MT Steyn moet by Kovsies bly

Die standbeeld van president MT Steyn. Foto: UV

Die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronagentskap (VPEHA) het pas ’n permit uitgereik wat toestemming aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verleen om die standbeeld van president MT Steyn van die Bloemfontein-kampus na die oorlogsmuseum te verskuif.

AfriForum en verskeie ander bewaringsinstellings, onder meer, die Bloemfonteinse Kultuurvereniging; die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys, Bloemfontein en die Gereformeerde Geloofsbond (wat gemeentes landwyd insluit en waarby 32 gemeentes geaffilieer is) het beswaar teen die uitreiking van die permit aangeteken omdat hulle voel die standbeeld moet op die Kovsie-kampus bly.

Pogings om dit te verskuif, is die jongste stap in die Suid-Afrikaanse debat oor erfenistransformasie en dekolonialisasie wat veral sedert 2015 met die #RhodesMustFall-beweging gedurig opvlam.

AfriForum se standpunt bly dat standbeelde nie verskuif moet word nie, met goeie redes waarom ons nie by die groep aansluit wat sê “red wat te redde is en skuif eerder” nie.

Wanneer ’n kunswerk bedreig word deur die omgewing waarin dit geplaas is, maak dit sin om dit te “red” deur dit na ’n veiliger posisie te verskuif. ’n Standbeeld of monument is wel ’n tipe kunswerk, maar dit kom met ’n heel ander betekenisraamwerk as iets wat suiwer net ’n kunsskepping is.

Vir die betekenis van monumente en standbeelde, is daar verskeie definisies. AfriForum se standpunt is dat hierdie soort gedenktekens as bakens ter herinnering aan historiese gebeure in die openbare landskap opgerig word. Gewoonlik is daar tydens die oprigting van so ’n baken groot emosie daaraan gekoppel – byvoorbeeld met die oprigting van ’n beeld van ’n geliefde leier nadat hy oorlede is, of met die oprigting van ’n monument vir oorlogslagoffers kort ná die oorlog wanneer hul naasbestaandes nog leef en behoefte aan ’n herdenking van hul lewens het. Jare gaan verby en die individu of gebeure word meer objektief beoordeel. Latere geslagte vergeet ook wie die persoon was, of wat die gebeure behels het, en dan dien die standbeeld om die besoeker se geheue met ’n inskripsie te verfris, of nog beter, hulle na die internet of geskiedenisboeke te dryf om meer uit te vind en vir hulself te besluit wie held of skurk was.

Die realiteit is dat geen individu ooit deur alle mense as held gekies sal word nie. Omdat ons almal feilbare mense is, sal elkeen van ons een of ander tyd ’n kontroversiële besluit neem wat deur latere geslagte beide geloof én veroordeel sal word. Om te verwag dat net onbevraagtekende historiese figure of insidente herdenk moet word, is nie haalbaar nie.

Die plek waar standbeelde of monumente opgerig word, is natuurlik ook van groot betekenis. Omdat pres. Steyn hom so aktief vir die oprigting van ’n eie Vrystaatse universiteit beywer het, is dit van groot betekenis dat hy staan waar hy staan. Hy is die vader van ’n droom wat ’n realiteit geword het met die bou van die kampus waaroor hy uitkyk. Sou ’n mens hom verskuif, sal MT Steyn as persoon dus steeds in herinnering geroep word, maar buite die konteks van die skat wat hy aan die nasate van alle ouderdomme, rasse en geslag nagelaat het.

Die huidige ANC-regering se standpunt verskil dramaties van dié van AfriForum. In ’n verslag oor erfenistransformasie van 2017, uitgereik deur die departement van kuns en kultuur, word verklaar:

Standbeelde is nie onskuldige stukke argitektoniese werk nie. Hulle beliggaam sterk simboliese mag. Wat ons nou beleef, is enersyds die spanning tussen ons land se grondwaardes aan die een kant en die betekenis van die koloniale of apartheidstandbeelde aan die ander kant …

 Standbeelde projekteer die grondliggende waardes en gesag van die staat. Hulle dien ’n legitimerende rol in die samelewing, kweek populêre aanvaarding en instemming tot die geldigheid van die gesag van die staat …

ons behoort te vra: hoekom staan hierdie beelde nog steeds? Dit is duidelik dat hulle nie meer die doel waarvoor hulle gebou is, dien nie. Die politieke orde wat hulle bedoel was om te versterk, bestaan nie meer nie. En so moet hulle ook val, net soos hulle in die res van die beskaafde wêreld geval het.

Dit beteken dus dat, volgens die regering:

  • Die waardes van MT Steyn nie waardes is wat ons vandag moet aanhang nie;
  • Net standbeelde of monumente wat met die regering van die dag te make het of hul ideologiese standpunte onderskryf, in die openbaar geduld mag word (in daardie geval moet Egipte die piramiedes opblaas, want dit is die nalatenskap van ’n gemeenskap wat slawerny toegelaat het – ’n voorbeeld wat net so belaglik soos hierdie argument is);
  • ’n Beeld van MT Steyn geen plek in ’n beskaafde land het nie.

Verder was die doel waarmee die standbeeld opgerig is, baie beslis nie om die apartheidstaat te steun nie, aangesien die opdrag vir die oprigting daarvan al in 1917 deur die Afrikaanse Studentebond (let wel, nie die staat nie) gegee is en die beeld in 1929 onthul is, terwyl die apartheidsbestel eers vanaf 1948 gegeld het.

Wanneer ons gevolglik ’n beeld verskuif, is dit simbolies ook ’n veroordeling van die individu, ’n eietydse besluit oor die verlede waaroor toekomstige geslagte heeltemal anders mag voel en in die geval van pres. Steyn, erkenning dat Afrikaners geen positiewe bydrae tot die opbou van Suid-Afrika gemaak het nie. Sou die MT Steyn-beeld onder hierdie omstandighede verskuif word, kan Afrikaanse studente en personeel van die UV tereg vra of hulle nog welkom op die kampus is.

Daar kan geen sprake wees daarvan dat die verskuiwing respek of samehorigheid tussen studente en personeel van verskillende rasse sal bevorder nie. Die daad van verskuiwing is ’n daad van beskuldiging en enigeen wat dit sonder teenspraak aanvaar, neem deel aan die beskuldiging of erken skuld daarop.

In 2016 is ’n saak in die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, oor die vernietiging van godsdienstige monumente in Timboektoe, Mali, aangehoor. Van die betoë wat tydens die saak gelewer is, is van kernbelang wanneer ons oor erfenis praat. Die aanklaer in die saak, Fatou Bensouda, het gesê:

Vandag se verhoor is inderdaad histories. En dit is des te meer histories, gesien in die lig van die vernietigende woede wat ons era kenmerk, waarin die mensdom se gesamentlike erfenis onderwerp word aan herhaaldelike en beplande vernietiging deur enkelinge en groepe wat hulself ten doel stel om die verteenwoordiging van enige wêreld wat van hulle s’n verskil, uit te wis deur die fisiese manifestasies daarvan wat aan die hart van gemeenskappe lê te verdelg.  Die verskille en waardes van hierdie gemeenskappe word sodoende eenvoudig ontken en uitgewis.

Ideologies-gedrewe aanslae teen standbeelde en ander erfenisbates is nie uitsluitlik beperk tot ons land of die huidige tydgleuf nie, maar dit bly wel teleurstellend dat die debat in ons leeftyd met ’n veronderstelde groter bewussyn oor menseregte en kulturele waardes, nog nie van vernietiging en verwydering wegbeweeg het nie.

Hopelik sal ’n tyd van meer genuanseerde standpuntinname en respek vir menseregte wat ook in erfenis gesetel is, tog mettertyd aanbreek. Tans is die kontroversie oor die Steyn-standbeeld se toekoms helaas ’n bewys dat dit nog ’n ver pad daarheen mag wees. Teenstand is daarom noodsaaklik om die spore van die verlede nie uit eietydse politieke oorweginge dood te vee nie, maar ter wille van die nageslag in konteks sigbaar te hou.

  • AfriForum versoek lede van die publiek wat die appèl teen die permit en verskuiwing van die standbeeld wil ondersteun, om die beswaarskrif by AfriForum.co.za te onderteken, of om “STEYN” te SMS na 42315 (SMS’e kos R1).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jerry ·

