My land, Suid-Afrika!

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Wanneer gaan Suid-Afrika die Zimbabwe-lyn verbysteek? Dit is ‘n vraag wat al hoe meer in die wandelgange gehoor word. Vinnig word daar dan wal gegooi met antwoorde soos “Hier sal dit nooit gebeur nie, want die ekonomie is te sterk”.

Hoe kan ʼn ekonomie sterk wees met die huidige werkloosheidskoers en die kritiese staatsentiteite wat almal tegnies bankrot is?

Die beleidsraamwerk waarbinne Suid-Afrika tans funksioneer, is in wese dieselfde as dit wat veroorsaak het dat Zimbabwe in die situasie is waarin hulle vandag verkeer. Die enigste verskil is dat die ANC die nasionalisering van die land se bates met wetgewing doen wat hulle met hul meerderheid deur die parlement druk. Daarteenoor het Zimbabwe dit met grondgrype vermag. Die eindproduk sal dieselfde wees.

Zimbabwe het vinnig hongersnood en werkloosheid ervaar met ‘n inflasiekoers wat onbeheersd die hoogte inskiet. In Suid-Afrika is die glybaan meer geleidelik. Feit is dat enige verantwoordelike persoon kan sien dat daar wel gegly word. So pas is weer verneem van werkloosheid wat gestyg het tot 29%. Daarmee saam is Eskom se verlies vir die afgelope boekjaar ‘n astronomiese R20,7 miljard.

Staatskaping, korrupsie, wanaanwending van fondse, vervallende mediese dienste, ontoereikende en oneffektiewe polisiëring, falende skoolstelsels, onbevoegde amptenare op alle vlakke in staatsinstellings is maar enkele aspekte wat die wetsgehoorsame burgers al geleer het om maar self te “bestuur”. Hoe belaglik is dit eintlik dat inwoners van ‘n land gebuk moet gaan onder hierdie mislukkings.

Die vraag is wat kan gedoen word om diegene wat die swaarste onder ANC beleid ly, naamlik die armes, in te lig sodat hulle kan besef die ANC is besig om hul toekoms te steel. Dit is verstommend dat mense ná al die jare van ineenstorting van funksioneel doeltreffende stelsels wat in 1994 die norm was, steeds aanhou om te stem vir mislukking.

Die werklikheid is dat die ANC sterk gefokus is op kaderontplooiing waar sentraal beheerde stelsels die prosesse moet rig. Vergelyk die omstandighede wat die ANC-kaders vir hulself toeëien teenoor die omstandighede waaraan die inwoners van die land daagliks blootgestel word. Dit, as sodanig, behoort die massas wat as stemvee misbruik word, tot beter insigte te bring. Maar steeds volhard hulle om te stem vir die ANC om dadelik daarna weer te begin met hul diensleweringbetogings omrede die ANC nie goeie diens lewer nie.

Dit is moeilik om te verstaan, en nog meer so omdat mense wat soortgelyke insigte openbaar, tans die land se toekoms bepaal. Onder die huidige beleidsraamwerk van die ANC is Suid-Afrika besig om agteruit te gaan. Die armoede en werkloosheid wat al hoe groter word, gaan iewers ‘n versadigingspunt bereik. Die ANC-regering het nie die vermoë om ‘n Arabiese Lente te kan hanteer nie en ironies genoeg is hulle juis die rede waarom so ʼn moontlikheid daagliks groei. Hulle volhard met al die verkeerde standpunte en (op die huidige trajek) sal hulle op geen wyse die broodnodige ekonomiese groei in die land bewerkstellig nie. Die privaat sektor wat daartoe moes bydra, het sku geraak en entrepreneurs soek veiliger velde om hul kundigheid te gaan aanwend.

Waar laat dit ons? Keuses is daar gewis en mens kan die gemaksone-opsie kies en saam met die ANC-glybaan afwaarts vloei, hul waardes aanvaar en jouself vereenselwig met dit wat hul bied.

Gelukkig is daar ook ander moontlikhede. Staan op vir daardie waardes waarmee ons grootgeword het, wat ons gekry het in ons ouerhuise met die Bybel as die rigsnoer en wat in die praktyk geseëvier het.

Daniël en sy vriende het in die heidense koning se hof gedien. Wat egter belangrik is – hulle het vasgehou aan hul geloof en die verordeninge wat hulle daaruit gekry het. Al is ons vandag vasgevang in stelsels en sisteme waarmee daar op geen wyse ingebind kan word nie, is dit steeds ons verantwoordelikheid om positief ‘n toekoms te skep – die ANC gaan dit gewis nie vir ons doen nie.

