My Oupa se bomskuiling

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Oupa was nie geletterd nie, maar hy was geleerd. ʼn Oorlewende van die konsentrasiekampe, sonder veel formele onderwys. Maar Oupa het homself geleer deur teologiese werke te lees, wat sy groot belangstelling was. Hy het nie van die stad gehou nie en gevoel hy pas nie by die destydse Britse kapitalistiese stelsel in nie.

Die skrywer Dan O’Meara kon van Oupa gepraat het, toe hy gesê het “the structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. The economy was dominated by ‘imperialist’ interests. Its language was English and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of a conqueror – and virtual total acceptance of the structure of values dominant in the economy.”

Oupa het plaas toe getrek om as lewenswyse boer ʼn bestaan te probeer maak. Maar dit het hom die tyd gegee om homself só in die teologie te verdiep, dat hy maar ʼn “Boere-teoloog” genoem sou kon word. Die boerderytjie is grootliks deur Ouma hanteer. Hy het vir hom ʼn studeerkamer ingerig, die eerste tikmasjien in die omgewing gekoop en ernstige briewe aan die dominees wat oor die radio gepreek het, begin skryf. Enkele boekies oor godsdienstige onderwerpe het ook die lig gesien. Oupa was die “enkel” in enkel Gereformeerd.

Oupa Drikus was nie ʼn vreeslike boer nie. Hy het sommer gou die bynaam van “Driek draad” gekry, omdat hy alles met draad wou regdokter. Sy boekrak was veel groter as sy gereedskapkas. Op die plaas kon jy nie veel meer as ʼn tang, “shifting”, skroewedraaier en ʼn  hamer, vir as niks anders help, kry nie. O ja en natuurlik die draad. Baie jare later, ná my eie minder roemryke loopbaan op ʼn tegniese skool, het my pa moedeloos gesug dat ek na my Oupa aard. Ek was te dom om met my hande te werk, het Pa gebrom, ek moes maar gaan studeer.

Een van sy kinders het op ʼn tyd vir Oupa ʼn boek van die Nederlandse teoloog, Karl Bart, gebring. Hy word gereken as een van die grootste teoloë van die twintigste eeu. Die oggend vroeg moes Ouma en die kinders dorp toe gaan. Ouma het net een kyk na die lesende Oupa gegee en een van die seuns gevra om sy stoel in die middel van die lusernbedding te gaan sit. Dit sou Oupa herinner om seker te maak die beeste kom nie in die land in nie. Maar Ouma het steeds nie die vrede vertrou nie en gesorg dat sy vinnig terugkom. Toe sy die vreedsame prentjie sien waar Oupa in die middel van die wuiwende lusern sit en lees, met die vretende beeste rustig reg rondom hom, kon sy maar net floutjies met die hand waai.

Karl Bart moes seker ʼn groot invloed op Oupa gehad het. Hy was een van die min Duitse kerkleiers wat teen Adolf Hitler in opstand gekom het en wat die Barman verklaring geskryf het teen die Nazi’s se beheer oor die Kerk.

Oupa was ook ʼn ywerige leser van Prof HG Stoker van Potchefstroom se werke, waarin hy in Stryd om die Ordes van 1940, die Nazisme ʼn heidense ideologie genoem het. In daardie jare het inligting nog maar stadig na Suid-Afrika deurgesyfer, maar Oupa het vinnig ʼn weersin in Hitler gekry toe dit vir hom duidelik geword het dat die Nazi’s anti-Joods was. Oupa het geglo alle Christene is God se volk, maar die Jode het nog ʼn bepaalde band met God.

Tweede Wêreldoorlog

Maar toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit en versteur selfs die rustige plaaslewe van die ou Wes-Transvaal. Premier Jan Smuts het dadelik oorlog verklaar. Oupa was baie vies, omdat hy geglo het dis ʼn Europese geveg wat niks met ons te doen het nie. Die konsentrasiekampe van die Vryheidsoorlog was nog vars in sy geheue. Hy het boonop gevoel dit is die tweede keer dat Smuts die land saam met die Engelse skaar teen ʼn land wat niks aan ons gedoen het nie.

