Moslems hou geen eksistensiële gevaar in vir Europa

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Om hul eie identiteit te behou teenoor ’n groot meerderheid, was nog altyd vir minderhede – etnies en/of religieus gedefinieer – ’n groot probleem. In Suid-Afrika is dit veral die geval vir die Afrikaners, die Afrikaanssprekendes (wit en bruin) en wit mense in die algemeen.

In Europa is daar tans ’n ontwikkeling wat lig kan werp op dié vraagstuk, al is dit ook by wyse van kontras. Dit gaan oor die groeiende Islamitiese minderheid, iets waaroor talle misverstande bestaan.

Die herhaaldelike terreurvoorvalle in groot Europese stede het begryplikerwys ’n narratief laat ontstaan van ’n onassimileerbare groep mense wat nooit vreedsaam geabsorbeer kan word nie. Allerlei regse populiste meen selfs dié Moslems is goed op pad om Europa onder te ploeg en om die swart vlag van Islamitiese Staat mettertyd bo Westminster, die Reichstag of die Élysée-paleis te laat wapper.

Laat ’n mens nie ʼn bagatel maak van die saak nie. Dit ís ’n probleem wat nie onderskat moet word nie.

In Rotterdam woon daar reeds ewe veel mense met ’n migrasie-agtergrond as diegene daarsonder (van wie natuurlik slegs ’n deel Moslems is, maar tog). Loop jy in sekere buurte in Berlyn, Parys of Londen rond, moet jy jou soms knyp om te besef in watter land jy is – in Indië/Pakistan, Turkye, Marokko, Algerië of die Kongo? Soms – ofskoon verreweg nie altyd nie – is talle van die vroue op straat in die tipies vormlose Midde-Oosterse gewade bedek.

Let wel, dis nou in buurte waar die immigrante – mense is mos maar mense – saamkoek. In ander buurte sien jy feitlik geen immigrante nie.

Die groot vraag is of die inkommers en hul nageslag ’n gevaar vir die Europese kultuur en beskawing inhou of nie.

Die taamlik regsgesinde Brits-Nederlandse rubriekskrywer Joshua Livestro het verlede Saterdag in ’n lang artikel in die kwaliteitskoerant NRC Handelsblad tot dié interessante gevolgtrekking gekom: “Die twee miljoen nuutkomers het nie ons ‘werk gesteel’ nie, maar nuwe werkgeleenthede vir ons help skep. Ons het nie geïslamiseer nie; hulle het vernederlands – soseer dat ‘hulle’ intussen ‘ons’ geword het.”

Komende van iemand met ’n uitgesproke klassieke konserwatiewe lewensuitkyk sê dit nogal iets.

Die jongste geskiedenis van die Midde-Ooste, sedert die begin van die mislukte “Arabiese Lente” in 2011, wys duidelik dat ’n kompromis tussen die konserwatiewe Islam en die Westerse liberale demokrasie kwalik moontlik is.

Tunisië is die enigste Arabiese land waar die demokrasie ’n – effense – vastrapplek kon kry. Libië, Jemen en Irak het in ’n chaos en burgeroorlog uiteengeval; Egipte en Turkye het vir alle praktiese doeleindes diktature geword; Saoedi-Arabië bly wat hy altyd was, te wete ’n onverdraagsame Islamitiese teokrasie.

Maar geld dit ook vir die Moslems in Europa? Of is Livestro reg – is dié Moslems aan die vereuropees?

In Europa is onlangs ’n omvattende meningspeiling onder Moslems gehou wat Livestro se gevolgtrekking steun. (Die sowat 1 miljoen Siriese vlugtelinge – dikwels hoog opgeleide mense – wat in 2015/16 vir die grootskaalse bloedvergieting in hul land na veral Duitsland gevlug het, is nie by die ondersoek betrek nie.)

In sy verslag skryf die Duitse Bertelsmann-stigting hy het navorsing gedoen oor die taalvaardigheid, onderwyspeil, beroepslewe en interreligieuse sosiale kontak van die Moslem-immigrante in Duitsland, Frankryk, Oostenryk, Switserland en Brittanje.

