Munisipaliteite: Gemeenskappe moet herbou wat ANC verwoes

Ouditeur-generaal Kimi Makwetu (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die verkiesing is nou al amper vergete, maar die droewige nuus bly instroom soos die ANC se skandes en swak beleide bloot straffeloos voortgesit word.

Eers hoor ons die bruto binnelandse produk (BBP) het in die eerste kwartaal met 3,2% op ’n jaargrondslag gekrimp. Die regerende party wil steeds die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) laat nasionaliseer en nasionale gesondheidsversekering (NGV) instel.

Die jongste treurmare is dat slegs 18 munisipaliteite (8%) van die 257 munisipaliteite wat deur Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal (OG), vir die 2017/18-boekjaar geoudit is, skoon oudits ontvang het. In die 2016/17-boekjaar was dit nog 14% en dus is dit vanaf ’n reeds skokkende lae basis bykans ’n halvering van die skoon oudits tussen die twee boekjare. Slegs 22 munisipaliteite het in 2017/18 hul ouditmening verbeter terwyl ’n enorme 63 se resultate versleg het.

Munisipaliteite, in veral die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap, Limpopo en die Oos-Kaap is in ’n haglike, kwesbare en erbarmlike toestand. Die Vrystaat is deur die ANC se sekrataris-generaal van die ANC en vername Gupta-proseliet, Ace Magashule, deur die jare geplunder en verniel. Munisipaliteite in dié provinsie sukkel tans om salarisse te betaal en daar dreig ’n staking deur die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (SAMWU). Trouens, SAMWU dreig om by 30 munisipaliteite landwyd te staak omdat salarisse nie betaal is nie.

Makwetu het voorts aangevoer dat die provinsie ’n totale ineenstorting van interne kontroles beleef.

Hoekom dit ons woedend moet maak

Is hierdie maar net nog slegte nuus wat kom en gaan of moet ons werklik bekommerd en woedend wees? Sulke gedrag en uitkomste moet nooit gelate deur ons aanvaar word nie. Plaaslike regering is die vlak van regering wat die naaste aan ons is. Toenemend is plaaslike ekonomieë en omstandighede (soos die skep en instandhouding van infrastruktuur) ook belangriker as nasionale beleid en politiek – veral wanneer dit by metropolitaanse munisipaliteite en hul stede kom.

Dus, plaaslike regering en toestande behels in baie gevalle dit wat regtig vir gemeenskappe en individue saakmaak. Die swak oudituitkomste kan gesien word in hoe plekke lyk en ervaar word. Die munisipaliteite met die swakste resultate is ook die vuilste, armste en mees mislukte plekke om in te woon. Hul paaie is vol slaggate, die straatligte werk nie, die krag en water is vir ure of selfs dae en weke aaneen af en die munisipaliteit se amptenare verryk hulself deur korrupsie en blote diefstal – met ons belastinggeld – terwyl hulle heeltemal afsydig staan jeens die probleme om hulle. In baie gevalle bly hulle nie eens in die munisipaliteite wat hulle verwoes nie want hulle wil nie tussen die verval woon nie.

In baie munisipaliteite kry die inwoners wel waarde vir hul geld, maar in meeste munisipaliteite is dit helaas nie die geval nie. Die probleem is tewens dat die armoede so hoog is en die betalende inwoners so min, dat die swak munisipaliteite op die platteland en ook sommige metro’s nie kop bo water kan hou nie.

Weens Cosatu se verhouding met en houvas op die ANC het baie munisipaliteite te veel personeel en ook die verkeerde soort personeel. Lojale, maar onbevoegde kaders is oral aangestel en trek groot salarisse sonder dat hulle gelykmatige prestasie en werk lewer. SAMWU kan dus nie nou kla oor die gemors wat hulle en die ANC help skep het nie. As hulle munisipaliteite vernietig, verwoes hulle ook lewens en hoop. En dit maak munisipaliteite onstabiel en vatbaar vir betogings en misdaad.

Belasting kan ook verder op ons as middelklas gehef word of van ander prioriteite binne die staat herlei word om bloot hierdie mislukte munisipaliteite aan die gang te hou sonder enige moeilike besluite oor hoe om hulle te hervorm en optimaliseer.

Wat ons te doen staan

Die probleem met pres. Cyril Ramaphosa se bewind sover is dat hy kosmetiese wysigings aan groot kwessies maak om sodoende die opskrifte beter te laat lyk. Selfs dít draai nie die beleggingsentiment of sakevertroue nie en terselfdertyd word belangrike grondvlakprioriteite, soos plaaslike regering, afgeskeep. Gebeure die afgelope tyd bewys ook dat hy geensins in volle beheer is van sy eie party nie. Sy aanstelling van die ewig onderpresterende dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as minister van samewerkende regering en tradisionele sake wys hy slaan nie regtig ag op munisipale krisisse nie.

En moenie ’n fout maak nie: Dit maak saak waar jy bly en deur wie jy regeer word in jou munisipaliteit. Dertien uit die 18 munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het, is onder DA-beheer. Hulle is oorwegend in die Wes-Kaap geleë. Munisipale regering is so belangrik dat die DA nou een van sy strydrosse, James Selfe, in die nuwe pos as hoof van regeringwese aangestel het. Dit is omdat hulle hul werk verder wil verbeter voor die plaaslike verkiesing wat slegs twee jaar in die verskiet is.

Die probleem is egter dat baie Afrikaners en meeste van die bevolking nie daar woon nie. Hulle woon om verskeie redes in ANC-beheerde munisipaliteite.

Afrikaners (sowel as ander mense) is wel besig om teen ’n redelike tempo na sekere streeksdorpe en stede vanaf kleiner dorpe en die platteland toe te trek – juis vanweë swak dienslewering, algehele verval in munisipaliteite en die vooruitsig van beter en volop werk. Maar selfs op baie van hierdie streeksdorpe en stede is daar menigte uitdagings.

