‘n Ander stel reëls vir Afrika

Afrika, en dus Suid-Afrika, se verdere ondersteuning van die Roomse Statuut en by implikasie die Internasionale Strafhof is moontlik in die gedrang. ICC1

Die Afrika-unie (AU) het onlangs ’n hersieningsberaad oor die kwessie in Addis Abeba aangebied waarna `n versoek tot die hof gerig is om die verhoor van die Keniaanse president, Uhuru Kenyatta, met `n jaar uit te stel. Kenyatta en sy adjunk, William Ruto, word van misdade teen die mensdom aangekla en daarvan beskuldig dat hulle geweld aangehits het ná die verkiesing in 2007. Gedurende die opstande is 1100 mense dood en 600,000 dakloos gelaat.

Ruto het onlangs in Den Haag aangekom om op die beskuldigings tereg te staan. Kenyatta se verhoor begin op 12 November.

Die destydse geweld was hoofsaaklik gemik teen Kenia se grootste stam, die Kikuyu, wat gesien is as die grootste ondersteuners van die destydse president, Mwai Kibaki se Party vir Nasionale Eenheid. Regters wat by die ondersoek betrokke is, voer onder meer aan dat Ruto selfs `n jaar vooruit aan die etniese moorde beplan het.

Nou, te midde van Ruto se verhoor en Kenyatta s’n wat binnekort plaasvind, dreig Kenia se leiers ook om van die Internasionale Strafhof te onttrek. As een van die 34 state in Afrika – saam met Suid-Afrika – wat die Roomse Statuut onderteken het, is Kenia veronderstel om die Internasionale Strafhof se gesag te aanvaar. Nog nooit tevore het enige van die 122 ondertekenaars van die statuut hulle daarvan onttrek nie.

Kenners waarsku dat indien Kenia onttrek, dit moontlik kan lei tot `n uittog deur Afrikastate – veral gegewe die spanning wat reeds tussen die AU en die Internasionale Strafhof bestaan. Suid-Afrika se verdere steun aan só `n onttrekking sal ongetwyfeld tot `n uittog lei.

Staatshoofde van Uganda en Ethiopië het die strafhof al van neo-imperialisme beskuldig en gesê dat hulle net Afrika-leiers vervolg. Hulle vergeet egter dat die strafhof oorwegend eers ondersoek instel na beweerde ongerymdhede as daardie land se regering dit versoek. Dit is ook só in Kenia se geval.

`n Bekende ontleder en navorsingsgenoot verbonde aan die Instituut vir Internasionale Aangeleenthede, Tom Wheeler, het aan Radio Pretoria gesê dat meer strafbare aksies in Afrika voorkom en dus sal daar meer vervolging wees. Baie Afrikastate sien dit egter nie so nie. Hulle beskou die Internasionale Strafhof as `n lat wat die Weste uitsluitlik op Afrika gebruik.

Daar word verwag dat Kenia ook die ander ondertekenaars van die Roomse Statuut sal aanmoedig om te onttrek – ’n stap wat die inwoners van daardie lande uitgelewer sal laat sonder enige internasionale verweer. Ongelukkig het Afrika die vermoë om vreemde keuses te maak en teleur te stel wanneer dit by geregtigheid kom.

Neem byvoorbeeld die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se tribunaal. Daar het geregtigheid geseëvier toe twee Zimbabwiese boere `n uitspraak verkry het wat die land se rassistiese grondhervormingsprogram verdoem het. Dieselfde tribunaal is daarna vir alles praktiese doeleindes ontbind en Zimbabwiërs is met een minder toevlug gelaat om vergrype aan te spreek. Mugabe is ná nog ’n omstrede verkiesing in sy land tot ondervoorsitter van die SAOG verkies. Dit beteken dat Zimbabwe volgende jaar as gasheer van die SAOG-beraad sal optree.

Afrika het `n manier om vergrype op vreemde maniere aan te spreek of in baie gevalle heeltemal te ignoreer. Diktators word eerder beloon as vervolg. Buiten Mugabe kan Libië se Moeammar Ghaddafi en Swaziland se Koning Mswati III as voorbeelde genoem word. Dit is dus duidelik dat Afrika homself nog nie bewys het as `n vasteland wat probleme op `n regverdige wyse kan aanspreek nie. Hoewel die Weste nie ons unieke uitdagings verstaan en hulle reëls nie noodwendig die beste reëls vir Afrika is nie, is dit baie gevaarlik om Afrika toe te laat om volgens sy eie reëls te speel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.