ʼn Aanslag wat ons nie kan verduur nie

persvryheid

Argieffoto.

Deur Peet Bothma

Mediavryheid is een van die vertrekpunte van die Suid-Afrikaanse Grondwet.

In artikel 16 van die Wet word onomwonde verklaar: “Elkeen het die reg op vrye meningsuiting, wat vryheid van die pers en ander media insluit.”

Voor 1994 was die media in twee kampe verdeel wat oorvereenvoudig aangedui kan word as dié media-organisasies wat die Nasionale Party-regering gesteun het en dié organisasies wat teen die regering gekant was. Eersgenoemde was hoofsaaklik Afrikaans en die ander hoofsaaklik Engels. Toe die ANC aan bewind gekom het, het die meerderheid van die media, as gevolg van oudpres. Nelson Mandela se versoeningspogings, die “nuwe demokrasie” reikhalsend verwelkom. Veral Afrikaanse mediabase, uitgesonder die groep joernaliste wat ʼn voorlegging aan die Waarheid- en Versoeningskommissie gedoen het, het die vorige bedeling uiteraard verloën en ontken dat hulle óóit verbintenisse met die regering gehad het.

Oor die afgelope 23 jaar het die prentjie egter ingrypend verander en het die media een van die ANC-regering se grootste kritici geword. Die media het in meer as een opsig weer ʼn waghond geword en die jongste onthullings deur organisasies soos die amaBhungane- sentrum vir ondersoekende joernalistiek het die ANC in sy spore gestuit. Dit is veral die uitgelekte e-posse van die Gupta-familie wat die konkelwerk van die ANC ontbloot het.

Dit is dus logies dat die ANC in sy binnekamer ʼn geheime oorlog teen die media verklaar het. Dit is ondenkbaar dat die party hom in die openbaar met ʼn aanslag op mediavryheid kan vereenselwig. Dit beteken egter nie dat ʼn koverte aanslag uitgesluit is nie.

Dit is in hierdie konteks voor die hand liggend om na die Guptas se ANN7-televisiekanaal en The New Age-koerant te verwys. ʼn Mens moet egter verder kyk.

Die dood van die SAUK-joernalis Suna Venter, ná maandelange teistering, het die land geruk. Wie het agter die aanslag gesit?

Die organisasie Black First Land First, of BLF, se aanslag op joernaliste wat oor staatskaping berig, dreig om in geweld te ontaard en dit het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum, of Sanef, sowel as die Menseregtekommissie se optrede genoodsaak. Sanef het hom selfs tot die hooggeregshof gewend. Maar weer eens die vraag: Wie sit ágter die BLF?

Onthullings in Business Day dat die BLF direkte kontak met die Gupta-familie gehad het, is deur die organisasie afgemaak, maar beweringe dat Gupta-geld die organisasie rugsteun en só rassehaat in die land aanblaas, kan nie bloot geïgnoreer word nie.

As landsburgers moet ons nou kennis neem van dié georkestreerde aanslag wat in sommige gevalle selfs deur buitelandse maatskappye soos die Britse skakelmaatskappy, Bell Pottinger, ondersteun word.

Hoewel die media altyd bevraagteken moet word, kan Suid-Afrika dit nie meer bekostig dat koerante geboikot, media-organisasies teen mekaar afgespeel word en joernaliste sonder meer afgekraak word nie. Dié mense doen ʼn ondankbare werk. Hulle is ʼn laaste bastion teen die oorweldigende tsoenami van bedrog en korrupsie wat oor die land spoel.

Koerante, internetblaaie, radiostasies en die televisiekanale verdien ons steun.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MCH ·

Politiek en die hele slymsel wat sy besporing tipeer, het in normale toestande verdeeldheid tot gevolg. Dit toon dat die vryheid van spraak in soverre dit die media betref, op gesonde vlak is. Waneer politici die pad egter so byster raak dat die joernalistiek as n verenigde front staan, is die wiele ernstig aan die afval. Selfs die skerp kritiese uitsprake wat deur die SAKP gemaak word teen die regerende meerderheid laat jou stom van verbasing oor die eerlike felheid waarmee dit op die openbare platform gelewer word. Die dag wanneer links en regs so naby aanmekaar beweeg oor fundamentele kwessies, is dit simptomaties van n dodelik siek regering. Verseker verdien die hoofstroom media en in die besonder ondersoekende joernaliste ons ondersteuning in die giftige milieu waar die boodskapper van die waarheid, die slagoffer word.

Rupert Ashford ·

Ek is dankbaar vir die sinnetjie “alhoewel die media altyd bevraagteken moet word…” in die stuk. Het halfpad bekommerd begin raak. Die skrywer het self verwys na die dae van “voor ’94” en hoe die media ingespan is om eers die NP se saak te dien en toe “die oorgang/die uitverkoop” se saak in ons kele afgedruk het en ons dit soos skape gevat het. Net drie woorde: “Nooit weer nie.”

Eish ·

Amen. Tog verstommend dat die media gesamentlik en oor die hele spektrum in een kraal gejaag word met die aanslag op mediavryheid.

Danie Venter ·

Die hoofstroom Afrikaanse Media het ons erg in die steek gelaat. Diè wat álles wat nou ge- beur voorspel het, is uitgekryt vir regressief, oudmodies en agterlik. Reeds in die vroeg ’90’s
het dr. Andries Treurnicht voorspel dat èlke man hom en sy huis in die nabye toekoms sal moet verdedig. Daardie tyd is hy deur baie Afrikaners sleggesè en verneder en (soos Suna) het hy gesterf weens “gebroke hart-sindroom”. Die toekomsgeskiedenis sal hom nog aanwys as ‘n “siener en profeet”. Om van genr. Constand Viljoen nie eers te praat nie. Hulle is verguis deur die sg “linkses” met koerantredakteurs voor in die koor!

Rupert Ashford ·

Veritas dit is hoekom daar sekere mense soos bv ou Max en Jan-Jan Joubert is wat ek nooit sal lees nie al se hulle vandag wat.

Therese van Schalkwyk ·

Die skrywer is reg wanneer hy sê die media is táns een van die grootste kritici van die ANC-regering. Ongelukkig was dit nie altyd die geval nie.

Wat die Afrikaanse media betref, is dit m.i. hopeloos te min en te laat. Die koers wat die drie Afrikaanse susterskoerante, en RSG in mindere mate, met ingang van die ‘nuwe’ Suid-Afrika ingeslaan het, het my permanent as ondersteuner/intekenaar afgeskrik. Elke tweede artikel of rubriek het die leser vermaan, sedeprekies afgesteek of sommer reguit vertel hoe rassisties sekere optrede kwansuis is, bv. lidmaatskap van AfriForum of Solidariteit.
Die lys voorbeelde is te lank!

Betreurenswaardig dat die tragiese dood van Suna Venter nodig was om (hopelik) finaal die woorde te laat in sink:

“Elkeen het die reg op vrye meningsuiting … ”
Swart, wit, links, regs, gematig en draadsitter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.