Motsoaledi se ‘rookwet’ plaas sakeregte op die spel

sigarette

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Minister Aaron Motsoaledi het onlangs sy klaarblyklike misnoeë oor die rookgewoonte bevestig deur nóg ingrypender en strenger rookwetgewing vir Suid-Afrika voor te stel. ’n Wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese toedieningstelsels (e-sigarette) is uitgereik vir openbare kommentaar.

Nie net word die ou skurk, tabak, in die wetsontwerp onder die loep geneem nie, maar die nuwe vermeende euwel van e-sigarette, oftewel vaping soos dit tans bekendstaan, sal ook nie deur Motsoaledi se pen gespaar word nie. Die ferm hand van die regering sal nie net harder neerkom op rokers en sakelui nie, maar ook op die “stomers”.

Voortaan sal die vape-wolke van geure soos aarbei, bloubessie, Fruity Loops en oliebolle (donuts) ook gereguleer word, sou Motsoaledi sy sin kry.

Die wetgewing sluit in ’n sogenaamde zerotoleransiebeleid vir rook in openbare ruimtes. Rookoortredings word strafbaar gemaak met boetes en/of tronkstraf. Vir rook in die openbaar word boetes en/of tot drie maande in die tronk voorgestel. Sakelui wat sekere bepalings van dié wet oortree, kan groot boetes en tot 10 jaar tronkstraf opgelê word.

Kruipende kriminalisering van alledaagse gedrag

Wat dit beteken, is dat net nog ’n aspek van die lewe, wat baie mense as alledaags en normaal beskou, gekriminaliseer word. Verder skep dit beduidende vrae oor vryheid en hoe ons, as ’n samelewing, gemeenskappe en groepe, mee saamgewerk moet word om redelike reëls vir aanvaarbare gedrag daar te stel.

Neem ons aan dat alle dinge, soos gedrag in privaat “openbare” ruimtes (restaurante), of in woonhuise, deur die owerheid gereguleer moet word? Indien dit die geval is, hoe ver of ingrypend mag regulering van gedrag dan gaan?

Ingevolge die voorgestelde wet sal die bestaande verbod op rook in geslote openbare ruimtes streng verskerp word. Tot by die punt waar rookgebiede in, byvoorbeeld, restaurante geheel en al verbied sal word – iets wat die inkomste van heelwat ondernemings kan benadeel.

Meeste van ons is tans bekommerd oor onteiening, maar wanneer sakeondernemings, wat reeds groot geld in hul besighede belê het, deur nuwe wette van dié eiendom ontneem word, is dit ook ’n vorm van onteiening.

Verder word ingrypende bepalings en beperkinge voorgestel wat die handel in tabak- en e-sigaretprodukte drasties verder sal reguleer en belemmer. Hierdie bepalings, waarop later uitgebrei sal word, wek groot kommer oor die benadering ten opsigte van die vryhede van sakelui en verbruikers.

Dit moet genoem word dat rook reeds streng gereguleer word, maar klaarblyklik meen Motsoaledi en beleidmakers dat geen inperking op rokers ooit te ver kan gaan nie. Hierdie kruipende regulering moet ter wille van vryheid ernstig bevraagteken word.

Minister Aaron Motsoaledi. Foto: GCIS/Flickr

Voorsienbare “onvoorsiene” gevolge?

Sulke wette sal beslis voorsienbare gevolge hê. Van die staanspoor af is dit duidelik dat heelwat mense wat wil rook, sekerlik nie sal ophou rook nie. Wat wel sal gebeur, is dat waar daar gerook word, wat gerook word en hoe die produkte wat gerook word, vervaardig, bemark en verkoop word, sal verander soos aansporings verander en verdraai word.

Instellings soos die Vryemarkstigting, wat belangrike probleme met die wetsontwerp uitwys, wys daarop dat sommige mense meer by hul huise sal rook, wat kan beteken dat kinders en ander nie-rokers meer aan sekondêre rook blootgestel sal word, wat eintlik indruis teen dit wat die wet in elk geval beoog. Onwettige rookkamers sal heel waarskynlik hoogty vier soos die geval was met die skelmkroeë of sjebeens (Speakeasys) tydens die drankverbod in die VSA wat van 1920 tot 1933 gegeld het.

