Myne is nie net ’n gat in die grond nie

Die Beatrix-myn. Foto: Sibanye-Stillwater

Deur Jeannette Gnade

Die mynbousektor sal moet opskud as die derde konsep-mynbouhandves aan die einde van Augustus vir kommentaar sluit en voor November in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Ofskoon die handves beter lyk as die een wat deur die omstrede Mosebenzi Zwane vrygestel is, is daar steeds punte waaroor die Minerale Raad (MRSA) – voorheen die Kamer van Mynwese – en die huidige minister, Gwede Mantashe, asook ander rolspelers nie saamstem nie.

Mynmaatskappye is ongelukkig oor sy dreigement dat myne wat nie bewerk word nie, ingevolge wetgewing aan die staat verbeur kan word. Die minister wil eerder toesien dat myne wat in sorg en instandhouding geplaas is, aan kleiner operateurs gegee word wat minder oorhoofse koste het. Die myne sê onvoldoende ontginning is ’n veel groter probleem in die mynbedryf.

Duisende permitte is uitgereik, maar min of geen ontginning vind plaas nie. Volgens die Minerale Raad hang die mynbedryf se toekoms af van nuwe projekte. Desnieteenstaande het die begroting vir ontginning van 179 miljoen dollar (sowat R2 390 miljoen in 2010 tot ’n skrale 87 miljoen dollar (sowat R1 154 miljoen) in 2017 gedaal.

Suid-Afrika het ook sy stewige plek op Afrika se ontginningslys verloor. Kommer oor regulering en die feit dat baie kapitaal nodig is, maak maatskappye huiwerig om hulle tot nuwe projekte te verbind. Swak mynproduksie belemmer ook ekonomiese groei omdat dit juis daartoe lei dat myne in sorg en instandhouding geplaas word. Mynmaatskappye hoop dat minister Mantashe dit so insien en met oplossings vorendag tree.

Die onlangse mynbouberaad het volgens belanghebbendes goed afgeloop en Mantashe se siening dat alle werkers onder senior bestuursvlakke (ongeag hul ras) by die voorgestelde aandeelhoudingskema moet baat, is wyd verwelkom.

Die Benchmark-stigting – wat maatskaplike verantwoordelikheid monitor – is egter ongelukkig omdat die minister nie genoeg aandag gee aan die armer gemeenskappe waarin mynbedrywighede plaasvind nie. Die stigting eis groter deelname vir gemeenskappe wat die negatiewe gevolge dra van die mynboubedryf soos besoedelde water, grond en lug en die siektes wat as gevolg daarvan ontstaan.

Die Stigting sê dit maak nie sin dat die handves voorheen benadeelde mense wil ophef, maar hulle steeds uitsluit van alle besluitneming wat hul lewens regstreeks raak nie. Volgens die stigting sterf hierdie mense vroeër of moet uiteindelik hul grond opgee en kry nooit die opbrengste waarop hulle geregtig is nie.

’n Mens kan net hoop dat niemand in die finale handves “ondermyn” word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae