Mosambiek: gaan die pôpô die fên tref?

 

Mosabiek-kaart

Mosambiek se provinsies. Grafika: Erkenning aan www.dholmes.com en @ghiapereira.

Alfonso Dhlakama, die 63-jarige leier van die Mosambiekse opposisieparty, Renamo, dreig hy gaan in Maart 2016 ses van die sewe noordelike provinsies se regerings oorneem. Die ses provinsies, Njassa, Nampula, Zambezia, Tête, Manica en Sofala is tradisioneel sterk Renamo-gebiede. Dhlakama se dreigement is nie ʼn geïsoleerde voorval nie.

Die nuutste dreigement volg nadat Dhlakama en sy gevolg in September 2015 in die Manica provinsie deur regeringstroepe aangeval is. Dis nie heeltemal seker wat die rede was nie. Dhlakama beweer dit was ʼn sluipmoordaanval en die Mosambiekse regering dui aan Dhlakama se lyfwagte het op ʼn minibus taxi losgebrand. Hoe dit ook al sy, 23 mense is in die aanval dood. Dhlakama is daarna vir ʼn rukkie onder huisarres geplaas by sy woning naby die hawestad Beira. Dhlakama beweer die Mosambiekse president, Felipe Nyusi, wil graag eens en vir altyd vir Renamo as politieke opposisie uitwis.

Dhlakama het rede tot ongelukkigheid. Mosambiek het die laaste paar jaar teen ʼn ongelooflike pas gegroei nadat die jarelange burgeroorlog tussen die regerende Frelimo en Renamo amptelik tot ʼn einde gekom het in 1992. Renamo is egter grootliks uitgesluit uit die welvarende kontrakte wat die Frelimo-regering met buitelandse maatskappy gesluit het. Groot hoeveelhede gas is aan die Mosambiekse kus ontdek, veral naby Beira en die Inhambane-provinsie. Dan blyk dit dat die noordwestelike Tête-provinsie oor astronomiese hoeveelhede steenkool beskik. Mynlisensies is links en regs uitgereik en Tête is nou basies een groot mynhoop.

Die Frelimo amptenare, ministers en voormalige presidente en hul uitgebreide families lag al die pad bank toe, terwyl Mosambiek ontgin word. Dit is egter nou eers die begin. Die groot gasvelde word nog ontwikkel teen $100 miljard en wanneer gas op groot maat gelewer word, gaan die nomenklatoera (die term verwys na die Sowjet-Unie-era toe ʼn klein groep kommunisteparty- administrateurs, regeringsamptenare en ander in sleutelposisies alle vertakkings van die openbare lewe en die ekonomie beheer het)  fabelagtig ryk word. Soos in die meeste Afrikalande, ten koste van hul armlastige bevolkings, waarvan ʼn groot hoeveelheid reeds in Suid-Afrika nesgeskop het weens jarelange armoede en korrupsie.

Dhlakama was veral ongelukkig oor beweerde verkiesingsbedrog na die presidensiële verkiesing van 2014, waarin Nyusi met ʼn meerderheid van 57% teenoor Dhlakama se 36% stemme gewen het. Dit is wel waar dat Frelimo se grootste steun in die suide rondom die dig bevolkte Maputo lê, maar soos in ander Suider-Afrika state waar sogenaamde “rewolusionêre” partye die bewind oorgeneem het, blyk dit onmoontlik te wees vir die opposisie om demokratiese verkiesings te wen. “Rewolusionêre” partye is, ten spyte van swak regering en grootskaalse korrupsie, reeds dekades lank aan bewind in Angola, Zimbabwe, Namibië, Mosambiek en Suid-Afrika. Ten spyte van klagtes deur opposisie partye, soos Renamo in Mosambiek oor verkiesingsbedrog, stel die internasionale gemeenskap meer belang in Mosambiek se natuurlike grondstowwe as demokratiese beginsels.

Dhlakama het in 5 van die 6 provinsies waarin  hy nou beheer wil uitoefen, ʼn meerderheid stemme gekry. Hy het dus ʼn aanspraak ten spyte van die ongrondwetlikheid van sy eise.

Die vraag is natuurlik of die pôpô nou die fên gaan tref in Mosambiek? Ons het reeds voorheen hierdie fliek gesien: in 2013 het konflik tussen Renamo en regeringsmagte uitgebreek en na beperkte gevegte, het Dhlakama en die destydse president, Armando Guebuza, in 2014 ʼn vredesooreenkoms voor die verkiesing bereik. Die situasie was dus drie jaar gelede dieselfde: daar was groot vrese dat ʼn oorlog sou uitbreek en Suider-Afrika weer in onstabiliteit dompel.

Die rede waarkom grootskaalse konflik nie uitgebreek het nie, is deels omdat Renamo nie meer oor die organisatoriese militêre mag en natuurlik wapens beskik wat hulle in die 1980’s so ʼn effektiewe rebellemag gemaak het nie. Renamo het natuurlik ook gehoop Guebuza sou die noordelike provinsies meer outonomie gee en ʼn sê in toekomstige ontwikkeling van grondstowwe en die nuutgevonde rykdom sou deel. Hy het ook gehoop op ʼn regering van nasionale eenheid na die 2014-verkiesings. Dit het nooit gebeur nie.