Dit kan net gedoen word indien daar vasgehou word aan daardie waardes en begronding waaraan ons nog nooit getwyfel het nie. Daarin lê die antwoorde en daar sal ons die nodige wysheid ontvang indien ons met die regte verootmoediging ons tot God rig vir leiding. Positiewe kreatiwiteit en harde werk sal die nodige resultate lewer indien ons dit om die regte rede doen. In ons huidige tydsgewrig moet ons:

  • ʼn vaste geloof in ons daaglikse handel en wandel openbaar;
  • onderling met medegelowiges en volksgenote na groter en meer effektiewe samewerking streef;
  • eensgesindheid ontwikkel en bevorder; en
  • aanvaar dat ons ʼn roeping het in hierdie land.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

John ·

Moet ‘n landbouer nou die dominees se werk doen? Of is Bybelkundiges te besig om die Bybel oor te skryf of dele uit te knip wat die menseregters nie van hou nie, want daar is ‘n oorverdowende stilte uit kerklike geledere tov van verantwoordelikhede en die verkeerde wat tot chaos lei.

OWO ·

Daar word van niemand verwag om die dominees se werk te doen nie.Dit is elke gelowige se plig om die Woord uit te dra en om dissipels van mense te maak.Hand 1:8.Sterkte.

oop oge ·

OWO, maar as daar nie `n Moses is nie, dan wandel almal in sirkels rond met sy of haar eie idee.

Hoe kan die Woord (met EEN GEES) uitgedra word as daar `n babelse verwaring rondom elke individu en geestelike instansies se Bybelse persepsies is ?
Is die huidige imorele toestand (Sodom en Gomora) nie dalk te wyte daaraan dat God die volk (almal wat beweer hulle is Christine) aan die vyand oorgegee het agv hulle afval en ongeloof nie ?

OWO ·

groot oge.Ek impliseer vir geen oomblik dat goeie geestelike leierskap nie noodsaaklik is vir ‘n samelewing nie.Dit is uiters noodsaaklik.Die babelse verwarring rondom Bybelse persepsies van instansies en individue het na my mening sy oorsprong uit skrif interpretasie wat nie volgens die reëls uitgevoer word nie.Hier praat ek van die uitleg teorie en praktiese uitleg.(Hermeneutiek en Eksegese)Die mensdom is vir sy eie Sodom en Gomorra verantwoordelik agv volgehoue ongehoorsaamheid aan God.Dit is maar in kort my beskeie menings.

m.d.r. ·

Baie goed geskryf Bennie. Die ongelukkige feit is dat die “stemvee” eenvoudig oningelig is en in daardie toestand gehou word omdat die wyer media die ANC goedgesind is of direk deur hulle beheer word.
Met alle respek –die armes in die blanke gemeenskap is maar ‘n druppel in die emmer teenoor die armes in die swart gemeenskap. en laasgenoemdes is die mees oningeligtes wat jy kan kry.
Die dag wanneer die bree media se burgerlike plig minder deur rand en sent gekleur word, en meer deur omgee vir die laer vlakke van ons samelewing kan ons beterskap verwag.
Intussen bly ons ongelukkig maar ‘n klomp media slawe.

James ·

Die stemvee is nie oningelig nie. Inteendeel. Die stemvee se paradigma is bloot anders as joune – en die twee is onversoenbaar. Persoonlik glo ek dat dit ‘n biologiese ding is.

Daar is duisende verskillende spesies van primate op aarde vandag. Een stamboom – maar almal verskillend…..

Daarin le die antwoorde op al die vrae. Ons is nie almal dieselfde nie…

Jerry ·

Die Afrikaner se roeping is beslis nie om mekaar te veroordeel omrede Afrikaners se roeping deesdae vir verskillende redes by verskillende plekke is nie. Dit bly belangrik dat Afrikaners mekaar in hulle eie diversiteit begin aanvaar en respekteer en steeds as n eenheid funksioneer, al is hulle op verskillende plekke, daar waar hulle roepings tans mag wees! Saam is die Afrikaner sterker, al is die Afrikaner oor verskillende lande heen versprei. Die Afrikaner se wortels en sy hart, al is dit hoe hartverskeurend, is steeds in sy eie land Suid Afrika, terwyl sy roeping egter elders mag wees! Dit hoef die Afrikaner nie te verhoed om steeds na eenheid in sy eie diversiteit te strewe!

