’n Belangrike datum lê vir Afrikaans voor

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Op 27 November 2019 is daar twee gebeure op die kalender wat van groot belang is vir Afrikaans, en meer spesifiek Afrikaans as onderrigtaal.

Dit is naamlik die datum waarop die hoogste hof van appèl in Bloemfontein die saak van AfriForum oor die eentalige Engelse taalbeleid van Unisa aanhoor. Toe die beleid aanvaar is sonder verdere ruimte vir gesprek, het AfriForum met ’n hofproses begin om vir die taalregte van die universiteit se Afrikaanse studente en personeel beskerming te probeer verkry. Die saak is in die hooggeregshof van Noord-Gauteng aangehoor en op 26 April 2018 is uitspraak ten gunste van die beleid gelewer wat bepaal dat Engels die primêre onderrigtaal aan dié instelling is.

Buiten Unisa, was daar tot op hede al drie hofprosesse teen die verengelsing van voorheen Afrikaanse universiteite, naamlik oor die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Pretoria en pas die Universiteit Stellenbosch. Elke keer het die howe uiteindelik ten gunste van verengelsing beslis. ’n Mens moet jouself dus afvra of nóg ’n appèlsaak nodig is. Die kort antwoord is “ja”.

In die eerste plek moet genoem word dat enigeen met kennis van internasionale taalregte baie sterk van die meeste uitsprake oor die drie genoemde sake moet verskil. Daaroor is al veel geskryf en nog meer sal volg.

In die tweede plek is die uitkoms van die Unisa-saak vir almal van groot belang wat gekies het om by Unisa te studeer of doseer en ʼn behoefte aan Afrikaanse onderrig het.

Derdens moet in gedagte gehou word dat Unisa se omstandighede ingrypend van dié van die genoemde instellings verskil. Wat die Universiteit van die Vrystaat betref, het die konstitusionele hof verklaar dat Afrikaanse klasse segregasie veroorsaak en dat die sosiale kohesie wat ’n eentalige instelling sogenaamd bewerkstellig, belangriker as die taalregte van Afrikaanse studente is. Dit is nou buiten in die geval van teologie, onderwys en landbou, waar Afrikaanse studente vir ’n groot deel van die universiteit se inkomste verantwoordelik is, en dit dan skynbaar aanvaarbaar is om ’n blinde oog na die segregasie te draai. By Unisa as afstandsonderriginstelling is daar nie van klasse sprake nie. Dit is dus nie hier ’n verskoning om Afrikaans uit te faseer en teen Afrikaanse studente te diskrimineer nie.

In die Universiteit van Pretoria se saak, het die universiteitsbestuur aangevoer dat Afrikaanse studentegetalle min is, maar in Unisa se geval is meer as 20 000 van die studente na raming Afrikaanssprekend. Dit is meer mense as wat die totale studentetal van sommige universiteite is.

Pas het die konstitusionele hof in die geval van die Universiteit Stellenbosch bevind dat koste-oorwegings ’n rol speel, maar Unisa het oor dekades die vermoë om modules in Afrikaans aan te bied, vervolmaak. Verder, soos in Oktober 2019 weer deur die VN se spesiale rapporteur van minderheidsaangeleenthede, prof. Fernand de Varennes, by die VN se Afrika-Midde-Oosterse Streeksforum vir Minderheidstale bevestig is, is die koste verbonde aan studente wat kursusse weens taalprobleme staak, veel hoër oor die kort- en langtermyn as wat die koste van veeltalige onderrig is.

As bewys verwys hy na die verspilde subsidies van studente wat studies voortydig staak weens taalprobleme, of studente wat baie swak presteer. Beide groepe bly weens hul wanprestasie laag geskoold, minder bekwaam om in diens geneem te word, meer geneig tot staatsafhanklikheid en dra by tot die ekonomiese en politieke onstabiliteit van die land waarin hulle woon. Met onderrig in eie taal, is daar hoër prestasie, ’n groter geneigdheid om aan te hou studeer en dus op die lang duur meer en beter produktiwiteit wat die land ekonomies en polities versterk.