Die saamgevatte gevolgtrekking lui: “Die integrasie van Moslem-immigrante in Wes-Europa maak duidelike vordering. Teen die tweede generasie op die laaste het die meerderheid die hoofstroom-samelewing binnegegaan.”

Dit ondanks die feit dat daar weerstand teen die immigrante van sowat 20% van die oorspronklike bevolking is. Trouens, in Duitsland het tweederdes van die oorspronklike Duitsers gemeen die Moslems is “taamlik sleg of baie sleg” geïntegreer, wat wys hoe moeilik dit is om diep gewortelde persepsies teen te gaan.

Die verslag van die Bertelsmann-stigting lui verder: “Ondanks hul verskillende lande van oorsprong, anderse godsdiens en uiteenlopende redes vir immigrasie, neig die integrasie van die byna 14 miljoen Moslems in dié vyf lande om ’n eenderse pad te loop. Moslems gryp die geleenthede vir deelname wat voorkom aan, en hulle wil voortgaan om hul godsdiens te beleef.”

In Duitsland identifiseer 96% van die Moslems (dit geld sowel vir die eerste as die latere generasies) hulle met die land waar hulle leef. Waar slegs 27% van die eerste geslag die plaaslike taal as kinders aangeleer het, is dit al 76% vir die tweede geslag. In Frankryk word 93% van die kinders met ’n migrasie-agtergrond met Frans as eerste taal groot.

Dit klop met my persoonlike waarneming. Waar jy ook al rondbeweeg, van Amsterdam tot Brussel, Parys, Berlyn en Londen, merk jy mense met ’n migrasie-agtergrond wat in die plaaslike Europese taal met mekaar praat, nie in die taal van hul voorouers nie.

Hoe suksesvol die integrasie is, blyk uit die feit dat 75% van die jonger Moslems gereeld in hul vrye tyd sosiaal met nie-Moslems omgaan. ’n Probleem is wel dat hoe ortodokser hulle is, des te moeiliker vind hulle werk.

Ondanks dit is die gevolgtrekking duidelik: Die Moslems is – uitsonderings daar gelaat – geen eksistensiële gevaar vir Europa nie.

Wat sê dit alles vir Suid-Afrika? Die antwoord hierop hang saam met die redes vir die relatief suksesvolle integrasie, naamlik ’n (in mindere of meerdere mate) toleransie teenoor die anders-wees en anderse identiteit van die Moslems.

Tradisioneel kry jy – sê maar – Protestantse, Rooms-Katolieke en ongelowige Nederlanders. Maar almal is Nederlanders. Nou kry jy ook Islamitiese Nederlanders.

Wat ook ’n rol speel, is die feit dat die sekulariseringsproses wat onder Christene maai, ook onder die Moslems begin merkbaar word.

Is daardie toleransie vir minderhede se anders-wees en anderse identiteit nie ook die rigting wat in Suid-Afrika gevolg moet word nie? Onder verreweg die meeste swart mense is dit geen groot probleem nie, maar toenemend máák politici in die EFF en die ANC se Zuma-vleuel ’n probleem daarvan.

Die beste manier om ’n minderheid aan die land te bind, is om diep asem te haal en te ontspan. Laat die minderheid toe om homself te wees.

Ondanks die feit dat ek tans agter die liefde aan in Nederland woon, is ek ’n Afrikaner, en sal ek nooit iets anders kan wees nie. As sodanig is ek ook ’n Suid-Afrikaner.

Laat my toe om ’n Afrikaner te wees, sonder om ’n fetisj van dié identiteit te maak. Dit maak van my ’n beter Suid-Afrikaner.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Kannaland ·

Ja natuurlik hou moslems geen gevaar in vir die kulturele identiteit vir Europa nie, net soos wat die ANC en invloei van vlugtrelinge vannaf ander Afrikalande geen gevaar vir Afrikaans in skole, veiligheid op plase ens. inhou nie, nie waar nie?

Skepties ·

Geen gevaar? Dit klink soos wat FW de klerk hulle vir ons in die vroee negentigs belowe het.

Ja hoor ·

AG nonsens, hulle dring klaar in sekere lande aan op die Sharia wette. Hoe bedreig dit nie die westerlinge nie? Hoeveel aanvalle was daar sedert die mense hulle opwagting in ander lande gemaak het? Hierdie is nou sommer wensdenkery. Polities korrek as jy my vra.