Om as individue ’n verskil te probeer maak aan munisipale wanbesteding, korrupsie en swak dienslewering, is te duur en die kans op sukses is skraal.

Daarom moet ons daarop fokus om as georganiseerde gemeenskappe strategies te beplan om ons demografiese en ekonomiese gewig in te gooi daar waar ons die grootste verskil kan maak. AfriForum-takke is landwyd besig om self, onder meer, duisende slaggate en straatligte reg te maak, bome te plant, buurtwagpatrollies te ry en die water en krag aan te hou. Hulle vul dit aan met allerlei aktivistiese aksies.

Ons werk saam met die owerhede as ons kan, maar baie keer is dit bloot futiel. Selfdoen, tesame met slim aktivisme, is daarom die antwoord hoe ons hierdie gety gedraai kan kry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kallie ·

Om kunsmatige gemeenskappe te vorm deur weg te hardloop van probleemareas is ook nie volhoubaar nie.

JohanL ·

Solank as wat onbevoegde kaders wat lojaal is aan die ANC aangestel word en nie bevoegde persone nie, sal dienslewering net ‘n droom bly.

Maar ‘n verdere “klip in die bos” – verdien die inwoners wat nie munisipale gelde betaal nie dat dienslewering by hulle moet geskied? Nou gaan menige seker die argument omkeer en vra hoekom diegene nie betaal nie! En dan sit ons met die “wie was eerste, die hoender of die eier” situasie. Persoonlik dink ek inwoners moet hul rekeninge betaal en kan daarna deur beskaafde kanale enige ongelukkigheid opper.

Tot ons nie almal hand in eie boesem steek en ons houding regkry nie, sal ons op munisipale vlak (wat ons as inwoners eerste raak) sukkel. Maar dit sal nie maklik gebeur nie, so treurmare is seker maar ons voorland.

Skepties ·

Na die oorname van 1994, was daar ‘n absurde pikorde in die ANC leierskap ontwerp. Eerstens is ( sogenaamde ) intellektuele en by voorbaat bannelinge, poste in die hoër echelons van die nuwe regering beloof. Diesulkes het glo die meeste ontbeer en gely onder die ( wrede) apartheids regime. Alhoewel meeste maar in luukse Europese kroeë rondgehang en Johny Blues gedrink en mekaar possies in SA beloof het. Twedens het die minder intellegentes en minder belangrikes poste in die Provinsiale geledere ontvang. Derdens is poste uitgedeel aan die lojale kaders aan die PARTY wat geen opleiding, ondervinding of enige ambisie het in die 3de vlak regering, nl. munisipalieteite. Nou kan landsburgers verstaan waarom die land nou lyk soos hy noú lyk.

Spook.op thaba ·

En niemand se iets oor biblioteke nie nuwe boeke kry nie. Ons betaal vir dienste wat nie gelewer word nie

Danie (2) ·

Uitstekende artikel. Goeie denkrigting, dit kan werk maar daar is talle praktiese struikelblokke om dit ten volle uitvoerbaar te kan maak. Sal die ondersteuning daarvan nie meer aangewakker word as dit met ‘n belasting revolusie teen verkwisting gepaard sou gaan nie. Ons weet dat munisipaliteite tog die verlengstuk van die regering is na die grondvlak, kan ons as burgers dit so gelate aanvaar dat vermorsing / verkwisting en stelery voortduur op die trant wat dit tans is . ‘n Opstand en revolusie is die taal wat ons politici effens tot besinning bring, belasting en verkwistings revolusies kan verskeie vorme aaneem en binne die raamwerk van die wet gedryf word. Die buiteland hou nie van sulke geluide want dit maak ook dat potensiele beleggers ongemaklike vrae vra om by die waarheid uit te kom, wat hulle goeie reg is om te doen. Dit help nie dat CR deel net pragtigte geskilderde traktaatjies uit om sy kaders se politieke doel te bereik nie. Die waarheid wat op die grond aan die gebeur is moet die fondament wees vir beleggers se besluite, anders is buitelandse beleggings slegs van korte duur en net beloftes. ‘n Duidelike boodskap van verset teen verkwisting, onvermoe, oneerlikheid en kader ontplooiing behoort die tema te wees van so ‘n voorgestelde aksie.

aj ·

Dit is wat bedoel word met ‘decolonization’?

Of soos Alan Boesak dit gedefinieer het as “struggle boekhouding”?

Of kom die beste beskrywing daarvoor van Helen Zille af? …. ‘Black privilege’?

Mel ·

Die hartseerste is die feit dat oudits gedoen word maar geen verantwoordbaarheid vloei daaruit voort nie Die totale proses word jaarliks vrugteloos herhaal

Jerry ·

Die bul (gemeenskappe) wat Afriforum so strategies by die horings pak vir die bou van n Afriforum sakeryk kan die forum nog een van die mooi dae goed gaffel, want as jy wil taai wees en terug slaan moet jy heeljaar taai wees en nie plek, plek begin struikel en uitrafel nie! As dit nou al so gaan, hoe gaan dit dan nie oor die langer termyn gaan nie! As die gemeenskap jou soek moet jy daar wees, jy kan nie wil wegwees op vakansie nie en nog minder kan jy in die kroee uithang!

Johanna Botha ·

Die verval onder die DA in pta is ook skokkend …straatligte wat nie werk nie en ligte wat 24/7 brand ! Padtekens word omgery en netso gelaat …nee kyk die plek val uitmekaar. En die arme mense wat lsngs die Hennopsrevier bly …hoe hulle dit uithou met die STANK gaan my tebowe …mens word letterlik naar van die reuk !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.