MultiChoice en ’n nuwe era van sensuur

MultiChoice se dreigement om borgskappe te ontrek omdat Steve Hofmeyr optree in die video van “Die Land” het ʼn hele geskarrel veroorsaak. Die Ghoema-trustees het gevolglik die benoeming as beste musiekvideo teruggetrek waarin kunstenaars soos Hofmeyr, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay en Ruhan du Toit optree.

MultiChoice het volgens Netwerk24 gesê “Hofmeyr se standpunte stem nie ooreen met dié van die maatskappy nie” en dan bygevoeg “MultiChoice is verbind tot die bou van ’n nierassige samelewing en veroordeel alle dade van diskriminasie ten sterkste. MultiChoice is trots op sy ondersteuning van Afrikaans, nie net ons belegging in inhoud vir ons DStv-platforms nie, maar ook deur ons borgskappe van feeste, geleenthede en die breër Afrikaanse uitvoerende kunstebedryf.”

Ter sprake is nie ʼn rassekwessie, Afrikaans as taal of dat Steve Hofmeyr deur sy politieke uitsprake reg of verkeerd is nie. Steve Hofmeyr is ʼn briljante kunstenaar en het hy ʼn reuseverskil gemaak met sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Dit is egter oor sy uitsprake en standpunte waar hy soms die nekhare laat rys en waarmee mense heftig van hom verskil en wat hom omstrede maak. Die doel is egter nie om nou standpunt in te neem vir of teen Steve Hofmeyr nie.

Ter sprake is die lyn wat MultiChoice oorgesteek het en deur die dreigement om borgskappe te onttrek en gevolglik blatant betrokke raak in die inperking van vryheid van spraak. Ongelukkig moet MultiChoice dan self sy eie kriteria wat hy gebruik het om te dreig om die borgskap te onttrek, van toepassing maak op sy borgskappe aan politieke partye. As MultiChoice ernstig is om dit op rekord te stel dat die maatskappy “verbind is tot die bou van ’n nierassige samelewing en alle dade van diskriminasie ten sterkste veroordeel, dan is daar borgskappe wat hulle in die verlede gegee het waarmee hulle nie hul eie toets van “ ʼn nierassige samelewing” en “dade van diskriminasie” sal kan slaag nie.

In die onlangse verlede was MultiChoice betrokke by politiekepartyborgskappe wat, na verneem word, ruim finansiële bydraes is.

“As jy deur die uitstalsaal loop op pad na die Progressive Business Forum by die ANC se nasionale konferensie, kan jy nie die dubbelverdieping kleurvolle multimediavertoning by MultiChoice se stalletjie misloop nie. MultiChoice het sowel Vrydagaand se galadinee geborg as Maandagoggend se Progressive Business Forum-ontbyt. Fin24 berig oor ANC borgskap deur MultiChoice – 18 Desember 2017

Net so het Imtiaz Patel, MultiChoice se uitvoerende hoof, op 11 Januarie vanjaar by een van die twee hooftafels gesit by die ANC se jaarlikse verjaarsdagdinee wat gehou is by Durban se Internasionale Konferensiesentrum en waar kaartjies vir ʼn sitplek aan die tafel verkoop is teen nagenoeg R500 000 per kop. Daily Maverick oor die Januarie 2019 dinee en borge

MultiChoice sal getoets moet word aan konsekwente optrede. Hulle wil hul borgskap aan Ghoemas onttrek oor Steve Hofmeyr se betrokkenheid, maar is blatant in borgskap aan die ANC deur die ANC se Progressive Business Forum. Die dreigement om die borgskap te onttrek, is as gevolg van MultiChoice se “verbintenis tot nierassigheid”, maar dan gee hulle ruim en oorvloedig aan ‘n party wat met regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kaderontplooiing en kwotas alles en nog meer doen om meer rassisme en diskriminasie aan te blaas. ANC-leiers se uitsprake wat soms erg rassisties is, is al telkemale oor gerapporteer. Die ruim borgskap in 2017 vir die ANC se nasionale konferensie moet ook gesien word teen die agtergrond van staatskaping en korrupsie. Deur hul borgskap aan die ANC assosieer hulle dus met regeringsbeleid wat wel diskriminerend is en nie hul visie van ʼn nierassige samelewing bevorder nie.

