Morake-debat: Daar is meer as één waarheid

Tumi Morake. Foto: Facebook

’n Tipies Suid-Afrikaanse debat het die afgelope tyd in die media gewoed na aanleiding van ’n uitlating van die omroeper Tumi Morake in ’n radioprogram. As ’n mens dit behoorlik ontleed, sê dit nogal iets oor waar ons tans in Suid-Afrika staan.

Morake se uitgangspunt, as ’n mens na die transkripsie kyk, was dat “’n groep mense”, bedoelende die swartes, “deur ’n ander groep mense” – die wittes – “geleer is dat hulle minder is”.

Daarop het sy twee metafore gebruik: “Wanneer jy ’n bok aan ’n kort stuk tou aan ’n paal vasmaak, gaan hy net stap so ver as wat die tou hom toelaat. Maar selfs wanneer jy die tou losmaak, gaan die bok aanhou om net op daai klein stukkie te loop, selfs al is die tou los en kan hy wegloop.”

Waarmee Morake te kenne gegee het dat die wittes die swartes ook emosioneel gekondisioneer het om in hul eie minderwaardigheid te glo. Dit pas in by die idees van Steve Biko en die Karibiese swart sielkundige Frantz Fanon, wat albei gepredik het dat swartes trots moet wees op wie hulle is, en nie by wyse van spreke ’n skaduwee van die wittes moet probeer wees nie.

Die volgende dag het sy die saak met dié metafoor van die ander kant af benader: “Dis soos ’n kind wie se fiets onder dwang van hom afgevat is. En dan sê jy vir die boelie: ‘Nee, nee, nee, deel die fiets, moenie so wees nie.’ Die kind wie se fiets afgevat is, voel dan nie of daar vergelding was nie. Die boelie is nie gestraf nie en word boonop verder beloon” (bedoelende dat hy nie gedwing word om die fiets heeltemal terug te gee nie).

Wat sy hier probeer sê, is dat daar ná 1994 vir die wittes gesê is apartheid was nou wel verkeerd, maar hulle hoef nie dít wat hulle van die swartes gesteel het (menslike waardigheid, rykdom, grond?) terug te gee nie.

Die bruin joernalis Jo-Ann Floris het op Morake se punt voortgeborduur: “Hulle – en selfs tot in my generasie – dra die askiestog-houding wat soos ’n bosluis klou. Dis nie lekker nie, maar dis jare lange kondisionering. Ja, ek weet ons moet onsself uitsorteer, maar jimmel, have a heart.”

Wanneer ek Morake en Floris só hoor, hoor ek ’n eggo van ons Afrikaners se minderwaardigheidsgevoel teenoor die wit Engelssprekendes.

Fanon se sentrale boodskap was dat die gekoloniseerdes ’n haat-liefde-verhouding met die koloniseerders – in sy geval die Franse – het. Enersyds haat hulle die dikwels subtiele neerbuigendheid en kulturele meerderwaardigheid waarmee die Franse die afstammelinge van die Afrika-slawe op die Karibiese eilandgroep behandel; andersyds sien hulle op na die Franse taal, beskawing en kultuur en beskou dit selfs teen hul wil as die norm waaraan hulle hulself meet.

Is dit nie, sy dit in verswakte vorm, ’n goeie beskrywing van ons Afrikaners (en, ja, ook die Afrikaanssprekende bruines) se houding teenoor alles wat Engels is nie? As jy Langenhoven se fyn gespot met ’n deel van Oudtshoorn se Afrikaner-elite lees, mense wat indertyd daarop aangedring het om voor Engels te kruip, dan herinner dit sterk aan Fanon, Biko, Morake en Floris.

Dus, voordat jy Morake en Floris kritiseer, probeer eers in hul vel kruip en dinge vanuit húl perspektief sien. Maak daarby gerus gebruik van jou eie Afrikaner-ervaring.

Beteken dit dat hulle dus 100% reg is en nie gekritiseer mag word nie? Nee, natuurlik nie – en dit bring ons by die kern van dié artikel.

Morake en Floris het albei ’n waarheid beet. Maar dis ’n eensydige waarheid, want daar is ook ’n ander kant van die munt.

Daardie ander kant is belig deur Flip Buys, Dirk Hermann en Kallie Kriel, wat almal beswaar gemaak het daarteen dat die Afrikaners voortdurend as “boelies” afgeskilder word. Buys het gesê hy het geen begeerte om na die tyd van P.W. Botha terug te keer nie, maar as “ons oor die verlede wil praat, moet ons oor die héle verhaal praat, en nie net oor die ANC se helfte daarvan nie”.