Om die standbeeld daar te wil hou is mos nou openlik skoorsoek. Afriforum weet mos nou dat dit n aanslag teen kolonialisme is en dat die aanslag vererger word deur openlike verset en weerstand en dat dit onskuldige wit studente is wat weer geteiken gaan word en ontwrig gaan word en kan seerkry. Wanneer gaan Afriforum begin besef dat witmense in die huidige tydvak moet red wat te redde is deur alles wat vir die Afrikaner van belang is te bewaar op plekke waar daar nie n bespotting van gemaak kan word nie, dat dit nie geteiken kan word nie dat dit nie vernietig of uitgewis kan word nie! Afriforum hou aan skoor soek omdat julle, julle tot die howe kan wend. Hoe lank dink Afriforum gaan die revolusioneres julle nog toelaat om julle vir alles tot die howe te wend voordat hulle die onafhanklike regbank ook teiken en net kaders aanstel. Wat dan, tot wat gaan julle, julle dan wend? tot die internasionale howe en vir hoe lank en na hoeveel konflik en moorde van onskuldige wit en swartmense wat eintlik net n vreedsame bestaan wil voer. Hoekom kan julle nie vir vreedsame voortbestaan onderhandel nie? Hoekom moet julle die Afrikaner se regte gebruik om verdere verdeeldheid tussen wit en swart te bewerkstellig? Hoekom kan julle nie die regte gebruik om samehorigheid/verdraagsaamheid aan te wakker nie? Wanneer sal die besef posvat dat n volkstaat net so onwaarskynlik is as wat daar n man op die maan bly?

Veritas ·

Alana, dit is die eerste keer dat ek van jou mening verskil. Hoeveel standbeelde van Afrikanerhelde, daar in Suid-Afrika is, die weet ek nie maar wat ek wel weet, is dat die vyand nie sal rus alvorens almal geskuif of vernietig is nie. Moet ons nou kort-kort deur dieselfde muskiet gepla word voordat ons aan ‘n manier dink om daarvan ontslae te raak?
Na my mening is dit nie boedel oorgee nie maar ‘n oplossing vir die probleem wat nie gaan ophou zoem in ons ore nie. ‘n Lastigheid wat nie sal ophou voordat ons ‘n muskietnet daaroor gooi nie.
Wat is die belangrikste? Die standbeeld of die stukkie grond waarop dit staan?

Andreas ·

‘n Standbeeld is soos ‘n foto wat jy in jou huis van jou ouers hang, of ‘n familie album het wat jou aan jou herkoms herinner. Die dag as jy jou pa en ma se fotos van die mure afhaal en op die solder gaan sit ….

Anja van der Merwe ·

Dagsê Veritas

AfriForum het al 2 keer teenstand teen die verskuiwing van die beeld onder lede en publiek getoets – die eerste keer het AfriForum en AfriForum Jeug ’n peiling gehou en duisende het teen die verskuiwing gestem. Tans word ‘n ondersteunersblad op AfriForum se webwerf bedryf en dit geniet reeds oorweldigende steun.

Marco Polo noem dat AfriForum ons gevegte moet kies. Hierdie is die vernaamste beeld van Steyn in die land. Hy was een van die grootste Afrikaners van alle tye, dalk selfs die grootste. Dit is van sleutel belang.

’n Voorste bewaringskundige skryf gister: “Hierdie kan ’n waterskeiding-saak word, want wat ook al hier gaan gebeur, gaan ’n presedent vir alle standbeelde van voor 1994 skep.”

Die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusieprogram spel duidelik uit dat die transformasie van geskiedenis net so deel van die agenda is as die transformasie van die ekonomie. Mense sê dus dis net ’n pleknaam, of standbeeld, of monument, maar die proses eindig nie daar nie. By universiteite was dit sedert 2015 eers Rhodes wat moes “val”, toe Afrikaans by universiteite (nou ook al by skole in Gauteng, aldus Lesufi), toe studiegelde, toe die kurrikulum se Westerse inhoud, nou Steyn … Verskuiwing bied geen oplossing nie, bloot ‘n volgende teiken vir die ideoloë – hetsy iets anders wat moet val of dieselfde beeld wat weer elders gaan “aanstoot gee”. Die debat gaan oor dieselfde beginsel as grondonteiening en die verdraaide toepassing van regstellende aksie.

Alana Bailey
nms Afriforum

marco polo ·

Ons moet dalk mooi dink wanneer ons ons bakleie kies en nie elke windmeul stormloop soos Don Quixote nie.