Die handel in onwettige sigarette sal verder toeneem, wat ander sosiale probleme sal skep. Dit kan veroorsaak dat meer polisiëring by die handhawing van ’n rookverbod betrek sal word in plaas daarvan dat daar op die bekamping van werklike misdade gefokus word.

Wat die saak bemoeilik, is dat tabakrook inderdaad ongesond is en dat dit beslis negatiewe gevolge inhou vir mense wat aan rook, veral tabakrook, blootgestel word. Oor elektroniese sigarette is die saak klaarblyklik nog nie so seker nie, hoewel Motsoaledi se wet reeds implisiet die oordeel daaroor gefel het.

Growwe inbreuk op verbruikers-, handelsvryheid

Omdat rook so wyd veroordeel word, is dit maklik vir ’n regering om ingrypender wetgewing daarteen in te stel as wat die geval is met ander gedrag. Hierop is my beroep om nie so vinnig die wetgewing summier as goed te aanvaar nie, selfs al is die gedrag waarteen ingegryp word, onwenslik.

Die voorgestelde rookwetgewing maak growwe inbreuk op persoonlike en handelsvryheid. Sodanige inbreuk moet ter wille van die uitsonderlike belang van vryheid vir ’n samelewing nie net lukraak volgens die woord of bedoelinge van beleidmakers aanvaar word nie.

Kom ons let op die noodwendige gevolge en regspresedente wat Motsoaledi se wetgewing sal inhou.

Eerstens sal dit beteken dat alle sake-eienaars en heelwat individue deur ’n stomp bepaling in wetgewing van bestaande regte ontneem word. Rokers sal klaarblyklik nie meer by restaurante saam met ander instemmendes in rookkamers mag rook nie. Sigaarsitkamers, nagklubs en ander instellings wat tans nog wettig met die rookgewoonte saamloop, sal duidelik benadeel word. Winkeleienaars sal glad nie meer tabak- en rooktoebehore aan belangstellende verbruikers mag vertoon nie. Tabakmaatskappye sal verder effektiewelik van hul handelsmerke en logo’s ontneem word, veral kommerwekkend indien ons aanneem dat handelsmerke en logo’s tog ook deel vorm van enige maatskappyeiendom.

Sakeondernemings word reeds min keuse gegun oor die strekking van ’n eie beleid oor rook, want baie daarvan word reeds volgens die bestaande wetgewing ingeperk. Daar is tans darem nog die vryheid om openbare rookplekke in ondernemings te bestuur, maar onder die voorgestelde wet sal rook in geslote openbare ruimtes – wat, terloops, in die geval van restaurante en kroeë privaat eiendom is – eenvoudig verbied word. Hoewel hierdie voorgestelde ingrepe tans oënskynlik net uitgevoer sal word op produkte (maar eintlik op verbruikers en sakelui) wat sommige mense nie goedkeur nie, is die presedente wat daardeur geskep word, gevaarlik vir vryheid.

Nie net ’n blote verbod op rook nie

Motsoaledi se markinmenging gaan verder as ’n blote verbod op rook in die openbaar. Die wetgewing skryf ook riglyne voor vir die verpakking van rookprodukte. In die plek van ’n bestaande handelsmerk sal voorgeskrewe eenvormige verpakking (plain packaging) hoofsaaklik eensydig deur die regering afgedwing word.

Die presedent wat hierdeur geskep sal word, is dat ondernemings wat produkte verkoop wat die regime en sy beleidmakers nie goedkeur nie, van handelsmerke, logo’s, verpakkings, sowel as hul laaste staande regte om te mag adverteer, ontneem mag word. Selfs al is die gevolg hiervan dat die vraag na wettige sigarette en rookgoed verminder word, en sommige mense van rookprodukte afgeraai sal word, sal dit gebeur ten koste van verbruikers- en sakeregte, wat sal lei tot problematiese regspresedente en voorsienbare “onvoorsiene” gevolge.

Presedente wat só geskep word, kan later makliker op ander ongewenste produkte (volgens die regering) toegepas word.

Slotsom

Heelwat mense wat teen rook gekant is, mag bly wees oor ’n verbod op rook in sekere openbare ruimtes. Dit is verstaanbaar, maar kortsigtig, want Motsoaledi se inbreuk op persoonlike en sake-vryhede gaan veel verder.

