Munisipale verkiesing: Vir die eerste keer stem Suid-Afrikaners ‘on-etnies’

Foto: Facebook.com

Foto: Facebook.com

Suid-Afrikaners se stemgedrag verlede week het iets buitengewoon interessants aan die lig gebring.

Soos talle ander lande met ’n etnies heterogene bevolking stem Suid-Afrikaners tradisioneel grotendeels langs etniese grense. ’n Studie van die jare 1910-’94 bring aan die lig dat die etniese faktor breedweg steeds belangriker geword het.

In die heel vroegste jare ná Uniewording was dit slegs in beperkte mate die geval. Die Engelssprekende Suid-Afrikaners het oorwegend vir die Britsgesinde Unionistiese Party of genl. Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party (SAP, vandaar die bynaam “Sappe”) gestem. Die Afrikaners het in die eerste verkiesing ook hul kruisies agter die name van SAP-kandidate getrek, maar ná die stigting van die Nasionale Party (NP) van genl. JBM Hertzog in 1914 het dié party steeds meer Afrikanerstemme van die SAP weggetrek.

Die rede was eenvoudig. Die Unioniste het die Engelssprekendes se sentimentele bande met “home” – Brittanje – uitgebuit. Die Nasionaliste het ’n appèl gedoen op die gevoelens van vernedering en ekonomiese agtergesteldheid wat die Afrikaners in dié jare ervaar het, en die SAP het in die middel deurgeval.

Dié ontwikkeling is deur die koalisie en samesmelting van 1933-’39 tydelik gestuit. Maar dit het ook saamgeval met die ekonomiese Depressiejare, wat ’n bydraende faktor was in die radikalisering van Afrikanernasionalisme.

Uiteindelik het die Nasionaliste in 1948 genoeg Afrikanerstemme weggelok om aan bewind te kom. En in die eerste twee dekades van sy bewind het die emosionele groepdruk só groot geword dat net die moedigste Afrikaners nié vir die NP gestem het nie.

“Ware” Afrikaners het hul stemme op die NP uitgebring. Afrikaners wat vir die SAP se opvolger, die Verenigde Party (VP), gestem het, of – nog erger, die Progge – is deur die establishment soos ’n slegte reuk verdra.

Ná die twee skeurings in die NP van 1969 en 1982 het “ware” Afrikaners ook nog ’n keuse vir die Herstigte Nasionale Party (HNP) of die Konserwatiewe Party (KP) gedoen. ’n Oorweldigende persentasie van die Afrikaners het puur op grond van hul etnisiteit vir die NP, HNP of KP gestem.

Eweneens het die Engelssprekendes oorwegend vir die VP of Progge gestem. In 1966 en weer in 1977 het ’n beduidende persentasie weliswaar agter die NP gaan staan, maar in die daaropvolgende verkiesings weer teruggespring.

Dié basiese neiging is in ’n nuwe konteks ná 1994 voortgesit. Soos die NP in die vroeë 20ste eeu homself as die legitieme bevrydingsbeweging vir die Afrikaners gemanifesteer het, het die ANC nou daardie posisie onder die swart mense gemonopoliseer.

Sy mededingers, die IVP en die PAC, is – dikwels met brute geweld in die townships – geneutraliseer. In die daaropvolgende verkiesings het die ANC verreweg die meeste swart stemme behou.

Die Afrikaners se NP het eerloos en roemloos van die toneel verdwyn. Ironies genoeg is sy rol op ’n manier oorgeneem deur die Demokratiese Alliansie (DA), die afstammeling van die eertyds so gehate Progge. Dít is die party wat ’n oorweldigende meerderheid van die wit en Afrikanerstemme trek.

Onder die Wes-Kaapse bruin mense neem die voorkeur vir die DA ook met elke verkiesing toe, al staan die ANC sterker onder die bruin mense in die Noord-Kaap, dalk omdat feodale toestande daar nog eerder voorkom as in die Wes-Kaap.

Ook die Indiërs neig toenemend na die DA.

Wat dus tot voorverlede week se stemmery gebeur het, is dat die ANC die voorkeurparty onder die swart mense is en die DA onder die nie-swartes. By sommige uitslae het dit byna soos ’n sensus-opname gelyk.

Alles dui daarop dat dié neiging verlede week ’n behoorlike knou gekry het.

Wit mense wat vir die ANC stem, bly skaarser as hoendertande. ANC-gesinde bruin mense en Indiërs word steeds minder.

Die grootste en interessantste verskuiwing kom egter onder swart mense voor. Slimmer mense as ek sal die presiese persentasies kan uitreken, maar vir die eerste keer in die geskiedenis het ’n betekenisvolle hoeveelheid swart mense vir die DA gestem. Dit ondanks die persepsie – iets wat pres. Jacob Zuma en die ANC hard probeer stoot het – dat die DA eintlik die “Boere” se party is.