In die proses wys Buys op die ANC se ondersteuning van die kommunisme voor 1990, dat die beweging “ook nie destyds geveg (het) vir ’n grondwetlike demokrasie, menseregte en vrye ekonomie nie. Sy uitgesproke doel was om met ’n rewolusionêre oorname ’n ‘Oos-Duitsland in Afrika’ te vestig”.

Buys, Hermann en Kriel het ook waarhede beet. Dis weliswaar die ander kant van die waarheid, maar dis nie daarom minder waar nie.

Die groot uitdaging wat ons vandag het, is om die gesprek te stuur in die rigting waar ons mekáár se waarhede kan erken.

In die antieke tye het filosowe tussen drie soorte argumente onderskei:

  • Demonstratio, waar op empiriese bewysvoering gesteun word;
  • Dialectica, waar jou logika en argument in ’n heen-en-weer langs dié van jou gespreksgenoot gelê word; en
  • Retorica, waar die gehoor met slim gekose woorde of emosionele slagkrete beïnvloed word.

Wel, in die algemeen het ons in ons openbare gesprek in Suid-Afrika ’n oormaat aan retorica en ’n ernstige gebrek aan demonstratio en dialectica.

Deel van dié probleem is dat te min van ons (en ek sluit myself hierby in) werklik in staat is om in die vel van die ander te kruip en sake ook vanuit sý perspektief te bekyk.

Te min van ons wittes verstaan die onbetwisbare pyn en vernedering wat swartes en bruines in die apartheidstyd meegemaak het en dikwels steeds meemaak. Te min swartes en bruines verstaan dat apartheid, reg of verkeerd, ’n gevolg was van die Afrikaners se vrees vir kulturele uitwissing en die voorbeeld van die Britse kolonialisme, waarvan die apparaat feitlik net so voortgesit is, en dat rassisme slegs ’n deel van die antwoord is.

Wat is waarheid? Kyk na Tafelberg, soos hy vanuit Blouberg, Bellville en Wynberg lyk – jy herken die berg byna nie. Maar hy verander self tog nie, al lýk hy vanuit verskillende gesigspunte totaal anders.

Dus: Die waarheid is absoluut en onveranderlik. Die waarheid is ook relatief. En daar is meer as een waarheid.

As ons in Suid-Afrika as uiteenlopende etniese groepe en kulture ’n vreedsame modus vivendi wil vind – en dit sal móét as ons wil oorleef – sal ons dáárdie waarheid nie slegs moet erken nie, maar daagliks prakties uitleef.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Gerhardus Petrus Padda ·

Mooi geskryf Leopoldt, ek stem met omtrent alles saam wat jy geskryf het. Toe ek jonger was het ek sekere goed anders gesien en beleef as nou dat ek ouer is. Die wereld is kompleks en elke mens sien die “fliek” vanuit sy eie klein hoekie.

Daar is egter ook n ander “waarheid”, en hierdie “waarheid is universeel. As mense n kans kry om ander mense te blameer vir hulle eie gemors, dan SAL hulle. Mense hou nie van aanspreeklikheid nie, en die feit dat elkeen die lewe net uit sy eie perspektief beleef, dra by tot hierdie blaam speletjie.

Wanneer een gemeenskap/persoon se narratief gebruik word om diefstal van n ander gemeenskap/persoon te regverdig, sit ons met n groot gemors. Wanneer een gemeenskap nie die getalle het om sy narratief demokraties te verdedig nie, wat moet hulle doen?

Verwonderd ·

Stem saam. Die meningstuk is ‘n relevante vertrekpunt vir ‘n gesprek as ‘n mens nie met slawerny of volksmoord gedryg word nie.

