Mosambiek aan flarde

Deur Handré Brand

‘n Rwandese soldaat op patrollie naby Palma, in Cabo Delgado in Mosambiek. Die soldate vorm deel van die SAOG se ingrypingsmag in die land. Die streek loop deur onder terreur. (Foto: Simon Wohlfahrt/AFP)

Oor die afgelope sewe jaar is Mosambiek vasgevang in ʼn bloedige djihadistiese-opstand waarin meer as 6 000 mense gesterf het en meer as ʼn miljoen ander ontheem is. Die opstand in die noordoostelike deel van hierdie uitgestrekte voormalige Portugese kolonie het die Maputo-administrasie uitermate verras en in ʼn sekere sin onkant gevang.

Wat is die oorsake van hierdie djihadiste opstand? Wat is die doel daarvan? Wat het die verhouding behels tussen Moslemburgerlikes en die staat oor die jare heen en kon dit bygedra het tot die huidige opstand? Beweeg Moslems in Mosambiek geleidelik na ʼn djihad sedert die land sy onafhanklikheid van Portugal in 1975 gekry het? Is daar enige verband tussen hierdie opstand en ander Islamitiese djihadistiese-opstande in ander dele van Afrika en die wêreld?

Op 31 Maart 2020 wys Alex Vines in die Mail & Guardian daarop dat aanvalle in die noordelike Mosambiekse provinsie, Cabo Delgado deur djihadiste, wat met die Islamitiese Staat geaffilieer is, uitgevoer word. Tydens die aanval op Quissanga is 30 lede van die Mosambiekse veiligheidsmagte gedood. Die vlag van die Islamitiese staat is tydens hierdie aanval vertoon. Reeds in 2017 was die dorp vir ʼn kort periode beset deur Ahlu Sunnah Wa-Jama (of al-Sunnah), wat die begin van die terreuraanvalle ingelui het. Sedertdien het die militantes se selfvertroue toegeneem. Die Mosambiekse veiligheidsmagte se moreel is laag en hul aptyt vir gewapende konfrontasie ontbreek. Die verliese in Mocimboa da Praia en Quissanga het die troepe gedemoraliseer.

Matsinhe en Valoi, navorsers van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), bied ʼn opsomming van die feitelike situasie in Mosambiek op grond van ʼn navorsingsprojek wat deur die ISS onderneem is. Die aanvalle word gerig op die armste gemeenskappe in Mosambiek. Dit is hoofsaaklik plaaslike jeugdiges wat ʼn alternatiewe vorm van die Islamitiese geloof bedryf. Die plaaslike imams verwerp hierdie nuwe vorm van ekstremisme en het die betrokke jeugdiges uit die moskees verban. Aanvanklik het die Mosambiekse regering die toenemende radikalisering geïgnoreer, maar het met verloop van tyd met militêre ingryping gereageer om die opstand te onderdruk.

Soldate patrolleer die kusgebeid by Mocimboa in Mosambiek waar terreurgroepe ‘n skrikbewind voer. (Foto: Simon Wohlfahrt/AFP)

Die plaaslike bevolking beweer dat infiltrasie oorgrens met Tanzanië plaasvind en dat al-Shabaab die Mosambiekse jeug radikaliseer. Armoede, swak geletterdheid en min of geen dienslewering skep ʼn bevorderlike teelaarde vir ekstremisme. Die jeug beweer dat werksgeleenthede in die nabygeleë natuurlike gas-bedryf aan mense van ander provinsies, en veral van Maputo, toegeken word.

Die volgende aksies is deur die ISS aanbeveel: Die Mosambiekse regering behoort doelmatig in plaaslike infrastruktuur te belê; die inwoners van Cabo Delgado en Quissanga (wat as vergete provinsies bestempel word) behoort by die res van die bevolking geïntegreer te word; belê in die onderwys; diversifiseer die ekonomie om ekonomiese, politieke en sosiale uitsluiting te voorkom; verklaar ʼn amptelike noodtoestand; en laastens dat die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-Unie ʼn weldeurdagte beleid opstel en implementeer om ekstremistiese geweld in die streek te voorkom.

Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap

Op 23 Junie 2021, ná maande se samesprekings tussen politieke rolspelers in Suider-Afrika, is besluit om ʼn multinasionale SAOG-bystandsmag, amptelik bekend as die SADC Mission in Mozambique (SAMIM), in Cabo Delgado te ontplooi met die doel om terrorisme en geweldpleging wat uit gewelddadige ekstremisme voortspruit, te beveg.

Die SAMIM-inisiatief het ondanks die positiewe politieke uitsprake deur die SAOG staats- en regeringshoofde, ongelukkig ernstig te kortgeskiet wat betref die nodige personeel, toerusting en vaardighede om enigsins ʼn beduidende impak op Ansar al-Sunna te maak.

Die probleme in die provinsie op sosio-ekonomiese vlak (soos voorheen deur die Instituut vir Sekerheidstudies beklemtoon is) het ook geen noemenswaardige aandag ontvang nie. Van welslae in ʼn teeninsurgensieverband was daar weinig, indien enige, sprake. Wat hier as besonder problematies uitgelig kan word, is dat ʼn oorwegend militêre benadering in die teeninsurgensie-operasies gevolg is en dat die sosio-ekonomiese knelpunte in Cabo Delgado nie die nodige aandag gekry het nie.

Tydelike skuilings in Palma in Cabo Delgado, Mosambiek. Duisende mense is ontwortel en talle ander het gesterf in die vlaag aanvalle. (Foto: Grant Lee Neuenburg/WFP/AFP)

Dit is belangrik om te beklemtoon dat Suid-Afrika se betrokkenheid in Mosambiek primêr ʼn streekspoging is (Adebayo 2023) om die verspreiding van terrorisme in die SAOG-streek te stuit. Suid-Afrika is nie die enigste hoofrolspeler in die onderneming nie. Dit is egter ook uiters belangrik om te besef dat Suid-Afrika beslis die meeste het om te verloor (onder andere finansieel en potensiële ongevalle) as die konflik in Mosambiek na ander aanliggende state lande in die streek sou sneeubal.

Terrorism Research & Analysis Consortium (TRAC)

Volgens TRAC (2024) is daar tans weereens ʼn duidelike eskalasie waarneembaar in die Islamitiese Staat se aktiwiteite in Cabo Delgado. Dit blyk duidelik uit onlangse gebeure. Die Islamitiese Staat Sentrale Beheer het op 17 Februarie 2024 ʼn fotoreeks vrygestel wat die teregstelling uitbeeld van die wyse waarop drie inwoners van die dorpie Magaia in die Chiure-distrik, onthoof word. Verskeie aanvalle op Christelike burgerlikes en ander Christelike teikens is in dieselfde area aangemeld, wat op ʼn onmiskenbare doelmatige patroon in die aanvalle dui.

Die Islamitiese Staat Mosambiek (ISM) se huidige fokus op die Chiure-distrik is van besondere belang, aangesien intense aanvalle deur die ISM tradisioneel nie daar voorgekom het nie. Hierdie eskalasie van geweld het gelei tot ʼn massa-uittog van plaaslike Christene. Die implikasies vir die Mosambiekse owerhede is ingrypend, aangesien die bekende Franse maatskappy Total Energies die opskorting oorweeg van hul pogings om die gasproduksie in die provinsie te herstel, weens ʼn oplewing in ISM-terrorisme. Die moontlikheid dat Italiaanse en Amerikaanse maatskappye hul voorbeeld kan volg, is nie uitgesluit nie en hierdie moontlikhede hou ʼn ernstige ekonomiese bedreiging in vir Mosambiek wat reeds worstel met langdurige botsende groeperinge.

‘n Kind speel in ‘n straatjie in Paquitequete, naby Pemba. Seilbote het tientalle mense uit die Palma-omgewing na die geweld hierheen gebring. (Foto: Alfredo Zuniga/AFP)

Om die krisis te vererger, het die Mosambiekse gewapende magte, met ʼn geskiedenis van onsuksesvolle pogings om die plaaslike Moslem-bevolking doeltreffend te beskerm, tans ʼn defensiewe en passiewe houding ingeneem. Daar is ʼn merkbare afwesigheid van teenoffensiewe of daadwerklike pogings om “verlore” dorpies onder IMS-beheer terug te neem. In verskeie distrikte reageer die weermag geensins op propaganda en beriggewing deur die ISM nie. Moontlike botsings word opvallend vermy.

