Munisipaliteite kort waaksame gemeenskappe

Ouditeur-generaal Kimi Makwetu (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die ouditeur-generaal het ’n donker prentjie van die finansiële wanbestuur van 257 munisipaliteite in die land geskilder en gesê dat verantwoordbaarheid steeds afneem terwyl ongemagtigde uitgawes hoog bly.

Staatskaping het ’n vernietigende invloed op alle fasette van die Suid-Afrikaanse samelewing. Ten opsigte van verslaggewing geniet staatskaping voorrang. Die kaping van Suid-Afrika se munisipaliteite was (en is steeds) selfs meer vernietigend. Winsgewende munisipaliteite is in disfunksionele, bankrot-entiteite omskep as gevolg van staatskaping, onbevoegdheid, wanadministrasie, gulsigheid en blote diefstal. Hierdie het die vernietiging van dorpe, besighede en werksgeleenthede tot gevolg.

Ten spyte van die feit dat baie van ons verantwoordelikheid vir die roof van nasionale bates kan omseil, is dit nie die geval waar die plundering van die omgewing waarin ons woon en werk – met ander woorde op munisipale vlak – plaasvind nie. Dit het voor ons oë gebeur, maar ons het verkies om nie betrokke te raak nie; ons het selfs verkies om nie te weet nie.

Maatreëls deur die minister van finansies

Tito Mboweni, minister van finansies, en die tesourie het onlangs regulasies ingestel wat daarop gemik is om korrupsie en vrugtelose uitgawes teen te werk. Hierdie regulasies beïnvloed alle terreine van munisipale sake – besigheidsklasvlugte, duur motors, partytjies, spanbou-oefeninge, etes tydens begrotingsredes, die finansiering van verkiesings en reklameveldtogte, ensovoorts.

Die regulasies beklemtoon die mate waartoe munisipale amptenare en openbare verteenwoordigers rojaal gelewe het op die koste van die fiskus en belastingbetalers en voortgaan om openbare fondse op dinge wat nie ʼn prioriteit is nie, te spandeer.

Hierdie maatreëls stel die gemeenskap in staat om munisipaliteite verantwoordbaar te hou

Hierdie regulasies maak dit vir elke munisipaliteit verpligtend om ’n kostebesparingsplan, wat op die munisipaliteit se webtuiste vertoon moet word, op te stel – met gevolge, sou die plan nie nagekom word nie.

Sonder waaksame deelname, sal daar egter niks van kom nie

Hierdie optrede deur die tesourie is ’n positiewe stap in die proses om munisipaliteite tot op ’n vlak van funksionaliteit te herstel. Die burgery moet egter hul rol vervul om te verseker dat dit plaasvind:

  • besighede (en individue) moet op ’n georganiseerde en ywerige manier betrokke raak;
  • kostebesparende planne moet geëvalueer word;
  • munisipale prestasies moet noukeurig gemonitor word;
  • swak prestasie en nienakoming van verpligtinge mag nie geduld word nie; en
  • waar munisipaliteite nie positief reageer waar en wanneer voldoening vereis word nie, moet die tesourie versoek word om die aangeleentheid te besleg.

Hierdie stappe deur die tesourie is geïmplementeer om munisipaliteite verantwoordbaar te hou. Dit is egter net die plaaslike gemeenskap, in besonder die sakegemeenskap, wat in staat is om verantwoordbaarheid te eis.

Sonder ’n waaksame gemeenskap sal die ou destruktiewe gewoontes voortgesit word en sal ons net onsself kan blameer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Smirre ·

Spaar ons die snert dis nie die gemeenskap se werk om seker te maak daar is nie korrupsie in munisipaliteite nie dis die regering s’n.

Kobus ·

Maar die regering doen nie sy werk nie. Wat nou? Daar moet ‘n meganisme geskep word wat gemeenskap die mag gee om hul munisipaliteite se werk te monitor en stafregtelike prosesse in te stel.

Magda ·

Nie waaksame gemeenskappe nie – Mense wat die regte kwalifikasies het, en wat die werk WIL doen. Die gemeenskap kan nie die munisipaliteite red as die mense in beheer nie eers vir JOU wil luister nie. Fire hulle en kry mense wat betroubaar en die regte kwalifikasies het (nie gekoopte een nie)

Phil ·

Voordat daar nie vanaf die hoogste vlak tot munisipaliteite iemand werklik strafregtelik vervolg word vir “kaping” nie, sal die persepsie voortduur dat jy straffeloos daarmee sal wegkom. Swart mense “split” mekaar nie oor sulke vergrype nie en niemand luister na renige “blanke” raad die adgelope 25 jaar nie…Die feite spreek vanself : die ANC se beleid deug nie vir die doel van regeer nie – hoogstens as opposisiepolitiek. Totdat die ANC nie sy beleid verander nie, sal dinge nie op hierdie terrein verander nie.

OWO ·

Ek stem 100% met jou saam Magda.Die Afrika bestuurstelsel het nog nooit van die grond af gekom nie,en is in totaliteit nie versoenbaar met ons vorige westerse stelsel nie.Die basiese bestuursbeginsels word glad nie gebruik nie,en die produk is orals te sien.Enige stelsel kan omgekeer word deur die regte bevoegde mense in beheer te kry.Ek glo nie dit sal maklik gebeur nie.

Andreas ·

Hulle weet nie eens daar is iets soos basiese bestuursbeginsels nie, dis soos ‘n tuinier wat nie weet die verskil tussen onkruid, ‘n grasspriet en ‘n plantjie is nie. Hy is op sy beste met ‘n snoeiskêr in die hand, of saag. Die ‘gumboots’ is myle te groot vir hom, dis so groot, as hy in die bedding trap is die helfte van jou plante daarmee heen.

Geronimo ·

Die munisipaliteite is uiters waaksaam – hulle benut elke geleentheid om korrupsie en diefstal te pleeg.

Dries du Toit ·

Dit is waar. Dit word tans gedoen deur Afriforum/Solidariteit na die beste van hul vermoee. Sluit aan en help

Andreas ·

Dries, Jan Spies (hehehe… lekker rym dit) het ‘n hond met die naam Waaksaam gehad, in hospitale het hulle egter waak-eenhede. Maar wat meer kan ek sê?

Andreas ·

Mens sien mos hoe dit in supermarkte gaan, die blikkies en produkte word deur die dag op die rakke gepak, mens kan beswaarlik verby die werkers met hul goedere-trollies kom, dit nou in teenstelling met klomp jaar gelede, waar daardie taak na-ure verrig was.
As jy gaan klere koop, kyk net na die kleure/kleurskemas, baie is blink, watookal. My vrou gaan koop eerder materiaal van keuse en maak dit self.

matt ·

Die inwoners en opposisie kan doen en sê wat hulle wil…… by ons baklei die swart gemeenskap hulle arms af om die ANC verkose lede (deur hulle gekies) uit die stoel te kry oor korrupsie en swak dienslewering, maar dit help net mooi niks. Die burgemeester kry elke jaar die “top of the range” BMW X5 omdat die oue nie meer lekker ry nie en oud is (60 000 km). Mense kan kos gegee word, maar jy kan hulle nie slim maak nie…… hulle stem maar net weer vir die wat die beste lieg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.