My Afrikaans

Foto: www.kknk.co.za

Skynbaar moes Stellenbosch in my skooldae ‘n besonder puriteinse Afrikaanse fase beleef het – ek het eers later in die Vrystaat kom loop agterkom ‘n mens kan van skoolgronde en skougronde praat sonder dat jou bas brand. Skoolterrein, punt.

Nog ‘n ding wat sinoniem met ‘n brandbas was, was om te praat van 83 Buitekringweg. Nee, tot vandag toe gril ek my kleintoontjie witpens na bo as iemand sy huisnommer voor die straatnaam gee wanneer hy die skoonste taal aanhef.

Nog ‘n goue reël om teenspoed by die puriste en hul swaardmag vry te spring was om gou-gou te leer as twee woorde ‘n “die” vooraan kan kry, is hulle aanmekaar. Dus sitkamer, nie sit kamer en teenspoed nie.

Ja, ons puriteinsheid het vir ander vreemd geklink, en dit het ons veral Desembers beleef ons as ons by Kleinbrak gaan uitspan, en die Trônsvôlers ons siele oor ons plat uitspraak uitgetrek het.

Terug by die huis het ‘n gesinnetjie Trônsvôlers skuins oorkant ons ingetrek. Kort voor lank kry ons raas omdat ons hul hondjie, wat saamgekom het, Blackie noem. Nee, dis Vlêkkie. Vlêkkie het lank genoeg geleef om nog in sy leeftyd ‘n gewone Bolandse Vlekkie te word.

Maar Afrikaans, boeta, Afrikaans. Of dit nou ge-ê of ge-e is, en of dit nou ge-a of ge-ô is, dit was puriteinse Afrikaans want Anglisismes en woorde wat mens soms onwillekeurig gebruik as jy kwaad word, het net een ding beteken…’n brandbas.

Kleintyd is ons vir ‘n jaar Amerika toe. Ek was sewe, en danksy my beste speelmaat oorkant die straat wie se huistaal Engels was, het ek so half en half van die rooitaal uitgemaak. Kleinboet had dit bitter daar…tot hy plan maak en sy horde Yank-maatjies Afrikaans leer. By geleentheid, vertel ma, hoor sy die geraas die straat afkom. Sy kyk uit, en sien ‘n horde kleingoed wat nog te jonk was vir skoolgaan die straat afgestom kom, haar tweede oudste vooraan: “Ôlôg!” hef hy aan. “Ôlôg!” gil die maatjies agterna. Ma verseker ons dis nie van daardie invloed dat die Amerikaners nou nog van “coal slaw” vir koolslaai, en “aardvark” vir erdvark praat nie.

Die Kaap is ook die wêreld waar Kaaps, of Kaapse Afrikaans gepraat word. Ons kleingoed se blootstelling was hoofsaaklik Gert, en na hy bedank het, Sjert. Gert het nie sommer gewoon bedank nie. Hy het weggeraak. Net op ‘n dag nie vir sy tuinwerk opgedaag nie, en sonder taal of tyding verdwyn. Ons is bekommerd, en doen navraag, en verneem naderhand hy het elders werk gekry. Pa gaan verneem of hy moeilikheid gehad het, maar Gert is nukkerig. Naderhand kom hy met die sak patats uit – ‘n hele sak vol griewe. Pa besef dis eintlik net verskoning oor hoekom hy sonder noutis geloop het, maar een kan ek goed onthou. “Dja, by djulle kry ‘n man net harde droë brood en ekke loop djuis op die ghamse.”

Ma is verslae oor dié nuus, tot die liggies aangaan. Sy het Gert soms bederf met koffie en semelbeskuit….sulke snye wat amper soos snye brood lyk…

Sjert weer, se taalgebruik kon besonder puriteins wees. Toe die polisie hom die hoeveelste keer oor agterstallige onderhoudsgeld kom haal, wil ma weet hoekom hy nie maar die knoop deurhaak nie. “My ouers is teë op die huwelik,” verduidelik hy.