Om vir meertalige universiteite standpunt in te neem, is dus noodsaaklik as jy die land se ekonomiese volhoubaarheid as belangrik ag. Alle landsburgers behoort dit as ’n prioriteit te hanteer en alles moontlik te doen om hul moedertaal uit te bou en te bevorder.

Wanneer hierdie insig ook by howe tuiskom, en daar begryp word dat taalregte deel van die menseregte is wat internasionaal erken en beskerm word, sal dit ’n blye dag wees. Ons hoop dit sal die uitkoms van AfriForum se saak teen die taalbeleid Unisa wees.

VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede

Argieffoto

Die tweede groot gebeurtenis is die twaalfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede. Dit vind op 28 en 29 November 2019 in Genève, Switserland plaas en die voorafgaande inligtingsessie daaroor begin op 27 November.

Hierdie forum is ’n uiters belangrike platform vir bewusmaking oor taalregteskendings in die land en vir die regte van die sprekers van Afrikaans. Vanjaar is die fokus spesifiek “Onderwys, taal en die menseregte van minderhede”. Die spesiale rapporteur definieer ’n minderheid as enige groep in ’n land wat minder as 50% van die bevolking uitmaak, wat ’n baie eenvoudige en onbevooroordeelde definisie is. In die verlede is byvoorbeeld gesê dat ’n groep wat getalsgewys ’n minderheid is, maar ekonomies of polities dominant is, nie so genoem kan word nie. Prof. De Varennes argumenteer egter dat klein getalle enige groep potensieel weerloos laat, ongeag hul ekonomiese of politieke mag.

AfriForum sal vanjaar weer aan die forum se sitting deelneem met ’n voorlegging oor die wyse waarop Afrikaanssprekendes se taalregte in die land misken en geskend word, en voorstelle oor wyses waarop beter praktyke gevolg kan word.

In Oktober 2019 by die bogenoemde streeksforumsitting het ons reeds met die proses begin. Die aanbevelings wat daar deurgegee is, is vervat in ’n verslag wat voor die forum in Genève sal dien en hopelik uiteindelik as voorstel aan alle VN-lidlande deurgegee sal word. Hierdie byeenkomste is dus nie net ’n kans om vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes voorspraak te maak nie, maar om aktief betrokke te raak op die terrein van internasionale taalregte en wêreldwyd oplossings vir knelpunte op dié gebied te vind.

Mense is met reg dikwels skepties oor hierdie soort instellings, maar die vraag is watter alternatief daar is. By byeenkomste soos hierdie ontmoet ’n mens die verteenwoordigers van vele taalgemeenskappe met wie jy andersins nooit sou kontak hê nie. Van hulle is internasionale kenners op ’n bepaalde gebied. Almal kan wedersyds by mekaar leer, wat beteken daar is mense wat ander se ervaring kan benut oor taalkwessies eerder as om die wiel te herontdek. Ons kan ook drukgroepe vir mekaar se probleme wees – regerings is altyd sensitief vir kritiek van buite. Dit is maar enkele voorbeelde van hoe ’n mens by betrokkenheid by so ’n platform kan baat.

Wanneer die forum se sitting ten einde loop en wanneer die hoogste hof van appèl uitspraak oor Unisa se taalbeleid lewer, sal ons weet of 27 November ’n keerpunt was, of maar net nóg ’n baksteen op die pad na ’n beter taalbestel in die land.

Hoe dit ook al sy, ons is op pad en al manier waarop ons kan waarborg dat niks gaan verander nie, is deur niks te doen nie. Dit is nie ’n opsie nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

10 Kommentare

Michiel ·

Dankie Afriforum.
Die enige strukturele oplossing is #selfbestuur, ‘n fysiek klein landjie soos Swaziland. Daarmee kan ons woeker. Eie ding doen, fysieke bewaakt grens. Eie taal, eie ekonomie. High tech landbou. met veel baie regkry. ‘n boer maak mos ‘n plan.

Eddie ·

Afrikaans sal haarself nie versmoor nie , Akademia is instaat om veel beter as Unisa te doen , veral as die elektroniese tegnologie meer ingespan kan word !

