderneem om Amerika uit onnodige en duur oorloë in die Midde-Ooste te onttrek. Die Trump-doktrine was sterk geskoei op die beginsel dat Amerika se betrokkenheid in oorloë in Irak, Afganistan, Sirië en Libië nie in Amerikaanse belang was nie.

Sedert Trump se verkiesing het veral die regerings van Israel en Saoedi-Arabië, maar ook lede van die Trump-administrasie wat sterk ten gunste van Amerikaanse ingryping in die Midde-Ooste is, moeite gedoen om Trump daarvan te oortuig om die konflik met Iran aan te jaag.

Die moord op Soleimani op Irakese grondgebied is vir gewone burgers van Midde-Oosterse lande ’n bevestiging van Amerikaanse aggressie en die ondermyning van Midde-Oosterse lande se soewereiniteit.

Die moord dompel die Midde-Ooste in nuwe onsekerheid en onstabiliteit, maar skep sonder twyfel ook nuwe veiligheidsbedreigings vir die VSA. Veral Isis is besig om te hergroepeer en Soleimani se dood is ’n groot verlies in die stryd teen dié terreurgroep.

Die Amerikaanse regering sal ernstig moet herbesin oor sy Midde-Oosterse beleid want die huidige beleid bevorder nie stabiliteit in die streek nie.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

PietS ·

Dit is verregaande om die dood van hierdie terroris as ‘n moord te sien. Hy was verantwoordelik vir baie mense se dood. Dit was eerder ‘n oorlogsdaad.

Kobus ·

Amerika het ook al duisende onskuldige burgerlikes vermoor. Dis ook ‘n misdaad teen die mensdom. Dan was daar ook die atoombomme in Japan.

Krisjan ·

Dis wat ek ook wou weet. Hoekom dit as “moord” bestempel?

Daniel ·

@Kobus, ek wag natuurlik op ‘n hele paar ouens wat vir my datums en insidente sal verskaf waar die VSA selfmoordbomaanvalle op Burgerlike teikens uitgevoer het of die ambassade van ‘n soewereine staat in Washington aangeval het. Wat atoombomme in Japan aanbetref: Wat het op 7 Desember 1941 daartoe aanleiding gegee?

Petrus ·

Dis nie in die westerse/Christelike styl om selfmoord missies uit te voer nie. Maar wat is die verskil tussen ‘n drone en selfmoordmissie wat burgerlikes vermoor? Zilts.

DewaldS ·

Dankie vir ‘n goeie artikel, Jaco. Dit is verblydend om te sien dat daar prominente Afrikaners is wat insig in wêreld-gebeure het.

Disselboom ·

Wanneer Trump iets doen, dan is dit verkeerd. Dis nou gemaklike eenvoudige denke. Maar toegegee, wat weet ons nou regtig wat in Iran en Irak en omstreke aangaan, behalwe wat die internasionale media vir ons voer, van verskeie kante?

Adriaan ·

Oorlog en moord is 2 verskillende konsepte. Wanneer jy jou blootstel aan sulke aksies deur dit wat jy doen, is jy ‘n “casualty of war”. Amerika is nie die aggressor nie. Die Nagasaki en Hiroshima bomme was ook in reaksie op ‘n lafhartige aanval op Amerikaanse skepe by Pearl Harbour. Wanneer jy houe wil uitdeel moet jy ook houe kan vat.

Andre ·

Japan het ‘n militêre vlootbasis aangeval. Die atoombomme is ontplof om die Japanese burgerlikes se geloof in hul koning te knak, selfs lank na Hitler se dood en die einde van die oorlog in Europa. Tussen Pearl Harbour en die atoombomme het baie dinge gebeur waarin duisende burgerlikes vermoor is.

Kallie ·

Amerika nie die aggressor nie? Jy grap seker. Hulle het militêre basisise in meer as 100 lande. Vir wat?

·

Hier is net een probleem met dit. Pearl Harbour was meestal soldate en oorlogskepe. Nagasaki en Hiroshima was stede met vrouens en kinders in. Groot verskil. As jy sê dit is dieselde. Wel-ANC plant bomme (Kerkstraat ens) en landmyne(op plaas paaie) omdat ons soldate op Namibia se grens veg. Dan regverdig jy seker ook bomme op onskuldige mense. Amerika wou ñ hele klomp atoombomme in Viëtnam gebruik het. Gelukkig het iemand gedink. Eers was dit Brittanje en nou Amerika wat baie bloed op hul hande het. China kan maklik volgende wees en gaan ons nogsteeds dink dit is reg as China begin pa speel?