Nóg sout in Oupa se wonde was toe hy tydens die 1922-staking by Wanderers toegesluit is deur “Smuts se Polisie”. Jare ná die oorlog moes ek vir Oupa ʼn posseël by die poskantoor op Barberspan koop. Toe ek met die seël aankom, was Oupa vererg toe Jan Smuts se gesig op die seël was. Hy het brom-brom die seël gelek en opgeplak, met ʼn “nou moet ek nog Smuts se dinges nog lek ook” tussenin – darem met ʼn glinster in die oog na my kant toe.

Die Duitsers se verpletterende blitzkrieg-bomaanvalle het Oupa verbyster saam met die res van die wêreld. Oupa het bekommerd begin raak dat “Smuts se oorlog” na Suid-Afrika kan oorspoel en hy het besluit dat sy gesin beveilig moet word. Die seuns moes ʼn bomskuiling grou! Maar Ouma het Oupa se bomskuiling net een kyk gegee, besluit dat dit selfs gevaarliker as Hitler se Stukas gaan wees en beslis gesê hy kan maar alleen daarin gaan sit. Sy sal nie toelaat dat een van haar kinders daar ingaan nie!

Die res van die oorlog het gelukkig vreedsaam op Tweebosch verloop en Oupa het die nuwe NP regering sterk gesteun toe hulle in 1948 die eerste land geword het om Israel ná hul onafhanklikheidsoorlog te erken.

Geskiedenis

Ouma se geskiedenislesse en haar ensiklopedieë was vir my interessanter as Oupa se boeke. Die feit dat die laaste slag van die oorlog, wat die Boere gewen het, op ons plaas, Tweebosch, afgespeel het, het goeie storiemateriaal verskaf. As kinders het ons nog dekades ná die oorlog steeds doppies, blikkies en stukke oorlogsuitrusting opgetel.

Die geskiedenis van ons familie was deel van die groter geskiedenis van die Afrikaner. Oupa en Ouma was geldelik brandarm, maar skatryk aan liefde vir Gods Woord, hul volk en taal en hul kinders en kleinkinders. Deur Ouma se geskiedenis-oë het ek die “broodsaak” van Afrikaanse moedertaal onderrig gesnap en gesien watter verskil dit in ons eie familie se ontwikkeling gemaak het. Ma was self ʼn onderwyseres, wat laatnagte gewerk het om vir ons klompie in die plaaskooltjie die vensters na die groter wêreld oop te maak.

Apartheid of onderwys?

Vandag word die Afrikaner se opkoms goedsmoeds toegeskryf aan apartheid se politieke mag, sonder om te vra waarom daar soveel miljoene ander mense op die planeet is vir wie politieke mag niks meegebring het nie.

Die historikus Hermann Giliomee sê tereg dat die suksesvolle opstaan van Afrikaners veel eerder aan gehalte-onderwys as apartheid te danke is. Die sosioloog, Lawrence Schlemmer, het jare gelede al uitgewys dat die roepingsbesef van die Afrikaanse  onderwyser die groot dryfveer was agter die ontwikkeling van Afrikaners binne een geslag, vanaf landelike kleinboere tot ʼn moderne stedelike volk.

Daardie roepingsbesef het onder meer sukseswaardes soos harde werk, spaarsamigheid, persoonlike verantwoordelikheid en vervulling van jou roeping, aan die nuwe geslag oorgedra.

Sosioloë, soos Max Weber, se stelling dat die Calvinistiese werksetiek meebring dat “mense leef om te werk in plaas van werk om te leef”, was die groot dryfkrag van Protestantse kulture en gemeenskappe. Weber se teorie het in die hoogbloei van die Marxisme vir byna ʼn eeu in onguns verval, maar die ekonomiese historikus van Harvard, David Landes, het dit weer gewild gemaak in sy Magnum Opus, The Wealth and Poverty of Nations.

Daarom bly dit ʼn voorreg om betrokke te wees by Afrikaanse onderwys en opleiding, omdat Oupa se geskiedenis vir my die bewys is dat dit nie net ʼn voorreg is nie, maar soos NP van Wyk Louw gesê het, steeds ʼn broodsaak is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Pragtig geskryf, Flip Buys! Kan vir Oupa Drikus so sien met die hamer as niks anders wou help nie.

Jy sê: “Vandag word die Afrikaner se opkoms goedsmoeds toegeskryf aan apartheid se politieke mag, sonder om te vra waarom daar soveel miljoene ander mense op die planeet is vir wie politieke mag niks meegebring het nie”.