Boerseun ·

Eendag as daar ewe veel van elke bevolkings groep is dan sal julle ding werk. Good luck daarmee

Mina ·

Baie goeie nugtere opinie. Ek luister/lees veel eerder jou stukke as Max s’n

maria ·

Die verlede was nie n goeie bedeling, so ook nie die huidige nie. Wanneer gaan ons dinge agter ons sit en vorentoe beweeg? Meeste jongmense was nie deel van apartheid nie maar hamer nog steeds daarop. Ek kan nie help eks wit nie, ek kan nie help wat my voorouers gedoen het nie. Eks nie ryk nie en moet self “veg” vir wat ek ek wil hê. Hard werk, trots en selfrespek is wat jou iewers bring. Dis binne almal se bereik. Trots op wie en wat jy is, bou en nie breek nie

Pieter ·

Ek stem heelhartig saam. Die vorige bedeling was beslis nie 100% nie. Nog minder is die huidige. In 1948 het ons ook ‘n vrot eier ge-erf maar ons het nie soos die huidige “nuwe” burgers alles verniet wou hê nie. In teendeel die vrot vorige bedeling het gepoog om almal werk te gee en toe te laat dat hul, hul self bemagtig en verbeter. En dit is die verskil…werk vir wat jy wil hê in die lewe. Niemand skuld jou niks niks!

Sann ·

Hierdie artikel voel vir my na ‘n baie goeie inleiding tot meer. Ek sou graag wou hoor wat die skrywer nog meer kan uitbrei. Ek is moeg vir al die rusie en twis. Ek wens elke mens kon vergeet wat hy is en trots raak op wie hy is en waartoe hy in staat is. Ons land het ‘n “liggaam” nodig waar die voet nie belangriker probeer wees as die kop nie, en die hand hom nie hoër ag as die rug nie. Almal het ‘n funksie en almal moet mekaar waardeer, maar almal moet ook hulle volwaardige kant bring.

Reinhardt ·

100%. Stem met alles saam. Ons het n drastiese tekort aan behoorlike, nie-emosionele debatvoering in ons land. Ons, almal van ons, moet leer om nie so vinnig op ons perdjies te spring nie. So kom ons begin n gesprek sonder om mekaar af te kraak, kom ons begin n gesprek met verdraagsaamheid.

Boerseun ·

Ok, nie almal het n goeie begrip van engels ons amtelike taal nie. Soos bv idiome kan rasisties opgeneem word en wat ek gese het , kan altyd verkeerd ge-understood word. Reels van gesprek. 1 as jy van soort A is is jy verkeerde en als wat jy se het verkeerde bedoelings.2 As ek van een soort is kan ek se net wat ek wil en kan ek language barriers as verskoning gebruik, my waarheid is natuurlik die enigste waarheid so verwys reel 1.

Ilse ·

Ek en my man het onlangs die voorreg gehad om bietjie in Kroatië te kon toer. Ons het van plaaslike gidse gebruik gemaak om ons rond te wys. Wat vir my so opvallend was van elkeen van hulle was die erkenning dat hul land so uiteenlopende verlede het, maar dat hulle ervarings met jou deel sonder om die ander bevolkingsgroepe af te kraak of minder smaaklike dele van hulle geskiedenis te probeer weglaat. Daar is eerder ñ wesenlike dryf na samehorigheid, ñ goedige gespot met hul eie verskille en die soeke na selfvervulling en dit wat mooi is in die lewe.

Ek het voortdurend gewonder hoe dit sou wees as ons dieselfde opgetree het in SA. Ons sal darem formidabel kan wees, ñ ware Afrika suksesstorie.

Dankie vir ñ weldeurdagte berig, dié tipe joernalistiek is deesdae in die minderheid.

Nico Boshoff ·

Ons leef in ‘n land waar regstellende aksie gebruik word om een deel van die bevolking te onderdruk want die regering weet dat ons ‘n ander waardes het as hulle. Dit is omgekeerde apartheid en vegelding, en as ek sê ek is trots om wit en Afrikaans te wees, is ek ‘n rassis en dan word apartheid in my gesig gegooi. Wit mense word uit alle dele van die samelewing uitgedruk ten toepassing van transformasie.
Ek het in die tagtigs ja gestem vir ‘n nuwe SA, maar nie vir die gemors waarin ons vandag leef nie.
Stem nie saam met dié verduideliking nie.

Rupert Ashford ·

Goed gestel Nico. Jou tweede laaste sin veral. Ek dink die ouens wat in die 80’s “ja” gestem het, het met hierdie “klim in die ander ou se vel en sien dinge vanuit sy perspektief” mentaliteit daardie kruisie getrek, en mens kan ook se meer as 50% van die nee-stemmers het saamgeloop in die positiewe gees waarmee die Nuwe SA aangepak is – ons WOU presies dit wat Leopold hier probeer se in plek stel. Net jammer die ouens aan die ander kant was toe nie geinteresseerd daarin om die “Afrika-suksesstorie” te bou nie, maar eerder net “nog ‘n Afrika staat” en dit is waarom baie van ons wat destyds welwillend was nou negatief is. Ons was dom, ons moes saam met Oom Constand aangedring het op ‘n klein Volkstaat wat vir ons ‘n agterdeur sou ooplaat as dinge verkeerd sou loop.