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit skryf in ʼn ope brief aan die Ghoemas se uitvoerende hoof, Heidi Edeling “Kunstenaars is vrye geeste en daardie vryheid moet beskerm word. Dit skep ʼn ongelooflike slegte presedent indien borge begin voorskryf wat in is en wat uit is. Vandag besluit ʼn borg watter lied onttrek moet word, maar môre skryf ʼn borg voor watter lied bygevoeg moet word. Vandag besluit ʼn borg hulle hou nie van ʼn kunstenaar se standpunt nie en môre hou hulle nie van ʼn spesifieke lewenstyl nie. Vandag is dit ʼn borg en môre is dit die staat.”

Tim du Plessis skryf in Rapport oor die debakel: “Maatskappye, soos die ou Naspers en nou MultiChoice, is ook genoteerde winsjagters, maar hulle roem graag daarop dat hulle daarbenewens ook ‘trotse voogde’ is van kunstenaars en joernaliste se reg op vrye meningsuiting. Nou weet ons van beter.”

Alhoewel Tim du Plessis ander aanvegbare stellings maak oor Afrikaners, is hy wel korrek in sy slotbetoog: “Vryheid van spraak en van assosiasie asook die vrye uitdrukking van kreatiewe skepping – alles ooreenkomstig die Wet – is die moeite werd om voor te stry. Saam met alle Suid-Afrikaners.”

Ons bly vas oortuig daarvan dat daar ʼn breë meerderheid Suid-Afrikaners, (wit, bruin, Indiër en swart) is wat hulself nie kan vereenselwig met rassistiese uitlatings en standpunte nie. Hierdie breë groep Suid-Afrikaners is die stille meerderheid wat die Handves van Regte uitleef, maar gyselaar gehou word deur individue en groeperinge se eie (soms onaanvaarbare en onverantwoordelike) agenda. Dit alles moet die heeltyd konsekwent getoets word teen die toepaslike evaluering en interpretasie van vryheid van uitdrukking in die Handves van Regte soos vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet:

Art 16 Vryheid van uitdrukking:

  1. Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is:

(a) die vryheid van die pers en ander media;

(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;

(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en

(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.

  1. Die reg in subartikel (1.) omvat nie:

(a) propaganda vir oorlog nie;

(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of

(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Bogenoemde beteken dat daar wel ʼn beperking is op vryheid van spraak en dit is wat geëvalueer moet word. Dit is waar die Menseregtekommissie na ons mening gefouteer het in die Malema-uitspraak. Dit beteken egter ook dat daar bepaalde verantwoordelikhede daarmee saamgaan. Vryheid van spraak of uitdrukking kan ook in ʼn vorm van protes uitdrukking kry. Strugglekuns en -liedjies, asook proteste soos die Voëlvrybeweging onder Afrikaanse kunstenaars, het daartoe bygedra om ʼn klimaat te skep vir die beëindiging van apartheid.

Moet ʼn nuwe vorm van protes binne alle kunsvorme nie dan ook bydra om die vergrype van die huidige regering, soos diskriminasie, korrupsie, staatsverval en vele meer ook uit te lig nie? Dit kan nie deur ʼn maatskappy – soos MultiChoice wat nie konsekwent is in borgskappe en die evaluering daarvan nie – gebruik word om borgskappe te onttrek of deur die Ghoema Trustees in ʼn selfopgelegde verbod aanvaar word nie.

Deur die finansiële afdreiging is kuns die eerste slagoffer van ʼn nuwe era van sensuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Santie ·

Ons het Multichoice al n hele paar jaar terug gekanseleer.

Santie ·

Die anc en eff handel glad nie volgens die Art 16 hierbo nie.

Wurmpie ·

En wat van Multichoise wat net werks geleenthede vir die ander gee. My seun het aansoek gedoen en hy is nie goedgekeur nie want hy is nie minder bevooreg nie. Multichoice weet nie eers wat ek verdien nie

ChrisE ·

Kyk net wie is die “hoof” van Multichoice. Ek kan die geskiedenis van die betrokkenheid van die soos die hoof blootlê, maar sal dan vir oa hoogverraad aangekla word. ‘n Ander sprekende voorbeel is die hoof van Independent Media. Daarmee volstaan ek. Lees tussen die lyne.