Deon ·

Ons is almal lief vir die land, maar die werklikheid is dat wittes se rol op makrovlak uitgedien is. Op mikrovlak kan ons steeds bly voortbestaan deur te doen wat ons kan doen. Ons kan boer, pype herstel, huise bou, siek mense behandel, klein besighede bedryf, en vele ander beroepe beoefen. Maklik is dit nie en ons word daagliks in ‘n hoek gedruk. Ons kan en moet mekaar op daardie vlak ondersteun, al is dit onder die radar. Die makrovlak is nou die terrein van swart mense. Die land is op pad na ‘n massiewe treinbotsing, dit weet ons. Die eerste prioriteit is om seker te maak wittes sal oorleef en floreer, sonder arrogansie en aggressie. Dít is wat die militantes haat.

Therese van Schalkwyk ·

Die mees tragiese aspek van die nuwe bedeling is die feit dat die privaatsektor so geesdriftig saamgewerk het, en nog stééds voortgaan met die bemagtiging/ instopping van hul gunsteling ANC-kaders, met geen verdere gedagte aan die uitkomste vir gewone, hardwerkende Suid-Afrikaners nie. Die “ANC-glybaan” het ongetwyfeld verskeie rolspelers gehad tot op hede.
Landbou-organisasies het self maar taamlik onlangs eers stem dikgemaak teen vergrype. Waarom dit amper ‘n kwarteeu geneem het, weet nugter.

Frans C ·

Dit help nie om nabetragting en lykskouing te doen nie. Die uitverkore volk is in ballingskap weggevoer en het oor die aarde verstrooid geraak,want God is op ‘n syspoor geplaas.

Hiermee sê ek nie dat die Afrikaner God se uitverkore volk is nie,maar wel dat onder die dekmantel van die Bybel ‘n gees van humanisme die kerk binne gedring het waaronder
volke/nasie verskeidenheid van die tafel gevee is,onder die leuse almal is voor God gelyk en enigiets anders is rassisme.

Dit is juis wanneer volke wat onstaan het uit verspreiding oor die aarde ,saamgegooi word dat hul te groot vir hulle skoene word en die Bybel by die agterdeur uitgooi en dink dit is ‘n goeie ding om met die veragters van God se woord om die tafel te sit en ‘n nuwe bedeling uit te dink.

Lees gerus Psalm 2 in die verband.Leiers wou nie luister nie toe roepstemme opgegaan het van bekwame mense veral op plaaslike vlak dat Suid Afrika op ‘n ramp afstuur onder
‘n ANC-regering en die NP-die kiesers ongeag dit soos skape na die slagpale gelei het.

Snaaks genoeg dat die Babiloniers nie geskroom het om bekwame bannelinge in hoë
posisies aan te stel nie maar dat die ANC kaders bo dit verkies.

James ·

Die Bybel, soos jy hom vandag lees – deur al sy vertalings en weergawes tot vandag – het sy oorsprong in die Katolieke Tradisie. Die Katolieke het besluit watter boeke ingesluit sal word. En die resultaat is die Christen-bybel, soos jy hom vandag ken.

Voor dit – was God se woord: 1) Die Torah en afleidings, 2) Die samaritane se pentatog, 3)Die septuagint, en natuurlik – tot vandag – 4) die moslems se weergawe: Koran.

Die Bybel word aangepas, oor honderde – en selfs duisende jare, om in te pas by die tydsgees van die huidige leser. (Gaan lees prof. John Riches se studies oor die aanpassing van die Bybel oor 4000 jaar.)

Hier is ‘n voorbeeld: Homoseksualisme was ‘n bybelse doodsonde, vir millenia. Vandag, nie meer nie.

Die voorbeeld is maar net die eersste waaraan ek dink – ek self fel geen oordeel nie, maar maak net die punt: Die Bybel is NIE ‘n konstante waarheid nie.

OWO ·

@James.Ek kan nie met jou laaste sin saamstem nie.Die Bybel se groot lyne is duidelik en staan vas.Die sake waaroor dit werklik gaan,kom oor en oor voor,en is nie tot een boek beperk nie.

Andersen's Mooiweer ·

Die sosiale media moet tot ‘n baie groter mate aangewend word om ondersteuning te monster teen die degenerasie en vertrapping van bybelsgefundeerde morele waardes.
Logistieke vanselfsprekende redes verg dat die paradigma skuif gemaak moet word om te besef dat die verlangde uitkoms met elk se kultuurgedere beskermend, slegs verkry/bereik sal word met deelnemende ondersteuning van ons swart mede burgers wat voornoemde waardes deel. As ons dit eers besef en daarmee vrede gemaak het, is die volgende stap om te beplan hoe om dit te laat gebeur.