Nou moet ’n mens versigtig wees en nie te eufories raak nie.

Dit was slegte, koue weer oor groot dele van die land, wat die stempersentasie negatief beïnvloed het. Dit het veral die ANC benadeel. Daarby moet jy aanneem dat heelparty swart mense doelbewus nié gaan stem het nie. Dis mense wat keelvol is vir die ANC, maar nog nie die emosionele sprong kon maak om die party van die “Boere” te steun nie.

Bowendien beleef Suid-Afrika ’n beduidende verstedeliking en opkoms van ’n swart middelklas. Die etniese gom verwater dikwels by sulke mense.

Ook was dit plaaslike verkiesings. Op die vlak van die nasionale politiek was daar minder op die spel as wat dit met ’n parlementêre verkiesing sou wees. Die vraag moet gestel word: Sou die swart mense wat DA gestem het, dit ook in ’n parlementêre verkiesing gedoen het? Dis ’n vraag wat die slim mense gerus kan ondersoek.

Nietemin, selfs met al dié voorbehoude moet ’n mens sê: Vir die eerste keer het ’n beduidende persentasie Suid-Afrikaners “on-etnies” gestem. Die rede is duidelik: Mense sien voor hul oë hoe Zuma en sy kornuite in die ANC op alle regeringsvlakke niks omgee vir die kiesers nie, en slegs uitblink in oneerlikheid, korrupsie, selfverryking en onbekwaamheid.

Hulle neem kennis dat daar munisipaliteite is waar die “Boere” regeer, en waar dit met hul mede-swartes veel beter gaan as waar die ANC aan die bewind is. Vir die eerste keer stem hulle dus met die grys selle tussen hul ore, pleks van met hul bloed.

Vir die toekoms van die demokrasie in Suid-Afrika is dit goeie nuus. As dié neiging voortduur – en kyk goed na die aanname, want niks is vanselfsprekend nie – kan dit die begin van ’n ommekeer in ons land wees.

Einde 2007 het die ANC-lede die ondenkbare gedoen deur hul leier, pres. Thabo Mbeki, die trekpas te gee. ’n Mens kan aanvaar dat daar tans weer in ANC-agterkamertjies oor die moontlikheid om ’n Mbeki op Zuma te trek gefluister word.

Maar niks is seker nie. Zuma het nie gekom waar hy is op grond van sy gewete of sagsinnigheid nie; hy is ’n sluwe boelie soos min.

Moenie dink dat hy met sy stert tussen sy bene by die agterdeur sal uitsluip nie. Hy gaan terugveg – en dit maak dinge sommer baie gevaarlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Neels ·

Dankie vir die stuk. Geskiedenis het bewys dat sosio-ekonomiese omstandighede bepaal of kiesers langs etniese lyne stem of nie. Solank dit goed genoeg gaan, vervaag etniese lyne, maar sodra dinge begin swaar gaan val mense terug op hulle wortels. Tony Leon het dit raakgesien na `94 en n nuwe tuiste geskep vir die Afrikaner deur te speel na sy belange. Dit is duidelik dat die DA daardie posisie dramaties verander het in die onlangse verkiesing en weereens bevind die Afrikaner hom in die politieke wildernes. Die Afrikanser soek n politieke tuiste en is gereed om gepluk te word. Dit is onmoontlik om die agtergeblewe massas se stem te wen en terselfdertyd nie die Afrikaner te vervreem nie, die twee groepe se belange is net te uiteenlopend.

Kobus ·

Maar nog steeds word daar vir die breë gehoor gespeel, die DA, ANC en EFF is almal tot ‘n mindere of meerdere mate populisties, die ekstreme is die EFF.

En daar sal nog der jare se water in die see moet loop voor die mense vir ‘n party met integriteit, hoë morele waardes en nie-diskriminerende praktyke- en wetgewing, kan stem. Nie een van die drie hier bo is so ‘n party nie, die meerderheid kiesers het dus nie veel van ‘n keuse nie.

Al die etniese minderhede in die land se individuele regte sal bly vertrap word, in die belang van die betrokke party in sy strewe om vir soveel mense moontlik dit aanloklik te maak om vir die DA of EFF te stem, van die ANC ontslae te raak ten einde korrupsie stop te sit, terselfdertyd dienste te lewer, omdat die ANC faal.

Tans is dit die wit mense en spesifiek die Afrikaner se belange wat in die slag bly, teen wie gediskrimineer word. Dit is blykbaar nie net aanvaarbaar nie, maar word ook deur al die bogemelde partye onderskryf.

Dit lyk my tans weeg dit swaarder as morele waardes, in die proses word ook hul individuele regte ooglopend deur die bogemelde partye vertrap, al sê die Grondwet wat.