Andreas ·

Mnr Jan Bosman, ek vertrou julle het hierdie skrywe van jou aan Die Hoofbestuur en die Direksie van MultiChoice gestuur.

kolla ·

Hermann slaan die bal mis. Die betrokke lied is nie geboikot oor die inhoud daarvan nie maar oor Hofmeyr se betrokkenheid daarby. Steve se twak opmerkings kan nie as kunstenaarsvryheid gesien word nie, dit is haatspraak gemik teen swartes.

phillip ·

My magtag Kolla! Nou wat van die haatspraak van swartes wat nie eindlik haatspraak is nie. Met watter bril kyk jy na die wereld?. Die brief gaan oor hulle dubbele standaarde hier. Die lied waar Steve in optree moet ontrek word terwyl die einste mense saam met die werklike rassiste en haatspakers om dieselfde tafel sit en party hou.

Jan ·

kolla; Indien Steve se opmerkings twak is, waarom dan die oproer?

John ·

Is die Guptas nog in SA? Ek vra maar net… Multichoice… luister na die betekenis van die woord. Maar eintlik sien die groep onder die Indiese hoofbestuurder iets heel anders raak… baie magtige organisasie in sy eie oge. Dit is tog so interessant dat die destydse NP-regering Indiese werkers in 1910 en later aan die voortvlugtende Ghandi verblyfreg verleen het. En het hy nie ook hier probeer moeilikheid maak nie… En nou moet Afrikaners soet kindertjies wees. Stank vir dank…

HPV ·

NP het beslis nie 1910 bestaan nie, inteendeel dit is jammer die NP het ooit bestaan.

Kaptein ·

En die ANC, EFF en BLF Multichoice. Geen kritiek van julle kant af in hulle rigting nie.
Ja ja, nie-rassig blah-blah.

Andreas ·

Aha, ek sien MultiChoice se logo het sewe kleure in, die kleure van ‘n prisma, of die van ‘n reënboog soos wat Desmond Tuto oor liries geraak het van die land se mense, maar die kleure trou nie met makaar nie, dié het ons nou al prakties en polities ervaar, so MultiChoice, waarom gaan maak julle nie ‘n draai by Dulux of Rockgrip nie, dan probeer julle weer.

JJ ·

Dankie tog el was reeds 5 jaar terug gefrustreerd met hierdie gemors en dit toe onmiddelik gestop.
Ons het al 5 jaar sonder die gemors ANC borg klaar gekom ander kan ook!!!!

Veritas ·

Stem saam JJ, die programme is van swak gehalte. Meeste gesinne hou DSTV aan om sport te kyk en niks anders nie. Soos die Protea-rugbyspelers deesdae speel, is dit nie die geld of moeite werd nie.

ChrisE ·

John, ek vra dieselfde vraag. Almal bekommer hulle oor een familie wat kom plunder het. Ons vergeet gou van die ander amper miljoen wat onder ons neuse bly. Kyk waar is hulle ingegrawe.

Frikkie in PTA ·

Multichoice is eerder VERBLIND as verbind. Myns insiens het hulle hul ware kleure gewys deur hul impulsiewe besluite. Multichoice soek nou mooivoetjie, want Joe Heshu (MultiChoice se hoof van korporatiewe sake) se uitspraak was verseker ‘n groot doodsteek vir ware Afrikaners se verdere subskripsie.

koos ·

Ek gaan Multichoice nie mis nie.
Wat het politieke partye hieroor te sê? Dit kan bepalend wees vir my stem.

MB ·

Soos met alles is niks konsekwent nie. Ek is lankal klaar met MultiChoice. Buiten dat hulle mense blatant uitbuit, het hulle nou hierdie gemors ontketen. Dubbele standaarde op dubbele standaarde. Gelukkig is daar baie ander opsies beskikbaar

soosditis ·

Harmonie het in my huis neergedaal toe ek multichoice 7 jaar gelede kanseleer.Ek kry mense met Multichoice jammer.Multichoice leef anti-wit rassisme uit met hul pakketfooi struktuur.Die wit rugbykykers moet tot aan die graf die swart sokkerkykers subsidieer.Dit is ń
rassistiese maatskappy.Die CEO is ń rassis wat dit sy plig voel om blankes wat nie die kode vir “newspeak” handhaaf nie te straf.
Mandeliaanse coconut.
dishoeditis

Dries du Toit ·

Ek kan net nie glo dat ou Steve so vervloek word oor absoluut niks nie. Selfs die aardskommunis Harold Pakendorff het n bekvol oor Steve gehad vanoggend op Ontbytsake

HPV ·

MultiChoice ongeveer drie jaar gelede vervang met Netflix en “Openview”. Kyk baie YouTube, lees ook Maroela en ander internet koerante alles op my tv. Maw ek het nie nog tyd en plek vir multichoice ook nie, mis dit nie.

