Morné Steyn se selfvertroue geknak

South Africa v British & Irish Lions - 2nd TestNiks nuut die naweek nie! Die kampioenskapsreeks het na verwagting verloop. Die All Blacks was egter ryp om gepluk te word en die Bokke kon dit nie doen nie.

Die Bokvoorspelers het die oorhand gehad, maar Morné Steyn is die kluts kwyt. Sy taktiese skopwerk was baie effentjies en sy skopwerk pale toe, was pateties. Dat Heyneke Meyer hom nie vroeër vervang het nie, plaas ook ʼn vraagteken oor sy strategie.

Om 15 punte met swak skopwerk pale toe weg te gooi en die wedstryd met 21 punte teenoor 11 te verloor, vertel die hele tragiese verhaal.

Soos verlede naweek het Johan Goosen ʼn verskil gemaak toe hy op die veld verskyn het. Om te verwag dat hy die wedstryd moes swaai, is net te veel gevra vir ʼn man wat in sy tweede wedstryd as plaasvervanger op die veld gedraf het. Daar was egter ʼn merkbare verskil toe die jongeling op die veld verskyn.

Verstaan my nie verkeerd nie, ek dink dat Morné ʼn briljante losskakel is, maar dit is ook so dat sy spelpeil verswak het. Gee hom die geleentheid om sy normale spelpeil op Curriebeker-vlak te herwin en hy kan nog ʼn groot rol in toekomstige Springbok-rugby speel.

Om hom nou weekliks aan al die negatiewe kritiek bloot te stel, sal sy selfvertroue, wat reeds ʼn knou weg het, nog meer skade aandoen.

Dit moet ook ʼn negatiewe uitwerking op die ander spelers in die Bok-span hê.

Almal weet dat hy swak speel en om met hom vol te hou, sal die spelers in twee kampe verdeel en as jy nog ʼn gesonde skep provinsialisme bygooi, sal dit die situasie in die span net meer gespanne maak.

Stel Morné nou vry om Curriebeker-rugby te gaan speel en begin die volgende wedstryd met Johan Goosen op losskakel.

Dit sal hopelik die hele situasie positief verander.

In die tweede wedstryd het die Pumas byna vir ʼn verrassing gesorg deur lank teen die Aussies voor te loop. Bygesê, die Aussies het die een dom fout na die ander gemaak en die Pumas het die situasie uitgebuit. Dit was egter duidelik dat as die Aussies net die foute kon uitskakel, hulle die wedstryd sou kon draai, wat toe ook gebeur het. Die Pumas gaan beslis nog vir ʼn verrassing sorg voordat die kampioenskapsreeks verby is.

Die Leeus is medevoorloper in die Curriebeker-reeks saam met die Sharks en die wedstryde is in totaal verskillende omstandighede gespeel. Dit het natuurlik ook gehelp dat die Sharks in ʼn stadium teen 12 WP-spelers gespeel het.

Allister Coetzee sal seker wonder wat verkeerd geloop het, want as dit ʼn tendens begin word, is die WP weer bekerloos aan die einde van die seisoen.

Die wedstryd in Durban het my nogal laat dink aan die semi-finaal teen die Franse in 1995 toe Francois Pienaar-hulle ook in sulke omstandighede die Franse om ʼn plek in die 1995-wêreldbeker finaal geklop het.

Om oor die Bulle te skryf is ʼn teer puntjie, maar hulle verdien om die laaste plek op die Curriebeker-log in te neem. Die Bulle het vergeet dat ʼn rugbywedstryd twee belangrike elemente bevat, naamlik aanval (wat hulle goed doen) en verdediging (wat hulle glad nie doen nie). Daardeur wil ek nie die Griekwas aftakel nie, want hulle het skitterende rugby gespeel.

Ons sal maar wag en sien wat volgende week gebeur.

Rugbygroete uit die Bosveld tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.