Die beleid wat rook nou verder wil inperk, sal inbreuk maak op sakevryhede en op die handelaars van tabakprodukte en rooktoebehore. Waarop dit sal neerkom, is dat dit later maklik ’n teiken mag kies wat vir jou nader aan die hart lê. Die kinderoppasserstaat het reeds begin om suiker te belas en om sout in geprosesseerde kos regtens beperk. Wat kan volgende wees? Ingrypender kitskosregulasies, selfs die voorskryf van foto’s van siek lewers op drankbottels? Wat van jou motor se uitlaatgasse?

Dit is seker dat inbreuk op vryheid in die naam van sogenaamde “openbare gesondheid” nie daar sal eindig nie. In dié opsig was rookwetgewing nog altyd ’n Trojaanse perd wat ’n atmosfeer skep vir groter inbreuk op vryhede.

En ja, rook het natuurlik sy risiko’s, min rokers wat ek ken, sal anders meen, maar die inbreuk op vryheid wat hierdie wetgewing veronderstel, is wat erg bekommer.

Hierdie wetgewing sal die staat se mag oor ons net verder vergroot en ons vryheid net verder verklein. Diegene wat sodanige ingrepe en inbreuk lukraak ondersteun net omdat hulle ander se gedrag afstootlik vind, sal nie later kan kla wanneer hul geliefkoosde vryhede op die altaar van sogenaamde openbare gesondheid geoffer word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Gesondheid, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

rafel ·

goed gestel, baie dankie. Kommunistiese staat….stukkie vir stukkie; stappie vir stappie…

Paul ·

Ek stem 100% met jou saam, al sou ek, as ek nie 18 jaar gelede ophou pyptabak rook het nie, nie die einde van daardie jaar gesien het nie.

pierre ·

As almal maar net hierdie slegte gewoonte wil opgee dan is dit nie nodig vir enige wetgewing nie.

Belaglik ·

So om n motor rond te ry is ook n slegte gewoonte. Moet nie jou persoonlike gevoelens oor n saak op ander afdwing nie.

Boerseun ·

Jip, jy is reg. Aan die anderkant verloor die staat miljoene in sin tax sou almal ophou rook. Hulle sal dan jou koffie of tee moet tax. Dalk vietsryers wat moet pad tax betaal om op paaie te mag ry.

Jennifer ·

Eknis n nie roker maar vir my is dit absoluut verstommend hoe die regering kan aangaan oor rook gewoontes! Honestly is plaas moorde, verkragtings en roof ni eerder iets waarop hulle moet fokus ni? Ek stem 100% saam met Rafel ….Kommumistiese staat stukkie vir stukkie! Wil hulle alles reguleer en beheer? Eintlik belaglik!

Teresa ·

…alles behalwe die kriminele, korupsie, gesondheidsdiens en onderwys….. Bykans elke berig eindig met “die ondersoek duur voort en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie”, maar hulle het genoeg befondsing, mannekrag, plek in die regs sisteem en tronke om iemand wat rook vir tot 10 jaar tronk toe te stuur!!! Hoe lank het Oscar gekry vir die moord op Reeva? Jis mens kan roof, moor, plunder, verkrag, malls en infratruktuur afbrand en beskadig. Moet net nie rook nie!!!

Belaglik ·

Wat van al die motors se uitlaatgasse!? Is dit nie veel erger as n ou wat op die sypadjie staan en rook nie!? Hierdie is n “spiteful” besluit gemaak uit persoonlike haat en het geen logiese argument agter dit nie.

Anoniem ·

Vir my handel die stuk nie oor die voor/nadele van sigaretrook nie, maar wel die inbreuk wat dit maak op my regte. Ek het die reg om my eie keuses te maak. Ek het die reg op selfbeskerming. Ek het die reg om discipline toe te pas. Die regering het reeds op al hierdie regte inbreuk gemaak en my privatereg geskaad. Jy mag nie meer jou kind fisies straf nie. Jy mag nie rook nie. Jy mag nie jouself verdedig nie. Jy mag nie diskrimineer nie (als is dit uit my eie godsdienstige oogpunt). Binnekort gaan jy weinig kan doen sonder die regering se toestemming.

CEB ·

PietM dankie jy is een van die mense wat die groot prentjie sien. Die mense lees en leef met oogklappe. Paul moet eerder die hele storie weer lees!
Hier is baie groter probleme in die land as n paar mense wat rook. Word wakker mense !!

