’n Ander soort storm

ʼn Nederlandse burger kyk na valskermsoldate van die VSA, België, Duitsland, Italië, Nederland, Pole en die Verenigde Koninkryk in lugoperasie as deel van ‘n jaarlikse herdenking van Operasie Market Garden. Die herdenking het ongeveer 1 000 geallieerde valskermsoldate van die sewe Navo-bondgenote bymekaar gebring vir ‘n paar dae van gekombineerde lugoperasies en seremonies. Market Garden was die grootste operasie van sy soort in die geskiedenis en het van 17 tot 25 September 1944 plaasgevind. (Foto van die Amerikaanse weermag deur Sgt. Daniel Cole/US Army European Public Affairs)

Vandag ’n rubriek van ’n héél ander aard.

In die afgelope naweek het sowat ’n duisend valskermspringers oor die gebied bekend as die Ginkelse Heide (naby Arnhem in Nederland) uit C-130-vragvliegtuie en Tweedewêreldoorlogse Dakotas gespring.

Dit gebeur elke jaar in September. Maar vanjaar was dit baie spesiaal, want dit was mooi 75 jaar gelede dat ’n Britse valskermdivisie en ’n Poolse valskermbrigade deur onverwags kragtige Duitse weerstand feitlik uitgewis is.

Suid-Afrika is natuurlik nie onbekend met dié soort “vertikale omvleueling”, soos die militêre skrywers dit noem, nie. Die Suid-Afrikaanse Weermag het op 4 Mei 1978 sy eie grootskaalse valskermoperasie teen die Swapo-basis in Cassinga in Angola uitgevoer.

Die basis is uitgewis en sowat 600 Swapo-lede (meestal vegters in uniform, maar enkele vroue en kinders het ook onvermydelik gesterf) is gedood. Dit het Swapo se oorlogspoging, al was dit maar tydelik, ’n duidelike knou gegee.

Valskermoperasies is uiters riskant. Die Duitsers het in Mei 1940 daarmee begin toe hulle valskermsoldate by brûe oor die vele Nederlandse riviere en kanale neergelaat het om te keer dat die terugtrekkende Nederlandse magte dit vernietig voordat die Duitse hoofmag dit kon bereik.

Toe het dit goed gewerk, want die arme Nederlandse soldate was weens die kortsigtige besnoeiings van die regering in die jare daarvoor sleg toegerus en opgelei. Hulle was nie voorberei op dié revolusionêre tipe oorlogvoering nie.

Iets meer as ’n jaar later, in Mei 1941, het die Duitsers dit weer gedoen toe hulle die Griekse eiland Kreta teen die verbete teenstand van Britse, Nieu-Seelandse en Griekse troepe verower het. Maar waar die operasie van 1940 bedoel was as steun vir die Duitse grondoffensief, is hoofsaaklik lugstormtroepe (meer as 15 000, plus nog 7 000 per see) vir die aanval op Kreta gebruik.

Dit was suksesvol, want Kreta is ingeneem. Maar die Duitse ongevalle – byna 7 000 dood en gewond – was só swaar dat die Wehrmacht se opperbevel besluit het om lugstormtroepe nooit weer in ’n selfstandige operasie te gebruik nie. Inderdaad is die valskermeenhede in die res van die oorlog byna uitsluitlik as ortodokse infanterie aangewend.

Hierna het die Slag van Arnhem in September 1944 gevolg, toe die Geallieerdes die Duitse voorbeeld van 1940 wou volg deur die brûe oor die Maas by Eindhoven en die Ryn by Arnhem te beset terwyl die hoofmag oor land voortstoot. Maar dit was ’n brug te ver, want die valskermtroepe is gekonfronteer met ’n sterk SS-pantserkorps, terwyl die oprukkende grondmagte selfs met groot moeite nie verder as Eindhoven, enkele tientalle kilometers suidwaarts, kon vorder nie.

In 1954 het die Franse honderde valskermtroepe oor die basis Dien Bien Phu in Viëtnam neergelaat, maar hulle was bedoel as versterkings vir ’n garnisoen wat volledig deur die Viëtnamese afgesny en omsingel was. Hulle moes ná weke se wanhopige gevegte oorgee – ’n vernedering waarvan die Franse prestige nooit werklik herstel het nie.

In 1956 het Britse en Franse valskermtroepe by die Suez-kanaal geland nadat pres. Gamal Abdel Nasser die kanaal genasionaliseer het. Teen die swak opgeleide en georganiseerde Egiptiese strydkragte was dié operasie ’n sukses, ook omdat die valskermtroepe kort ná hul landing deur ’n maritieme landing en noue lugsteun bygestaan is.

Die operasie het militêr geslaag, maar was natuurlik ’n politieke katastrofe. Amerika en die Sowjetunie het die Britte en Franse gedwing om terug te trek.

Ná Suez was die eerste taamlik grootskaalse lugstormoperasie Suid-Afrika se aanval op Cassinga. Daar het dit ook geslaag, maar teen die einde het die operasie wel op ’n naaldpunt gesteier.

