ʼn Aanslag wat ons nie kan verduur nie

nuus-nuuswebblad-rekenaar

Foto: Negative Space/Pexels.com

Deur Peet Bothma

Mediavryheid is een van die vertrekpunte van die Suid-Afrikaanse Grondwet. In artikel 16 van die Wet word onomwonde verklaar: “Elkeen het die reg op vrye meningsuiting, wat vryheid van die pers en ander media insluit.”

Voor 1994 was die media in twee kampe verdeel wat oorvereenvoudig kan word as dié media-organisasies wat die Nasionale Party-regering gesteun het en dié organisasies wat teen die regering was. Eersgenoemde was hoofsaaklik Afrikaans en die ander hoofsaaklik Engels.

Toe die ANC aan bewind gekom het, het die meerderheid van die media, as gevolg van oudpres. Nelson Mandela se versoeningspogings, die “nuwe demokrasie” reikhalsend verwelkom. Veral Afrikaanse mediabase, uitgesonder die groep joernaliste wat ʼn voorlegging aan die Waarheid- en Versoeningskommissie gedoen het, het die vorige bedeling uiteraard verloën en ontken dat hulle óóit verbintenisse met die regering gehad het.

Oor die afgelope 23 jaar het die prentjie egter ingrypend verander en het die media een van die ANC-regering se grootste kritici geword. Die media het in meer as een opsig weer ʼn waghond geword en die jongste onthullings deur organisasies soos die amaBhungane Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek het die ANC in sy spore laat stuit. Dit is veral die uitgelekte e-posse van die Gupta-familie wat die konkelwerk van die ANC ontbloot het.

Dit is dus logies dat die ANC in sy binnekamer ʼn geheime oorlog teen die media verklaar het. Dit is ondenkbaar dat die party hom in die openbaar met ʼn aanslag op mediavryheid kan vereenselwig. Dit beteken egter nie dat ʼn koverte aanslag uitgesluit is nie. Dit is in hierdie konteks voor die hand liggend om na die Guptas se ANN7-televisiekanaal en The New Age-koerant te verwys. Mens moet egter verder kyk.

Die organisasie Black First Land First, of BLF, se aanslag op joernaliste wat oor staatskaping berig, dreig om in geweld te ontaard en dit het beide die Suid-Afrikaanse Redakteursforum, of Sanef, en die Menseregtekommissie se optrede genoodsaak. Sanef het hom selfs tot die hooggeregshof gewend. Maar weereens die vraag: wie sit agter die BLF? Onthullings in Business Day dat die BLF direkte kontak met die Gupta-familie gehad het is deur die organisasie afgemaak, maar beweringe dat Gupta-geld die organisasie rugsteun en só rassehaat in die land aanblaas, kan nie bloot geïgnoreer word nie.

Hoewel die media altyd bevraagteken moet word, kan Suid-Afrika dit nie meer bekostig dat koerante geboikot, media-organisasies teen mekaar afgespeel word en joernaliste sondermeer afgekraak word nie. Dié mense doen ʼn ondankbare werk. Hulle is ʼn laaste bastion teen die oorweldigende tsunami van bedrog en korrupsie wat oor die land spoel.

Koerante, internetblaaie, radiostasies en die televisiekanale verdien ons steun.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Ek dink tog dat die pers in wisselende mate die gemoed van die bevolkingsgroeperings weerspieël en sekerlik ook beïnvloed deur ondernemende joernalistiek en kommentare.
Die verdelende faktor begin sy rol speel sodra joernaliste totaal uit hul diepte, minderheidsgroepe bedien deur beriggewing wat getuig van n ongevoeligheid of onkunde van groepering se waardestelsel.
Soos rooi nie vir almal dieselfde betekenis het nie, is objektiewe waarneming en die vertolking van die feite vir jou gehoor sekerlik krities belangrik.
Die probleem bly maar sekerlik die waardesisteem van die lesers wat verskil tussen groeperings soos dag en nag.
Met die meerderheidregering wat alger van ons in n getransformeerde vormpie wil inforseer en die stukke wat uitpeul eenvoudig wil afsny, sal die media altyd n ondankbare werk hê. Dit doen egter geensinds afbreek aan die uiters belangrike rol wat dit in die samelewing speel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.