Pa en ma ry Strand toe, met daai kronkelende op-en-afpad wat Koos Meyer so bekend gemaak het. Pa sien ‘n man op ‘n plaaspad oop en toe op ‘n fiets aankom teerpad toe, meet die afstand en meen die man gaan nie betyds gestop kry nie. Pa ry na die oorkant van die pad, maar dit lyk steeds of die ongeluk gaan toeslaan. Toe maar af van die pad af, en daar ry die man met sy baiesukkel in ma se deur vas: “Sorrie my maastah, my briekse het gefyl ma ek sal darem nie ‘n saak maak nie.”

Toe verhuis ons Vrystaat toe.

Pa het in die Namakwaland in grootgeraak, en maar so ‘n streep van daai spraak saam graf toe geneem, veral seker omdat hy so lief was om die Namakwalandse stories op sy manier te vertel. Ma was ‘n gebore Vrystater wat by die Trônsvôlers gaan studeer het, en ons gesin het uit die Kaap gekom. Bygesê, vir iemand van Stellenbosch was die Kaap weer ‘n ander kol, die area om Tafelberg, en soort van die vreemde verre want daar moes mens gereeld die rooitaal probeer inspan.
Miskien darem net bieg – die uwe is eintlik in Johannesburg gebore waar pa en ma as jong getroude paartjie gewoon het, en pa by die Bernard Price -instituut gewerk het. Onder hul groepie vriende wat ook ‘n latere bekende Bloemfonteinse oogarts, en hy het dié ene vertel: Die later minister Punt Janson was predikant in ‘n arm gemeente daar in Johannesburg. Vir fondsinsameling hou hulle ‘n boksgeveg tussen hul dominee wat baie teensinnig in hierdie sports ingepraat is, en ‘n bekende gewese bokser wat baie vuisvoos was.

Die dominee moet wen, maar toe die klok lui, vergeet die bokser als van dié wedstrydknoeiery, en pleister die dominee teen die hoekpaal vas.

Die klok lui ontydig, en die bokser word voor gepreek. Elke ronde hou dit bietjie langer voor hy vergeet die dominee moet wen en die klok gelui moet word.

Later lyk dit vir die toeskouers of die dominee ‘n wonderlike herstelpoging lei, en dit raak te veel vir van die tantes. Hulle is naderhand regop op die stoele, en met swaaiende handsakke moedig hulle die dominee oorverdowend aan: “Mo#$ hom dominee! D*$der hom dominee!”

‘n Nuwe wêreld gaan vir my in die Vrystaat oop. Selfs die skoolhoof skryf in die nuusbrief van die skoolgronde, en hy word nie eens aangegluur nie. En elke jaar kry die Bloemfonteiners op ‘n kol een ding op die brein, die skou op die skougronde. Ja, en sowaar, die “Family Show” is met “familieskou” vertaal, darem een woord. By geleentheid het selfs die Rugby-unie mense genooi om hul “hele familie” teen ‘n sekere vaste toegangstarief saam te bring. Of iemand dié slordige Afrikaans ooit benut het en al sy nefies, kleinnefies, oupas en oumas – ja, die hele familie, saam te bring weet ek nie.

Ja, ek weet die HAT erken nou familie ook as sinoniem vir gesin, maar dit sou nogtans sports gewees het as iemand daai geleentheid benut het.

Ek raak by geleentheid baie lus vir drop – van die min goed wat ons as kinders in Stellenbosch kon bekostig van die kompos wat ons met ons rooi waenties in die bos gaan bymekaar maak het, en aan mense verkoop het. Maar in die Rosestad kry ek nêrens drop nie. Ek beduie van sulke lang, swart stringe, maar die mense anderkant die toonbank trek net simpatiek die skouers op. Later sien ek op die “skoolgronde” ‘n knaap drop eet. “Waar kry jy die drop?”
“Die wat?”
“Dit wat jy eet.”
“O, die liekeriesj? Mens kry dit oral.”
“Drop is die Engels vir liekeriesj,” verduidelik ‘n ander. ‘n Paar jaar later is ek uitruilstudent in Nederland en kry met zoute en dubbelzoute drop te make, en besef finaal drop is g’n die Engels vir liekeriesj nie.

En so ver soos jy in die Rose Stad, ekskuus, Rosestad gaan is daar mense wat blomme rangskikkings verkoop. Kerke wat kerk sale het, selfs ‘n Afrikaanse skool met ‘n koperplaat wat trots die opening van hul rekenaar kamer aankondig. Tot die munisipaliteit het, volgens hul bord, ‘n Verkeers Afdeling.