Hierdie toedrag van sake wek paniek en wanhoop onder die Christenbevolking in die provinsie. Hulle word in der waarheid geïsoleerd en totaal onbeskermd gelaat te midde van die Islamitiese bedreiging. Hierdie nuwe vlaag aanvalle kan moontlik daartoe aanleiding gee dat die SAOG-sending oorweeg om totaal te onttrek uit Mosambiek. Hulle huidige teenwoordigheid het in elk geval uiters min bygedra het om die uitgebreide aanvalle te stop.

Samevattend

Vanuit ʼn internasionale perspektief gesien oorskadu die oorloë in Gaza, Soedan en Oekraïne die huidige konflik in Mosambiek in ʼn groot mate, met die gevolg dat verhoudingsgewys veel minder oor die Mosambiek-infiltrasie gepubliseer word. Ten spyte hiervan beskik Ansar al-Sunnah (in wese die ISM) egter wel oor die potensiaal om met verloop van tyd in ʼn uiters effektiewe terroriste-organisasie te ontwikkel wat groot skade kan aanrig en wydverspreide trauma kan meebring. Die eskalasie van die konflik is dus ʼn sterk moontlikheid.

Die oorspoel-effek na Zimbabwe, Zambië, Malawi en Suid-Afrika kan nie uitgesluit word nie. Mosambiek is ʼn aangrensende staat aan Suid-Afrika, dus is moontlike insurgensie vir Suid-Afrika van besondere belang. In aansluiting hierby kan die vraag gestel word in watter mate ISIS en die Islamitiese Staat Mosambiek morele (en moontlik ook andersoortige) steun uit Suid-Afrika ontvang?

Bronne

Adebayo JO.2023. South Africa’s military deployment to northern Mozambique: Lessons from the United States of America’s (mis)adventure in Afghanistan. Scientia Militaria, 51 (1): 25-43 DOI: 10.5787/51-1-1404 1404-Article Text-3884-2-10-20230703 (1).pdf(Review) – Adobe cloud storage

Terrorism Research & Analysis Consortium (TRAC).2024. Weekly Analyst Briefing, 21 Februarie.

Vines, A. 2020. The insurgency in Northern Mozambique has got worse. Why? Mail & Guardian, 31 Maart.https://mg.co.za/article/2020-03-31-the-insurgency-in-northern-mozambique-has-got-worse-why/

Matsinhe, DM en E Valoi. 2019.The genesis of insurgency in Northern Mozambique. Pretoria: Institute for Security Studies. https://issafrica.s3.amazonaws.com/site/uploads/sar-27.pdf

  • Handré Brand is ʼn afgetrede voorligtingsielkundige.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sokrates ·

Dankie vir n uitstekende artikel wat helder en luid n waarskuwende blik werp op die ISIS gevaar in ons nabye buurland, en waarskynlik vorentoe vir SA…….dit is ongemaklike “food for thought”, gegewe waar die sentimente van ons regering lê….

Republikein in die Wes Kaap ·

SA steun groepe wat noue bande met ISIS het. Nog erger, daar word lankal bespiegel dat die opbrengs van aanvalle op sekuriteitsvoertuie deur ons banke gewas en dan aan ISIS beskikbaar gestel word. Ons veilge wêreldtjie hier is op sy kop gedraai.

Amelia ·

Ons sal moet baie ernstige aandag skenk aan hierdie probleem. Hoe meer ons land agteruitgaan en verarm, hoe meer loop ons self die gevaar om slagoffers van hierdie Islamisering te word. Ek wonder net waarom plaaslike imams dit as ‘n nuwe vorm van ekstremisme bestempel. Dit is immers op hierdie selfde gewelddadige manier dat Noord-Afrika, die Midde-Ooste, dele van Oos-Europa en Asië verIslamiseer is.

Marthinus W ·

Die mens verkies gemaklike leuens bo ongemaklike waarhede. Studies in Amerika toon baie duidelik dat dit die CIA was wat IS, Osama bin Laden, ens geskep, opgelei, het, selfs tans gebruik. Solank as wat daar Amerikaanse militere basisse regoor die wereld is [tans meer as 750] om die Amerikaanse imperium in stand te hou, sal terroristegroepe soos IS aanhou bestaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.