Paul ·

CEB, dit is presies wat ek hier bo ‘probeer’ sê’, al het ek toentertyd ‘n enorme probleem met rook ondervind en dra die nagevolge vandag, al was ek daardie tyd net 6 maande gegun om te leef, ondersteun ek die berig en die boodskap soos Van Onselen dit hier bo oordra.

Terloops CEB, my pa het in die laaste jare voor hy oorlede is erg aan emfiseem gely.

Paul ·

Dus CEB ondersteun ek, ongeag my en my pa se self toegepaste lyding, die reg van die individu om eie keuses te maak.

Paul ·

O ja en dan ondersteun ek ook die reg dat mens alleen in die nag in die strate kan rond loop, as jy probleem optel is dit jou eie.

John ·

Die enigste sinvolle denke by die minster alhoewel dit nie mense tot hul sinne sal roep nie. Sigarette is ‘n verdowingsmiddel wat die brein verander. E-sigarette is net ‘n nuwe truuk met bestanddele wat skrik vir niks. Niks. En met dagga wat nou ook besing word as wonderkuur vir alles van liddorings tot gebreekte harte, is die volgende sarsie tuinplante oppad. Vakansieoorde sal voorsiening moet maak vir die troetelkinders of almal gaan tuisbly om die duursame lekkertes op te pas… en meer verkeersmanne by Driesusters vir die jollie-patrollies met die boompie op mammie se skoot… die res agter in…. aan die slaap…

Judge Dredd ·

Ja, tot jy kyk watse bestandele is in jou “goeie” medisyne. Wafarin voorgeskryf vir mense met hoe bloedruk is ‘n bestandeel in Rattex.
So ons moet seker maar meeste medisyne dan los ne’ ?

Casper Labuschagne ·

Die oorlog teen rook; die oorlog teen suiker; die oorlog teen suiker drankies; die oorlog teen plastieksakkies; die oorlog teen plastiekstrooitjies; die oorlog teen die hengel van uitheemse visspesies soos forel; die oorlog teen steenkool; die oorlog teen alles wat koolstofgas produseer – nee dit is alles eintlik net een oorlog en dit is die oorlog teen individuele keuse en jou individuele vryheid.

Dit is presies hoe die progressiewe linkses te werk gaan, hulle begin met ‘n klein wiggie wat redelik klink soos om rook te verbied in openbare plekke. En siedaar, nou het ons almal toegegee dat net die staat kan weet wat vir ons goed is en daarom sal die staat die een na die ander regulasie instel wat ons lewens bepaal. Sodoende kraak daardie klein wiggie uiteindelik die brose dop van individuele vryhede heeltemal oop en kan slegs die staat, en by implikasie die regerende party, weet en beslis oor wat goed is vir jou.

Ben ·

Tipies ANC regering….. Na bykans 25 jaar kon hul nog geen groot bydrae maak tot SA se gesondheidsfeer nie, daar was wel talle blapse en skandale. En nou wil hul die fokus skuif na rook, sonder dat hul vorige gemors uitgesorteer is. Bv. MIV/Vigs, geslote hospitale uit die vorige bedeling, versorging van mense met geestesongesteldheid, ens, ens.

Helena ·

Die hele land se munisipaliteite stort in duie. Ons riviere is rioolslote. Boere word uitgemoor ens ens en hulle bemoei hulle met snert.

Casper Labuschagne ·

@Helena, en dit, is presies hoe dit gaan wanneer kommuniste in beheer is. Hulle het geen beheer oor wat werklik saak maak nie maar bemoei hulself met populistiese kampanjes en vertoë om oorlog te maak teen beuselagtighede wat in effek vir jou ontneem van vryheid van keuse en uiteindelik ‘n eie wil.

Liberaal ·

Ons supperryk heersers het baie om te verloor want hulle het diep belange in die sigarretbedryf, daarom moet ons linkses hard veg vir rokerregte. Kom ons veg vir die regte van rokers en nie die regte van passiewe roders se gesondheid nie, net soos ons linkses veg vir misdadigerregte en nie die regte van hulle slagoffers nie.