Piet ·

Ek stem nie saam nie. Die Afrikaaners is nie verantwoordelik vir apartheid nie, die Britte is. Die Afrikaaners aanvaar net verantwoordelikheid daarvoor omdat meeste mense nie die volle geskiedenis ken nie.

JJ ·

Goeie punte, goed gestel. Ek probeer my bes om die ander kant te sien. Ek weet baie slegte dinge het gedurende appartheid gebeur, dinge wat ons nie ongedaan kan maak nie ook nooit moet vergeet nie. Die beste ding wat ek nou probeer doen is om in vrede met my mede landgenote te probeer leef en hulle met respek te behandel. Ek wil ook terselftertyd met respek behandel word. Al vra ek elke dag verskoning vir die verlede sal dit geen verskil maak nie want sommige van my medelandgenote WIL in die verlede leef en hul seer lewend hou. Die Indier gemeentskap is ‘n goeie voorbeeld van mense wat hul geleenthede aangryp en vooruitbeweeg. Hulle sanik nie heeldag oor al die onregverdighede wat hulle voor 1994 moes verduur nie. Hulle kyk vorentoe, leer, werk hard en hou hul gemeenskappe in stand. Hulle het ook nog seer maar dit word nie aanhoudend aan die groot klok gehang en ander geblammeer vir als wat verkeerd is in hul lewens nie. Daar is wel swart en bruin wat ook soos ek voel, ons wil net in stilte aangaan en saam ons reenboog bou, vir ons kinders.

Dawie Greyling ·

Ek het geen probleem met hoe Morake voel nie. Waarmee ek wel n probleem het, is dat sy haar gevoel en opinie op openbare radio kwytgeraak het en haar werkgewer het heeltemal die verkeerde standpunt ingeneem. Dit mag nie. Dit voel vir my of die swartmense maar kan kwytraak op openbare media wat hulle wil, maar die wittes mag nie, dan is ons rassisties. Neem maar net die gevalle van Steve Hofmeyr en Darren Scott. Wat het Jacaranda FM aan hulle gedoen?

Reinhardt ·

Hiermee stem ek saam. Ek gee nie om wat Morake van witmense sê nie, dis haar opinie en sy mag een hê. En eerlikwaar ek gee nie om dat sy dit op n openbare platvorm uitgespreek het nie. Waarmee ek wel n probleem het is die dubbele standaarde soos jy dit tereg uitwys. Steve Hofmeyr, Darren Scott, Chris Hart… die lys gaan aan. Al daardie mense het of hule werk verloor of onomkeerbare skade aan hul loopbane beleef. Maar sy kan sê wat sy wil.

Ek dink ons almal kan saamstem dat ons soek net een enkele standaard. As sy kan sê wat sy wil oor ander rasse, dan moet ek dit ook kan doen. Indien nie, wel dan moet sy die pad loop van die res.

Witkop ·

Dis interessant om opinies van geaffekteerdes en benadeeldes van die apartheidsera te lees. Daarenteen is daar ook die benadeeldes van die post 1994 era waar grootskaalse vergrype die regeerdes verryk het ten koste van begunstigdes van apartheid maar veral ten koste van die breë bevolking en die armes van Suid Afrika. Die ironie is dat die ongeletterdes en bevooroordeeldes dit nie erken nie en steeds alle ongelykheid sien as die oorsaak van blankes. Hierdie is die aangeblaasde en propagandistiese maaksel van die huidige regering en politici as ontsnaproete vir hul onbevoegdhede, hul verdoeseling van korrupsie en selfverryking en onbevoegdheid. Op die oog af is dit filosfie en denkwyses wat redelik onskuldig gedebatter word maar die nare werklikheid is dat dit die brandstof is wat vernietiging van universiteite en noodsaaklike infastruktuur aanvuur. Dit blaas skreiende rassehaat aan met die polarisasie van ons bevolking. Die desperate magstryd van politici plaas so die nasie op die spel ter wille van politieke oorlewing. Nou word ‘n tradisioneel Afrikaanse radiostasie al gebruik vir hierdie doelwitte. Hierdie dametjie Tumi, wat heel duidelik die kolonialistiesenalatenskap aanhang as haar klere, voorkoms en taal die maatstaf sou wees, eien haar die reg toe om te vertel hoe benadeeld sy voel sonder om die gevoelens van werklose blankes in plakkerskampe in ag te neem, sonder om die gevoelens van die talle familie, vriende en dierbares van vermoorde boere in ag te neem. My versoek: Tumi, gaan google “plaasmoorde” en dan bedink jy die gevoelens van blankes in ons land.