Die situasie is dus nou meer gespanne. Dhlakama besef dat Frelimo nie belangstel om mag te deel nie en nog minder die skatte onder Mosambiek se aardoppervlakte. Dhlakama is in ʼn hoek vasgedruk en die regering het reeds begin met operasies teen “ongewenste elemente” wat sedert die aanval teen Dhlakama toeneem. Renamo ondersteuners word ongetwyfeld geteiken en etlike moes al uit hul huise vlug na regerings operasies. Dhlakama mag besluit om ten spyte van sy uitgedunde en grootliks swak bewapende magte, die noordelike provinsies oor te neem (dit sal seker ʼn “provinsiale” staatsgreep wees) en Frelimo dan dwing om gewapende geweld te gebruik om die nuwe regerings te ontsetel.

Geweld kan die internasionale gemeenskap laat optree, aangesien miljarde dollars se beleggings in die gedrang kan kom. Dhlakama hoop moontlik die beleggers gaan aandring daarop dat Renamo se leierskap ook deel in die rykdom om die vrede te bewaar. Nie Dhlakama (weens ʼn verswakte troepemag) of die Mosambiekse regering (weens moontlike onttrekking van internasionale maatskappye se beleggings) kan regtig ʼn grootskaalse, uitgebreide oorlog bekostig nie.

Dit kan dus voorsien word dat as Dhlakama sy lewe (letterlik) op die spel plaas en die plaaslike regerings oorneem, ʼn kortstondige konflik sal uitbreek wat tot politieke onderhandelinge en inmenging deur Afrikaleiers sal lei wat die strydende partye na lang onderhandelinge een of ander ooreenkoms oor herverdeling kan laat bereik. Tyd sal leer of Dhlakama, wat al sedert die 1980’s oorleef, die berekende risiko sal neem en of Renamo nie in die proses deur regeringstroepe vernietig sal word nie.

Wat beteken dit dus vir Suid-Afrikaners? Suid-Afrika is nou polities en ekonomies ten volle deel van veral Suidelike Afrika en enige burgeroorlog sal Suid-Afrikaners raak. Vakansiegangers sal Mosambiek dalk vir ʼn jaar of wat moet vermy as konflik uitbreek totdat vredesamesprekings in alle erns begin. Aangesien die meeste konflik eerder tot die noordelike provinsies beperk sal wees omdat die regering van Nyusi die provinsiale rebelle regerings sal moet stuit, gaan die Suid-Afrikaanse vakansie-ontwikkelings en -ondernemings eerder indirek geraak word. Nietemin is ʼn oorlogsituasie nie bevorderlik vir sake of toerisme nie.

Tête gaan dalk erger geraak word. Heelwat Suid-Afrikaners is daar betrokke by mynbedrywighede en sal eers tydelik moet halt roep. Daar is ook heelwat SA maatskappye betrokke wat baie het om te verloor en dus sal die impak van enige konflik ʼn impak hê op Suid-Afrika. Die ander kwessie is natuurlik dat die armer Mosambiekers, wat pas vir die eerste keer sedert die Portugese die land in 1975 verlaat het in hul eie land begin werk kry, skielik weer na Suid-Afrika sal stroom om onstabiliteit en gevolglike werkloosheid die hoof te bied. Ons weet almal grense en drade hou nie ekonomiese vlugtelinge en hul maatjies uit Suid-Afrika nie.

Nietemin word gehoop dat Dhlakama die risiko’s sal ag as te groot, ten spyte van sy sterk aanspraak om Renamo deel te maak van die herverdeling in Mosambiek. Hopelik sal Nyusi insien dat meer outonomie in die noordelike provinsies konflik sal vermy. Die nuutste onstabiliteit volg ironies net maande nadat Mosambiek trots aangekondig het alle landmyne is nou uit Mosambiek verwyder, 24 jaar na die burgeroorlog wat van 1977 tot 1992 geduur het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

2 Kommentare

Henry ·

Die Renamo paw-paw is pitloos.
Die pitte wat voor 1994 deur die Suid Afrikaanse regering verskaf is en sedertdien gestaak is, het laaaank gelede reeds die einde van Dhlakama se kortstondige en beperkte politieke en militëre mag beteken.
Sedert die politieke omwentelinge in Suid Afrika en voormalige Rhodesië, het Renamo geen buitelandse steun geniet nie. Die kortstondige hulp wat hulle vanaf Malawi se Banda-bewind en Kenia se Arap Moi-regering ontvang het, het ondertussen verdwyn.
Soos UNITA en oorle’ Savimbi in Angola, is Renamo en Dhlakama in Mosambiek weinig meer as ‘n ‘spent force’.
Dat hulle die toerisme bedryf in Mosambiek mag bedreig met allerlei trieks, is moontlik maar waarskynlik kortstondig.
Frelimo sal met die hulp van al die invloedryke buitelandse beleggers, ongenadiglik op die oorblywende bosvegters toesak om hul onderskei belange te beskerm.
Daar bestaan geen moontlikheid dat Frelimo hul ondergrondse rykdomme sal prysgee om Dhlakama ter wille te wees, of om sy geldlus te bevredig nie. Renamo het ook deur die jare heen berugtheid verwerf vir die wrede wyse waarop hulle die plaaslike bevolking onderwerp het. Hulle het selfs Frelimo se wandade oortref, wat verder verseker dat hulle nie op enige buitelandse steun sal kan staatmaak nie.
Is maar hoe dit is…

Henry ·

Ek het my poging om 1205 gestuur. Sal interessant wees om te sien hoelank dit neem om vas tre stel dat ek nie vloek, persoonlike aanvalle, rassistiese uitsprake ens ens nie. Weet ook nie of hierdie ene aanvaar sal word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.