Wilhelm Wallis ·

Ja-nee. Vryheid is mos onnodig as dit aangewend word vir iets waarmee ek nie saamstem nie. Vryheid is mos slegs vir my en my mense en dit wat ek goedkeur. Ek is mos konsekwent as ek jou vryheid inperk terwyl ek aandring op my eie. Want die definisie daarvan is mos afhanklik van my eie waardes. Of hoe?

As hierdie rookwette oor gesondheid gegaan het en ipv mag (inperking van vryheid), sou hulle eerder postiewe inisiatiewe ondersteun het. Soos ophou rook veldtogte en hulp vir rokers wat wil ophou.

Daan Erasmus ·

Ek haat rook. 95% van alle rokers neem nie ander nie rokers in ag nie. Dit is swak smaak en dit gee jou swak smaak om in ‘n restaurant te rook. As jy nie maniere het nie moet dit maar met wetgewing vasgevat word. Dit is tyd dat iemand 2 jaar tronk toe gaan as jy in ‘n kar by kinders rook.

Ray ·

Sjoe Daan, jy voel sterk hieroor. Toemaar ek voel net so sterk daaroor, dis hoekom ek opstaan en buite gaan rook sodat ek ander mense in ag neem.

My gewoontes hoef nie ander mense te beinvloed nie.

Net een vraag? Voel jy so ook oor mense wat hule skoene uitskop in restaurant en dit dan in die paadjie sit sodat jy daaroor kan val? Miskien moet ons ‘n paar wette daaroor ook inbring.

Nee ek stem nie saam met jou nie. Meeste rokers is bedagsaam en interessant maar ek is al jare in ‘n Bestuurspos en daarna my eie besigheid begin. Interessantste ding, rokers is bedagsaam en werk oor die algemeen harder om op te maak vir die feit dat dit gesien word asof hulle net “smoke breaks” vat die hele tyd.

Asseblief maak ingeligte kommentaar

Jo ·

Daan ek stem saam. Rokende stokende swanger vroue en die wat voor hulle rook kort ook gepaste straf van om n onskuldige nuwe lewe te breek selfs nog voor geboorte.

Piet ·

Ray

Nie rokers vat nie smoke breaks nie, hulle werk terwyl julle dit doen. Ek is jare gelede al heftig aangevat omdat ek dit durf uitwerk het dat indien ‘n roker elke uur n 5 minute breek vat, dit neerkom op 12 dae se verlof elke jaar. Werk dit maar vir jouself uit.

Spokie ·

Jy mag nie rook op straat maar jy mag slingerend dronk wees

B ·

Kan nie gou genoeg kom. Absoluut keelvol vir die onbedagsaamheid van rokers!

Ray ·

Lees asseblief my kommentaar op Daan se stelling. Dankie vir jou bedagsaamheid oor my persoonlike regte van keuse

Centurion Gautrainstasie ·

Ons moet elke lieflike en vars oggend deur bolle rook stap by die stasie se ingang.

As rokers hulself nie kan beheer, moet hulle rokie maar uitgedoof word deur wetgewing.

Ray ·

Ek is seker as hulle ‘n kamer skep soos by lughawens sal die rokers baie meer bedagsaam wees.

Carel ·

Kom on leef en laat leef
Ek is nie n roker nie maar dit is elkeen se eie besluit
Net soos padgebruikers, mense in rye, gesêlsers in openbare plekke ens ens kry jy
Ordentlike en ongeskikte rokers
Maar on Minister het ons wit Paddas reeds in die pot en die water word al hoe warmer

Albaster ·

Ja laat leef, moet nie dat ander om jou passief rook nie.

ne ·

Hy dink hy is baie slim. Het hy al gedink hoeveel inkomste uit tabakprodukte aan die staat gaan? Hoe kan hulle dan nou jaarliks die sonde belasting vir die staat kry?

Skepties ·

Nee tabakprodukte genereer nie soveel inkomste nie agv swartmarkverskeinsel sodra belasting verhoog word daarop. Tweedens, geld wat mense nie aan tabak spandeer nie gaan nie net verlore nie, dit word aan ander dinge spandeer, so dit bly sirkuleer en werk skep.

Bridget ·

My genade wat is nou so erg as jy wil rook dan rook jy ek stem jy kry ordentlike en nie ordentlike rokers wat van plekke wat afgebrand word motor bande wat ure le en smeul is dit nie nadelig nie ai. Nou waar gaan hulle ons rokers nogal toesluit gehoor hulle oorweeg juis om van die gevangenisse los te laat juis omdat die tronke so vol is. Daar is baie baie belangriker dinge om uit te sorteer hospitale skole weeshuise ouetehuise mense wat nie bly plekke het nie te veel om alles te noem.

