Mynbouhandves is staatskaping tot nadeel van armes

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

Die nuwe mynbouhandves wat op swart ekonomiese bemagtiging gerig is en wat die departement van minerale hulpbronne op 15 Junie 2017 die lig laat sien het, is in sonde ontvang en gebore.

Ten aanvang was daar dié keer, heeltemal teenstrydig met 2004 en 2010 se deursigtige prosesse van handvesskrywe, geen vooraf konsultasie met sleutelrolspelers nie. Daar was wel ʼn geleentheid om ná publikasie in die Staatskoerant tydens ʼn tydperk van 30 dae kommentaar te lewer op die inhoud. As ʼn groot verassing sluip daar toe heelwat nuwe, omstrede klousules – waarna nooit tydens die openbareverhoreproses verwys is nie – in die finale weergawe in. So byvoorbeeld is daar ʼn nuwe klousule wat bepaal dat slegs maatskappye met swart eienaarskap van ʼn minimum van 50% plus 1 vir prospekteerregte mag aansoek doen. Dit beteken dat groot mynhuise soos AngloGold Ashanti, Sibanye Gold en Impala Platinum geen nuwe skagte kan sink nie en namate hul bestaande myne uitgemyn word, gaan die geaffekteerde werkers bloot afgelê moet word.

Dan het die skrywers van die handves dit sommer goed gedink om ʼn aanhaling van Karl Marx in die aanhef te gebruik deur aan te dui dat die “means of production ” aan die werkers moet behoort. Die meeste Westerse beleggers het moontlik net tot hier gelees en besluit om op die eerste vliegtuig die land te verlaat. Gemeet aan die markte se reaksie en dié van die Kamer van Mynwese wat hom onmiddellik tot die howe gewend het, beteken dit reeds dat afleggings en disinvestering in die mynbedryf gaan toeneem en die getal werkers wat deur die handves bevoordeel moet word, by die dag kleiner gaan word.

Die inhoud van die handves is weer eens ʼn bewys daarvan dat ideologie mense verblind. Om te dink dat die voorskrif dat mynhuise ʼn verpligte 1% van hul jaarlikse omset as voorkeurdividend aan hul 30% swart aandeelhouers moet betaal (en hul leningskuld moet afskryf), die sukkelende mynbedryf ʼn bykomende R5,7 miljard rand per jaar gaan kos. Gepaardgaande moet maatskappye 5% van hul betaalrol aan ʼn mynboutransformasie-ontwikkelingsagentskap oorbetaal. Dit terwyl daar sedert 2015 reeds 1 500 permanente poste per maand in die mynbedryf verlore gaan en die Kamer van Mynwese nou voorspel dat die afdwing van die handves tot 100 000 werksverliese gaan lei.

Die Kamer waarsku ook dat daar ʼn afstroom-effek van mynbou-afleggings gaan wees omrede daar vir elke permanente pos wat verlore gaan 1,7 poste stroomaf verlore gaan weens die impak wat dit op mynbou-ondersteuningsdienste en verskaffers het en dat ʼn verdere tien afhanklikes per mynwerker met elke aflegging geraak word. Hierdie werksverliesbloedbad veroorsaak dat die mynbousektor simbolies “bloedrooi ” en nie “swarter” word nie, soos wat deur die handves beoog word.

ʼn Mynhuis soos AngloGold Ashanti gaan benewens ʼn jaarlikse omset van R17,3 miljard moontlik vanjaar ʼn verlies van R1,3 miljard by sy Suid-Afrikaanse myne ly. Om die impak van die handves te illustreer, sou AngloGold in die vorige boekjaar R172 miljoen as verpligte dividend moes betaal, wat groter verliese sou beteken, terwyl AngloGold se myne buite Suid-Afrika uiters winsgewend is – hul besluit rakende hul sake in Suid-Afrika is dus voorspelbaar en die maatskappy het sopas met ʼn afleggingsproses begin wat tot 8 000 werksverliese kan lei.