Dit het dadelik herinner aan ‘n vriend se woorde toe hy die mense so sit en dophou wat wag om aan boord te gaan vir die SA vlug vanaf Sydney Australië: ” ‘n Mens kan sommer sien dis Suid-Afrikaners, hulle lyk so ordentlik”.

Flip nr 2 ·

‘n Heel voortreflike stuk. Dankie Flip! Dalk het die oorvloed in materiële ons geestelik verarm. Daardie mense was geestelik gesond.

Bruno Stef ·

Dit laat n mens terugdink aan jou kinderjare met Oupa wat by ons ingewoon het en sy vertellinge van staaltjies uit die ABO.Met trots kan ek vandag na sy voetspoor as stigterslid en voorsitter van die destydse “Helpmekaar” verwys en se tot my dood sal ek my volk en my mense verdedig soos Oupa gedoen het.

Boscia ·

Nou ja toe. Ek is nou so aangedaan ek gaan koop sommer ‘n stuk boerbeskuit by die naaste Checkers.

Henrietta Klaasing ·

My oudste dogter en haar man het ‘n paar jaar in Engeland gaan skoolhou. Sit skoonseun en ‘n Engelse kollega pouse en gesels, en my skoonseun sê dat hy skuldig voel omdat hy so ver agter is met die leerplan. Hak die Engelsman af: “It is your Calvinistic upbringing that makes you feel like that”. My skoonseun sê hulle het nooit oor Godsdiens gepraat nie. Toe hy my die verhaaltjie vertel het ek gesê dat die Engelsman dit dus van sy “Calvinistiese werksetiek” moes afgelei het.

Disselboom ·

Lyk of mnr Flip Buys oud en sentimenteel word. Gawe stories en vertellings, maar tye is dringend: die sentiment moet verminder en die daadkrag verhoog. Dis wat die jeug van ons eis en wat hulle toekom.

Boscia ·

Knap opgesom Disselboom. Weg van die Lot-se-omkyk-vrou sindroom. Ek hoop net jy sluit die hele jeug in want dis net een land en een toekoms anders is dit vir ons almal verlore. Hopelik sal ons kinners se kinners ook eendag kan terugkyk met nostalgie aan die dae wat Oupa ‘n toekomsblik gehad het vir ‘n beter land vir almal.

Dr. Amari. ·

Flip, Baie dankie dat jy vir ons van jou oupa geskryf het – my hart is seer want dit klink of jy van my kinderjare skryf. Ons was en is nog Enkel Gereformeerd – as ons kleinkinders by oupa hulle gekuier het het jy in die oggend wakker geword met hul huis godsdiens. Oupa het altyd gespog met ouma – hy het altyd gespog dat sy die hele Psalm boek uit haar kop geken het. As ek vandag terug dink besef ek dat hul arm was. My oupa kon net sy een hand gebruik die ander een was raak geskiet in die oorlog toe hy vir sy land en sy taal geveg het. Hy het egter baie goed vir sy ses kinders en geliefde vrou gesorg en hulle was dus baie ryk en gelukkig. Oupa het ons kleinkindertjies altyd op die kombuistafel getel en dan moes ons die volgende sing “Sien u hierdie pennie – ek het dit gebring. vir die heiden kinders en die sendeling – neem dan hierdie pennie graag gee ek nog meer. Gaan dan na die heidene van die liewe Heer.” Ek wonder hoeveel van u ken nog hierdie liedjie?

giel ·

Flip……Jou broers Driekus en Dries sou nou so breed geglimlag het.
Groete

Chris Lombard ·

Party mense bou nie met klip, baksteen of staal nie, hulle bou met woorde.

Mooi geskryf Flip, dit maak die hart warm.

Disselboom ·

Woorde, gesprek en debat is waardevol. Ook estetiese skryfwerk en die oproep van die mooi en die waarskuwings van die verlede. Mens verwag net van iemand in mnr Flip Buys se leierskaprol meer staatsmanskap en toepassing en praktyk vir nou: die artikeltjie is “mooi”, maar gee geen aanwyser van enige praktiese werklikheid vir nou nie.

Tye is dringend en ons skuld dit aan die jeug om vinnig te beweeg, met min sentiment en om aan te beweeg.

Dis artikels soos hierdie wat onderwys as speelbal en bietjie selfverlekkering gebruik wat die akademiese ontwikkeling en “broodsake” van nodigheid dat ons drasties en vinnig weer by die eerste wêreld aansluiting moet vind en nie verder met onderwys en opleiding veragter nie, vertraag.

