Muishondstatus SA se voorland as hy uit Internasionale Strafhof onttrek

hof-hamer

Argieffoto.

Asof Suid-Afrika nie genoeg probleme het nie, wag verdere muishondstatus op ons as die regering sy voorgenome besluit deurvoer om van die Statuut van Rome en gevolglik ook die Internasionale Strafhof (ISH) te onttrek.

Dit sal nie net  ʼn rampspoedige terugwaartse stap op die gebied van menseregte wees nie. Die res van die wêreld sal ons ook al hoe meer assosieer met bondgenote van menseregteskendings, soos Rusland, China, Zimbabwe en Mianmar.

Politieke ontleders is dit eens dat dit ʼn kwade dag sal wees as Suid-Afrika, wat ʼn grondlegger van die Statuut was, onttrek. Verskeie van die ISH se proses- en bewysregreëls is op aandrang van die Suid-Afrikaanse regering ingevoeg. As Suid-Afrika onttrek, sal dit gesien word dat ons nie menseregteskendings teenstaan nie.

Suid-Afrika se voorgenome onttrekking hou verband met die tweespalt tussen die ISH en die regering, wat verlede jaar op die spits gedryf is toe laasgenoemde geweier het om die omstrede menseregteskender en president van Soedan, Omar al-Basjir, tydens sy besoek aan Suid-Afrika in hegtenis te neem en aan die ISH uit te lewer.

Dié voorval het die land in omstredenheid gedompel en die regering het ter verdediging aangevoer die ISH diskrimineer teen Afrika-leiers.

Soos Obed Bapela, lid van die ANC se subkomitee oor internasionale verhoudinge, dit vroeër verwoord het: “Dié hof het koers verloor…”

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met internasionale skakeling, meen Suid-Afrika se onttrekking sal hom weer die “muishond van die wêreld maak”.

Sy het gesê dit is nog onduidelik of die departement van internasionale betrekkinge en samewerking alleen die reg het om die ratifikasie op te hef en of die toestemming van die parlement ook nodig is. “Hoe dit ook al sy, AfriForum staan die proses teen en ondersoek maniere waarop die deurvoering daarvan voorkom kan word.”

Bailey het gesê daar word toenemend op buitelandse platforms gesien hoe Suid-Afrikaanse regeringsverteenwoordigers kant kies ten gunste van lande met bedenklike menseregterekords.  Volgens haar versinnebeeld die onttrekking uit die ISH die regeringskultuur van ʼn gebrek aan aanspreeklikheid, waarvan die rampspoedige gevolge ook binnelands gesien word.

“In ʼn tyd van ekonomiese uitdagings en interne onstabiliteit, behoort die fokus van die owerhede juis die bevordering van ʼn kultuur van aanspreeklikheid (binne en buite Suid-Afrika), asook die uitbou van beleggings en verhoudings met gerespekteerde internasionale vennote te wees.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, voorspel ook groter isolasie vir Suid-Afrika indien hy aan die ISH onttrek.

Duvenhage meen die regering se voorneme om te onttrek, hang saam met die taktiek van pres. Jacob Zuma en die ANC-regering om die regbank en regspleging te ontduik.

Hy het gesê met dié besluit wys Suid-Afrika dat hy hom toenemend skaar aan die kant van state wat hulle skuldig maak aan ernstige menseregtevergrype. “Dit wys die oppergesag van die reg is nie meer prioriteit nommer een vir ons nie.”

Duvenhage meen dit kan ook gesien word teen die agtergrond van die groter politieke gebeure in die land, waar alles daarop dui dat die regering al hoe nader aan ʼn rewolusionêre en al hoe verder van ʼn klassieke Westerse konteks beweeg.

Prof. Dirk Kotzé, dosent in politieke wetenskap aan Unisa, is minder oortuig daarvan dat Suid-Afrika dit sal regkry om aan die ISH te onttrek. Hy wys daarop dat daar ʼn groot meningsverskil binne die ANC is oor so ʼn besluit en boonop neem dit langer as ʼn jaar om dit uit te voer. Hy het verwys na Burundi wat ook so ʼn proses gevolg het.

Kotzé het gesê indien Suid-Afrika wel wil onttrek, kan hy nie wegkom van die vroeëre dilemma rondom al-Basjir nie en bly hy aanspreeklik vir die besluite wat hy geneem het om hom nie uit te lewer nie.

Bedanking uit die Strafhof sal Suid-Afrika ook nie kwytskeld van die verpligting om mense wat aan ernstige misdade of menseregteskendings skuldig is, aan te keer nie. As die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad opdrag gee so iemand moet gearresteer word, is Suid-Afrika, as lid van die VN, verplig om dit te doen.

Prof. Frans Viljoen, direkteur van die sentrum vir menseregte in die fakulteit regsgeleerdheid by die Universiteit van Pretoria (UP), het verlede jaar in ʼn artikel vyf redes aangevoer waarom Suid-Afrika hom nie aan die Statuut van Rome behoort te onttrek nie.