Sebastiaan ·

Alles goed en wel, maar ook nie werklik iets nuuts nie. Swartmense is vir eeue verdruk, maar moet ook nou ‘n bietjie wys dat hulle verby dit kan kom. Die beste manier om respek by jou eertydse onderdrukker af te dwing is prestasie, Dit is baie meer effektief as die ewige gesaniek oor die onreg wat jou aangedoen is. Afrikaners is ook deur Engelse verag en verneder, maar het na 1948 gewys dat hulle die land tot nuwe hoogtes kan lei. Die Engelse Suid-Afrikaners het toe later by die Afrikaners ingeskakel en hulle leiding aanvaar (soos die groot getalle Engelse NP-ondersteuners gewys het). Ook die Jode het met Israel gewys dat hulle van ewig onderdrukte en verspreide volk die vlak van ‘n presterende, bewonderde, selfs gevreesde volk kon bereik. Afrikaners is gewillig om werklike prestasie te erken en daar is reeds respek vir Afrika-lande soos Rwanda en Botswana, wat werk.

Joe joubert ·

Ok ek hoor wat gese word en vashak soos n ou langspeel plaat . Vir hoeveel honderd jaar gaan daar nog geprobeer word om die plaat te laat speel
Dit is egter baie ongesond om versoening te bewerk stellig . Ek is vandag 66jr wat hulle apartyd noem het ek niks van geweet gedag alles moet so wees. Ek en die swart kinders het klei osse langs die spruite se walle gemaak. Klei lat gegooi voeltjies geskiet met die kettie Koeie opgepas in die vlei en dit gaan melk .Saam om die pappot elke een met n lepel in die ronte gesit en eet . Ons het nooit baklei nie lekker gespeel en
saam grootgeword . Laat bietjie daarna gekyk word alles en almal was nie soos daar vandag gekerm word oor nie !!!!!!

Paul ·

Leopold raak aan die kwessie waaroor ek ernstig wonder – in hierdie analogie van ‘n boelie en ‘n kind met ‘n fiets, wat presies word deur die fiets voorgestel? Wat is dit presies wat gesteel is? Onnadenkende antwoorde mag wees grond, huise, geleerdheid, besighede , ens. MAAR hier is die praktiese waarheid: In die verlede het wit mense wel die geleentheid gehad om lg. dinge te bekom, terwyl swart mense nie toegang hiertoe verleen is nie, maar as wit mens moes jy (en moet jy steeds) jou huis koop – dis nie verniet vir jou gegee deur die regering nie; jy moes betaal om te kan kan studeer by ‘n universiteit jy moes jare terugwerk daarvoor, as jy ‘n beurs gehad het – ‘n graad is nie net aan jou uitgedeel nie; besighede is opgebou met harde werk en kundigheid – dis nie net entiteite wat geskep is met gepaardgaande posisies (jobs) wat uitgedeel is en wat toe met belastingbetalers se geld gevoed is, sonder dat dit self ‘n uitset gelewer het nie – daar is verwag van Eskom en Yskor om welvaart te skep en regtig iets vir die land se ekonomie te beteken.
Dus — my vraag bly: Wat word deur die gesteelde fiets verteenwoordig? Die feit dat ek moes hard werk om geld te spaar om my eie fiets te koop, maar dat Tumi nie toegelaat is in ‘n fietswinkel om ‘n fiets te koop nie, maak nie van my ‘n boelie of dief nie! Onakkurate analogie!

theo ·

Ai Paul jou antwoord is baie goed gestel en dit laat my dink dat haar ouers vir haar n verhaal vertel het en dit so opgeblaas omdat hulle weer dit by ander gehoor het en so het elkeen sy stertjie aangelas, daar sit sy met haar eie gedagtes en vergeet van “In die proses wys Buys op die ANC se ondersteuning van die kommunisme voor 1990, dat die beweging “ook nie destyds geveg (het) vir ’n grondwetlike demokrasie, menseregte en vrye ekonomie nie.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.