‘n Buurdorp neem dit ‘n trappie verder, en ek sien in my gedagtes hoe die Stellenbosse onnies die lat onder dié spulletjie inlê: “Sports Gronde” lui die “Afrikaans” op die pad predikant, ekskuus, padpredikant, en daaronder die “Engels” “Sportground”. Duidelik het die baas daar die klokkie hoor lui, maar effe windskuins deurmekaar geraak.
En toe kry die uwe sinnigheid in ‘n nooi uit die Oos-Vrystaat, die gebooie loop en nou maak ons self twee knape groot in die soetste taal. Vroulief kén van Afrikaans, sy wéét van vas en los skryf, sy weet van die straatnommer na die straatnaam, en sy maak nie disleksiefoute soos die uwe nie. Dus, ek het nie so op ‘n puriteinse eiland grootgeraak, ekskuus, grootgeword nie.

Pa is jonk dood, en dit raak ‘n obsessie om sy en sy suster se stories, en ander stories uit ander dele van die land wat gevaar loop om uit te sterf, op te teken. Vrystaat – streekkoerant van Bethlehem – gee uitkomste. Die internet nog een.

Natuurlik kan ‘n mens nie sommer net die hart en siel van sulke stories, die styl en diepgang weergee nie. Maar darem, ‘n mens kan probeer. So trek talle Namakwalandse en selfs Swartlandse stories Vrystaat toe, word versool, en in ink gedoop. Maar waar gekan word, bly hulle “tuis,” soos tannie SC se storie oor die groot griep by Piketberg, een van die plekke waar die vroeë Toeriens loop wortel kry het.

Met die griep gaan dit naderhand so erbarmlik dat ’n bruin man daagliks sy rondte met die donkiekar by die huise gaan maak en die lyke oplaai. Dan stap hy voor die wa en donkies aan lykshuis toe.

Maar een dag word een van die “lyke” wakker, en besef waar hy is. En hy soek dit net niks. Hy vlieg van die wa af, en lê die rieme neer. Die touleier in aller yl agterna. Maar inhaal is daar nie in te hale nie, en hy gil toe maar: “Nou dja, nou moe djy self sie hoe djy begraaf raak…!”

Pa self se grootwordplek lê verder noord, by Nieuwoudtville, in oom Andries van Zyl, en oom Andries Boberg en oom Willem Louw se storiewêreld. Ja, selfs a skoolkind was Kleinkoos Louw al ‘n bobaasstorieverteller.

Dis hordes stories, maar pa het seker nie een lekkerder vertel nie oor toe hulle kleintyd by Mosselbaai gaan kamp het nie. Die kar het nie ‘n bagasiebak gehad nie, en al die bagasie is agterop die “carrier” vasgewoel. En dit was hoedetyd, met die helfte van die bagasie wat sulke ronde koffers vir die hoede was. So is hulle binneland in om pad te kry af see toe, en dis smoelsnerhekke en die klonge is klein wat daai smoerslaners moes loswoel en flink koes.

Want glip daai stok uit die draadlussie dan hoor ‘n man net vlugtig “wrrr” soos daai stok om die paal gatskoonmaak en ‘n man klap dat jy lyster.

Baie myle verder kom oupa agter een van die hoedekoffers het oopgeraak en van die hoede het begin makeer.

Oupa wil nog paai van meer as genoeg hoede wat nog oor is, maar ouma wil niks weet nie, en so moes pa en sy kleinboet ver op die spatborde ry, en kort-kort veld in hardloop om ‘n hoed te gaan oppik wat in ‘n bossie vasgewaai het. En elke keer moes weer deur die smoelslaners gery word. Tot sy dood had pa g’n sinnigheid aan enige vorm van konsertinahek nie.

Ag, en die Oos-Vrystaatse stories… so anders vertel maar g’n niks minder interessant nie. Soos die man wat van Bethlehem Harrismith toe moes vir sake (ja, besigheid bly na die Stellenbosse onnies se invloed nog steeds iets wat die hondjie op die gras doen). Hy moet toe sommer ‘n pakkie by ‘n onderneming (nee, nie ‘n besigheid nie) wat in opslaangeboue buite die dorp gehuisves was gaan afgee.

