Munisipale verkiesings – Grondwetlike dilemma

Deur Morné Mostert en dr. Eugene Brink

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Die minister van samewerkende regering het die datum van die munisipale verkiesing gepromulgeer en bevestig dat dit op 27 Oktober 2021 gaan plaasvind.

Dit volg nadat die president dié datum reeds op 21 April 2021 aangekondig het. Te midde van die derde Covid-19-golf het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ’n proses van openbare deelname begin rakende die impak wat die virus op die verkiesing kan hê. Die kommissie het voortgegaan en vir oud-adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gevra om ondersoek in te stel of die verkiesing vry en regverdig sal wees binne die ramptoestand wat afgekondig is.

’n Verskeidenheid van organisasies, politieke partye en medici het aan hierdie proses deelgeneem en dit is duidelik dat daar geen eenstemmigheid oor die pad vorentoe is nie. Na verloop van die proses van openbare deelname het Moseneke sy bevindinge in ’n verslag saamgevat en aanbevelings aan die OVK gemaak. Moseneke het aanbeveel dat die verkiesing tot nie later nie as Februarie aanstaande jaar uitgestel word.

Nog voordat die OVK geweet het wat Moseneke se aanbeveling sou wees en voor hul voorlegging aan hom gemaak is, het hulle aangedui dat hulle reg is om met die verkiesing voort te gaan en dat hulle gereed is met die implementering van spesifieke regulasies by sowat 23 000 stemlokale en die aankoop van persoonlike beskermende toerusting. Nou het hulle deuntjie skielik verander.

Medici perspektief en die vooruitskatting

Verskeie organisasies het modelle aangebied oor die moontlike situasie tydens die vierde week van Oktober. Die organisasie Right to Care het ’n model aangebied wat wys dat dit die eerste en enigste week is wanneer die Covid-19-gevalle heeltemal gaan opdroog.

Die Health Justice Initiative and People’s Health Movement South Africa wys twee soorte bedreigings met betrekking tot die komende plaaslike verkiesing uit, te wete die vergrote risiko van oordrag van die virus weens verkiesingsveldtogte en ook vanweë die verkiesing as sodanig.

Prof Sheetal Silal (lid van die ministeriële advieskomitee) voer voorts aan dat teen die tyd dat ons Maart 2022 binnegaan, die vierde Covid-19-golf dalk verby sal wees. In hierdie opsig, voeg sy by, sal die land straks in dieselfde posisie in Maart 2022 wees as in Oktober 2021. Volgens haar gaan ons egter miskien in ’n beter posisie in Maart 2022 wees omdat meer mense dan ingeënt sal wees. “Selfs een meer entstof is wonderlike beskerming en omdat ons teen daardie tyd deur ’n derde en vierde golf gegaan het, sal daar beter natuurlike immuniteit wees.”

Dus glo verskeie rolspelers dat die situasie rakende infeksies moontlik dieselfde kan wees tussen Oktober 2021 en Februarie 2022, maar dat daar meer mense is wat teen daardie tyd ingeënt sal wees.

Munisipale prestasie en die belang van stem

Dit is geen geheim dat munisipale finansies en dus ook dienslewering in die meeste munisipaliteite in die land in ’n beroerde toestand is nie. Die ouditeur-generaal (OG) het byvoorbeeld vanjaar weereens gemeld dat plaaslike regerings se finansies onder erge druk verkeer weens die nie-betaling van munisipale skuldenaars, swak begrotingspraktyke en ondoeltreffende finansiële bestuur. Meer spesifiek is die finansiële posisie van net oor ’n kwart van die munisipaliteite só benard dat daar aansienlike twyfel is of hulle in die afsienbare toekoms as lopende sake sal kan voortgaan.

Die verslagdoening deur munisipaliteite oor hul prestasie is selfs erger as hulle finansiële verslagdoening. Soos in vorige jare was daar nie-voldoening aan verskaffingskettingbestuur, wat aansienlik tot die onreëlmatige bestuur bygedra het, meld die OG. ’n Raps meer as 10% van alle munisipaliteite het in die laaste boekjaar skoon oudits ontvang, waarvan die meeste in die Wes-Kaap is. Swak interne beheer en algemene bestuur is aan die orde van die dag.

Om te stem gaan dalk nie die uitkoms in baie munisipaliteite bepaal nie en die ontnugtering met stemme is begryplik, maar dit bly die mees wettige en vreedsame manier om van swak bewindhebbers ontslae te raak. Dieselfde mense – meestal swart en jonk – wat nie gaan stem nie, probeer met geweld hulle stem tussen verkiesings dik maak. Dit is terselfdertyd ’n voldonge feit dat politieke instellings – hetsy ’n munisipale raad of die Nasionale Vergadering in die parlement – ’n sekere samestelling toon en met besluitnemingsmagte beklee word na afloop van verkiesings. Die ANC en die EFF het reeds bewys hulle stel net in politiek en korrupsie belang.

By AfriForum glo ons in selfdoen en selfbestuur – synde die burgery wat deurlopend self verantwoordelikheid vir hulle woongebiede neem – en nie dat verkiesings die enigste of selfs die vernaamste manier is om dienslewering te verbeter nie, maar met meer etiese en bevoegde mense in hierdie strukture is dit makliker om met owerhede saam te werk, korrupsie te beperk en selfbestuur toe te pas.

Die politieke dinamika en verkiesings het weliswaar oor die jare ook meer vloeibaar begin word. Weens die lae persentasie mense wat stem – veral tradisionele en moontlike ANC-kiesers wat nie stem nie – en opposisiepartye se kiesers wat steeds taamlik getrou hul kruisies trek, het die regerende party se steunpersentasie oor die jare bly daal. Die EFF se steun blyk ook te taan te oordeel na sekere van die onlangse tussenverkiesings. Geen wonder hierdie twee partye staan die uitstel van die verkiesing voor nie.

Ewenwel, dit het veral tot meer mededingende politiek in die metro’s begin lei – soos in 2016 se plaaslike verkiesing gesien. Dit is daarom belangrik dat kiesers hul reg gegun word om hul kruisies in ’n veilige omgewing en binne statutêre riglyne te trek om sodoende te bepaal wie namens hulle besluite neem.

Regsruimte van die OVK om die hof te nader

Die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture is dit eens dat munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie en dat die OVK ’n verkiesing binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn moet hou. Dit blyk dat die Grondwet se bepalings hieroor gebiedend is en daar min of geen beweegruimte vir die hof is om ’n uitstel van die verkiesing ná 1 November 2021 goed te keur nie.

AfriForum het tot die geding om die verkiesing uit te stel toegetree en staan dit teen. Die saak sal binnekort aangehoor word. Ons glo dat die regte maatreëls sal toelaat dat die verkiesing steeds veilig en binne die raamwerk van die Grondwet kan plaasvind. Ons veg vir veiligheid én regverdigheid – daar hoef nie ’n ooreenkoms tussen die twee bereik te word nie. Om die verkiesing uit te stel terwyl die data wys dat dit tussen twee golwe sal wees, kan ’n gevaarlike presedent skep.

  • Morné Mostert is bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum en dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer by gemeenskapsake.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Verkiesing gaan in Oktober 2021 wees. Daarna volg vlak 4 inperking en sluit alle strande in Desember. Dan kan die DA nie meer stemme kry oor daar ‘n lockdown was nie, want dis eers verkiesing en dan lockdown.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.