James ·

Hierdie ewige leuen dat Liefde alles oorwin, dat die ander wang gedraai moet word, dat God geregtigheid sal laat geskied en dit nie ons plek is om te oordeel nie, die ewige roeping om almal rondom jou te kersten en vissers van mense te gaan wees: Dit ALLES – spell reg in die kraal van jou vyand, die kommunis. Die kommunis in SA weet, soos verklaar deur sy Vader Karel Marx: “Religion, is the opium of the masses.” Jul goedgelowigheid en geloof in die inherente goedheid in alle mense, hou julle passief, en derhalwe geen gevaar vir die heersende boosheid nie.

Die Hemel – is vir NA die dood. Intussen – woon jy op aarde.

Wakker word.

Farmer Brown ·

@ James , jy slaan die spyker op die kop.
Die Afrikaner se swakste eienskap is sy Humanisme.
Dit klink mos reg om vir ander om te gee, maar nie ten koste van jou toekoms nie.
Die Afrikaner se roem op Christenskap maak van ons sagte tykens.

James ·

As jy nie daarvan hou nie – hou op baklei teen die “tydelike, bose aarde”, en omhels die hiernamaals. Maklik.

Jerry ·

Te veel Afrikaners blameer en beledig mekaar steeds, daarom dat meeste Afrikaners steeds aanhou dwarstrek. Om ou koeie uit die sloot te grawe saai net onnodige verdeeldheid, tensy dit natuurlik die idee is, soos dit meeste van die tyd lyk. Vergewe jouself dan sal jy mede Afrikaners se standpunte respekteer al stem jy nie altyd saam nie. Slegs wanneer julle mekaar se standpunte nie aanval en afkraak nie, dan kan daar vorentoe gekyk en saam vorentoe getrek word met die hoop op vooruitgang vir oorlewing!

James ·

Daardie mistieke wonderwerk: “Die Afrikaner.” Hy was dit – ja – circa 1800 – 1994.

Sedert 1994 is hy maar net “mens”. Soos die ander “mense” rondom hom. Hy wou dit so gehad het – en is vandag ontevrede oor sy besluit.

Expat ·

Die Afrikaner se misie was nog altyd dwarstrek, verdeel en afstig gewees. Voeg daarby hoogmoed, gierigheid en ‘n goeie skoot luiheid en jy kry ‘n volk met geen toekoms nie. Die van ons wat van buite af kyk kan nou eers mooi verstaan hoe goed dit is om van al die kunsmatige Afrikaner nonsens ontslae te wees.

Jerry ·

Dwarstrekkery en verdeeldheid is dalk wat die Afrikaner se behoud gaan wees, omrede dit die Afrikaner so wyd versprei het oor die wereld heen dat die Afrikaner se nageslagte net sal vergaan, indien die wereld vergaan!

@James ·

Die Bybel het nie verander nie, dit is die mense wat verander/liberaal word/ hulle eie afgode word. Bv nerens in die Bybel staan dat bv homoseksualiteit nou aanvaarbaar is nie? of enige ander sonde nie.

Frans C ·

James jy het ‘n erg verwronge siening van die Bybel.In die Bybel word mense met homoseksuele neigings nie veroordeel nie, omdat hul homoseksueel is nie,maar vanweë die dade wat hul pleeg.

Nou is dit ook opmerklik dat dade tussen vrouens met ‘lesbiese neigings’ as ‘lewd’ beskryf word.Daar is ongeveer 20 woorde sover ek weet in die Bybelse Hebreeus wat die begrip ‘sin’ omskryf.
Een betekenis is om te misluk en dan in die sin van ‘n mislukte verhouding.Ons verhouding met God het misluk en dit is om die rede dat Jesus gekom het as mens omdeur sy sy lewe,sterwe en opstanding die mislukte verhouding te herstel,sodat ons
God se aangenome kinders kan word.

Ook as ‘n mens in ‘n verhouding faal en nie jou pligte nakom nie ‘sondig’ jy teenoor die ander party.Jesus gaan egter verder as bloot die daad -maar stel gedagtes in die verband
op dieselfde vlak in die mens se verhouding teenoor sy Skepper en sy medemens.