Leopold Scholtz ·

Beste vriend, diegene wat aandring op sjaria, is enkelinge. Beslis nie die groot gros nie. En die vir die terreuraanvalle geld dieselfde. Telkens wanneer die aanvalle plaasvind, kry jy Moslem-geestelikes wat dit pertinent veroordeel. Hoe kan jy beweer dis “wensdenkery”? Dis die resultaat van ‘n omvattende ondersoek, nie sommer uit iemand se duim gesuig nie.

Albaster ·

Leopold, ek het moslem vriende en kollegas in Europa. Die meerderheid se gevoel oor hierdie onderwerp is dieselfde as wat die gemiddelde Suid Afrikaner in townships voel oor plaasmoorde…nie veel afkeuring nie. Moet asseblief nie jouself voordoen as die spreekbuis van die moslembevolking van Europa nie.

Verwonderd ·

En wat as die bevolkingsaanwas, wat hoër as die gemiddelde europeer is, veroorsaak dat die toekomstige beheer van die land, in die hand van die dan meerderheid buitelanders val? Sal hulle nie dan dit erenstig oorweeg om terug te beweeg na hulle oorspronklike kulturele identiteit nie? Soos gemeld is die tweede geslag immigrant aangewese om meer sekulêr voor te kom, om so doende in die arbeidsmag aanvaar te word. As staatsbeheer bewerkstellig is, sal hulle werklik in so mate gesekuleer wees met die Weste, om inderdaad hulle eie identiteit neer te lê, en hulle self as ‘n ge-emansipeerde (vry van eie kulturele identiteit)- Europeer te beskou? Ek vermoed hierdie is wens denkery deur die Weste….

Leopold Scholtz ·

Beste “Verwonderd”, die Moslems vorm tans sowat 6% van die Europese bevolking. Jy is reg, hulle was vinniger aan as die nie-Moslems, maar die verwagting is dat hulle teen 2030 8% sal wees. Darem baie ver van ‘n meerderheid verwyder, nie waar nie? Ek kan verstaan dat hierdie feite nie inpas by sommige se vooroordele nie, maar dit staan op pote. Lekker dag vir jou.

Verwonderd ·

Dankie vir die antwoord. Ek weet dat die artikel rondom die Moslem immigrant draai. My vraag strek egter ‘n bietjie breër. Kan daar nie kantelpunt kom waar die oorgrote meerderheid van ‘n bevolking van ‘n Europese land van etnies nie-europees afkoms is nie? My opinie is dat so ‘n groepering die Westerse kultuur kan verswelg. As ‘n mens die geskiedenis van die Shinese nagaan, besef ‘n mens gou dat elke land wat daarin kon slaag om Shina in te neem, totaal verswelg is in die Shinese kultuur en na ‘n paar geslagte was daar geen teken van oorwinnende kultuur nie. Die vraag is kan Europa se kultuur oorleef as die oorgrote meerderheid hetsy Moslem of nie, die kultuur dikteer. Sal die nuwe kultuur wat gevestig word deur die mengelmoes nie-etniese kulture, werklik soveel beter wees as die huidige bestel?

Albaster ·

Leopold, ek onthou soos gister hoe die vreeslike slim demograwe voorspel het dat Europees-Amerikaners eers teen 2050 die minderheid sal word. Hulle moes hulle modelle baie vinnig aanpas. Dieselfde geld vir Eurpa, hier, Australie ens. Gaan kyk geruus hoe geweldig vinnig Nieu-Zeeland verander. Daar is sekere Europese stede waar ek al klaar soos n indringer lyk.

Therese van Schalkwyk ·

Europeërs wat soos dr. Scholtz redeneer oor Islam in Europa is m.i. nie net kortsigtig nie, maar ook selfsugtig.

Moslems mag dalk in 2030 slegs 8% van die bevolking uitmaak, maar wanneer die kantelpunt gouer as wat julle dink bereik word, verander die Europa wat tans deur inwoners en toeriste geniet word heeltemal.

Kyk hoe lyk dit in die Midde-Ooste waar die verskillende groepe nie eers met mekáár oor die weg kom nie, en dink tog aan die ongebore Nederlander, Duitser, Fransmannetjie ens.