Fanie ·

As ons maar net n staadpresedent soos Tramp kon he ek gee vir hom 10 uit 10 vir sy handeling mag almal wat terorisme bedryf so eindig insluitende ons regering

PietS ·

@Kobus

Soos die engelse spreekwoord sê “all’s fair in love and war”. Tydens die 2de wereld oorlog het hoofsaaklik Engeland, baie duitse dorpe en stede plat gevee wat baie onskuldige vrouens en kinders se dood veroorsaak het. Dieselfde tydens die Anglo-Boere oorlog.

Ronnie ·

Dit verbaas my nie dat Trump tot sulke uiterstes gaan om eerstens die aandag af te trek van die komende verhoor in die Senaat nie. Tweedens glo hy ook dat hy noodwendig herverkies sal word, (net soos George W Bush), as hy die VSA in ‘n staat van oorlog kan dompel in ‘n verkiesings jaar. Trump het herhaalde male die vorige president daarvan beskuldig het dat hy ‘n oorlog met Iran sou begin om vir homself ‘n tweede termyn te verseker. In die derde plek skep hy hiermee weereens vir homself geleentheid om sy eie beuel te blaas. Laastens, sy brein is duidelik vir ‘n groot deel van die tyd so beneweld van ‘n oordosis medikasie en ander dwelms dat hy gewoon nie normaal kan funksioneer nie. En soos ons Afrikaners dikwels sê, hy voel vere. Hy het geen empatie met die Amerikaanse troepe en hulle families of enige iemand anders nie. Al wat vir hom saak maak, is Trump. Hy sal oral en altyd verwarring en drama veroorsaak in die hoop hy uit die tronk kan bly. Baie ernstige kriminele klagtes staar hom in die gesig. Hy kan net vervolging vermy, of uitstel, terwyl hy in die Withuis is.

Pietman ·

Trump hoef nie die aandag te probeer af trek van die staat van beskuldiging nie. Dis uiters vervelig , niemand stel belang nie, die senaat gaan hom verseker onskuldig bevind. Daar was absoluut geen bewyse vir enige op die aanklagte nie. Trump het juis empatie met die troepe se familie deur die dood van 600 troepe te wil wreek.

Fanie du Preez ·

Groot foutjie wat Iran begaan het om die soldate by die Amerikaanse ambassade aan te val in Iraq vroëer in Desember 2019…julle het nou gaan krap waar rowe besig was al om af te dop . . . kry nou maar vir julle.

ANÉ ·

Ag, liewe aarde tog, nou nié dat ons opinies of kennis of uitsprake, oor die alewige voortdurende krisisse ini Midde-Ooste, enigsins iets kán of sál verander nie… neh…?? En ook nou nie, dat hulle, hul eie voortslepenede konflikte onder mekaar kán uitsort nie…? En presies WÁTTER LAND of regering, het nié bloed, aan hul hande nie…?? Trump het my steun, omdat hy, Israel ondersteun! Israel is my Verlosser, se Verbondsvolk,ongeag wat wié wát hiervan sê of dink. En Sa, met sy eie rassehaat, konflik en hoë misdaad, van burgerlikes beter tjoepstil bly….

Bril ·

Mens kan die emosionele reaksie verstaan, maar die werklikheid is ingewikkelder. Israel het ook krimineles (die land het ook tronke) en mens kry die Epsteins en Weinsteins van hierdie wereld wat mens nie kan laat wegkom met hulle dade nie, Verbondsvolk of te nie.

Kennis sal die situasie in die Midde-Oooste verander. Dit verander nie as gevolg van al die jarelange leuens oor wie die konflikte daarso begin het. Daar was ‘n tyd waar daardie lande geen probleem vir ons was nie. Dit wat ons oor die hoofstroom media lees, is presies andersom as wat werklik daarso gebeur. Ook die Suid-Afrikaners volg die hoofstroommedia gepratery klakkeloos na (hulle het geen ander moontlikheid nie, hulle word nie vertel nie, ook is die land te kwesbaar want as mens die waarheid leer ken raak jy dalk die vyand – ons praat hierso van gek mense en instansies wat wereldoorloee kan laat begin).

Platkop ·

Grootse klomp snert wat ek al gelees het. Ek besef dis sy mening maar hell bietjie feite sal waardevol wees hier. Dit is wat vir my dom is van die Menings stukkies mense kan dinge se asof dit feite is en hoef nooit dit te ondersteun met regte feite nie. Soos bv as skrywer se dat die besluit was die verkeerde besluit voel ek tenminste dat hy se hoekom hy so dink, dit nie se asof dit net die waarheid is. Dit voel my meer die skrywer het n mes in vir Trump as enige iets anders.

GRIET ·

Niks is eintlik ñ verrassing nie! Midde-Ooste is nog altyd, vol drama en oorlog. En die res van die wêreld, ook maar geen onskuldige engeltjies nie!! Dit staan immers,REEDS geskrywe in die bybel, dat Ismael se nageslag soos ñ donkie sal wees en dat al die volke se hand, sal teen hulle wees! Gen. 16:12

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.