Wonder maar net! ·

Die probleen is dit: die massas word deur alle politieke partye en unies onder die indruk gebring dat die blankes die oorsaak van elke probleem is .
Die waarheid is dat die politieke partye en die unies nie die kiesers inlig hoe n moderne ekonomie funksioneer nie. Hulle verstaan nie hoe aandeelhouding en dividende werk nie. Hulle is nie ingelig en verstaan nie hoe n maatskapy se bestuur teenoor eienaarskap verskil . Hulle verstaan nie hoe inset koste, produktiwiteit , vergoeding, inflasie ,voorsiening en aanvraag die pryse en winste bepaal nie. Hulle verstaan nie die verskille in kwalifikasie en ondervinding en verskille in besoldiging nie. Kortom, hulle het nie n idee hoe n ekonomie werk nie. En almal wat hulle behoort in te lig, gebruik die onkunde om hulle eie politieke sakke te vul

Saartjie ·

@Expat ek stem 100% met jou saam! Kon dit self nie beter stel nie. Ek woon reeds meer as 20 jaar in die buiteland in n veilige, skoon, goed ontwikkelde eerste wereld land. Toe ons destyds in ons nuwe land aangekom het was hier n groep Afrikaners wat beleggers gesoek het vir n Orania wat hulle hier wou bou!!! Ek het die kaart gesien waarop dit uitgemerk was. Genadiglik was daar nie genoeg belangstelling nie. Hier is ook n hele paar Afrikaanse kerke, waar daar n paar jaar gelede n skeuring by een was en nog n Afrikaanse kerk toe gestig is. Need I say more???

Realis ·

Sit 10 Afrikaners in een vertrek en binne ‘n uur het jy 3 nuwe politieke partye en twee nuwe susterskerke. Plus ‘n paar wat nie standpunt inneem nie.

Was nog altyd so, sal altyd so wees.

nabetragting ·

Wanneer ek na die vlag van Suid Afrika kyk besef ek dit ook vir my n simbool van korrupsie en bedrog geword, waar miljarde rande geroof is deur werknemers van die staat. Die vlag laat my dink aan die onreg wat laasgenoemde aan die armes gedoen het. en skaamteloos verantwoordelik was vir die vermorsing van MILJARDE TAND van belastingbetalers se geld. Dit laat my dink aan onbekwaamheid en kader ontplooiing en onregverdige toekenning van tenders, regstellende aksie, werkloosheid en faksiegevegte, onwettige grondbesetting, plaasmoorde en onteiening van grond sonder vergoeding. Verder laat die vlag my dink aan gebrekkige dienslewering, afbrand van skole en vernietiging van eiendom by universiteite. Die BEDROG MET BESTUURSLISENSIES en die ETOL fiasko en helaas die SAL se bankrotskap DANELLE se onvermoe om salarisse te betaal, die probleme by die POSKANTOOR, SAUK en SASSA. Die vlag laat my ook dink aan die SKOLE KWASSIES, WETTELOOSHEID, MOORD EN AANRANDING. BANKROTSKAPPE VAN MUNISIPALITEITE en die verduistering van geld wat vir dienslewering moes gebruik word. Is dit ‘n getuigskrif waarmee ‘n regering tevrede oor sal wees? Hierdie is nie ‘n getuigskrif nie maar ‘n KLAGSTAAT.

Db ·

As ek moet vertel waarvoor die kleure op hierdie ANC landsvlag staan sal ek sekerlik in die donkerste gat gegooi word

Jerry ·

Saartjie, jy kon eintlik n tweeling gewees het so presies slaan jy die spyker op die kop. In die buiteland en in SA het jy dus twee groepe Afrikaners, die wat werk vir n lewe (beleggers) en die wat die beleggers se swaarverdiende geld soek vir hulle volkstaat of selfbeskikkingsidees vir die bou van n sakeryk om sodoende hulself te verryk uit die bloed en sweet van mede Afrikaners. Dit is dus belangrik dat veral in hierdie tyd, alle hardwerkende Afrikaners uiters versigtig moet wees en eerder maar die kat eers goed uit die boom uitkyk, ten einde agter die kap van die byl te kom! Dit is soos om jou kinders te waarsku om nie deurmekaar te raak met die verkeerde skoolmaats nie, maar soos ons weet, party kinders sal luister en party kinders sal om die dood toe nie luister nie!

Kobus ·

Wat is dit met Afrikaners wat steeds glo ons het ‘n ‘roeping’ in hierdie deel van die wêreld? Klink meer soos ‘n grootheidswaan.

lewies ·

As gelowige sal ons altyd ‘n roeping he, al is dit net om ‘n getuie te wees van die ondergang of herstel van Suid-Afrika.

Petrus ·

Lewies, dink jy nou werklik 55 miljoen swart mense hier het ‘n saak met gelowige witmense se “roeping”? Soos Kobus tereg sê, dit klink meer soos ‘n grootheidswaan, ietwat misplaas. Die Liewe Heer het mos swart mense hier geplaas lank voordat Jan hier geland het. Van hulle het nou hul nou eie “roeping” en beskou die wittes se siening van hul “roeping” as arrogant. Trouens, net ‘n handjievol witmense is nog werklik streng godsdienstig genoeg om die “roeping” uit te leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.