Pieta ·

Oom Disselboom, jy klink darem baie soos iemand van daai anner werf waar die paar deelnemers so tussen die kruit- en swael-dampe deur ander Afrikaners slegsê en stof opskop, sonder dat enige positiewe resultate getoon kan word.

Flip Buys ·

Disselboom, as ek jou reg verstaan, voel jy dat ek te veel praat en te min doen, oftewel nie genoeg skryf oor wat ons prakties aan die probleem doen nie. Dis ongelukkig nie moontlik om in elke artikel ‘n doenlysie te plaas van die vordering met ons planne nie, maar ek verstaan jou kommer. In ‘n neutedop: die Solidariteit Helpende hand is met projekte by meer as 500 Afrikaanse skole betrokke, ons HH Studiefonds sentrum gee jaarliks rentevrye studielenings ter waarde van sowat R30m aan ‘n 1500 studente, ons Tegniese Kollege (waarskynlik die grootste kollege in die land en die enigste Afrikaans) het nou 1300 studente in die pyplyn, en Akademia mik vir 500 studente in 2016 by hulle nuwe Kampus. Al hierdie projekte en talle ander word binne die volgende 4 jaar drasties uitgebrei.

Disselboom ·

Die statistiek lyk goed ja. Op die oppervlak. En inderdaad is daar al baie studente, en dan meestal Afrikanerleerlinge en -studente wat baat vind; alles binne die regering se raamwerk vir opleiding.

Soltech is binne Solidariteit se natuurlike veld, en dit klink of daar sukses is. Oor die noodsaak vir opleiding van vakmanne hoef nie geredeneer te word nie. Hopelik bou Soltech se reputasie sodanig op dat dit mettertyd sonder die staat se stempels sy kwalifikasies sal uitreik vir markaanvaarding.

Akademia groei, ten goede. Geregistreer en geakkrediteer by die staat, wie se onderwysstandaarde en insigte in onderwys bevraagteken word. Nog bietjie dun in aanbieding, veral vir basisproduksieberoepe soos ingenieurswese en landbou maar redelik op pad met die handelsbestuur.

Helpende Hand help binne die staatskoolstelsel minder gegoede leerlinge, en doen daar ‘n werk wat gedoen moet word.

Beurslenings is lofwaardig, nodig en goed. Is daar beurse en skemas wat uitnemendheid en die presteerders en toekomstige vak- en bedryfsleiers aanspoor om Afrikanerdom te laat uitstyg?

Die deel waarin Solidariteit nie betrokke is nie, is selfstandige privaatskole. Nie dat dit noodwendig Solidariteit se rol en plig is nie, maar daar is ‘n gaping om uitnemendheid en eerste wêreldse-standaarde en die broodnodige vernuwing in onderwys aan te spreek. Die betrokkenheid by onderwys net binne die staatsraamwerk kan hoogstens net ‘n oorgangsfase wees, want daar is nie ‘n toekoms in staatsonderwys nie.

Dis broodsake om staatsonderwys agter te laat en weer tot volle potensiaal op te staan in die onderwys.

Henry ·

Dissel-ou-boom

Is dit nie wonderlik wat Flip Buys en Solidariteit reeds bereik het nie? Nogal met weinig fondse in hierdie droewe land waar die huidige regime geen hulp aan ons Afrikaners gaan/wil/sal (tyks jor piek) verskaf nie. Inteendeel.

Miskien kan jy vir ons vertel wat julle alles reeds vermag het. Ek is oortuig daarvan dat Solidariteit, Flip Buys en die res van ons Afrikaners nie vir ‘n oomblik sal skroom om van jou/julle suksesse te leer nie.

O ja. Vir wat dit werd is. Om in jou verlede te delf en die lekker oomblikke te herleef en daarvan te vertel, kan tog nie soveel skade doen nie. Mens kan steeds verby stap en ignoreer, indien dit nie jou wiel laat draai nie. Of hoe?

Erhard ·

Laat my aan Oupa Arie dink wat ‘n grofsmit, boer, en admin klerk by Vrystaat paaie was maar vir altyd wat ek kan onthou ernstig ouderling en enkel gereformeerd.

Johan 2 ·

Ek mis nou die Vrystaat (nie dat dit meer dieselfde plek is as waar ek grootgeword het nie). :(

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.