Moraliteit is aan die staat uitgekontrakteer – Ons moet dit terugneem

(Foto: Wikimedia Commons)

Slaan die koerante oop of lees op nuuswebblaaie. Mense is kwaad, nee, mense is woedend. Nóg ʼn moord. Nóg ʼn verkragting, nóg kinders in die Kaapse Vlakte wat waarskynlik gemolesteer en vermoor is. Nóg staatsinstellings wat nie die mas opkom nie, nóg ʼn makelaar wat sy kliënte bedrieg, nóg munisipaliteite wat onder administrasie geplaas word, nóg miljoene waarvan ʼn staatsdepartement nie rekenskap kan gee nie. Ja, nóg ʼn plaasaanval, nóg beurtkrag, nóg padwoede, nóg ʼn kommissie en net nóg meer beloftes van politici en veral van die regering om al die voorafgaande die hoof te bied.

Ons bedryf nou ʼn nuwe soort woedepolitiek. Daar is woede oor nog meer werkloosheid, nog kampusse wat brand, nog ʼn staatsrede wat ontwrig is. Daar is woede omdat die regering strompel van die een skandaal na die ander, van een verleentheid na die ander. Daar is woede oor swak en gebrekkige leierskap. Daar is woede oor die uitgestelde kostes vir belastingbetalers in die onlangse begroting. Daar is woede oor ons ekonomie wat nie wil groei nie en omdat die regte en basiese goed nie gedoen word om dit te laat groei nie.

Daar is woede teen politici en trogvretende kaders wat die staatsfiskus as persoonlike tellermasjiene gebruik met geen rekenskap en aanspreeklikheid nie. Daar is woede omdat ministers mekaar oortref met die duurste motors en die meeste persoonlike beskerming in ʼn land wat dit nie kan bekostig nie. Daar is woede oor luukse buitelandse reise vir politici se gades en personeel wat sommer familie ook is. Daar is algemene woede oor ʼn handjievol mense wat hulself buite verhouding bevoordeel terwyl armoede floreer en die meeste mense se lewenstandaard onveranderd gebly of gedaal het. Daar is woede oor rassisme en gewaande rassisme.

Dit alles getuig van ʼn Suid-Afrika wat sy morele koers verloor het. Nêrens is dit beter gedemonstreer as in die onlangse staatsrede nie. Die EFF het gewys dat geen waardestelsel meer geldig is nie, selfs nie eens in die parlement nie. Geen respek vir ouderdom, gesag, geslag, amp of persoon nie. Geen dissipline in optrede en uitsprake nie. Geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir optrede of aksies nie. Dit alles getuig van ʼn land wat mank gaan aan moraliteit.

Net soos soveel ander goedbedoelde inisiatiewe, maar gebrekkige uitvoering, was daar reeds in Junie 1997 die gedagte aan ’n Morele Herlewingsbeweging. Dit het gespruit uit ‘n vergadering tussen die voormalige president, Nelson Mandela, sleutelleiers in die Suid-Afrikaanse geloofsorganisasies, en instansies uit die burgerlike samelewing. As deel van nasiebou moes waardes soos verantwoordelikheid en aanspreeklikheid, eerlikheid en integriteit, billikheid en gelykheid, respek en verdraagsaamheid en omgewingsbewustheid dan bevorder word. Tot sover die goeie bedoeling.

Maar waar het die bedoeling dan die probleem geword? Omdat die regering die inisiatief in 2002 onder sy vaandel geneem het en die eerste beskermheer die destydse adjunkpresident Jacob Zuma was. Die vaandeldraer vir die nuwe moraliteitsbeweging wat die regering geïnisieer is einste Jacob Zuma wat vandag nog op 783 beskuldigings van omkopery, geldwassery en korrupsie in die hof moet verskyn en een van die sleutelspelers agter staatskaping was. Hy moes Suid-Afrika se voorste voorbeeld van moraliteit gewees het. Dit het eerder ʼn geval van staats- en moraliteitskaping geword.

In een van sy toesprake by die Moraliteitsbeweging het Zuma beklemtoon dat Suid-Afrikaners hoogs morele wesens is wat die verskil tussen reg en verkeerd ken en wat diep ontsteld is oor die simptome van morele verval in ons land. Wolf word skaapwagter in die proses.

