Museumonderrig in tegnowêreld uiters belangrik

wam-01

Foto: Verskaf.

Deur Lesley Cohen

Kuns- en ander museums word dikwels uitgedaag om na te dink oor hul rol in die samelewing en die toepaslikheid van hul versamelings en programme. Dit is die moeite werd om in dié konteks na te dink oor waarom museumonderrig steeds saak maak.

Pedagogiese navorsing het herhaaldelik gedemonstreer dat kunsmuseums plekke kan wees waar kosbare onderrig, ontdekking en kognitiewe ontwikkeling, deur direkte betrokkenheid met oorspronklike kunswerke in ʼn absorberende, deelnemende omgewing, plaasvind. Trouens, kunsonderrig behels baie meer as om jong mense net aan kuns en visuele kultuur bloot te stel, of om kunswaardering te verhoog.

Om in die kunsmuseum te leer, kan leer buite die museum beïnvloed en jong mense met ʼn magdom oordraagbare vaardighede toerus wat hulle op ander skool- en werkgebiede, asook hul toekomstige lewe, kan toepas. Dit sluit, onder meer, visuele geletterdheid en kritiese- en konseptuele denke in.

Ons het in die afgelope vyf jaar by die Wits-kunsmuseum (WAM in Engels), wat gratis toegang bied, meer as 125 000 besoekers ontvang, met naasteby 25 000 van dié besoekers wat skoolkinders en tersiêre leerders was. Die besoek aan WAM is vir die meerderheid van die skoolleerders, hul heel eerste museumervaring. Dit is ook vir baie hul heel eerste uitstappie en blootstelling aan ʼn universiteit.

Ons benadering betreffende onderrig ag leerders as aktiewe agente wat hul kennis bou deur sin te maak van hul ervarings in die wêreld; in die klaskamer en ook verder as dit. WAM is ʼn perfekte ruimte om leerders in ʼn konteks in te dompel wat nuwe ervarings en geleenthede vir nadenke verskaf, waar hulle egte kunswerke, van oor die hele Afrika-kontinent, kan teëkom – ʼn baie anderse ervaring as om ʼn afdruk in ʼn handboek te sien en een wat oneindig meer komplekse vertolkings tot gevolg het.

Foto: Verskaf.

Leer word deur kollektiewe ervarings versterk – met ander woorde, mense leer dikwels beter in groepe. Om na te dink oor ʼn mens se eie ervarings en dit met ander te deel, verryk begrip, maar is ook van kardinale belang vir kognitiewe ontwikkeling. Ander help ons om op nuwe maniere te dink wanneer ons ons idees deel, wat ons dan help om ons eie idees te verhelder.

Studies in museumonderrig toon dat groepdialoë oor kuns, wanneer dit gefasiliteer word, waarneming, beskrywing, skakeling met vorige kennis of ervaring, vertolking, hipotese, vergelyking, redenering met bewyse, verlengde fokus, oorweging en oopheid teenoor verskillende perspektiewe en moontlikhede kan help bevorder. ʼn Klasuitstappie na die museum kan, soos wat studente persepsies en kennis met ander deel, portuurgroepleer verhoog en in ʼn wêreld wat toenemend in verbinding en deelnemend is, sosiale vaardighede aanwakker.

Daar is bewys dat, om in besonder in ʼn museumomgewing te leer en “noukeurige waarnemingsvaardighede” toe te pas, ʼn positiewe impak op studenteleer het. Hierdie stel vaardighede behels om die tyd te gebruik om op ʼn selfbewuste, kritiese wyse ʼn voorwerp (soos ʼn iets wat met krale gemaak is, ʼn skildery of beeld) stadig en versigtig waar te neem.

Foto: Verskaf.

By WAM word kinders dikwels aangemoedig om noukeurig na kunswerke te kyk en dan op verskillende maniere daarop te reageer, soos deur te teken, te skryf en aan groepbesprekings deel te neem. Dit is belangrik in ʼn tyd waarin ons lewens gedurig deur tegnologie “versnel” word en waar inligting al hoe vinniger verkrygbaar is, om nie die nadenkende en beskouende denke wat krities tot leer en kognitiewe ontwikkeling is, te vergeet nie.

Ons weet dat oorspronklike kuns kan fassineer, kwaad maak, uitdaag en/of verwarring kan veroorsaak. Kuns kan ook ingespan word om studente se leer te verbeter en om oordraagbare vaardighede te ontwikkel wat op take wat nie oor kuns handel nie, toegepas kan word. Kritiese denke, onder meer, beoordeling, betrokkenheid en die vermoë om tot ingeligte gevolgtrekkings te kom en konseptueel te dink, is kernbelangrike oordraagbare vaardighede.

ʼn Onlangse grootskaalse studie toon dat studente, selfs wanneer hulle ʼn enkele museum besoek, vaardighede vir kritiese denke kan ontwikkel. Een van ons sleutelbelange, as opvoeders van ons nasie se jeug, is om die sukses van leerders in die lewe anderkant hul formele skooljare te help verseker. Daarvoor moet daar meer aandag aan die waardebydrae wat kunsmuseums en visuele geletterdheid tot Suid-Afrikaanse onderwys kan lewer, geskenk word.

  • Lesley Cohen is kurator van strategie en ontwikkeling by die Wits-kunsmuseum. WAM het veelvoudige openbare onderrigprogramme wat die visuele kunste van Afrika na diverse gehore bring, met die ruimhartige ondersteuning van Merrill Lynch South Africa en BASA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Oooh, nee kyk, oppas vir museums… lees liewers boeke oor die onderwerp. In SA sal dit in die grootste nagmerrie ontaard as elke toergids of begeleier sy poliltieke kleur aan elke kunswerk of objek koppel. Ja, mense, hierdie is die sweep waarmee die ou Boere… die werkers mee aangedryf het en hierdie is ‘n kakebeenwa…. gemaak uit die kakebene van die eerste inwoners wat die Boere, ja die wit Boere met die sweep en die Sannas… ja, die hout wat die arme eerste inwoners so sorgsaam bymekaar gemaak het om… Spaar ons uit… spaar ons uit…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.