Sê-maar-net ·

Hier is nou ‘n yslike gaping in die mark vir ‘n jong entrepreneur: stig ‘n opposisie – maatskappy vir Multichoice en kyk hoeveel klante jy gaan kry: duisende indien nie miljoene nie. Veral as jy die pryse laag hou! Ek kyk uit vir jou!

ChrisE ·

Sê-maar-net daar is reeds ‘n teenvoeter gestig. Die maatskappy se naam is Pocketdeal. Dit kos R399 en jy kan hulle op google opspoor.

Faan Valjaan ·

Die situasie waarbinne Multichoice die vryheid het om alle grense te oorskry, is natuurlik die baba van die einste skrywer se organisasie, voorheen die Broederbond. Nóú is hy ontsteld? Mnr, dit is julle verraad teen Afrinanerbelange wat ons het waar ons is. Jy is net so skuldig soos Multichoice.

Lord Oom Piet ·

“MultiChoice, the pay-TV company that owns DStv and M-Net, made a questionable payment of R25m to the Guptas’ controversial ANN7 channel, the #GuptaLeaks show.

In addition, MultiChoice increased its annual payment to ANN7 from R50m to R141m.”
Uit News24 artikel, 24/11/2017

Baie skynheilig van Multichoice, wat aktief aan SA se staatskaping deelgeneem het, om vryheid van spraak te onderdruk deur kunstenaars se mond te probeer snoer.

Juan Olivier ·

MultiChoice nes die res van die ver-linkses is ok met rassisme, net solank die rassisties teenoor wit mense is. Dis hoekom ek my Mweb ook so paar jaar terug gekanselleer het, want hulle behoort ook aan die ver-linkse NASPERS.

Jerry ·

Wanneer n persoon art 16 oortree deur ongegronde uitsprake te maak wat veralgemeen en verdelend is, soos die standpunt dat swartmense die argitekte van apartheid was, is die naam Steve Hofmeyer, die naam is nie witmense of Afrikaner nie! Apartheid was gesien as n oplossing, nie deur witmense of deur die Afrikaners nie, dit was n witman, n Afrikaner met n naam. Die oorsaak vir apartheid is nie swartmense nie, dit was aktiviste wie onder kommunistiese invloed die standpunt gehuldig het van “all or nothing” en hulle het almal name. Soos met byvoorbeeld, die Rivonia saak, was dit mense met name, dit was nie die swartman wat nie aangekla was nie! Wat is Solidariteit, byname Dirk Hermann besig om te doen deur Steve Hofmeyer in te span om borge te laat onttrek en die Afrikaner as hoofborg te verklaar. Dirk Hermann is besig om Steve Hofmeyer se standpunt te gebruik asof dit die witman, die Afrikaner se standpunt is, wat nie die geval is nie, dit bly n Steve Hofmeyer standpunt. Deur Steve Hofmeyer se standpunt, die Afrikaner se standpunt te maak, beperk Dirk, willens en wetens, die Afrikaner se vryheid van keuse en assosiasie tot Solidarteit keuses en assosiasies. Dirk Hermann is dus die argitek van gedwonge Afrikaner selfbeskikking, dit is nie die Afrikaner nie, nog minder is dit swartmense. Die oorsaak is ANC beleid, die oorsaak is nie swartmense nie! Steve Hofmeyer se standpunt is dus onakkuraat en Dirk se motief is kwaadwillig!

Anoniem ·

Ons gaan dophou of MultiChoice dit gaan oorleef in ‘n Jaar of 3 en of die Rekeningkundige State dan nog ‘KLOP’ ???

MY SKOTTEL GEBRUIK EK KLAAR OM IN TE BRAAI ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.