Erwee ·

Hier is mooi geleenthede vir die Afrikaans-sprekende oppad!!! Ironies genoeg gaan dit die ouens wat die Afrikaner so verdruk, die groep wees wat die meeste benadeel gaan word. Die Afrikaner se DNA is om te bou en nie af te breek en te verbrand wanneer ons nie ge-akkomodeer word nie. Daar kom ‘n skeiding agv van verengelsing en die Afrikaner gaan nie die blaam dra vir die skeiding nie. As ons nie ge-akkomodeer word nie, wat nou duidelik die geval is, gaan ons nuut begin bou aan Afrikaanse opleidings-sentrums, wat skole en Universiteite insluit. Die Boer gaan nie grond toe nie, hy is net besig om die grond voor te bereid en te plant. Daar kom ‘n mooi oes vir die Afrikaner!! Ons moet net klaarmaak met die “in-fighting” tussen ons eie mense. Sela

Anti DA ·

Nie eers die Amerikaaners vertou die VN nie. Die VN was net anti apartheid behep. Die kans is skraal dat enige iets positief sal gebeur. Gaan google gerus die VN en delf dieper. Ons is op ons eie.

Bottelbek ·

Ek was lank n stryder vir Afrikaans. Geprotesteer as ek nie bedien word in my taal nie . Neerhalend teenoor mense wat lank in die land bly en nie Afrikaans wil of kan praat nie .

Ek het besef ek doen meer skade aan my taal en my kultuur op die manier hoe ek prober om dit te bevorder. Genadiglik het ek insig ontvang om my gesindheid te verander, wat nie maklike was nie .

Verhoudings is vandag vir my belangriker as taal en kultuur . Die gevolg is dat my taal en kultuur gerespekteer word en sal oorleef .

Ons kan baklei soos ons wil . As ander jou taal en kultuur nie gerespekteer nie .. wel , soos hulle se in Engels ” you flog a dead horse ” Om meer te wees moet jy soms minder raak.

Alana ·

Dit is baie waar – wedersydse erkenning en respek skep ruimte vir ons taal, maar net so moet daar ook wetlik ruimte geskep word. Dit is daarom belangrik om wetlik uit te klaar wat daardie ruimtes is en om dit dan te gebruik. As ons sonder teenkanting toelaat dat Afrikaans uit openbare ruimtes verdwyn, is daar geen rede waarom dit uiteindelik in openbare ruimtes behou sal word nie.

jaco ·

Ek weet nie waar hierdie klaers oor verengelsing op skool was nie. Soos wat hulle aangaan lyk dit asof Afrikaanssprekendes GEEN Engels verstaan nie. Sover ek egter kan onthou, was Engels nog altyd ‘n verpligte skoolvak tot op matriekvlak; ook in die ou SA.
Taaldiskriminasie pleeg nie wrede plaasmoorde nie. Dit skep ook nie slaggate in paaie of vuil swak staatshospitale nie. Kla eerder oor goed wat veel erger is.
En lag ook vir diegene wat alles so verengels, want so vereer hulle ‘n wit Europese taal wat dwarsoor die ou Britse Empire ‘n taal van onderdrukking teenoor meestal nie-wit mense was.

Stof ·

Nou onlangs was daar ‘n klagte omdat my webwerf in Afrikaans is. Hierdie (oud-) kollega se klagte dat dit “sou reflekteer” op die registrasie-liggaam se integriteit, is met ‘n eenparige meederheids-besluit deur die bestuur afgewys en die bestuur het ook hulle volle ondersteuning uitgespreek ten opsigte van dit wat ek geroep is om te doen. Die klakous-kollega het daarna self bedank.
As daar op hierdie alledaagse en funksionele vlak reeds sulke gerusstellende besluite is, gee dit hoop dat hierdie gesindheid kan deursyfer na die groter rade ook.
Afrikaans is buiten ‘n hartstaal, ook ‘n tegniese taal van formaat waarmee min ander tale kan kompeteer. Laat ons ook hierdie feit, deeglik voor oë hou.
En hiermee, my seënwens vir elke leser, in Afrikaans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.