Dis dwaas en selfsugtig om net aan die eie generasie te dink.

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, ek verstaan jou standpunt nie – dalk is dit maar ek wat dom is. Die feite wys dat die meeste Moslems vereuropees, nie andersom nie. Ek kan nie help dat dit nie jou vooroordele bevestig nie!

Therese van Schalkwyk ·

My standpunt, en vooroordele, is heel eenvoudig:
Terwyl Moslems net ‘n fraksie van die bevolking uitmaak, is dit tot hul voordeel om heel inskiklik te “vereuropees”. Alle navorsing, studies en gevolgtrekkings tans is op hierdie min of meer 6% onderdanige Moslems van toepassing.
Nie een van die huidige liberale besluitnemers gaan die scenario beleef wanneer 51% Moslems (moontlik) in die toekoms besluit dit is nié meer nodig om so inskiklik te wees nie.
Waarom so ‘n gevaarlike waagstuk met die toekoms van Europa hoegenaamd aangaan?
Kan nie aan ‘n beter beskrywing hiervoor dink as kortsigtig en selfsugtig nie.

In Nederland word die tweede grootste politieke party se kommer en vrese oor hierdie kwessie minagtend geïgnoreer. Dit blyk dat liberales oordrewe verdraagsaam is slegs wanneer dit hul pas.

Therese van Schalkwyk ·

Stilbly is ook ‘n antwoord.

Selfs al was dit waar dat die meeste Moslems vereuropees, verg dit net één verontregte Moslem om ‘n idilliese Europese Kersmark in ‘n nagmerrie van bloed, smart en gillende, geskokte Europeërs te verander.
Dis ‘n dobbelspel wat nie die moeite werd is nie.

Leopold Scholtz ·

Vir Albaster: In alle vriendelikheid: Ek val byna op my rug van verbasing. Hier het ons ‘n omvattende wetenskaplike ondersoek teenoor jou anekdotiese getuienis. En dan kry ek ‘n verwyt na my kop geslinger dat ek my voordoen as die Europese Moslems se spreekbuis! Dink nou self na.

John ·

… op die bootjie na kammaland lyk alles so mooi. Ja. En die Duitsers is baie verdraagsame mense. Die Jode sal dit beaam. En Islam, vir wie duisende jare se gebeure soos gister is en onregte nooit vergewe word nie… En nou skielik toe moeder-Duitsland haar wit arms oopgooi is alles vergete? In Nederland val Moslems glo oor hul voete om die Christelike geloof te ‘omarm’ omdat dit… voordelig is, soos sekere arme Jode destyds moes doen of die hasepad vat. Geld en gerief het darem ‘n wonderlike manier om van vyande vriende te maak. Wag net totdat… Maar vanaf ‘n gerieflike stoel in Europa lyk alles rooskleurig… tot die bom ontplof… en dan… Kyk gerus maar saans of die voordeur gesluit is… Mens weet nooit alles nie.

Leopold Scholtz ·

Beste John, ek is nou sommer nuuskierig. Uit jou skrywes blyk telkens dat jy die Duitsers met ‘n vurige haat bejeen. Hoekom?

rassie ·

Leopold,

Ek aanvaar dat jou betoog eintlik daarop gemik is om die meerderheid hier in SA te oortuig om minderhede soos die Afrikaners meer te gemoed te kom en om Afrikaners ook ‘n plek in die son te gun.

Die Europese situasie en die integrasie van Moslem imigrante daar is egter ongelukkig nie heeltemaal toepaslik op Suid-Afrika nie.

Sedert die tyd dat Karl Martel die Moslems uit Spanje verdryf het en die Turkse opmars eeue gelede daar kort voor die poorte van Wenen gestuit is, was daar nooit binne die Europese nasiestate werklik ondervinding van kulturele saambestaan van Europeers en Moslems nie.

Die huidige vlaag van Moslem immigrante is dus ‘n baie nuwe ervaring vir hulle.

Jy wys ook daarop dat talle immigrante poog om te intigreer en dat talle reeds hul moedertaal vir die van die betrokke Europese land verruil het.

Die situasie kan dus ongelukkig nie op Suid-Afrika van toepassing gemaak word waar kulturele spanning en veral die konsep van kulturele selfbeskikking binne een nasie vir eeue reeds ‘n brandpunt en sensitiewe saak is nie.