Rupert Ashford ·

Kobus daar bestaan bitter min politieke partye wat hoe morele waardes en integriteit waarna jy verwys najaag internasionaal newwermaaind in SA. Hulle speel die spel van die massas se guns wen sodat hulle met die geld kan speel en genoeg daarvan vir hulleself vat in die proses en basta met die res. Morele waardes sal maw die bree massas sin weerspieel en dit is maar ‘n gemors op die beste van dae.

Koos1 ·

Ek het dit al in die verlede gesien en die steun taan wel vir die ANC, my vraag is net dit: Het die kiesers vir die opposisie gestem omdat hulle werklik saam met hulle beleid stem, of het hulle gestem om die ANC uit te kry? ‘n Paar jaar terug is die vraag ook geopper tydens die verkiesing van die ANC president, toe is gese: Ek sal vir enige iemand stem, solank dit nie Zuma is nie.
Is die enige iemand dan werklik goed genoeg om daar te wees, of net in werklikheid daar omdat die een tans daar baie sleg is?

Loeis ·

Dit sou ‘n taamlike sot kos om te dink dat die DA ‘n “Boere” party is. ‘n Party wat uit die PFP kom, vervleg met die Black Sash, is allesbehalwe.

Minderhede se steun aan die DA is ironies juis op daardie party se swart steun geskoei, want op hierdie manier kan mens deel van ‘n sterker opposisie teen die ANC wees.

Bg situasie hou egter ‘n paar probleme in:
1 die DA se beleid verskil nie veel van die ANC s’n nie,
2 minderhede in die DA se belange is dus aan die meerderheid s’n uitgelewer,
3 in talle rade het die DA nie die ANC gewen nie, en moet ‘n koalisie vorm,
4 dit lyk of van daardie koalisies met ANC Horror Version (EFF) gaan wees,
5 indien bg punt waar is, kon jy net sowel jou kruisie elders getrek het, of nie getrek het nie,
6 Mbeki het Zuma gebruik om die Zulu steun te verdeel, en wanneer Zuma uittree, gaan ‘n deel van daardie steun terugvloei na die IVP, wat reeds dei tweede sterkste party in Natal is.

Ek wil van Leopold verskil: die toename in steun vir VF+ en die IVP toon dat etniese faktore ‘n sterk rol speel, en dalk ‘n grootter rol in die toekoms sal speel.

Frik Lotz ·

Enigste party wat nog veg vir die regte van Afrikaners en ander minderhede is die VF Plus. Die DA voel vere vir minderheidsregte.

John ·

Loeis jy’s reg. Frik, hoe en waar veg die VFPlus vir die Afrikaners? Ek dink die rede waarom mense nog vir die VFPlus stem is omdat dit verlangs nog na ‘plaas’ wil-wil ruik. Maar hulle verbeel hulle want die vryheid is net ‘n front. Die plus is eintlik die ding…

Kobus ·

John, waar het hulle jou so kwaad gemaak? En die plus, of moes dit ‘n minus gewees het? Ten minste probeer hulle, ook met hofsake die Afrikaanse saak veg. Terwyl geen van die ander partye hul tyd en geld op die Afrikaanssprekendes sal uitgee nie. Hulle stel net nie in die minderhede se aspirasies belang nie. Die minderhede het ook gemende delers, veligheid, sekuriteit, werk, stabiliteit, noem dit, maar dan het hulle ook hul kultuur en taal wat vir hul dierbaar is, en waarvoor daardie groot partye nie ‘n snars omgee nie. Weet jy wat, op die einde van die dag is ons almal in die land ‘n mengelmoes van etniese minderhede, van die Sjangaan reg deur tot by die Afrikaner.

John ·

Die VFPlus vang net gees voor verkiesings en sing dan bangmaak-liedjies vir die witmense en slaap-piekanienies vir grootogiges langs kampvure. Die DA en die EFF tree soos skoolkinders op by ‘n debatsverenigingbyeenkoms. Kritiek is ‘n maklike woord om te spel. Minderhede, ja, ja, en so? Wat se dit? ‘n Man/Vrou trou nie net met iemand omdat dit die enigste persoon is wat hulle vir ete genooi het in 4 jaar nie, hoewel die persoon min in gemeen het met hul eie waardesisteem. Stem, stem as julle veilig voel in ‘n bondel. Ander is nie so’ hardop nie. ‘n Groot breuk in Afrikanergeledere soos net voor die Groot Trek is op hande, want haat bou op teen diegene wat weier om soos lammers ter slagting gelei te word, deur hul naaste wat graag die Globale Stat wil betree en eenwording begeer: ‘n Mulatto-gemeenskap in ‘oblivion’ op die aardse vlaktes… byna soos die ♡♡+-maagde-situasie na dapper dade vir die naaste, genaamd ‘ek’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.