Mulder oor Paul Kruger as grootste Afrikanerleier

Dr. Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder

Wat maak Paul Kruger die grootste Afrikanerleier?

President Paul Kruger speel ’n prominente rol om die ou Transvaalse Republiek van ’n agterlike arm en onderontwikkelde staatjie te ontwikkel tot ’n moderne staat van sy tyd. ’n Staat erken deur die wêreld met ambassadeurs van al die groot moondhede van daardie tyd in Pretoria. Verskillende groeperinge Afrikaners, wat elk ’n eie republiek wou stig, moes hy met geduld bymekaar bring om dit moontlik te maak. Dit het verder behels om ’n staatsdiens, regstelsel en ekonomie te vestig sonder dat hy ooit enige opleiding hierin gehad het. Met net ’n basiese skoolonderrig, wat hy tuis ontvang het, staan Kruger nie ’n duim terug vir die meerderwaardige Britse staatsmanne met hulle Oxford- en Cambridge grade met wie hy meer as een keer moes onderhandel nie. Talle staaltjies word vertel oor hoe hy moeilike probleme met eenvoudige “boere-wysheid” opgelos het.

Kruger het ongeag al die negatiewe propaganda oor die verlede, goeie verhoudinge met meeste swart stamme gehandhaaf. Die rykdom van die Royal Bafokeng vandag kan regstreeks na Kruger se hulp en samewerking aan hulle ten opsigte van grond herlei word. So is die Kruger familie-bybel deur die familie tydens die Anglo-Boere-oorlog aan die Magato stam van Rustenburg oorhandig vir veilige bewaring om dit uit die hande van die Britte te hou. Dit sê iets van verhoudinge.

Na die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë (1881 en 1902) is Kruger soos ’n held in Europa ontvang en is verskeie toekennings en van die hoogste ordes aan hom toegeken. By een geleentheid (22 November 1900) het sowat 130 000 Franse Kruger by die Franse hawe Marseille verwelkom. In Den Haag is hy amper as ’n soort “mitiese god” ontvang en moes die hoteleienaar op ‘n openbare funksie ’n kennisgewinkie by Kruger plaas met die versoek dat die gaste hom nie moes aanraak nie!

Nieteenstaande al die terugslae en teleurstellings tydens sy lewe, bly Kruger amper kinderlik gelowig en in sy laaste boodskap steeds positief oor die Afrikaner en sy toekoms.

Om vry te wees en jouself te kan regeer is Kruger deel van die Groot Trek uit die Britse Kaap uit. Na hy alles gedoen het om oorlog te probeer vermy, sê hy aan die Britse onderhandelaars julle wil nie stemreg hê nie, maar my land. Hy eindig alleen in Switserland en glo steeds in die toekoms van die Afrikaner.

“Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterwe nie,” skryf hy in sy slotboodskap as banneling uit die vreemde. Na sy afsterwe bring die Franse hulde aan hom met die boodskap: “Die leier van ’n klein volk, wat staan vir ’n groot idee.”

[Paul Kruger is ‘n kandidaat in Maroela Media se Grootste Afrikaner-projek – stem hier vir jou kandidate!. ~ Red.]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

elise bauling ·

Beslis die grootste staatsman ooit. Mar God weer vir ons so n man stuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.