Musk-broers wil die mensdom red

Elon Musk. Foto: AP Photo/Chris Carlson

Almal sê die kolonisering van Mars is totaal onrealisties: tegnies, finansieel of polities. Daar heers uiterste temperatuurskommelings, daar is nie water nie, die swaartekrag is net 40% van die aarde s’n. Mense sal in ruimtepakke moet leef. Daar is net geen manier om die Rooi Planeet te bewoon nie. Punt.

Elon Musk stem nie saam nie en sy jongste mikpunt – nie droom nie – is die Big Falcon Rocket en die tuig Starship wat ʼn vrag van 100 ton en 100 passasiers Mars toe kan vervoer.

Musk glo wanneer hy gereed is, die tegnologie vir mense op Mars sal bestaan. Ons mag dink dit is sommer dagdromery, maar kyk na ʼn paar historiese voorbeelde. 40 jaar gelede (1976) was die wêreld nog bra primitief. Sedertdien het ons die koms van die rekenaar, die internet, masjienlering, iPhones, genetiese ingenieuring, robotte wat plase bestuur en talle ander ontwikkelinge gesien.

Hoeveel vordering is dan nie oor die volgende 40 jaar moontlik nie?

En voor jy ophou lees: Alles wat Elon Musk voorstel, was in ʼn stadium eers onrealisties. Hy is die man wat 100% elektriese motors gebou het – iets wat die groot motorvervaardigers nou doen – soos in Swede, waar meer as die helfte nuwe motors wat tans verkoop word, elektries is. Hy het ook herbruikbare ruimtevuurpyle gebou.

Kimbal Musk is die voorsitter van The Kitchen Restaurants, Square Root, en Big Green. Foto: Kimbal Musk/Commons.wikimedia.org

Kimbal se planne werk reeds

Kimbal Musk se missie om ʼn meer onmiddellike krisis op te los, kry reeds gestalte: Om die wêreld se voedseltekort aan te vul en die volgende generasie stedelike boere te leer hoe om kos in verskepingshouers te produseer. Sy Brooklyn-maatskappy Square Roots lewer vars kruie wat in verpakkingshouers van 30 vierkante meter gekweek word en sy produk is reeds reg oor Noord-Amerika bekend te stel.

Square Roots lewer sy produk al sedert 2016 aan winkels reg oor New York. Een van die groot voordele van sulke binnenshuise plase is dat hulle die klimaat kan beheer en die risiko vir die kontaminasie van water en lug verminder. En een van Kimbal se mikpunte is om die oorgewig Amerikaners te help om hul leefstyl te verander en die gemorskosrestaurante ʼn nekslag toe te dien.

Een van die talle voordele is dat die perfekte klimaat vir elke variëteit van ʼn plant sonder veel moeite in afsonderlike verpakkingshouers geskep kan word. Square Roots gebruik geen giftige insekdodders nie en 90% minder water as buitelugplase. Daar is ook weinig beperkings waar hierdie plase geskep kan word – hoe nader aan die mark, hoe beter. Die risiko vir peste soos witroes en skimmelsiektes word verminder omdat die enkele besmette modus afgeseël kan word. Omdat die plase gekonnekteer is, leer hulle van mekaar. Die stelsel het die groeisiklus van basilie van 50 tot 28 dae ingekort. Dit is in Italië bereik deur die klimaat te karteer – hoe laat die son opkom, die suurstofvlak, die koolsuurgasvlak, sonsondergang en dit in die skeepshouer te herskep.

Switserland oes humiditeit vir reën

Elders – soos in Switserland – word humiditeit geoes om aan droogtegebiede meer reën te gee deur die son se ioniseringsproses na te aap. Dr. Helmut Fluhrer is die uitvoerende hoof van Weather Tech en sê ontsoutingsaanlegte in Afrika is selfs vir gemeenskappe na aan die kus te duur.

Fluhrer se maatskappy kan nou tot 100 km van die kus getrek word om reën te bring. Die eindproduk kos ʼn fraksie van ontsouting en is loshande die bekostigbare manier. Daar word reeds met Afrikalande oor hierdie stelsel gesels.

Elon Musk se eerste prototipe van Starship word tans gebou en sal binne maande getoets word. Dit sal eers na die Maan en dan na Mars kan vlieg. Een van die mikpunte is om die tuig se gewig van 200 ton tot 110 ton te verminder. Dit sal van vlekvrye staal, wat hitte beter as enige ander materiaal kan hanteer, gemaak word.

Die mensdom het al deur verskeie krisisse aangepas en deur sy innovering oorleef – dikwels met geweldige lewensverliese. Die krisisse wat die mens tans in die gesig staar, skep groot probleme, maar ook baie ruimte vir innovasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Taalgogga ·

Engineering = Ingenieuring? Ek vermoed digterlike vryheid of is dit net klassieke luiheid?

Oop Oge ·

ag boet Reinhart,
Ek glo ons almal verstaan die begrip. As daar nie so n woord bestaan nie, dan het ons dit nou ge-introduce ….
Regide taalgebruik sal nooit common sense vervang nie.

piper ·

pleks dat al daardie geld gebruik word om die wereld skoon te maak van plastiek en riool. verder kan die mensdom ook opgevoed word om minder kinders te he.

Sanna ·

Meer as 30 j gelede in Std 1 tydens ‘n mondeling het ek vertel ek sal eendag ‘n ruimtevaarder wees en Mars toe gaan. Laat mens dink.

Jerry ·

Die mensdom raak desperaat, wat aan die eenkant n goeie ding is, want nou woeker die mense met hulle innovasie talente. Dit sal so aanhou totdat innovasie nie meer n verskil kan teweeg bring nie en almal besef dat hulle moes eintlik maar net die basiese dinge reg gedoen het deurdat regerings moes toesien dat geboortebeperkings ingestel word, woude bewaar word en dat water en lug nie verder besoedel word nie. Maar nou ja, die mensdom is maar die mensdom waaraan daar nie salf te smeer is nie, veral die mensdom wat net vir vandag lewe, want more sal mos maar weer vir homself sorg. As daar water en kos is dan is ons happy en as daar nie water en kos is nie, dan toi-toi ons maar totdat iemand dit vir ons gee!

KrokodilBotha ·

Dankie, ek sal in Afrika agter bly. My vlieende piering sal net vir vakansies gebruik word.

Sê net ·

Die gejaag na die buitenste ruimte het darem sy voordele. Omtrent al die tegnologie moet bly verbeter om sulke reise moontlik te maak. Dis goed om ‘n droom te hê, maar dis nie nodig om die aarde te verlaat nie. Kry net dat mense ophou om alles te verniel en te verswelg. Dan is daar genoeg vir ons almal en selfs meer mense. Haal net politiek uit alles uit.

Pieter Botha ·

Hou op Chemtrails spuit waarmee julle die reen die oseaan in dryf.

Paul ·

Musk droom. Daar is nie ‘n Mars nie! Daar is ‘n Gewelf wat Hemel en Aarde skei – en die ster wat hy as Mars aansien, staan binne in die gewelf net soos die maan – Musk en sy Artificial Intelligence!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.