CEB ·

Skrikwekkend, skokkend hoe baie mense die pot mis sit en in die regering se wip hulself blind staar!! Lees mense, julle gaan langer trane huil as jul eendag besef dis kommunisme! Gaan lees Animal Farm. Omdat mense hul ophou met drama en selfsug en niemand gun iemand iets. Los die rokers, konsentreer eerder om saam te staan, julle gaan dit vinniger nodig he as wat julle dink.

Paul ·

CEB, dit is presies wat ek hier bo ‘probeer’ sê’, al het ek toentertyd ‘n enorme probleem met rook ondervind en dra die nagevolge vandag, al was ek daardie tyd net 6 maande gegun om te leef, ondersteun ek die berig en die boodskap soos Van Onselen dit hier bo oordra.

Terloops CEB, my pa het in die laaste jare voor hy oorlede is erg aan emfiseem gely.

Paul ·

O ja en webblad, daar is seker ten minste 6 probeerslae van my wat julle net eenvoudig ignoreer. Nag ou grote.

Mariné Lourens ·

Dagsê Paul

Dankie vir jou kommentaar. Let asseblief daarop dat dit soms ‘n wyle vir kommentaar neem om op die webwerf te verskyn, omdat dit soms per hand goedgekeur moet word. Wanneer jou kommentaar dus nie dadelik op die webwerf verskyn nie, beteken dit nie noodwendig dis afgekeur nie, dis dalk bloot nog net nie goedgekeur nie.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

madels ·

Een van die dae sal die regering ook se dat almal se haarstyle dieselfde moet wees, dieselfdge onderarm sproei moet gebruik en dieselfde klere dra. Ons sal nie meer enige identiteit van one eie kan he nie

Susan ·

Waarom word die brand van bande wat bolle swart rook en gifgasse die lug instuur nie liewer verbied nie.

Petro Benade ·

Een roker in n kar maak nie ‘n hele familie dood in n ongeluk nie maar ‘n dronk persoon wel. Die regering sal nooit streng wees op drank nie want hulle neem seker almal ‘n doppie.

Henry ·

Ag tog!
As voormalige strawwe roker wat paar dekades lank gerook het dat die biesies bewe, het ek uiteindelik daarin geslaag om 20 jaar en 3 maande gelede die laaste Kameel te rook. Elkeen van daai sigarette was heerlik en het my groot genot verskaf.
Maar…
Na 20 jaar en 3 maande voel ek nie bedreig wanneer ek in die omgewing van een of meer rokende piete is nie. Ek hou steeds nie van ‘n smeulende sigaret se rook, die stank van ‘n motor met miljuisende sigaret stompies, of met ‘n roker aan die stuur nie. Loop rook soveel as wat jy wil buite die enge ruimtes, soos wat my pelle en ek destyds gedoen het toe ons die biesies laat bewe het.
Rook voort vir die wat wil en kan. En ek hoop dat jy soos alle goeie rokers beplan om eendag FINAAL en suksesvol op te hou, want tsv enkele ekstra kilo’s voel ek inderdaad nogal beter en bly dat ek uiteindelik van my groot rooklus ontslae geraak.
Sterkte aan my voormalige broeders en susters van Rokersfontein!!!
:-)

honourable member ·

Ons as nie-rokers het ook n demokratiese reg van skoon lug inasem. As die rokers dan wil rook moet hulle dit maar in die privaatheid van hulle huise doen. Hierdie rookwet is die beste ding wat nog in hierdie land gebeur het. Mense moenie hulle irreterende gewoontes op ander wil afdwing en almal moet maar net verlief neem daarmee nie. Ek is 100% vir die wet.

Bertie ·

Okay dis reg met die wetgewing… ek rook m.a.w eks verslaaf aan nikotien. Kan iemand van dept gesondheid asb vir my laat weet waar ek gratis behandeling kan kry vir my verslawing. Die staat erken die verslawing want indien nie hoekom moet ek dan “sonde belasting” betaal op sigarette. Ek dring aan op my gratis toegang tot mediese hulp!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.