Andreas ·

Maar sekerlik hoef ons nie ons standbeelde weg te steek nie, dan kan jy maar netsowel in ontkenning leef van jou herkoms en wie jy is. Waarvoor moet ons skaam wees? Lees gerus ook die artikel van Bennie Van Zyl, Afrikaner-identiteit – weet ons nog wie ons is? Wees trots daarop en stoot bors uit.

marco polo ·

Andreas, niemand praat van standbeelde wegsteek nie, maar liewer skuif na n plek waar dit wasrdeer word en na gekyk kan word. Dit is veel erger om te sien hoe standbeelde van ons helde onteer word en met minagting behandel word deur diegene wat dit onder ons neuse wil invryf dat hulle nou in beheer is.

Veritas ·

Afriforum moes eers die water getoets het voordat hul besluit het om, namens die Afrikaner, die skuif van MT Steyn se standbeeld by Kovsies, teë te staan. As ek so na die kommentare kyk, wil dit voorkom of die meeste ten gunste van die skuiwing is. Dit sal dalk goed wees as Afriforum eers ‘n meningspeiling hou om seker te maak van die steun wat hulle sal kry in so’n geval. Hier is hulle besig om uit die boom te val en ondersteuners te vervreem.
Hou in gedagte dat julle nie sonder die steun van die Afrikaner, namens hom kan besluite neem nie.

Andre Stander ·

‘dekolonialisasie’ – gooi ek nou bietjie in my mond op.

Hendrik ·

Ek het baie simpatie met Alana en Afriforum se siening in hierdie stuk – dit is immers moreel die regte ding om te doen. Praties gesproke verskil ek 180 grade van die standpunt. Ons weet mos Afrikaans en Afrikaners is nie meer welkom by openbare instellings nie. Ons weet mos ons word allerhande onwaarhede toegedig. Ons weet mos die staat gaan nie sy siening hieroor verander nie, selfs al sou die DA dalk eendag die verkiesing wen. Dis tyd om saam te trek, om wat bymekaar hoort bymekaar te hou. Die Voortrekkermonument is een so ‘n plek, die Vrouemonument / Oorlogsmuseum is nog een. Eie universiteit, eie instellings, eie besighede, geografiese konsentrasie, selfbeskikking – dit sal Afrikaners laat voortleef.

Andreas ·

En dit is hoekom, as ek ook vir Veritas reg lees, ons moet wegkruip. Waarom is julle bang vir jul identiteit soos per Bennie Van Zyl se artikel waarna ek hier bo verwys? Dankie vir mense van Solidariteit en Afriforum wat leiding neem. As dit nie vir hulle was nie, waar was ons die Afrikaner en die Afrikaanssprekende vandag?

Veritas ·

Andreas, is ‘n gebreekte standbeeld by Kovsies vir jou meer werd as ‘n heel standbeeld elders? Moet nie ‘n fout maak nie, ek is ‘n konserwatiewe Afrikaner wat my volk se geskiedenis hoog ag maar ek is wakker genoeg om te besef dat ons nie hierdie veldslag kan wen nie. Alhoewel ek Afriforum steun, is ek oopkop genoeg om te besef dat hulle ook foute maak en, na my mening, is daar geen manier om hierdie veldslag te wen nie. Dit gaan iemand baie geld kos om dié saak hoftoe te vat en al is ek nie ‘n regsgeleerde nie kan ek sien dat hulle geen kans het om dié saak te wen nie.

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk, Alana Bailey!
As oud-Kovsie ondersteun ek AfriForum se standpunt oor hierdie kwessie 100%.

Bostaande leserskommentare spreek boekdele oor die geslaagde boelie en breinspoel van die Afrikaner.

Charl ·

Stuur die standbeeld van pres. Steyn na Orania toe. Hulle is opsoek na ‘n beeld van die president. Dit sal goed opgepas word daar en behoue bly vir ons nageslagte.

Mense, ek lees tans ‘n boek van generaal De Wet oor die Anglo Boere oorlog. Ons besef nie wat hierdie mense opgeoffer het nie! Pres. Steyn was ‘n uitmuntende man; ‘n groot gees. Hy verdien respek!

Andreas ·

Alana, ek lees nou jou kommentaar hier bo, dankie dat julle die sake dryf, jul visie, julle sit daar met kennis en visie wat ons kommentators kennelik nie het nie. Maar dit mag ons nie weerhou van ondersteuning en insig aan die wat daarteen veg dat ons geskiedenis wat deur standbeelde uitgebeeld word nie uitgevee word nie. Volgende is dit nie standbeelde nie ….

Jimmy ·

Indien MT Steyn kon, sou hy sy hoed gevat en geloop het. Die universiteit is in elk geval nie die Afrikaners se vriend nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.