Die regering se bemagtigingslogika dat die verpligte dividend swart entrepreneurs, maar veral myngemeenskappe en werkers uit armoede gaan lig, is so logies soos ʼn stofsuierverkoper wat sy prys op R1 miljoen vasstel sodat hy net een stofsuier elke twee jaar hoef te verkoop – dit is eenvoudig nie moontlik of logies nie.

Nog ʼn bewys van die totaal onrealistiese vereistes wat in die handves daargestel word, het betrekking op regstellendeaksievoorskrifte. Die handves bepaal dat 50% van topbestuur, 60% van senior bestuur, 75% van middelvlakbestuur en 88% van die junior bestuursvlak swart werknemers moet wees en waarvan 50% van alle teikens swart, vrouewerknemers moet wees. Dit is statisties onmoontlik om te bereik. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) is daar byvoorbeeld slegs 21,1% vrouewerknemers wat oor ʼn tegniese kwalifikasie beskik. Dit beteken dat dié teiken nie binne die afsienbare toekoms bereik kan word nie.

Dan is bestuursvlakke volgens die Kamer van Mynwese reeds 50% getransformeer, maar dit gaan tien jaar neem om aan die nuwe vereistes te voldoen. Die handves is egter so dubbelsinnig geskryf dat dit eintlik bepaal dat die indiensneming teikens reeds op die dag van publikasie behaal moes word.

Hoewel dit nie ideaal is nie, kon ʼn beter voorskrif eerder gewees het dat namate poste vakant raak, swart kandidate wat aan die vereistes van die pos voldoen, voorkeur kry en bemagtiging eerder met verloop van tyd geskied en nie afgedwing word en volhoubaarheid bedreig nie.

Mynhuise gaan nou geen ander keuse hê nie as om swart werknemers met ʼn verhoogde salarisaanbod van ander maatskappye af te rokkel om so hul mynlisensie te beskerm wat andersins weens nievoldoening deur die departement teruggetrek kan word. Een van die mynhuise in die Rustenburg-omgewing was egter baie kreatief in dié verband. Hulle het vantevore drie swart direkteure op hul direksie van tien gehad wat aan hulle 30%-bemagtiging op dié vlak gebied het, maar toe verklein hulle die direksie na ses lede en behou die drie swart direkteure en so was hul direksie danksy wiskundige gimnastiek oornag 50% getransformeer.

Voorts gaan die voorskrif dat swart werknemers 8% van die 30% se swart eienaarskap moet uitmaak, beteken dat in die werkplek, waar swart en wit werknemers sy aan sy werk, die een ʼn aandeelhouer gaan wees en die ander een nie.

Dan het die konsephandves ʼn voorskrif bevat dat 2% van ʼn myn se werkmag uit gestremde, swart Suid-Afrikaners moet bestaan. Solidariteit het tydens die oppervlakkige openbare verhore sterk kapsie hierteen gemaak. Die handves is nou aangepas en bepaal dat die 3% gestremdes die demografie van die provinsie waarin hulle werksaam is, moet weerspieël. In praktyk beteken dit as daar slegs wit gestremde werknemers vir poste aansoek doen en geen ander gestremdes van ander rassegroepe aansoek doen nie, daar net soveel wit gestremde werknemers aangestel kan word as wat die provinsie se demografie weerspieël en die ander beskikbare wit gestremde werknemers nie aangestel mag word nie.

Voorts plaas die handves ook talle verpligtinge op mynhuise wat infrastruktuurontwikkeling in die omgewing van ʼn myn en die voorsiening van behuising betref. Dit kom basies daarop neer dat die plaaslike regering en departement van menslike nedersettings hul verpligtinge op mynhuise afskuif.

Dit is maar enkele voorbeelde van hoe irrasioneel die inhoud van die handves is. Beleggers, kredietgraderingsagentskappe en mynhuise het twee jaar lank gesmeek vir die publikasie van die handves sodat daar meer regulatoriese sekerheid in die mynbedryf kon wees. Sedert die onlangse publikasie van die handves het die teenoorgestelde egter gebeur en die onsekerheid het dramaties toegeneem. Om die mynbedryf te red sal die ANC die handves tydens sy eerskomende beleidskonferensie moet herroep, of die Kamer van Mynwese sal met Solidariteit se ondersteuning in sy interdikaansoek op 18 Julie 2017 om die handves ongeldig te laat verklaar, moet slaag.