Onderweg ry hy by ‘n kolonie ouvolk verby, en per ongeluk kry hy ‘n lekker grote wat te diep in die sonnetjie lê en dut het in die hande. Dié word toe sommer by die pakkie in die boks ingedruk.

Hy gee die pakkie by die plek af en stryk aan kar toe, maar nog voor hy by die kar kom, kom iemand al gillend by die gebou uit – by ‘n plek waar daar sekondes tevore nog net asbesmuur was.

Ja, die Oos-Vrystaat se stories is dikwels ook op die waarheid gebaseer, maar daai manne ken ook van van die lekkerste liegstories opdiep. Met so ‘n skeut waarheid in natuurlik. Die waarheid van dié storie is egter net dat die vaaljapie ‘n trekkertjie was wat geloop het as hy eers aan die gang gekry is.

En so is Mpusella besig om te ploeg kort na baie goeie reëns, toe die ploeg ‘n sandsteenrots onder die grond vang. Op slag gaan die vaaljapie se wiele aan die tol, en Mpusella meen dalk haak hy die rots uit. Of Mpusella was vas aan die slaap soos wat dikwels met die groot ploeg na die groot reën gebeur het.

Ewewel die boer kom net betyds op die spulletjie af om Mpusella van die trekker af te verskree voor die vaaljapie homself al doef-foeffende onder die modder in begin begrawe. Maar Mpusella skrik so hy los die snottel in die vaaljapie en dié hou aan in die grond in karring. Naderhand is net die skoorsteen oor, steeds lustig doef-doeffende, toe verdwyn dié ook onder die modder.

Toe die grond droog genoeg is sak die boer en ‘n span werkers met grawe op die toneel toe om die obsent vaaljapie uit te grawe, maar hul graaf diep en kry niks. Naderhand is dit of hulle iets begin hoor – doef-doef. En nog later kry hulle darem die vaaljapie se skoorsteen, nog lustig aan die doef-doef.

Die Vrystaat en omstreke ken ook bietjie Kaaps. By geleentheid werk ‘n bruin man vi my, wat toe hy skoolhoof was die bynaam, Grootvuur, gekry het. Wonder hoekom?

Maar Grootvuur se vertelstories sorg vir oneindige plesier. Hoe hy, as jong onderwyser op Vredefort naweke met die fiets Koppies toe gery het om te gaan vry. Om so ver martelpyp op grondpaaie te trap, moes seker gewerk het, want die twee het enduit gehou en is kort na mekaar onder Thaba Patchoa se donkerrooi grond weggebêre.

Maar my werk neem my ook na die Noord-Kaap, en ek werk baie met die bruin mense. Eendag sit ek buite ‘n skool en wag vir die uitkomslag dat ek met die skoolhoof kan praat. Hy het self klas. Naderhand stoom die kinders verby huis toe, en ek verluister my aan die stemme en uitspraak.

Hoor ek enetjie sê: “Djaa, en toe gie hy my siewe houe!” Haar maatjie wil grootoog weet: “Oppie sterre?” “Nei, oppie hanne!”

Ons oudste het iets van sy oupa, wat hy nooit geken het nie, se droë humor geërf. Dis net die idiomatiese uitdrukkings wat hom wen, want soos sy oupa is hy eintlik ‘n wetenskapman. By geleentheid slaan hy voet winkel toe, en met die terugkom vertel hy hy het ‘n moeilike buurman langs die pad raakgeloop.
“Het jy vir hom gewaai?”
“Ja, maar ek sal liefs nie sê met hoeveel vingers nie?”

Kleintyd het hy lang tye by sy ander oupa-hulle op die plaas gebly, en van hy kon regop kom, kliphard saamgeboer. Hy het hom dus ook heel geoorloof gevoel om in grootmensgeselskap te sit en eiertjies lê.