Hy het daarop gewys al-Basjir, wat aangekla is van misdade teen die mensdom en geen Afrikaheld is nie, behoort nie Suid-Afrika se agenda voor te skryf nie. Hy het gevra of Suid-Afrika sy aanvaarding as gerespekteerde lid van die gemeenskap van nasies wil prysgee, in diens van ʼn twyfelagtige individuele agenda.

Viljoen het ook daarop gewys dat die ISH se beweerde vooroordeel teen Afrika meer oënskynlik as werklik is. In die derde plek het hy geargumenteer dat die oorspronklike redes vir die behoefte aan en vir die ondersteuning van die ISH nie verander het nie. Die wêreld, Afrika inkluis, het aangedring op ʼn hof wat kon verseker diegene wat vir ernstige misdade soos volksmoord en oorlogsmisdade verantwoordelik is, bly nie ongestraf nie. “Die Strafhof het Afrika nodig en Afrika die Strafhof. Dié situasie bly onveranderd.”

In die vierde plek het Viljoen daarop gewys die voorgenome stigting van ʼn Afrika-hof bied geen haalbare alternatief in plek van die ISH nie. Indien ʼn Afrika-hof wel tot stand sou kom, sal dit aan twee belangrike beperkings onderhewig wees, naamlik dat dit geen jurisdiksie oor dienende staatshoofde of senior staatsamptenare sal hê nie en dat die jurisdiksie van dié hof slegs van krag sal wees ten opsigte van dade wat ná die totstandkoming daarvan gepleeg is.

Die laaste rede waarom Suid-Afrika nie behoort te onttrek nie, is dat dit stellig onkonstitusioneel sal wees. “Alhoewel ʼn deelnemende staat hom aan die ISH-statuut mag ‘onttrek’, behoort dit nie sonder deeglike oorweging gedoen te word nie. Onttrekking aan die ISH sou slegs sin maak indien die plaaslike wetgewing, die ISH-wet, ook herroep word. Die herroeping van dié Wet mag heel moontlik onkonstitusioneel wees,” lui die artikel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jakobus ·

As iemand iets êrens in die werêld aanjaag, is die kanse so by 90% dat dit iemand in Suid Afrika is, o’ja en dat dit iemand van die regering of die ANC sal wees.

JC ·

Dankie vir die artikel!! Dus, hulle kan vergeet om te onttrek, so maklik is dit darem ook nie, onder meer agv die skanse van die Grondwet wat IN PLEK IS.
Ek dink dit het ook te doen met ‘n “tit for tat” houding/situasie omdat ek glo die VN begin die regering nou erg te roskam oor hul vergrype en dan veral ook as gevolg van Solidariteit/Afriforum se uitstekende werk en vroeere voorlegging m.b.t. tot regstellende aksie.
Die wiel het begin draai, alhoewel stadig. Dank die Here ons regbank is onpartydig, geloofwaardig, en daar om reg en geregtigheid te laat geskied!!

humor ·

Hierdie voorneme bevestig maar weereens wat in ons regeerders se koppe aangaan en dat hul vir n donker toekoms ywer. Hul besef natuurlik ook dat die belaglike demokrasie vlg. z n radikale skending van die menseregte van miljoene studente en skoliere is , en ook van die totale samelewing is wat hul kwesbaar en strafbaar by die ISH maak. Daar is nogal van hulle wat effens in die toekoms kan sien.

callie ·

Daar moet besef word dat die regering hom wil distansieer van alle moontlike plekke waar hulle dalk verantwoording moet doen. Besef niemand dat die nuwe openbare beskermer nou ook Zuma is. Die SAP, Weermag Valke, ens is alles Zuma beskermend. Al wat nou nog keer is Gordhon met die staatskas se geld en as die ANC eers uit die ISH is kan Zuma met gemak Mugabe na n amateur laat lyk. Kan nie glo niemand besef dat Zuma hier is om te bly.

Penellope Jones ·

Wat uiteindelik daarop neerkom dat dat Masutha die Al Shabir se handelinge goedkeur.

Penellope Jones ·

Wat uiteindelik daarop neerkom dat dat Masutha die Al Shabir se handelinge goedkeur.
Die ANC wil speler en skeidsregter speel.
Dit werk net in Afrika, nie in die res van die wereld nie.

DewaldS ·

Die Intetnasionale Sttafhof se versuim om teen oorlogsmisdadigers soos Tony Blair, George Bush en Benjamin Netanyuah op te tree, het hulle van alle krediet-waardigheid ontneem. So kredietwaardig soos ‘n sewe-rand noot …

DewaldS ·

Die Internasionale Strafhof se versuim om teen oorlogsmisdadigers soos Tony Blair, George Bush en Benjamin Netanyuah op te tree, het hulle van alle krediet-waardigheid ontneem. Hulle is nou so kredietwaardig soos ‘n sewe-rand noot …

Wicus Jansen Van Vuuren. ·

Kry maar die wasgoed pennetjies reg vir die neus. Ons gaan stink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.