As eerste prys moet die nuwe handves in totaliteit geskrap word, maar as die handves hersien moet word, gaan dit ongelukkig opnuut onsekerheid skep, maar dit sal minder onsekerheid wees as wat nou oor die voldoening aan en gevolge van die nuwe handves bestaan. Een ding is egter seker – werksverliese in die mynbousektor gaan drasties toeneem wat, benewens die maatskaplike verval, ʼn toename in onwettige myners en protesaksies tot gevolg gaan hê.

Dit maak egter nie sin dat die teikengroep wat deur die handves bemagtig moet word eintlik ontmagtig word nie, tensy dit die doel van die handves was om uiting te gee aan staatskaping of president Zuma se belofte van radikale ekonomiese transformasie en die handves sy lewensaar is, of as die ANC met die handves die EFF se radikale mynbouvoorstelle wou troef en dit gepaardgaande bemagtigingsgeleenthede vir die Guptas skep. Wat die rede/s ook al mag wees, die ANC se ondersteuningsbasis onder blouboortjiewerkers gaan die grootste prys daarvoor betaal.

Die realiteitsbesef oor die katastrofiese gevolge sal egter eers moet insink, want tydens onlangse gesprekke met twee groot populistiese mynbouvakbondvennote was hul opgewondenheid groot oor die versnelde transformasie wat nou gaan geskied. Behalwe dat die twee vakbonde die meeste lede gaan verloor, was my vraag aan hulle: “Verkies julle die huidige situasie waar 480 000 permanente mynwerkers in die sektor werksaam is en wat 50% getransformeer is, of verkies julle die 2030-scenario waarin 180 000 werknemers in die mynbousektor gaan oor wees, maar wat darem naby aan 100% getransformeer gaan wees?”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jakes Jacobs ·

Gideon, 100% raakgevat. Jou woorde was skaars koud, toe tref die eerste bom. 8500 werksgeleenthede later ” AND COUNTING”.

Francois ·

Gideon, baie dankie vir die uiters informatiewe berig. In ‘n tyd waar alle logiese en regdenkende mense gedink het niks kan enigeen meer verras nie, tref hierdie irrasionele beleid soos ‘n atoombom. Die ANC het groot advertensieborde langs die snelweë in en om Jhb wat dit uitbassuin oor hoeveel werksgeleenhede hulle kwansuis geskep het sedert 1994. Die teendeel is egter waar aangesien die ANC beleid oor geforseerde transformasie meer swartmense hulle werk kos. Die huidige werkloosheidssyfer is die hoogste wat dit nog ooit was.
Ek staan verstom oor die wanbegrip en wanbesef van die regeringsamptenare oor wat werklik vooruitgang bring. Daar is geen plaasvervanger vir inisitief en harde werk nie en om bloot maatskappye en mynhuise te dwing om die beherende deel van hulle ondernemings te oorhandig aan swartes wat nie daarvoor gewerk het nie gaan die eienaars doodeenvoudig laat disinvesteer.
Ek glo vas dat stortkop en sy trawante nie drie breinselle tussen hulle het en nie eers 1% logika nie.

Ampie ·

Dankie vir die artikel, dit plaas die sosiale ingenieurswese (social engineering) wat hierdie regering nou al vir 23 pleeg weer in die soeklig. Dit is net ongelooflik dat hulle keer op keer hierdie rassisme pleeg in die naam van “nie-rassigheid” en “gelykheid”.

Carel ·

Karl Marx se derde wet is transformasie. Maar is gebaseer op sy eerste twee. Law of opposites en The law of negation. So wat ANC doen is maar net om nader aan kommunistiese stelsel te beweeg. Oor ‘n paar jaar sal hulle weer ‘n nuwe mynbouhandves uitbring. En soos aan. Totdat hulle alles het en beheer namens die werkers natuurlik. Kommunisme sien als soos ‘n koek. Hulle vat elke keur net ‘n klein snytjie en wanneer jy jou oe uitvee is koek op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.