Dié aand gaan die gesprek oor die meisies van skoolgaande ouderdom wat vir Bloemfontein se prostitute soveel kompetisie bied. Met kleinman in die kring word oor sy kop gepraat – van die goggas van die nag. Toe kom sy stuiwer: “Ja, ‘n mens noem hulle steekvlieë.” Hy het eers jare later verstaan waarom die grootmense so hard en lekker vir sy slimmigheid gelag het. Hy het naamlik gehelp lusern sny, en daar het die steekvlieë hulle iets ysliks toegetakel. Hy het mos geweet waarvan hy praat!

Kleinboet is outisties, en het maar min spraak. Hy is visueel sterk ingestel, en bring daarom lang tye voor die TV deur waar sy helde almal Engels praat. Sy woordeskat is dus om die helfte Afrikaans en Engels, en die uitspraak is nie altyd maklik nie.

Soos toe hy sy ma van die obisan kom vertel. Dis later ‘n hele ongelukkigheid oor ma nie kan uitmaak waffer ding ‘n obisan is nie. Dus gaan soek hy tot hy ‘n prentjie van ‘n polisieman kry, en wys triomfantlik na die “obisan.” “Officer” was die woord wat hy nie kon uitspreek nie.

Een aand het hy dit oor ‘n twakie. Vies gryp hy naderhand afvalpapier en ‘n kramdrukker, en knip-knip, klik-klik maak hy ‘n drakie – en “twakie” se herkoms is duidelik. Nie sommer ‘n hierjy nie; een waarvan die tong kan beweeg, en een wat ‘n mens “vlamme” kan uit die bek kan laat kom. Twakie word ‘n speelmaat, maar een aand pluk hy Twakie half uitmekaar, en dis weer ‘n gewoel, en siedaar, Twakie is groter en langer as hyself. Twakie is daai vakansie saam see toe, regop op die sitplek langs hom, waar my ma die drakie by hom afgebedel het. Elke vakansie by die see is Twakie sorgvuldig nagegaan vir moontlike herstelwerk.

So mettertyd het nog ‘n ding sy voetspore deur Afrikaans kom maak… die rekenaar. En met disleksie, is ‘n Afrikaanse speltoetser ‘n moet. As opgegradeer word, is my eerste vereiste altyd die speltoetser moet oorgedra word, en dit word hand en mond beloof en verbreek. ‘n Ruk spartel ek dan tot genoeg dreigemente en self kopkrap die speltoetser weer terug het. En moenie dink daai IT-ouens wat so nie oor die speltoetser kan bodder kan self spel nie. Iewers op die binnewerking van hierdie rekenaar is my van as Torien vasgelê.

Intussen verafrikaans die rekenaarterme ook, en word daar onder meer woes geknip en geplak. Nie alles werk so lekker nie, want dit klink mos nou half onlekker om inligting te “red”. Om dit “vas te lê” werk bietjie beter, maar intussen is ontdek dit kan sommer gestoor word. Dis weer ‘n hele ander begrip as die storings wat ons tydens diensplig geken het.

Miskien het Engels ‘n kwaaier aanslag onder die rekenaartaal weg. “Crash” is nie meer net die ding wat die manne doen as hulle vroegsoggens van die Wildeboer af kom en nie hul draaie by die boeremark kry nie. Veral vandat dit onbekostigbaar geword het, is “download” nie meer net om die bier vir ‘n braai van die bakkie af te haal nie.

Afrikaans is onverbeterlik as dit by uitdrukkings kom. In die Oos-Vrystaat kom die Lugmag se destydse Kanaries besoek aflê, en tree die aand in die kerk op. Die heel voorste banke is deur die kleingoed van die kinderhuis ingeneem. Halfpad deur die optrede kry die een knapie ‘n klipharde glips. Die ene langsaan vlieg verontwaardig op en betig kliphard: “Hoe durf jy p*&p in die allerheiligste van die Heer?!” Die verdere optrede is gekanselleer.

By ‘n ander geleentheid is maar deurgedruk. Kleinman se ousus doop, en hy het die baba ingebring, en sit met sy borselkop naby ‘n ruiker wat van ‘n troue die vorige dag oorgebly het. Daar is bye in die ruiker, en een klits die knaap reg op sy borselkop: “Eina, hoe byt so ‘n f**en mot my!”

Nou storie nou vir my ‘n taal wat sulke stories kan lewend hou is nie die skoonste taal nie….
Jy sal sommer gewillewragtag word…

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae