Munisipaliteite se probleme ʼn spieëlbeeld van SA se toestand

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Ek woon agter die liefde aan in Delft, Nederland. As hartstogtelike Suid-Afrikaner en Afrikaner verslind ek elke dag die Afrikaanse nuusmedia, maar toenemend doen ek dit met ’n swaar hart, want die nuus lyk vir my oorwegend sleg.

Wat tans met die munisipaliteit Kgetlengrivier (wat Koster, Swartruggens en Derby insluit) gebeur, is in die kleine wat met Suid-Afrika aan die gebeur is.

Die munisipaliteit word deur die ANC geregeer. Die gevolg?

Die krane lewer óf geen water nie óf stinkende vloeistof wat eerder aan rioolwater herinner. Die paaie word nie herstel nie en yslike slaggate verrinneweer voertuie. Die kragvoorsiening lol – maar goed, dít is ’n landwye probleem, nie net van Kgetlengrivier nie.

Toe besluit die aksiegroep Kgetleng Besorgde Inwoners (KBI) om met die hulp van AfriForum in te gryp en self die falende munisipale dienste in Koster rakende watervoorsiening en rioolwerke oor te neem. Dit het kragtens ’n hofbevel gebeur nadat die KBI bewyse oor die ANC-wanbestuur in die munisipaliteit voorgelê het.

Maar die ANC sal nie die ANC wees as hy lydelik toesien hoe die inwoners, wat hy veronderstel is om te bedien, sy magte en voorregte beperk nie. In die vyf maande dat die KBI sake beheer het, was daar luidens ’n nuusberig “verskeie hofaansoeke en verwikkelinge”.

Uiteindelik het die ANC gewen. Die hooggeregshof in Mmabatho het beveel dat die private dienstemaatskappy Pionier, wat deur die inwoners aangestel is om die dienste te bestuur, die beheer aan die munisipaliteit teruggee.

Die gevolg? Binne ’n week was Koster wéér sonder water. Die ekskuus was ’n gebarste pyp, die gevolg van jare se gebrekkige instandhouding.

Siedaar, die verhaal van die huidige Suid-Afrika in die kleine.

’n Greep uit onlangse Suid-Afrikaanse koerante:

  • Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het finaal in duie gestort.
  • Die land ly onder ’n toenemende elektrisiteitstekort weens die verkrummelende infrastruktuur.
  • Die ANC speel al weer met die gedagte om grond sonder vergoeding te onteien.
  • Die regering se inentingsprogram teen die koronavirus is ’n grap. Die land loop ligjare agter dié van die ontwikkelde wêreld in die Weste en plek-plek in Asië en die Midde-Ooste.
  • Swart Ekonomiese Bemagtiging (of meer bepaald, die ANC se korrupte weergawe daarvan) bly amptelike regeringsbeleid.
  • Ofskoon die magstryd in die ANC eindelik beweeg na ’n punt waar dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa die pyp teen sy teenstanders kan rook, bly die party in die geheel ’n intens korrupte groep mense wat hoofsaaklik in hul eie voordeel belangstel, nie in die welsyn van die land en sy mense nie.
  • Luidens berigte verwaarloos die regering selfs sy eiendomme in die buiteland tot die mate dat dit ’n diplomatieke verleentheid word.
  • Ten slotte is die hanskakies wat in beheer is van die Universiteit Stellenbosch volstoom op pad om Afrikaans grotendeels tot ’n blote versiersuiker te reduseer. Dít nadat die ANC ons taal – wat ons met die meeste bruin mense deel – in elk geval al in baie groot mate uit die breë staatsdiens uitgerangeer het.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: Facebook)

Daar is dalk ’n enkele ligpuntjie. Dit is dat die grootbaas van Eskom, André de Ruyter, deur ’n onafhanklike ondersoek onskuldig bevind is aan rassisme en magsmisbruik.

Die omstandighede was veelseggend. Solly Tshitangano, Eskom se voormalige verkrygingshoof, is naamlik skuldig bevind aan – soos die nuusberig daaroor dit gestel het – “ernstige wangedrag, oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die oortreding van Eskom se interne gedragskode”.

Daarna het Tshitangano De Ruyter, vermoedelik uit weerwraak, van rassisme aangekla. Blykbaar is dít die outomatiese reaksie van ANC-kaders wat hul werk weens oneerlikheid verloor: As daar êrens ’n wit mens is wat met die rasseteerkwas bygekom kan word, wórd dit gedoen.