Die reaksie van Europese lande, indien die immigrante sou begin aandring om behoud van volle kulturele identiteit, soos byvoorbeeld die erkenning van Arabies as een van die amptelike landstale of eie Moslem wette, kan moontlik later as voorbeeld vir SA dien. Egter nie op hiedie stadium nie.

Veritas ·

Hou net in gedagte dat Moslems ‘n diepgewortelde haat jeens Christene koester. Hulle val dalk nou in om net eers goed gevestig te raak en dan begin die eise en opstandigheid. Jammer dat nie ek of jy oor twintig jaar hier sal wees nie dan sou ons kon sien hoe Europa lyk.

Visionêre Mede-Afrikaner Suid-Afrikaner Erdvark ·

Wêreldwyd is daar die stryd om bronne ter verryking vir sommige en ter oorlewing vir andere. En waar daar ‘n tekort aan bronne is om ‘n sinvolle bestaan te maak, emigreer mense of daar ontstaan sosiale onrus om die bestaande orde omver te werp om beheer oor die land se bronne te bekom. In die proses span “soort soek soort” saam om hul kanse op oorlewing te verbeter. En net hier begin die stryd om mag en die bronne. Dan verval die waarde van grondwette wat verskillend geinterpreteer kan word.

Beste Leopold, dankie vir jou artikels wat my denke help opskerp. Ons moet agiel wees en ‘n agiele lewensstrategie volg ter oorlewing. Dit is die realiteit van hierdie lewe: ongenaakbaar hard.
“Ondanks die feit dat ek tans agter die liefde aan in Nederland woon, is ek ’n Afrikaner, en sal ek nooit iets anders kan wees nie. As sodanig is ek ook ’n Suid-Afrikaner.” Leopold, jy is altyd welkom tuis in SA saam met Visionêre Mede-Afrikaner Suid-Afrikaner Erdvark!

Leopold Scholtz ·

Beste Erdvark, ons kan gerus ‘n worsie saam braai. Ek mis my Boerewors en poetoepap!

Adriaan ·

Mnr Scholtz steun in sy artikel en kommentaar swaar op sekere navorsing. Welliswaar verskil my opinie lynreg van syne en die bevindinge van die navorsing waarop sy artikel gebaseer is. Wat hy bv nie aanspreek nie is dat die “vlugtelinge” uit so baie jong mans bestaan. Ek kan nie anders nie as om te dink dat hy die oggend na die 2016 Amerikaanse presidentsverkiesing se uitslag bekend gemaak is nog steeds n artikel sou skryf waarin hy President Trump se kanse op verkiesing geen kans gun nie, want “navorsing” het mos so besluit.

Leopold Scholtz ·

Beste Adriaan, twee punte.
1. As jy die navorsing verwerp, moet jy leemtes daarin kan identifiseer, of anders beter navorsing met ander gevolgtrekkings aanbied.
2. Wat Trump se verkiesing betref: Op die vooraand van die verkiesing het die gemiddelde van alle peilings, soos weergegee by RealClearPolitics, vir Clinton ‘n voorsprong van 3,2 persentasiepunte voorspel. Die werklike uitslag was dat sy 2,1% voor Trump ge-eindig het. Dat hy vandag in die Withuis sit, het te make met die eienaardighede van die Amerikaanse verkiesingstelsel. Jy moet navorsing darem nie so maklik afskryf nie. Maar op sigself het jy natuurlik reg dat alle navorsing krities bekyk moet word, want geen stuk navorsing bied ooit die finale antwoord nie. Lekker dag vir jou.