In 2010 skryf die Independent Online dat die departement van kuns en kultuur onder wie die Morele Herlewingsbeweging val, nie rekenskap aan die parlement kan gee van sowat R22 miljoen wat sedert 2002 deur die regering ingepomp is in die beweging nie, want die boeke is nooit geoudit nie. Ons kan vandag ons eie afleidings maak. Die departement kon in daardie stadium ook geen aanduiding gee van die impak wat dit gehad het op morele kwessies in Suid-Afrika nie. Vandag probeer ons elke dag oorleef as gevolg van die absolute versuim.

Die groter tragedie is dat die Morele Herlewingsbeweging vandag nog bestaan. ʼn Mens kan nie kwalik geneem word as niemand bewus is van die bestaan van dié beweging nie. ’n Soektog na aktiwiteite het wel bevestig dat adj.pres. David Mabuza tans optree as beskermheer van die Morele Herlewingsbeweging en dat hy op ʼn konferensie van die beweging op 7 en 8 November 2019 in Benoni gesê het, “Die nasie moet saamwerk sodat elke burger en inwoner geïnspireer kan word tot ‘n heropbou- en ontwikkelingsprogram van die siel”. Dit is nou dieselfde Mabuza uit Mpumalanga oor wie daar baie fluisteringe is van selfverryking in die provinsie. Hy is ons vaandeldraer van die klug van moraliteit in Suid-Afrika.

Rabbi Lord Jonathan Sacks skryf in 2016 hieroor en sê met verwysing na Brittanje is moraliteit aan die mark uitgekontrakteer. “Die mark stel aan ons keuses, en moraliteit is tot ‘n stel keuses ingekort, reg en verkeerd. Daar sit te veel mense in openbare vertrouensposisies wat van mening is dat as mens met iets kan wegkom, jy ʼn stommerik sal wees om dit nie te doen nie. Dit is hoe die elite die publiek wat hulle veronderstel is om te dien, verraai het. Wanneer dit gebeur, tuimel vertroue ineen en ʼn beskawing begin om te verrot en te sterf.”

Vanuit ʼn Britse perspektief skryf hy dan: “As ons die proses wil omkeer vanaf krisis na geleentheid, moet ons weer die middelpunt van ons godsdienstige en burgerlike tradisies herwin, naamlik dat die samelewing uit gedeelde ideale geweef is. Moreel versterk kan ons besighede bou wat gemeenskappe versterk.”

Hoeveel te meer is dit nie op Suid-Afrika van toepassing in 2020 nie. In ons geval is moraliteit letterlik en figuurlik aan die staat uitgekontrakteer en vanuit ons perspektief is die herlewing en bevordering van moraliteit en ʼn waardegedrewe samelewing, die volle verantwoordelikheid van die staat. Dit is ʼn fout wat reggestel moet word en dit is dié een kontrak wat onmiddellik opgeskort moet word. Ons bittere ervaring het ons geleer dat die staat, die regering en politici die laaste mense is wat met moraliteit vertrou kan word, al spreek hulle mekaar aan as agbare lede.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Dankie vir die stuk waarheid hieroor
Morality= Decency, ethics, honesty civility
Integrity=honesty, veracity, truthfulness, reliability
Sincere and Devout = Genuine, frank, staunch. Sê die woordeoek

Daar is mense wat al hierdie in hulle dra en laat voortleef. Miskien moet die sielkundiges ‘n moraliteit vraelys opstel vir elke liewe burger. ‘n Meriete meting met ‘n uitslag in ‘n punt. Skuldig aan misdaad is al een goeie meting. jou punt kan elektronies op jou id kaart kom. Om bv gelees te word as jy aansoek doen vir werk.

Vrystater ·

Baie belangrike kommentaar wat jy lewer, Jan. Baie dankie.
Sover ek kon vasstel, praat ons Grondwet net op een plek van moraliteit. Dit is in Art. 28, waar dit sê dat ‘n kind se morele ontwikkeling nie in gevaar gestel mag word nie.
Ongelukkig sê die Grondwet nêrens dat die President, ministers, politici, staatsamptenare, ens. moreel korrek moet optree nie. Dit sê ook nie wat hulle of ons land, of ‘n kind, se morele beginsels is, of moet wees nie.
‘n Uitgeslape magshebber en diktator soos Julius Caesar het homself gou as die Prefek van Moraliteit aangestel. Dws. sensor van alles wat na sy mening nie polities korrek was nie, of sy magsposisie kon bedreig.
Sover die ANC betref, bepaal politieke korrektheid, restitusie en “transformasie” die grense van hulle en die land se moraliteit. Daaronder kan hulle selfs korrupsie en grondgrype regverdig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.