Vermoedelik is die wanprestasie van mense soos Tshitangano minstens deels verantwoordelik vir Eskom se gebrekkige kragvoorsiening tans. Maar Eskom is ook verantwoordelik vir meer as net dit.

Die Nederlandse dagblad Trouw het verlede week uitvoerig aandag aan die diepgaande korrupsie by Eskom en die elektrisiteitsvoorsieningsdebakel in Suid-Afrika gegee. Eskom is nóg korrupter as wat vermoed is, skryf die koerant se korrespondent in Suid-Afrika, Niels Posthumus.

Hy verwys na die uitlek van duisende e-posse en interne dokumente, bekend as die Eskom Files: “Die Suid-Afrikaanse energiedeskundige Ted Blom het dan ook direk gewaarsku dat die €10 miljard se foutiewe besteding waarskynlik slegs die oortjies van die seekoei is. In totaal sou dit, volgens sy berekenings, gaan om twyfelagtige kontrakte met ’n totale waarde van €50 miljard.”

Volgens Posthumus werk dit só: “Bestuurders van Eskom … stig fondse waarin aannemers miljoene euros aan ‘donasies’ stort, dikwels onder die voorwendsel van ‘sosiale ontwikkeling’. Die donasies gaan egter nie na die bou van skole of ander maatskaplike projekte nie, maar verdwyn in die sakke van Eskom-bestuurders.”

Hy skryf dat Bernard Hotz van die bekende Suid-Afrikaanse advokatekantoor Werksmans dit “kommersiële terrorisme” noem. En die energiedeskundige Chris Yelland meen dis swart ekonomiese bemagtiging wat ten grondslag aan die korrupsie lê.

Verlede week het ook die Britse nuustydskrif The Economist ’n verwoestende artikel oor die ANC se wanbestuur gepubliseer, dié keer in die munisipaliteit Maluti-a-Phofung waar, onder meer, die dorpe Harrismith en Kestell geleë is. Die plaaslike ANC het ’n onafhanklike ondersoek wat deur Ramaphosa beveel is, meer as ’n jaar lank geblokkeer.

Maar, skryf The Economist, uiteindelik is ’n “katastrofe” gevind.

“Die munisipaliteit is bankrot. Hy bodder skaars om rekeninge te in; die inkomste dek net 30% van sy uitgawes. Hy bly aan die gang deur skenkings van die sentrale regering en deur skuldeisers nie te betaal nie.”

(Foto: pixabay)

Uiteindelik het twee plaaslike aktiviste, Sam Twala en Willy Tshabalala hul kragte met ’n wit boer, Petrus van Eeden, saamgesnoer. Hulle het ’n onderneming, Water Heroes, gestig, wat op eie houtjie honderde stukkende waterpype herstel en vullis verwyder het.

Maar die munisipaliteit, net soos in die geval van Kgetleng, was nie beïndruk nie. Water Heroes is aangekla van die beskadiging van munisipale eiendom en gedwing om sy aktiwiteite te staak.

“Die dienste het kort daarna weer in duie gestort,” lui die stuk in The Economist.

Pogings soos dié van Water Heroes en die Kgetleng Besorgde Inwoners, om sélf in te spring, is inderdaad in beginsel ’n goeie pad om te loop. Solank die ANC in munisipaliteite soos dié twee regeer, sal sake nie regkom nie.

Dis waarom – soos ek dit verstaan – ’n organisasie soos AfriForum plaaslike inwoners bystaan om hul toekoms self te bepaal, pleks van om in sak en as te gaan sit en te wag dat die ANC regkom.

Ek trap nou dalk ’n oop deur in, maar ek sou reken dit kan die moeite werd wees vir AfriForum om hof toe te gaan om ’n rigtinggewende uitspraak te kry dat plaaslike inwonersgroepe die reg het om falende dienste van mislukte munisipaliteite oor te neem.

Kom ons kyk wat gebeur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

… Soos ek dit verstaan… Bloot ‘n opsomming van ander se werk word wat genoem in Nederland?

Groen Ghoen ·

Dit is baie moeilik om die ware feite oor S.A. se politieke en ekonomiese omstandighede te begryp. Elke tweede ekspert en “kommentator” het ‘n ander mening. Dan ook, is dit nog moontlik om alles wat in die groot mediahuise verskyn te glo?

jzjz05 ·

Wie kan vir ons een regering instansie wys wat werk of wat nie bankrot is nie en waar daar nie korupsie is nie Toe probeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.