Marius Harding ·

Leopold.. ek weet nie hoeveel van jou boeke is hier op die rakke by my nie… ek stem nie altyd saam met jou sienings nie maar respekteer jou werk.
Wat hierdie artikel betref is ek egter afgesit… as mens begin speel met getalle kan jy net kies hoe jy die uitslag wil he en dan maak jy die somme om by die regte punt uit te kom…
As mens die ’53 sensus gevat het en n grafiek vooruit gemaak het, sou jy enige iemand wat n sakrekenaar kon lees oortuig het dat teen 2017 die blankes n oordonerende meerderheid sou wees… Jy sou verder kon se dat Afrikaans so strek gegroei het sedert 1940 dat teen 2020 Afrikaans die sterkste taal sou wees in SA… ongelukkig laat sakrekenaars en somme alleen nie die onverekende omstandighede verander nie….. Gadafi was n wyse man… ek heg meer waarde aan sy uitsprake as aan somme van ‘kenners’ …. hy het gese moslems gaan Europa oorneem.. dit was donkiejare gelede…. vandag lyk dit nie vergesog nie…. vir die onmidelike lyk die somme moontlik vir die liberalis nie na n bedryging nie…. maar aan die anderkant het die liberalis nog nooit n bedryging erken nie

Leopold Scholtz ·

Beste Marius, baie dankie vir die waarderende woorde. Kan jy verduidelik hoe ‘n mens op grond van die 1953-sensus sou kon voorspel het dat blankes teen 2017 die meerderheid sou wees? Was daar enige demograwe wat destyds so iets voorspel of so ‘n berekening gemaak het? Al waarvan ek bewus is, is die demografiese berekening van die Tomlinson-kommissie wat die groei van die swart bevolking taamlik onderskat het. Ek hoor graag van jou.

Hannah ·

Tydens 9/11 het ‘n kollega my vertel hoe Sampie Terblanche by Stellenbosch Universiteit in die klas vir hulle gese het…die Moslems wil die wereld oorneem – Wilmarie het vertel hoe hulle vir hom gelag het! Nou lag hulle nie meer.

Leopold Scholtz ·

Beste Hannah, ek lees toevallig nou net in Die Welt dat ‘n Duitse navorser, Michael Blume, pas ‘n boek gepubliseer het met die titel “Islam in der Krise”. Na ‘n uitvoerige analise is sy gevolgtrekking dat tallose Moslems ongelowig word of tot die Christelike geloof bekeer word. Ek wil die boek bestel en sal dan sien in welke mate sy navorsing op pote staan. Maar dis wel besonder interessant.

Eish ·

Dit is n verfrissende invalshoek dankie. Daar is egter n fundamentele fout met die aanname dat verreweg die meerderheid Suid Afrikaners toleransie met minderheidsgroepe het. Daar bestaan nie so n meerderheidsgroep nie. Kom spandeer bietjie tyd onder die Afrikason en ervaar omgekeerde diskriminasie eerstehands op voetsoolvlak van die meerderheid. Ek kan ter stawing ook verwys na voordurende Xenofobiese aanvalle op minderheidsgroepe se besighede tydens betogings oor dienslewering deur die meerderheid. Verder, wat u nie verdiskonteer nie is die feit dat die immigrante, anders dan die blanke minderheidsgroep hier, spesifiek, sonder bagasie die nuwe lande betree. Dié blanke minderheidsgroep dra swaar aan die historiese bagasie van kolonisasie en apartheid. Die Westerse kultuur is ook deur hul in gevoer met sy tegnologie, waardesisteme en Christelike godsdiens. Dit, die eerste wêreld standaarde, word beskou as n bedreiging wat die blanke intrinsiek inhou. Byvoorbeeld, die waardesisteme ten opsigte van integriteit, eerlikheid en verantwoordbaarheid is grootliks afwesig by die ” deur die meerderheid verkose regering.”. Sekularisasie, wat so welig tier in Europa, en wat integrasie indien my afleiding korrek is, ondersteun, is in n mindere mate teenwoordig onder die blanke minderheidsgroep. Wat wel kommerwekkend is, is die doodse stilte van die profetiese stem van die kerk. Die kerk word wel gekenmerk deur liberale sekularisasie, maar die deursnee Afrikaner nie in dieselfde mate nie. Selfs in die libaraalste lande, kon integrasie nog nooit suksesvol bestuur word nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Eish, misverstand: Ek het nie probeer impliseer dat die meeste Suid-Afrikaners tolerant teenoor minderhede is nie. My punt was juis dat dit so behoort te wees, dan bind jy die minderhede aan die land. Maar dankie vir jou reaksie. Ek wens jou ‘n aangename naweek toe.

Eish ·

Verskoning vir my misverstaan. Dit is altyd insiggewend en aangenaam om u artikels te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.