Terwyl die SAW-troepe per helikopter onttrek is, het Kubaanse en Angolese gemeganiseerde magte uit die suide én noorde nader gesnel. As hulle die Suid-Afrikaners nog op die grond betrap het, sou dit nie alleen ’n bloedbad afgegee het nie, maar ’n Suid-Afrikaanse nederlaag wat die hele verloop van die grensoorlog waarskynlik beslissend sou beïnvloed het.

Lugstormoperasies het voor- en nadele.

Die voordele is dat jy ’n aansienlike mag blitsvinnig bo-oor vyandelike linies (dus “vertikale omvleueling”) in sy agtergebiede kan neerlaat. Die voorwaarde is natuurlik dat jý die lugruim beheers, want die vragvliegtuie is in beginsel uiters kwesbaar.

Jy kan die vyand dus skielik verras, en in oorlogvoering is verrassing dikwels van die uiterste belang.

Andersyds is lugstormtroepe per definisie ligte infanterie. Hul bewapening moet lig genoeg wees dat hulle dit oor lang afstande moet kan dra, en dus is die slaankrag relatief beperk.

Daarby kom die feit dat hulle oorweldigend van dapper en stapper afhanklik is. Die vliegtuie kan ’n paar ligte voertuie neerlaat, maar vir die res moet die soldate lóóp as hulle van die een punt na ’n ander wil opruk.

As ’n mens dit nou koppel aan die historiese ervaring, blyk dit dat jy baie realisties moet wees oor presies wat ’n mens met valskermtroepe kan bereik, en wat nie.

Moet sulke troepe liefs nie in ’n selfstandige operasie, ver van jou eie linies, gebruik nie, tensy die omstandighede buitengewoon gunstig is. Met ander woorde, iets soos die aanval op Kreta en Cassinga is eintlik onverstandig. (Geen wonder nie dat ook die SAW sy lugstormtroepe nie weer op dié manier ingespan het nie.)

Die doel waarvoor hulle aangewend word, moet – uitsonderings daar gelaat – beskeie wees en in noue koördinering met die ortodokse grondmagte uitgevoer word. In die praktyk beteken dit dat hulle liefs neergelaat moet word op ’n plek waar hulle ’n taktiese doelwit kan beveilig, maar wat binne relatief gerieflike trefafstand van die hoofmag is.

Lugstormtroepe hoef in beginsel nie slegs per valskerm neergelaat te word nie; helikopters kan ook gebruik word. In 1967 het die Amerikaners tydens die Slag van Ia Drang in Viëtnam ’n hele bataljon per helikopter in die middel van ’n vyandelike basisgebied neergelaat, waar hulle ’n oorwinning slegs met swaar verliese kon koop.

Ook tydens die inval in Irak in 2003 is ’n lugstormdivisie – die “101st Airborne” – as mobiele ligte infanterie ter ondersteuning van die swaar gemeganiseerde divisies gebruik. Teen die ongeorganiseerde, swak aangevoerde en gedemoraliseerde Irakse soldate het dit goed gewerk. Ook hier was die doelwitte van die lugstormsoldate haalbaar en relatief beskeie.

Die Suid-Afrikaanse leër het twee eenhede wat aan die beskrywing van lugstorm voldoen – 1 Valskermbataljon en 6 SA Infanteriebataljon (laasgenoemde is die een wat per helikopter vervoer word). Hopelik word dit nooit nodig dat hulle in alle erns in gevaar ingestuur word nie, maar as dit gebeur, moet daar nie te veel van hulle verwag word nie.

Uiteindelik gaan dit immers om menselewens.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gary van der Zandt ·

kan julle asb ook van Rhodesia se Rhodesian Light Infantry, skryf. hulle was ook valskarm soldaarde wat in die aksie en vier gespring het in hulle oorlog.

Herman G ·

Ja, die RLI en SAS het ‘n hele paar sulke aanvalle geloods – die bekenste was Chimoio, waar hulle 1,200 – 3,000 vyande (insluitend ‘n hele paar burgerlikes) gedood het vir die verlies van 1 SAS soldaat en 1 vlienier.

Stephan de S ·

Dankie vir hd hoogs interessante artikel. Mens kan bysê wat Cassinga betref, is die Suid-Afrikaners se taak moeiliker gemaak deurdat die troepe te ver vd veggebied neergelaat is. Wel,aan die anderkant,kan jy redeneer dat dit deel vd risiko v valskerm-aanvalle is en waarom dit beperkte waaarde het.

Marthinus Willemse ·

As ek reg onthou is 1 Valskermbataljon herdoop na 44 Valskermbataljon.
William Endley was die eerste sappeur in SA wat as “bat” opgelei is [geniebat], om saam met hulle te spring en geniewerk te doen.

Die risiko’s aan valskermoperasies is seker hoekom Robey Leibbrandt misluk het. (grappie) Hy het in 1936 aan die Olimpiese Spele deelgeneem as bokser, het toe valskermsoldaat in Hitler se Wehrmacht geword, is teruggestuur as vyfde kolonner, gevang, en vir `n jaar in die dodesel gesit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.